• No results found

-150 Laag 100 Eksplorasie van Volwasse Rolle 50 0 50 100 Hoog

2.8.2 ADOLESSENTE SELFBEELD

Selfbeeld bestaan uit drie aspekte, naamlik wie jy is, wie jy wil wees en wie jy behoort te wees (Louw et al., 1998:68). Volgens Jaffe (1998:194) is selfbeeld wat ‘n mens voel oor wie jy dink jy is. Dit is met ander woorde ‘n maatstaf om ‘n persoon se selfbegrip te meet. Hoe nader ‘n mens is aan hoe jy wil wees, hoe meer hou jy van jouself. Jaffe (1998:186) onderskei ses tipes wat die selfbegrip van die adolessent vorm, naamlik:

 Valse self is die self wat ‘n mens voorgee om te wees om mense te beïndruk of te laat goed voel of bly wees. Dit is die self wat jy voorgee onder druk.

 Ideale self is die self wat jy graag wil wees, of wat jy voorgee om te wees. Dit bevat gewoonlik eienskappe wat ‘n mens in ander bewonder of waaroor jy fantaseer om graag te wees.

 Openbare self is hoe ander ‘n mens sien en ervaar. Daar is nie noodwendig konsensus tussen verskillende persone wat die persoon ken nie.

 Moontlike self verwys na wat ‘n mens moontlik kan wees  Gevreesde self is die self wat ‘n mens vrees jy kan word.

Vir optimale funksionering moet die adolessent daarna strewe om al die tipes self te integreer in ‘n verenigde self.

Rogers (1961) in Jaffe (1998:195) meen ‘n persoon met ‘n positiewe selfbeeld word beskou as gebalanseerd en in staat om positief te voel oor ander mense en oor die lewe in die algemeen. Die persoon met ‘n lae selfbeeld is dikwels onseker in sy/haar verhoudings en gespanne oor sy/haar toekoms. Hy/sy word geassosieer met konformiteit, dwelmmisbruik, jeugmisdaad, depressie en selfmoordgedagtes, met gepaardgaande emosies van onwaardigheid en skaamte.

Selfbeeld bly gewoonlik konstant, behalwe vir persone soos adolessente wat sensitief is vir evaluering. Daar is ‘n tipiese fluktuasie in selfbeeld by adolessente. Hulle ervaar ‘n lae selfbeeld in vroeë en middeladolessensie en ‘n positiewe selfbeeld by laat adolessensie en vroeë volwassenheid (Jaffe, 1998:196).

Faktore wat selfbeeld beïnvloed, is volgens Jaffe (1998:199-202) by meisies liggaamsbeeld en voorkoms, tipiese vroulike eienskappe, positiewe

persoonlikheidseienskappe, sosiale vaardigheid en skoolprestasies. By seuns is dit sport, wiskunde en akademiese prestasies, voorkoms, tipiese manlike eienskappe, onafhanklikheid, aktiwiteite, stokperdjies en intelligensie. Ander aspekte wat ‘n rol speel by seuns en meisies is kommunikasievaardighede, leierskap, sosiale vaardigheid en populariteit. Adolessente wat deel is van ‘n minderheidsgroep wat in die gemeenskap diskriminasie ervaar, of aan wie afbrekende etikette toegedig word, ervaar dikwels probleme met die vestiging van ‘n positiewe selfbeeld.

Verbinding tot ‘n etniese identiteit is ook ‘n belangrike deel van die ontwikkeling van ‘n gesonde volwasse selfbeeld. Adolessente pas beter aan as hulle die geleentheid kry om hulle eie etniese tradisies by ‘n tradisionele familie wat trots en waardigheid vir hulle eie tradisies oordra, te ondersoek. Navorsing wat deur Thom (1988) in Louw et al. (1998:391) gedoen is, toon dat adolessente in Suid- Afrika hulle identiteit moet vind binne ‘n kaleidoskoop van kulture, tale en gewoontes waaraan hulle blootgestel is.

