• No results found

3.2 DEFINIËRING VAN SANDSPEL

3.6 NAVORSING EN BEVINDINGE IN SANDSPEL

3.6.1 KLASSIFIKASIE VAN SANDBAKKE

3.6.1.4 SANDBAKKE VAN SEKSUELE EN FISIESE MISBRUIK

Harper (1991: 93-97) het ‘n eksplorerende studie gedoen waarin sy die sand- tonele in kategorieë en in temas gerangskik het en die volgende bevind:

 Die temas van niegetraumatiseerde kinders was meestal huishoudelik, fantasie en vervulling van ‘n wens.

 Getraumatiseerde kinders het ook wensvervullingtemas gebruik, maar daar was ook konflik teenwoordig. Die narratiewe het gefokus op behoeftes vir beskerming en versorging.

 Seksueel-misbruikte kinders neig om traag te wees om die narratief van die sandtoneel te vertel en opmerklik is die afwesigheid van fantasie in hierdie groep se sandtonele. Daar is ook opgemerk dat hierdie kinders neig om dieselfde strukture en temas in hulle sandtonele te herhaal.

 Die sandtonele van die fisies-misbruikte kinders was minder georganiseerd en het geëindig in konflik of die uitspeel van een of ander geveg, oorlog of ramp. Konflik en chaos was die mees uitstaande kenmerk van dié groep. Dié groep het ook gesukkel om te kalmeer en hulle taak te voltooi.

 Die fisies- en seksueel-misbruikte kinders se temas het al die kategorieë gedek, behalwe huishoudelik. Dit is verder gekenmerk deur aksie en tonele wat begin met avontuur en eindig in ‘n ramp.

 Oor die algemeen was die sandspelsituasie vir die getraumatiseerde kinders stresvol.

 Die gedrag van veral die fisies-misbruikte kinders tydens die sandspel was ongeorganiseerd, onrustig, reg vir vlug, nie in staat om te konsentreer nie, verbaal uitdagend en hulle het geneig tot die uitlok van negatiewe reaksie. Anders as gewone kinders was hulle onbetrokke by die spel.

 Die seksueel-misbruikte groep se gedrag is gekenmerk daardeur dat hulle baie goed saamwerk, responsief is, die navorser betrek en besig hou en sodoende kontrole in die situasie probeer behou.

Grubbs (1995: 431) het verskille in die sandbakke van seksueel-misbruikte en nieseksueel-misbruikte kinders onderskei:

 In die gebruik van mense en diere beeld die niegetraumatiseerde kinders gesins- en gemeenskapstonele in ’n positiewe lig uit terwyl seksueel- misbruikte kinders geïsoleerde tonele bou of oorlogtemas waarin gewelddadige aanvalle uitgebeeld word op weerlose slagoffers, of sadistiese tonele van selfvernietiging. Hierdie kinders het ook oorstromings gebou waarin reptiele en slange babas verorber. Daar is ook gevind dat as niegetraumatiseerde kinders aggressie en konfrontasie uitspeel, dit minder gewelddadig is en het dit ‘n uitkoms.

 Strukturering van gesinsverhoudings: Vir die niegetraumatiseerde kinders neig die gesinne om sentraal te wees in hulle spel. Met die seksueel- misbruikte kinders was gesins- en gemeenskapsgroeperinge minder en het die bakke ‘n gevoel van eensaamheid en isolasie oorgedra. Wanneer gesinslede voorgestel is, was dit as vreemde wesens, aggressief teenoor ander, gewelddadig en destruktief.

 In kombinasie van tema en omgewing is waargeneem dat die seksueel- misbruikte kinders se tema en omgewing dood-georiënteerd, satanisties, oorloggeteister of leeg was. Niegetraumatiseerde kinders daarenteen skep aksiebelaaide gesinne, gemeenskappe, die natuur en mistieke plekke.

 Gebruik van sand en water: Die seksueel-misbruikte kinders is geneig om water in oormaat te gebruik, terwyl niegetraumatiseerde kinders nie water uitermatig gebruik nie.

 Grense: Niegetraumatiseerde kinders se grense was oop vir ander figure in die sand en meer gedefinieer, terwyl seksueel-misbruikte kinders se grense gedurig gewelddadig ingeval is deur ander elemente in die bak, of die grense was baie rigied en isolerend.

 Beweging en versperrings: Vir niegetraumatiseerde kinders is beweging doelgerig en betekenisvol en nie geblokkeer nie, terwyl dit vir seksueel- misbruikte kinders geblokkeer, of invallend en vernietigend is.

 Bymekaarkom van teenoorgesteldes: Niegetraumatiseerde kinders bring teenoorgesteldes spontaan bymekaar, terwyl dit nie voorkom by seksueel- misbruikte kinders nie.

