• No results found

ADOLESSENSIE AS LEWENSFASE

2.2 DEFINIËRING VAN ADOLESSENSIE

Die term adolessensie beteken om te groei na volwassenheid (Jaffe, 1998:19, Kimmel en Weiner, 1995:2). Volwassenheid impliseer dat ‘n persoon die sosiale, kognitiewe en emosionele hulpbronne het van ‘n volwasse persoon. Verdere implikasies is dat die persoon onafhanklik en verantwoordelik is en oor goeie

oordeel en vaardighede beskik. Kimmel en Weiner (1995:2) is van mening dat adolessensie ‘n tyd van oorgang is, wat gepaard gaan met spanning en kwesbaarheid, maar ook ‘n tyd van positiewe groei en verandering.

Jaffe (1998:20-25) onderskei verskillende aspekte wat dien as merker vir die begin van adolessensie.

 Puberteit as merker. Adolessensie word ingelei deur fisiese groei en die ontwikkeling van sekondêre seksuele kenmerke.

 Ouderdom of graadstatus. Adolessensie begin met ingang van die sekondêre skool en eindig met die behaal van ‘n tersiêre kwalifikasie.  Inisiasie. Adolessensie begin met ‘n seremonie wat einde van kindwees

en begin van volwassenheid aankondig. Die spesifieke tyd kan gekoppel word aan ouderdom, bereiking van ‘n doelwit of ander kenmerke en is kultuurgebonde (Kimmel en Weiner, 1995:6).

 Sosiale en emosionele veranderinge vind plaas, wat gekenmerk word deur die verandering in die verhouding van die jongmens met sy ouers, meer betrokkenheid by die portuurgroep en geslagspesifieke gedrag wat waargeneem word. Ander kenmerke is ‘n toename in buierigheid en geïrriteerdheid.

 Kognitiewe verandering en morele ontwikkeling word gekenmerk deur die oorgang van swart en wit denke na meer buigbare redenering en probleemoplossende strategieë. Die adolessent se beskouing van hom/haarself raak meer gedifferensieer, abstrak en geïntegreer. Adolessente vertoon ook ‘n beter begrip en waardering van die lewe.

 Uitdagings en rolverandering. Die adolessent word gekonfronteer met spesifieke uitdagings wat hy/sy moet hanteer, soos gesinskonflik, losmaking van gesin, selfbeheersing, eksplorering met gedrag en denke, uitbreiding van die sosiale sirkel, vorming van naby verhoudings, ontwikkeling van onafhanklikheid en selfversorging.

 Die subjektiewe ervaring van volwassenheid. ‘n Persoon moet voel en glo dat hy/sy ‘n volwassene is.

Jaffe (1998:26) meen dat dit prakties is om adolessensie op te deel in drie stadiums deur gebruik te maak van die ouderdom- en graadkriteria naamlik:

 Vroeë adolessensie, wat strek vanaf 11 tot 13 jaar en die laat laerskool- fase aandui.

 Middeladolessensie, wat strek van 14 tot 17 jaar en die hoërskoolfase aandui.

 Laat adolessensie, wat strek vanaf 18 jaar tot die vroeë twintigerjare en die skoolverlating en tersiêre onderwysfase aandui.

Kimmel en Weiner (1995:4) definieer adolessensie as die lewenstadium wat begin by puberteit en eindig wanneer die individu ekonomies selfversorgend is en verskeie volwasse rolle beklee.

Uit die definisies blyk dit dat adolessensie gepaard gaan met groot verandering op fisiese, sosiale en kognitiewe gebied, wat uitdagings en rolverandering vir die adolessent in sy/haar ontwikkeling na volwassenheid impliseer. Daar word vervolgens aandag gegee aan teorieë oor ontwikkeling.

2.3 TEORIEË OOR ONTWIKKELING

Teorieë oor ontwikkeling is geformuleer met die doel om gedrag en persoonlikheid in verskillende lewenstadia en uit die oogpunt van ‘n spesifieke beskouing te beskryf, te voorspel en te verklaar (Jaffe, 1998:46; Louw et al., 1998:43). Elke teorie benadruk ‘n ander aspek of terrein van ontwikkeling. Jaffe (1998:62) beskou ontwikkeling in terme van die volgende modelle:

 Biologiese modelle wat die klem op oorerwing en rypwording plaas.  Evolusionêre modelle wat die klem plaas op aanpassingsgedrag.

 Kognitiewe modelle beskryf die denk- en redeneringsvermoë van adolessente en die kritiese rol wat dit speel in die vorming van selfkonsep, identiteit en verhoudings.

 Psigodinamiese modelle beskryf hoe seksuele en ander onderbewuste impulse lei tot gesinskonflik, wat weer dien as motivering vir die selfstandigwording van die adolessent.

