• No results found

Figuur 4.3: Struktuur van Persoonlikheid (Blom, 2004:39)

4.3 TERAPIE VOLGENS DIE GESTALTBENADERING AS PRAKTYKTEORIE

Volgens Crocker (2005:73) beskou die terapeut binne die praktykteoretiese raamwerk van die Gestaltbenadering die kliënt as dat hy/sy altyd die vermoë besit om gesond te funksioneer. Die kliënt se persoonlike ervaring in sy/haar omgewing en omstandighede het egter tot gevolg dat die kliënt ter wille van oorlewing aanpassings gemaak het wat gesonde funksionering in ‘n mindere of meerdere mate beïnvloed het. Die taak van die terapeut is om die kliënt te begelei om terug te keer na gesonde funksionering. Die terapeutiese taak is eksperimenteel en transformerend ten opsigte van bewustheid en gedragspatrone en dit behels die kliënt in sy totaliteit, wat sy/haar brein, gevoelens, begeertes, liggaam, gewoontes, gedrag en ‘n verskeidenheid van verhoudinge met ander insluit. Blom (2004:4,50) is van mening dat die doel van terapie volgens die Gestaltbenadering is om:

 die kliënt se bewustheid te vergroot ten opsigte van die lewe in die hier-en-nou en om organismiese selfregulering te bevorder,

 die kliënt te leer om verantwoordelikheid vir hom/haarself te aanvaar,

 die kliënt te leer dat hy/sy, sy/haar gedrag kan kies en daarby betekenis kan gee aan sy/haar lewe,

 die kliënt se persoonlike integrasie te begelei.

Melnick en Nevis (2005:114) beskou die fokus van terapie volgens die Gestaltbenadering, as die kliënt se hier-en-nou, sy/haar bewustheid, ervaring en ontdekking van hom/haarself, ‘n terapeutiese verhouding met die terapeut, dialoog met die terapeut, verantwoordelikheid en keuse ten opsigte van sy lewe en verandering en persepsie. Die fokusaspekte van terapie volgens die Gestaltbenadering word nou bespreek.

4.3.1 HIER-EN-NOU

Terapie fokus volgens die Gestaltbenadering op die kliënt se hede (Melnick en Nevis, 2005:105). Invloede van die verlede en verwagtinge van die toekoms word nie ontken nie, maar daar word gereken dat dit nie ‘n bydrae tot groei in die kliënt maak om die verlede te herskep of die toekoms te voorspel nie. “Gebeurtenisse uit die verlede is óf reeds geassimileer en dus deel van die persoonlikheid óf word saamgedra in die vorm van onvoltooidhede wat huidige behoeftebevrediging dwarsboom” (Aronstam, 1989:639). Volgens Melnick en Nevis (2005:108) word daar dus in terapie gekyk hoe die kliënt sy/haar beskikbare energie gebruik vir behoeftebevrediging en die bereiking van sy/haar doel. Hierin word ook gesien hoe die verlede van die kliënt met sy hede kontak maak.

4.3.2 BEWUSTHEID

“Deur ‘n verlies aan bewustheid verloor die mens kontak met homself, sy behoeftes en ook met die spontane vloei van behoeftebevrediging” (Aronstam, 1989:640). Bewustheid behels gedagtes, gevoelens, gebare, dit wat ‘n mens glo, dit wat jy onthou en disfunksionele maniere (Melnick en Nevis, 2005:106). Terapie fokus daarop om die kliënt bewus te maak van homself, sy behoeftes en sy omgewing. Dit sluit ook daardie dele waarvan hy/sy nie bewus is nie in en wat uitkom in sy/haar nieverbale en onbewuste gedrag.

4.3.3

ERVARING EN ONTDEKKING

Terapie, volgens die Gestaltbenadering, beklemtoon direkte ervaring as die enigste suksesvolle manier van leer (Aronstam, 1989:640). Kliënte word aangemoedig om hul- self te ontdek, asook wat vir hulle belangrik is en werk. Interpretasies en raadgewing deur die terapeut word vermy. Direkte ervaring word vir die kliënt gegee deur tegnieke te gebruik wat spesifieke leerervarings ten doel het. Tegnieke wat deur Melnick en

Nevis (2005;109) bespreek word, is die droomtegniek en die leëstoeltegniek. Hierdie skrywers noem die tegnieke eksperimente met ‘n doel en lig die doel daarvan soos volg uit:

 om die kliënt se repertoire van gedrag te vergroot;

 om geleentheid vir die kliënt te skep waarin hy/sy, sy/haar lewe kan sien as sy/haar eie skepping (verantwoordelikheid neem);

 om vir die kliënt ‘n eksperimentele leerervaring te gee vir die ontstaan van ’n nuwe selfkonsep;

 om onafgehandelde sake te voltooi en om blokkasies te verwyder in die bewustheid en kontaksiklus;

 om verstaan en motoriese aksie te integreer;

 om polariteite te ontdek wat nie in die kliënt se bewuste is nie;

 om die integrasie van konflikterende kragte in die persoonlikheid te bewerkstellig;  om introjekte uit te sorteer;

 om omstandighede te stimuleer waarin die kliënt sterker kan voel en optree.

