• No results found

FIGUUR 1: TODOROV SE NARRATIEWE FORMULE

2.12 INTERPRETASIE VAN NARRATIEWE

Daar is hoofsaaklik drie wyses waarop narratiewe geïnterpreteer kan word (Abbott 2002: 93). Dit staan bekend as die intensionele benadering, die simptomatiese benadering en die aanpassingsbenadering.

Voordat hierdie benaderings afsonderlike beskryf kan word, moet ‟n sekere aanname eers aandag geniet – die aanname dat narratief as “‟n geheel” funksioneer (Abbott 2002: 93). Dit beteken dat alles binne die narratief op die een of ander wyse daar hoort om sodoende by te dra tot die betekenis daarvan.

2.12.1 Intensionele benadering

Paul Auster verduidelik hierdie benadering as volg: “In enige fiktiewe werk word daar altyd aangeneem dat ‟n bewustelike gedagtegang agter elke woord op die blad sit (Abbott 2002: 95).” Hierdie gedagtegang verwys na dié van die ware outeur, sowel as dié van die geïmpliseerde outeur, aangesien hy/sy ook struktuur aan die vertelling verleen (Abbott 2002:

67 95). Die ontvanger se interpretasie van die teks sal dan ooreenstem met die bedoeling en motiewe van albei outeurs.

Die groot voordeel verbonde aan die intensionele lees en interpretasie van tekste is dat daar ‟n aantal vaste, wyd-erkende standaarde ontstaan waarvolgens tekste geëvalueer kan word (Abbott 2002: 96). Wanneer daar na die narratief as ‟n geheel gekyk word om die bedoeling daaragter te ontsyfer, sal die ontvanger dan die teks se geldigheid, op grond van hierdie standaarde, probeer bewys.

2.12.2 Simptomatiese benadering

Wanneer daar van hierdie benadering gebruik gemaak word, sal die interpretasie van die teks deur die ontvanger nie ooreenstem met die bedoelde interpretasie van die geïmpliseerde outeur nie. Die ontvanger redeneer dat sy/haar interpretasie nie die goedkeuring van die outeur sal wegdra nie (Abbott 2002: 97), en juis hierin lê die psigologiese en kulturele belang van die teks (Abbott 2002: 98). Die feit dat die outeur nie met die ontvanger se interpretasie sal saamstem nie, of selfs geskok daardeur sal wees, sal dan juis sy/haar posisie ondersteun.

Dekonstruktiewe lees is ‟n groot deel van die simptomatiese benadering (Abbott 2002: 98). Hier word die intensionele lees van die teks gedekonstrueer om ‟n lesing te vind wat die outeur nie doelbewustelik geskep het nie. Nou word die teks se “heelheid” ook bevraagteken, aangesien die werklike outeur se bedoeling en skepping nie ooreenstem nie (Abbott 2002: 99).

Herhaling is ‟n belangrike deel van die simptomatiese benadering (Abbott 2002: 99), maar hierdie herhalings wys nie op die heelheid en geïntegreerdheid van die werk nie. Dit wys eerder op die werklike outeur se inmenging in sy werk. Die werklike outeur se persoonlike obsessies en belange sal dikwels deurskemer en in teenstelling wees met dié van die geïmpliseerde outeur.

68 2.13 DOEL EN GEBRUIK VAN NARRATIEWE

Die primêre doel van narratiewe, soos uiteengesit deur vele teoretici, is om mense te help om sin te maak van die wêreld waarin hulle leef (Kruger, Rayner & Wall 2004: 43). Vele sielkundiges en beraders maak gebruik van narratiewe terapie, waar hulle hul pasiënte as karakters in stories plaas (Abbott 2002: 123), om sodoende hierdie pasiënte te help om sin te maak van hulle gebeure.

Narratiewe kommunikasie vervul ‟n belangrike sosiale funksie (Abbott 2002: 51), aangesien dit gebruik kan word as ‟n voertuig om albei kante van ‟n saak te stel, om vrede te bewerkstellig tussen opponerende kante of om mense te leer hoe om saam te leef met onoplosbare konflikte.

