• No results found

STRATEGIE BINNE PREDIKING

3.2 OMSKRYWING VAN “RETORIEK” EN “RETORIESE STRATEGIE” AS BEGRIPPE

3.4.6 Retoriek en verbale boodskappe

Wanneer die oorreder verbale boodskappe enkodeer, moet hy menslike emosies in ag neem, rasioneel wees en geloofwaardigheid toon (De Wet 2010:40). Al hierdie beginpunte van retoriese kommunikasie hou verband met Aristoteles se konsepte van Ethos, Pathos en Logos (De Wet 2010: 50). Elkeen van hierdie aspekte van verbale retoriese boodskappe sal nou afsonderlik ondersoek word.

3.4.6.1 Neem menslike emosies in ag

Wanneer menslike emosies in ag geneem word, moet die oorreder aandag gee aan die behoeftes, houdings en die verlange na konsekwentheid van die mense in sy gehoor (De Wet 2010: 40).

Alle mense het behoeftes wat die een of ander tyd bevredig moet word (De Wet 2010: 40). Die oorreder moet reeds vroeg binne die retoriese proses hierdie behoeftes identifiseer, aangesien dit juis hierdie behoeftes is wat mense vatbaar maak vir die proses van oorreding

85 (De Wet 2010: 40). „n Effektiewe oorreder buit dus hierdie behoeftes uit om sy eie doel te bereik (De Wet 2010: 40).

Abraham Maslow (in De Wet 2010: 41) het „n afskoppunt verskaf rakende die mens se hoof behoefte vlakke. Hy het geglo dat die mens verskillende tipes behoeftes het wat na vore sal tree totdat hierdie behoeftes versadig is (De Wet 2010: 41). Wanneer primêre behoeftes versadig is, sal hulle plek ingeneem word deur sekondêre behoeftes wat nog versadig moet word (De Wet 2010: 41). Hierdie behoeftes word dikwels in die vorm van „n piramide voorgestel, met die laagste vlak van behoeftes op die onderste, breë vlak, en die hoogste vlak van die behoeftes op die boonste, skerp punt:

 Basiese behoeftes: Aan die onderkant van Maslow se piramide is die mens se kragtigste, mees basiese behoeftes, soos die behoefte na water, kos, seks en slaap (De Wet 2010: 41). Om hierdie rede word daar baie aandag gegee aan brood-en-botter kwessies gedurende politieke veldtogte. Slegs wanneer hierdie behoeftes bevredig is, kan daar aandag gegee word aan ander, hoër behoeftes (De Wet 2010: 42).

 Sekuriteitsbehoeftes: Die tweede vlak van die piramide bestaan uit die behoefte vir sekuriteit (De Wet 2010: 42). Alle mense wil veilig voel. Hierdie behoeftes word bevredig deur familie, „n huis, „n werk, „n inkomste en stabiele politieke omstandighede. Wanneer daar gevaar is, kom hierdie behoefte sterk na vore (De Wet 2010: 42).

 Die behoefte om te behoort: Sodra die behoefte aan sekuriteit bevredig word, begin mense strewe na die bevrediging van die behoefte om te behoort (De Wet 2010: 42). Alle mense hou daarvan om te voel dat hulle binne hulle familie, werk, sosiale groep en gemeenskap hoort (De Wet 2010: 42).

 Die behoefte aan liefde of waardering: Die vierde vlak van die piramide bestaan uit die behoefte aan liefde en waardering (De Wet 2010: 42). Hierdie vlak volg nadat die behoefte om te behoort versadig is (De Wet 2010: 42). So kan iemand byvoorbeeld net begeer om liefde of waardering van „n groep te ervaar as hy reeds aan daardie groep behoort.

 Self-aktualisasie behoefte: Dit is die toppunt van Maslow se piramide (De Wet 2010: 42). Dit is „n integrale deel van menslike natuur (De Wet 2010: 42). Baie van die oorredingstegnieke wat vandag gebruik word, word op hierdie behoefte geskoei.

86 Wanneer daar na die definisies van retoriek gekyk word, is dit duidelik dat houdings „n belangrike rol in die proses van oorreding speel (De Wet 2010: 43). Elke mens het sekere houdings wat ten gunste van, of lynreg teen, die oorreder werk (De Wet 2010: 43). Die oorreder poog dan ook om hierdie negatiewe houding te verander, alhoewel hierdie verandering in houding nie altyd tot „n verandering in optrede lei nie (De Wet 2010: 43).

Houdings verskil van opinies, aangesien houdings dikwels opinies rig (De Wet 2010: 43). Opinies kan gesien word as daardie verbale antwoorde wat „n persoon sou gee op daardie vrae wat nie „n feitlike antwoord verwag nie (De Wet 2010: 43), terwyl houdings dieperliggend is. Houdings is die geneigdheid om op „n sekere manier te reageer teenoor sekere onderwerpe, kwessies en situasies (De Wet 2010: 43). Hierdie reaksies kan kognitief (in die denkewêreld), affektief (emosioneel van aard) of gedragtelik (hoe iemand optree of beplan om op te tree) wees (De Wet 2010: 43).

Die idee van konsekwentheid hou verband met mense se behoefte aan voorspelbaarheid en „n sin van sekuriteit (De Wet 2010: 43). Mense wil graag die dissonansie binne „n sekere situasie oplos en poog na „n toestand van harmonie (De Wet 2010: 43).