Crocker (2005:75) is van mening dat terapie volgens die Gestaltbenadering nie ‘n gespreksbenadering is nie. Alhoewel dit taal gebruik, is dit net ‘n medium van eksperimentering, want die fokus is eintlik aktiewe eksplorering van hoe kliënte hulle lewens uitleef en hoe hulle funksioneer. Crocker (2005) is ook van mening dat dit nie gaan oor illuminering van reflektiewe gedagtegang nie, maar om blokkasies wat funksionering strem in gedrag en denke te verwyder.

4.3.4 VERHOUDING

Die verhouding van die terapeut met die kliënt is ‘n kritiese faktor in terapie, volgens die Gestaltbenadering (Melnick en Nevis, 2005:110). Die skrywers noem dit ‘n “ I – thou relationship” wat die hier-en-nou en bewustheid beklemtoon.

4.3.5 DIALOOG

Die kliënt maak kontak met die terapeut deur middel van dialoog in terapie volgens die Gestaltbenadering (Yontef, 2005:83). Bewustheid word dus geskep deur middel van dialoog.

4.3.6 VERANTWOORDELIKHEID EN KEUSE

Die kliënt sal tydens terapie volgens die Gestaltbenadering meer bewus raak van sy/haar behoeftes, probleemgedrag, onvoltooidhede en omgewing en in staat wees tot keuses en die neem van verantwoordelikheid (Aronstam, 1989:641).

4.3.6 VERANDERING EN PERSEPSIE

Selwyn (1994:5) is van mening dat persepsies verander wanneer ‘n mens kyk na dinge wat sentraal in jou lewe is. Nuwe persepsies word geskep deur die kliënt se bewustheid te verander.

4.4 SAMEVATTING

Die Gestaltbenadering is ‘n eksistensiële, fenomenologiese en holistiese benadering met die klem op bewustheid van die hier-en-nou en die interafhanklikheid van die mens met sy omgewing.

Hierdie benadering beskou mense as ’n holistiese entiteit. Dit beteken dat die geheel van die mens meer is as die somtotaal van die dele. Die mens se dele word beskou as liggaam, gees, emosies, denke, gedrag en taal.

Die mens ervaar gedurig behoeftes wat ongemak veroorsaak, totdat aksie geneem word om die behoeftes te bevredig, wat dan tot balans of homeostase lei. ‘n Mens moet voortdurend dit wat tot jou beskikking is gebruik om jou behoeftes te bevredig.

Die gesonde mens is in staat om te onderskei tussen die mees dominante behoefte en ander behoeftes, sodat die mees dominante behoefte op sy/haar voorgrond verskyn en die mens sy/haar omgewing kan gebruik om die dominante behoefte te bevredig, waarna die mens weer in balans verkeer. Hierdie proses word siklus van ervaring genoem en vind plaas volgens ‘n spesifieke proses, naamlik sensasie, bewustheid, aksie en mobilisasie, kontak, refleksie en onttrekking, waarna die proses herhaal. Hierdie proses word organismiese selfregulering genoem en bestaan uit intra- en interpersoonlike kontak (wat kontak met die res van die omgewing insluit) vir die bevrediging van behoeftes.

Indien mense probleme ervaar met organismiese selfregulering as gevolg van kontakgrensversteurings, is hulle nie in staat tot gesonde Gestaltvorming en die bevrediging van hulle behoeftes nie. Hierdie versteurings manifesteer op verskillende wyses: introjeksies, projeksies, samevloeiing, retrofleksie, defleksie, desensitasie en egotisme.

Vir gesonde funksionering is dit ook nodig om bewus te wees van polariteite wat daar bestaan, dit te kan integreer en in staat te wees om dit te hanteer en konflikte op te los en te verstaan. Polariteite wat nie op die wyse hanteer kan word nie, het fragmentasie van die mens tot gevolg, wat op sy beurt weer organismiese selfregulering inhibeer. In die struktuur van persoonlikheid word daar vyf lae onderskei wat deurgewerk moet word indien die individu probleme ondervind in die organismiese selfregulering.

Die fokusaspekte van terapie volgens die Gestaltbenadering as praktykteorie is bespreek. Daar word nou oorgegaan na die bespreking van die Schoeman-werk model wat riglyne gee vir intervensie. Schoeman (2006) se riglyne bevat al die fokusaspekte

van terapie volgens die Gestaltbenadering as praktykteorie. Schoeman (2006) se riglyne vir intervensie is in die studie gebruik vir die eksplorering van die leefwêreld van die adolessent met sandspel .