• No results found

ADOLESSENSIE AS LEWENSFASE

2.4 ONTWIKKELINGSTAKE VAN DIE ADOLESSENT

2.5.1 STADIUMS VAN KOGNITIEWE ONTWIKKELING

Kognitiewe ontwikkeling word volgens Piaget (1971) beskou as die resultaat van ‘n individu se interaksie met sy omgewing en word bepaal deur faktore soos liggaamlike rypwording, ondervinding en oefening, sosiale interaksie en oordrag en balans met die omgewing (Louw et al., 1998:73). Piaget (1977) verdeel menslike kognitiewe ontwikkeling in vier periodes (Jaffe, 1998:124; Louw et al., 1998:77-83; Kimmel en Weiner, 1995:115). Die eerste stadium is die sensories- motoriese stadium waarin ‘n mens die wêreld leer ken deur dit te ervaar met jou sintuie en daarop te reageer. Hierdie stadium duur van geboorte tot ongeveer twee jaar. Die tweede stadium is vanaf die tweede tot sesde lewensjaar. Kleuters ervaar die wêreld deur intuïsie en besluite en persepsies is gebaseer op fantasie. Die kleuter raak toenemend vaardig in die gebruik van woorde maar denke is nog nie logies nie. Die derde stadium kom ooreen met die laerskoolfase waarin kinders die vaardigheid bemeester om logies te dink oor die

hier en nou wêreld en objekte in kategorieë en sub-kategorieë kan organiseer. In

hierdie stadium neig kinders tot rigiede (swart en wit) denke en hulle denke word gedomineer deur persepsies, intuïtiewe verstaan en naïewe teorieë oor die lewe en die wêreld. In hierdie stadium kan kinders maklik dit wat hulle sien of hoor misinterpreteer of vinnig afleidings maak wat nie altyd realisties is nie. Die vierde stadium van kognitiewe ontwikkeling kom ooreen met die adolessente ontwikkelingstadium. Vir die meeste adolessente is daar volgens Jaffe (1989:124) tussen die ouderdomme van 11 en 14 jaar ‘n metamorfose in hulle denke en redeneringsvermoë. Hulle denke is meer soos ‘n volwassene as soos

‘n kind. Die adolessent ontwikkel die vermoë om logies te dink oor abstrakte en hipotetiese gebeure en kan redeneer oor die lewe en wêreld. Piaget (1958) noem hierdie stadium formele operasionele denke en meen dat hierdie vorm van denke ‘n effek het op al die areas van die adolessent se lewe. Adolessente ervaar ‘n verbeterde vermoë om simbolies te dink. ‘n Simbool is iets wat iets anders verteenwoordig. Adolessente ontwikkel ook ‘n verbeterde taalvermoë, wat hom/haar in staat stel om te dink in metafore, analogieë te maak en om literêre werke te verstaan (Jaffe, 1998:129). Die adolessent se denke is meer buigbaar, maar neig nog volgens Louw et al. (1998:423) na absolute denke. Adolessente neig om te redeneer, om sodoende hulle nuut ontwikkelde vaardigheid te gebruik op gesagsfigure, vriende, familie en die sisteme (Jaffe, 1998:128). Hierdie hoër vlak van denke stel die adolessent in staat om beter te kan dink oor sy toekoms en oor homself, sy eie gedrag en motiewe. Verandering in hoe mens dink lei ook tot veranderinge in wat mens dink (Jaffe, 1998:129). Die adolessent se groter vermoë tot abstrakte denke lei ook tot ‘n meer diepgaande bewustheid van wie hy/sy is en oor sy/haar bestaan in die wêreld. Dit stel hulle in staat om te dink oor die betekenis van die lewe, hulle doel en verantwoordelikheid daarin, asook kwessies soos die dood, lyding, en isolasie. Uit voorafgaande blyk dit dat die adolessent in sy kognitiewe ontwikkeling die stadium van formeel-operasionele denke bereik het, wat hom in staat stel tot abstrakte denke, wat impliseer dat hy/sy ‘n meer diepgaande bewustheid het van wie hy/sy is en sy/haar bestaan in die wêreld.

2.5.2

EGOSENTRISME

Egosentrisme is die neiging om die lewe slegs te beskou in terme van die self (selfgesentreerd te wees) en om gepreokkupeer te wees met die bevrediging van eie behoeftes en begeertes. Kimmel en Weiner (1995:132) definieer egosentrisme as die onvermoë van ‘n persoon om te onderskei tussen sy eie

opinie en dié van ‘n ander. Egosentrisme plaas adolessente in die middel van ander mense se aandag wat hulle belangrik en uniek laat voel. Dit het ‘n verhoogde selfbewustheid en ongemak tot gevolg. Egosentrisme is verantwoordelik vir die kenmerkende veranderinge in adolessente gedrag, naamlik onsensitiwiteit, idealistiese denke, gevoelens van onkwesbaarheid en ‘n begeerte vir privaatheid.

Volgens Louw et al. (1998:423) en Kimmel en Weiner (1995:142) manifesteer adolessente egosentrisme in ‘n denkbeeldige gehoor en die persoonlike fabel. As gevolg van die adolessent se verhoogde selfbewustheid ervaar hy/sy dat hy/sy die fokus van alle aandag is (Louw et al., 1998:424; Kimmel en Weiner, 1995:134) en dat hy/sy blootgestel is aan ‘n denkbeeldige gehoor. Hoe ander hom/haar sien, word vir die adolessent baie belangrik. Andere ervaar weer in ‘n erge mate die persoonlike fabel, wat maak dat die adolessent uitermate bewus is daarvan dat hy/sy uniek is en in ‘n fantasie leef waarin hy/sy ‘n baie belangrike en unieke rol het. Hierdie fabel kan ook lei daartoe dat die adolessent onrealistiese gedagtes het oor die lewe en die gevolge van sy/haar dade (Jaffe, 1998:137; Louw et al.,1998:424).

Ander verskynsels in adolessente egosentrisme is volgens Kimmel en Weiner (1995:138-139) pseudo-dwaasheid en skynheiligheid. Pseudo-dwaasheid is die geneigdheid om uitermatig aan verskillende moontlike verklarings vir gebeure te dink, om komplekse motiewe vir optredes uit te dink en aanhoudend situasies te intellektualiseer. Skynheiligheid is die geneigdheid om reëls en regulasies vir ander te stel en te verwag dat ander so optree, sonder om self die reëls na te kom of te besef dat dit ook op hom/haarself van toepassing is.

Louw et al. (1998:424) meen dat egosentrisme in vroeë adolessensie toeneem maar teen middeladolessensie afneem. Sommige aspekte van egosentrisme is steeds teenwoordig in laat adolessensie, soos byvoorbeeld die teenwoordigheid van ‘n denkbeeldige gehoor.

Dit blyk dus dat in die adolessent se volwassewording egosentrisme eers toeneem om die adolessent in staat te stel om die nuwe blootstellings, sosialisering en identiteitsontwikkeling te hanteer. Tydens middeladolessensie is daar egter ‘n afname in egosentrisme na minder selfgesentreerdheid en meer realisme.