Dit blyk dus dat selfbeeld is wat jy voel oor wie jy dink jy is. ‘n Mens met ‘n positiewe selfbeeld word beskou as gebalanseerd en in staat om positief te voel oor ander mense en oor jou lewe. Die mens met ‘n lae selfbeeld het ‘n probleem met hom/haarself en ander en word waargeneem as ongebalanseerd en nie in staat tot optimale funksionering nie.

2.9 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is daar gekyk na verskillende ontwikkelingsaspekte en kenmerke van die adolessent en hoe dit in sy/haar leefwêreld manifesteer.

Adolessensie beteken om te groei na volwassenheid, wat impliseer dat ‘n

persoon die sosiale, kognitiewe en emosionele hulpbronne het van ‘n volwasse persoon, onafhanklik en verantwoordelik is en oor goeie oordeel en vaardighede

beskik. Ontwikkeling gebeur langs vier lyne van afhanklikheid na selfstandig- heid, van egosentries na kameraadskap en van speel na werk.

Die belangrikste ontwikkelingstaak van die adolessent is om sy/haar eie identiteit te ontwikkel. Om die ontwikkelingstake van adolessensie suksesvol te bereik, moet die adolessent die ontwikkelingstake van die vorige vier stadiums suksesvol afgehandel het. Vroeë adolessensie fokus op liggaamlike ontwikkeling en selfaanvaarding. Middel-adolessensie fokus op outonomie en verhoudings met mense en laat adolessensie fokus op sosiale rolle, waardestelsel en lewensdoel.

Kognitiewe ontwikkeling by die adolessent behels die vermoë om oor kennis te beskik, kreatief te wees, te kan leer, ingewikkelde inligting te kan verstaan, probleme te kan oplos en om te kan aanpas by nuwe omstandighede. Die adolessent bereik in sy kognitiewe ontwikkeling die stadium van formeel- operasionele denke, wat hom/haar in staat stel tot abstrakte denke, wat impliseer dat hy/sy ‘n meer diepgaande bewustheid het en wonder oor wie hy/sy is en wat sy/haar doel in die lewe is. Die adolessent se kognitiewe ontwikkeling stel hom/haar ook in staat tot sosiaalvaardige omgang met hom/haarself, die familie, vriende en ander mense.

In die adolessent se volwassewording neem egosentrisme eers toe om hom/haar in staat te stel om die nuwe blootstellings, sosialisering en identiteits- ontwikkeling te hanteer. Tydens middeladolessensie is daar egter ‘n afname in egosentrisme na minder selfgesentreerdheid en meer realisme.

Die portuurgroep speel ‘n belangrike rol in die adolessent se ontwikkeling. Aanvaarding dra by tot selfwaarde en identiteitsvorming, terwyl verwerping lei tot wanaanpassing en probleme. Heteroseksuele verhoudings help die adolessent in sy ontwikkeling. Ernstige verhoudings beperk die adolessent se ontwikkeling en lei tot vroeë seksuele gedrag, wat nadelig is vir die adolessent. Seksuele

revolusie gee die adolessent vryheid van keuse en keuses word bepaal deur onder andere die adolessent se waardes, sosio-ekonomiese status, ideale en toekomsverwagtinge.

Om ‘n identiteitsbehaler te wees, moet die adolessent die geleentheid kry om te eksploreer met moontlike volwasse rolle en waardes in verskeie areas van die lewe. Hy/sy moet in staat wees tot verbinding aan spesifieke rolle en waardes. Na die bereiking van sy eie identiteit moet die adolessent ook aandag gee aan die uitbalanseer van verhoudinge in sy verskillende volwasse rolle. Adolessente moet die balans uitwerk tussen outonomie en verbinding aan hulle ouers en gesinslede. Hulle moet skei van hulle ouers en hulle eie identiteit aanneem, terwyl hulle ook hulle ouers moet probeer verstaan en akkommodeer in ‘n nuwe, werkbare verhouding.

Formeel-operasionele denke is nodig vir identiteitsontwikkeling aangesien die adolessent die vermoë moet hê om abstrak te kan dink en hom/haarself en andere te kan waarneem. Adolessente moet ook meer bewus wees van ‘n verskeidenheid van moontlike identiteite wat hulle kan aanneem en hulself samehangend en konsekwent kan beskryf.

HOOFSTUK 3