Joernaliste en ander media-praktisyns sal dikwels narratiewe gebruik om onsamehangende, irrelevante gebeure op so ‟n wyse te organiseer dat die gehoor dit as logies sal ervaar en dit dan met gemak sal verstaan (Kruger, Rayner & Wall 2004: 43).

Narratiewe kommunikasie het die potensiaal om die optrede van mense te beïnvloed (Kruger, Rayner & Wall 2004: 43). Dit kan veral gebruik word om die reaksie van die gehoor op ‟n spesifieke gebeurtenis te beïnvloed. Hierdie reaksie word bepaal deur die wyse waarop die inligting in die verhaal aan die gehoor voorgehou word. Die narratief kan gebruik word om die gehoor op so ‟n wyse te posisioneer dat die teks net op sekere maniere gelees en verstaan kan word. Die navorser beskou hierdie as die belangrikste funksie van narratiewe. Dit sal in die volgende hoofstuk, Narratiewe kommunikasie as Retoriese strategie, breedvoerig beskryf word.

69 2.14 SAMEVATTING

Gedurende die afgelope paar dekades het ‟n ontploffing van belangstelling in die wêreld van die narratief plaasgevind (Macé 2005: 2). Die belangstelling in narratiewe strek oor verskeie dissiplines en verskeie navorsingvrae ontstaan rondom hierdie onderwerp. Stories word gesien as ‟n basiese menslike strategie om tyd, proses en verandering te verwerk. Die studie van narratief binne kommunikasiekunde, retoriek en prediking is veral van belang vir hierdie studie.

Hattingh (2004: 1) beskou die mens se lewe as ‟n verhaal, van geboorte tot sterwe, gevul met beweging, gebeure en karakters. Mense word egter ook omring deur ‟n storiewêreld wat hul lewens aangryp en beïnvloed. Jean-Peal Satre (in The Jampacked Bible 2000: 1) som dit goed op met die volgende stelling: “Die mens is ten alle tye die verteller van stories. Hy leef in ‟n wêreld waar hy omring is met sy stories en met die stories van ander. Hy sien alles wat met hom gebeur deur die lense van stories en hy probeer om so te leef asof hy besig is om ‟n storie te vertel.” Daarom kan narratiewe kommunikasie nie net as ‟n teorie beskou en bestudeer word nie, maar ook as ‟n kommunikasiemodus, wat as gevolg van verskillende elemente en style op verskeie wyses geïnterpreteer kan word.

Daar is verskeie elemente om ‟n teks as “narratief” te kwalifiseer en te identifiseer, naamlik gehoor, tyd, struktuur, verteller, geïmpliseerde outeur, karakter, ligging, rame, en oriëntasie. Daar is ook verskeie narratiewe tegnieke en stylelemente wat gebruik word om ‟n teks as “narratief” te katagoriseer. Hierdie tegnieke en stylelemente is klank, gebare, stilstaande prente, musiek, digitale media, parateks, mites, geskiedenis, legendes, metafore, temas, motiewe en outobiografiese openbaring. Wanneer enige van hierdie narratiewe elemente, tegnieke of stylelemente voorkom in ‟n teks, kan daardie teks as narratief beskou word.

Die mens gebruik narratiewe kommunikasie om verskeie redes. Die primêre doel van narratiewe is om mense te help om sin te maak van die wêreld waarin hulle leef, maar

70 narratiewe word ook in berading gebruik en om onoplosbare konflik te ontlont. Joernaliste gebruik narratiewe om onsamehangende gebeure oor te dra op ‟n georganiseerde wyse. Narratiewe kommunikasie kan ook gebruik word om die optrede van mense te beïnvloed. In die volgende hoofstuk word gelet op die gebruik van narratiewe kommunikasie as ‟n retoriese strategie.

71 HOOFSTUK DRIE: NARRATIEWE KOMMUNIKASIE AS RETORIESE