 Psigososiale modelle beklemtoon die interaksie tussen individuele en sosiale faktore. Hierdie modelle beskou ontwikkeling in terme van take wat bemeester moet word in die groei na volwassenheid.

 Eksistensiële modelle beklemtoon die adolessent se gevoelens en die soeke na betekenis.

 Die leermodel beklemtoon omgewingsinvloede, leer deur waarneming en positiewe en negatiewe ondervindinge.

In die beskrywing van adolessente ontwikkeling word daar veral gebruik gemaak van kognitiewe en psigososiale modelle van ontwikkeling. Kognitiewe modelle plaas die klem op redeneringsvermoë en die kritiese rol wat dit speel in die vorming van selfkonsep, identiteit en verhoudings van adolessente. Psigososiale modelle beklemtoon die interaksie tussen individuele en sosiale faktore.

Toman en Bauer (2005:180) meen die meeste modelle van menslike ontwikkeling behandel adolessente ontwikkeling. Piaget (1972) identifiseer die stadium van kognitiewe ontwikkeling van adolessente as formeel-operasioneel. Erickson (1963) se model beskryf die belangrikste take van die adolessent as die vorming van eie identiteit. Freud (1963) se model beskryf adolessente in terme van hul psigoseksuele funksionering in die genitale stadium en Kohlberg (1975) se model van morele ontwikkeling plaas hulle in die konvensionele of die post- konvensionele stadiums van morele ontwikkeling. Toman en Bauer (2005:181) is egter van mening dat elke model ‘n bydrae maak met ‘n spesifieke area van ontwikkeling, maar niemand gee ‘n holistiese beeld van die adolessent nie. Hierin meen Toman en Bauer (2005:181) kan die holistiese beskouing van die Gestaltbenadering as oriënteringsteorie ‘n bydrae maak deur na die adolessent te kyk in terme van sy wêreld in die hier en nou, sy/haar veld, bewustheid van

sy/haar omgewing, organismiese selfregulering en die maak van kontak met die omgewing (sien 4.2).

Volgens Freud (1963) soos aangehaal deur Toman en Bauer (2005:184) kan ontwikkeling van die adolessent langs vier lyne gebeur:

 Van afhanklikheid na selfstandigheid: ‘n Mens begin die lewe as volkome afhanklik van jou moeder vir al jou behoeftes en beweeg deur al die stadiums tot volkome onafhanklikheid en volwassenheid (Reynolds, 2005: 155).

 Ontwikkeling na liggaamlike onafhanklikheid: Die adolessent moet dit bemeester om hom/haarself gebalanseerd te kan voed, klee en so te versorg dat hy/sy nie blootgestel word aan siektes, gevaar of kwaad nie. Daar moet dus geen manifestasies wees van problematiese liggaam- verwante probleme nie (Toman en Bauer, 2005:187).

 Ontwikkeling van egosentries na kameraadskaplik: Hierdie ontwikkeling geskied deur bewustheid en sosiale kontak en kan gekenmerk word daardeur dat adolessente gevoelens en houdings wat hulle nog nie in hulself geïdentifiseer het nie op ander projekteer. Volgens Toman en Bauer (2005:188) word die fase ook gekenmerk deur ‘n oordrewe, dramatiese en kritiese fokus op die self. In ‘n gesonde ontwikkelingsproses beweeg adolessente hier verby en leer om hul eie sterk- en swakpunte te identifiseer. Hulle raak ook bewus van wanneer hulle ondersteuning benodig, kan hulle behoeftes artikuleer, kan ondersteuning mobiliseer en verantwoordelikheid neem.

 Van speel na werk: Toman en Bauer (2005:190) meen dit is die adolessent se taak om die genot wat hulle in speel ervaar het oor te dra in akademiese prestasie en werk. Adolessensie is ‘n tyd vir eksploreer , maar dit kan net gebeur as die gesin se ingesteldheid oop is na die buite- wêreld. Dit is vir die adolessent nodig om te leer wat sy sterkpunte is, waarin hy/sy belangstel, wat hy/sy geniet en wat hy/sy van hom/haarself verwag, teenoor wat sy/haar ouers van hom/haar verwag.

Uit bogenoemde blyk dit dat daar na adolessente ontwikkeling gekyk kan word vanuit verskeie modelle, wat almal ‘n bydrae maak in die beskrywing, voorspelling en verklaring van adolessente. Die adolessente ontwikkeling- stadium word nou bespreek in terme van die volgende aspekte van ontwikkeling: ontwikkelingstake, kognitiewe ontwikkeling, morele ontwikkeling, sosiale ontwikkeling en identiteitsontwikkeling van die adolessent.