3.4.6.2 Wees rasioneel

Die potensiële oorreder moet altyd rasioneel wees (De Wet 2010: 44). Rasionele faktore binne die proses van oorreding hang nie af van persoonlike voorkeure en psigologiese faktore nie, maar wel van getuienis („n taktiese element) en redenasies („n strategiese element) wat verskaf word om „n sekere saak te ondersteun (De Wet 2010: 44). Getuienis en redenasies is die komponente van bewys wat „n oorreder moet bied om sy saak en sy idees te ondersteun (De Wet 2010: 44).

87 Getuienis kan direk of indirek (omstandig) wees (De Wet 2010: 44). Direkte getuienis wys op die bestaan van „n feit sonder dat die bewys van enige ander feit nodig is. Wanneer iemand gevang word dat hy die radio uit die huis steel en hy het nog die radio in sy hand, kan dit gesien word as direkte getuienis. Indirekte– of omstandigheidsgetuienis wys op die bestaan van „n spesifieke feit deur eers ander feite te bewys en dan die bestaan van die spesifieke feit daarvan af te lei. Wanneer daar gesien word hoe „n persoon van „n huis af weghardloop, en later word daar gevind dat die huis besteel is, kan daar afgelei word dat daardie persoon die huis besteel het.

Larson (in De Wet 2010: 45 - 46) verskaf tien nuttige veralgemenings oor getuienis om die oorreder te help om te besluit watter getuienis meer oorredingsvermoë bevat, hoeveel getuienis gebruik moet word en watter tipe getuienis gebruik moet word:

 Getuienis verhoog die oorreder se oorredingsvermoë indien hy onbekend is of lae tot gemiddelde geloofwaardigheid besit.

 Die oorredingsvermoë van emosionele getuienis is gelykstaande aan dié van rasionele getuienis.

 Gewoonlik is die gebruik van enige getuienis, hoe swak ook al, beter as die gebruik van geen getuienis nie.

 Huiweragtige getuienis (getuienis wat persone lewer teen hulleself of hul eie belange) is nie meer effektief as bevooroordeelde getuienis nie, of as onbevooroordeelde objektiewe getuienis nie.

 Goeie lewering kan die effektiwiteit van getuienis verbeter in die gevalle waar die bronne onbekend is of lae geloofwaardigheid besit.

 Getuienis kan oorredingsveranderings meer permanent maak.

 Getuienis is meer effektief wanneer die gehoor dit vir die eerste maal hoor.

 Die metode van oordrag van die getuienis, hetsy in persoon of op bandopnames, het geen effek op die krag van die getuienis nie.

 Mense is meer geneig om getuienis wat in ooreenstemming met hul eie posisie is, te glo.

88  Meer dogmatiese persoonlikhede word meer beïnvloed deur getuienis as minder

dogmatiese persoonlikhede.

Redenering, of redenasies, kan in twee afdelings ingedeel word, naamlik induksie en deduksie (De Wet 2010: 46). Induktiewe redenasies vloei van die spesifieke na die algemene, terwyl deduktiewe redenasies van die algemene na die spesifieke vloei (De Wet 2010: 46). Tydens induktiewe redenasies vorder die oorreder vanaf „n aantal spesifieke stellings na „n algemene gevolgtrekking, maar tydens deduktiewe redenasies sal hy vanaf „n oorspronklike algemene stelling na „n spesifieke stelling in die slot vorder (De Wet 2010: 46). Hierdie twee tegnieke is nie wedersyds eksklusief nie en sal dikwels mekaar ondersteun.

3.4.6.3 Toon geloofwaardigheid

Dit is belangrik dat die oorreder as „n geloofwaardige kommunikator moet oorkom (De Wet 2010: 50). Geloofwaardigheid hang af van „n kommunikator se skynbare intelligensie of deskundigheid, betroubaarheid en toegeneendheid teenoor die gehoor (De Wet 2010:50). Die kommunikator se reputasie waarmee hy na die retoriese situasie kom, die taal wat gebruik word en die ontwikkeling van die boodskap in goeie smaak, goeie verstand en opregtheid dra alles by tot die geloofwaardigheid van die kommunikator (De Wet 2010:50). Nie-verbale boodskappe speel ook „n rol in die vestiging van die oorreder se geloofwaardigheid.

Deskundigheid word getoon wanneer die kommunikator se materiaal, sowel as sy hantering daarvan, wys dat hy die onderwerp goed ken en dat hy dit akkuraat en toepaslik kan hanteer in die situasie waarin hy homself huidiglik bevind (De Wet 2010:50).

Betroubaarheid word ten toon gestel deur „n kommunikator wanneer die gehoor dink dat die kommunikator weet waarvan hy praat en dat hy die waardes wat die gehoor hoog op prys stel deel en respekteer (De Wet 2010:50). Gehore is ook geneig om kommunikators te vertrou

89 wat meer weet as wat hulle weet en wat beter begrip toon as wat hulle toon (De Wet 2010:50).

Toegeneentheid is „n karaktereienskap wat aan „n sekere persoon toegeskryf word. Mense voel toegeneentheid teenoor iemand wanneer hulle dink dat hulle goedheid in hom bespeur (De Wet 2010:50). „n Gevoel van toegeneendheid word in „n retoriese situasie oorgedra wanneer daar „n gevoel van onontwikkelde vriendskap tussen die kommunikator en die gehoor ontstaan (De Wet 2010:50). „n Kommunikator kom dus voor asof hy ten minste „n moontlike vriend van die gehoor en hulle belange is (De Wet 2010:50).