Uit die navorsing van Harper (1991) en Grubbs (1995) blyk dit dat daar duidelike verskille is in die sandbakke van seksueel- en fisies-misbruikte kinders en kinders wat nie fisies en seksueel misbruik is nie.

3.6.1.5 SANDBAKKE AS NIEVERBALE DIAGNOSTIESE TOETS

Volgens Mitchell en Friedman (1994:39) was Bolgar en Fischer (1947) se doel die ontwikkeling van ‘n nieverbale, kruiskulturele toets wat sou help met die kliniese diagnose van volwassenes. Die toets is “The Little World Test” of “ Bolgar-Fischer World Test” genoem.

Volgens Mitchell en Friedman (1994:43,44) kon Bolgar en Fischer (1947) se toets onderskei tussen normale groepe en kliniese groepe. Dit kon egter nie onderskei tussen verskillende kliniese groepe nie. Interessante tendense is egter waargeneem, naamlik:

 Kliniese groepe wys ‘n tendens om wêrelde te skep wat te leeg, of oorvol is. Hulle wêrelde is ook deurmekaar en hulle bou met min energie.

 In die alkoholiese groep is ‘n ongewone klein hoeveelheid items van verskillende kategorieë gebruik, wat die idee gee van onontwikkelde vermoëns of ongebruikte kapasiteite. Hulle wêrelde neig om onrealisties en sonder mense te wees en hulle samewerking is swak.

 Die serebraal-gestremde groep het nie spontaan begin werk nie, hulle het meer direkte instruksies en aanmoediging benodig. Hulle wêrelde was

meer in rye gebou met herhalende patrone. Verder was hulle konstruksies onrealisties en min objekte is gebruik.

Hieruit blyk dit dat verdere navorsing benodig word voor sandbakke aangewend kan word in diagnostiese toetse.

3.6.1.6 AANDUIDING VAN INTELLIGENSIE IN SANDBAKKE

Die hantering van sand is ‘n belangrike element van die totale ondervinding, aangesien dit die kliënt se ervaring verryk en waardevolle ekstra inligting vir die terapeut verskaf. Bowyer (1959) in Mitchell en Friedman (1994:69) het bevind dat die hantering van sand deur dit byvoorbeeld uit te gooi, iets te begrawe, of dit te vorm of slaan, die kliënt help om emosies uit te druk. Die maak van sand- formasies soos berge, valleie, riviere, paaie, slote en golwe gee die sandtoneel ‘n ekstra dimensie en dui op gemiddelde en bo-gemiddelde intelligensie en ‘n ryk verbeelding.

Volgens navorsing stel sandbakke die terapeut in staat om afleidings en interpretasies te maak waarmee hipoteses gevorm kan word om die leefwêreld, ervaringe, omstandighede, denke, gedrag en gevoelens van kliënte te eksploreer en te begryp. Die volgende bevindings is ten opsigte van sandbakke gemaak: Dit kan aandui dat ‘n kliënt terapie benodig. Emosionele probleme kan waargeneem word. Dit kan trauma aandui. Fisiese en seksuele misbruik kan waargeneem word.

3.7 SAMEVATTING

Sandspel is in hierdie hoofstuk bespreek as medium waardeur die leefwêreld van die adolessent geëksploreer gaan word. Sandspel word beskou as ‘n manier van nieverbale kommunikasie in ‘n dinamiese interpersoonlike verhouding tussen kliënt en terapeut, waarin die kliënt veilig uitdrukking kan gee aan sy/haar

gevoelens, gedagtes, ervarings en gedrag. Die materiale wat benodig word vir sandspel is miniature wat die lewe en wêreld voorstel, in verskillende kategorieë gerangskik op rakke, asook sandbakke, sand en water.

Sandbaksessies word ingelei met die gebruik van spontane sandbakke waarin die leefwêreld van die kliënt geëksploreer word. Spesifieke probleme kan ook geëksploreer word met direktiewe sandbakke. Die terapeut se rol is die daarstel van ‘n beskermde ruimte waarin die kliënt fisies, emosioneel, geestelik en psigies veilig voel. As waarnemer moet die terapeut oplet na alle verbale en nieverbale handelinge. As eksploreerder moet die terapeut die leefwêreld, ervaringe, omstandighede, denke, gedrag en gevoelens van kliënte eksploreer en begryp, sodat toepaslike intervensies gedoen kan word om die kliënt te lei tot insig, begrip, besitneming en oplossing van die probleem.

Navorsing wat gedoen is op sandbakke stel die terapeut in staat om uit die sandbakke van kliënte afleidings en interpretasies te maak waarmee hipoteses gevorm kan word om die leefwêreld van die kliënt met meer insig te eksploreer. Daar word nou oorgegaan tot die bespreking van die Gestaltbenadering as oriënteringsteorie en praktykmodel vir die gebruik met sandspel as medium vir die ondersoek.

HOOFSTUK 4

GESTALTBENADERING AS ORIËNTERINGSTEORIE