• No results found

ONDERHOUD, TABELLE EN VRAELYSTE

FIGUUR 6.5: FOTO’S VAN DEELNEMER 2 SE SANDBAK

(a) EKSPLOREER, EKSPLOREER MET POLARITEITE, IDENTIFISERING EN BESITNEMING

Deelnemer 2 sê dat hy sleg voel, want dit is vir hom sleg om oor daardie tyd van sy lewe te praat. Van sy sandwêreld vertel hy dat dit mense voorstel wat in ‘n parkie sit en drink en baie erg is oor hulle bier en ook baklei as hulle dronk is. Hy identifiseer dat dit sy ma is wat met haar vriend in die parkie sit en drink. Hulle is bakleierig en baklei oor simpel goed. Hulle is ook baie erg oor hulle drank. Hy is nie daar nie, want hy het gewoonlik by sy “tjommies” gekuier as sy ma gedrink het. Sy pa is ook nie by sy ma nie, want hy is by die huis. Sy pa het by die huis gedrink en het nie baklei as hy gedrink het nie, maar met sy vriende gekuier en grappies vertel.

Sy pa het baie vir hom kom kuier by sy pleegouers. Hy was verlede naweek vir die eerste keer in agt jaar terug na sy pa-hulle se huis. Dit was baie lekker om weer daar te kom. Hy is gebore in daardie huis waar sy ma-hulle nog bly. Dit was ook lekker om weer die mense te sien wat hy onthou. Hy is bly hy is daar weg, want hy sou net soos hulle gewees het as hy daar gebly het. Dit gaan nou beter met sy ma-hulle. Sy ma drink nog, maar sy het ook ‘n werk. Sy pa werk ook en hulle is “oraait”.

Uit die onderhoud tot dusver neem die navorser die deelnemer se voorgrondprobleem waar as dat hy graag weer by sy ouers wil bly en wil hê dat hulle moet ophou drink. Hy wil ook graag sien dat hul omstandighede verbeter.

(b) EKSPLOREER ALTERNATIEWE VIR DIE DEELNEMER SE

VOORGRONDPROBLEEM

Deelnemer 2 wil graag dat sy ouers ophou drink, sodat hy weer by hulle kan gaan bly. Hy het hulle die vorige naweek weggehou van die drank en hy wil nou

meer by hulle gaan kuier, want hy weet nou hoe om hulle weg van die drank te hou. Hy wil ook hard werk sodat hy ‘n regte werk kan kry om vir almal te kan sorg.

(c) AFSLUITING

Sessie 3 word afgesluit deur evaluering, bemagtiging en selfvertroeteling. Die navorser bemagtig die deelnemer deur uit te wys dat sy ouers gelukkig is om so ‘n seun soos hy te hê. Die deelnemer evalueer die sessie deur te sê dat dit nie lekker was om weer die drinkery te onthou nie. Hy weet nie hoe om homself nou te beloon nie. Die navorser beloon hom met ‘n lekkerny.

(d) WAARNEMINGS DEUR DIE NAVORSER TYDENS DIE SESSIE

Deelnemer 2 het weerstand getoon teen die uitvoering van die opdrag om sy sandwêreld te bou soos dit was voor hy in pleegsorg geplaas was. Hy antwoord eers dat hy nie kan nie en nadat die navorser hom aangemoedig het, handel hy die opdrag in vyf minute af. Slegs die linkerkantste onderste hoek van die sandbak is gebruik in die voorstelling en die res van die sandbak is leeg gelaat (sien foto figuur 6.5).

6.3.3.2

INTERPRETASIE VAN SESSIE 3

(a) DIE LEEFWÊRELD VAN DEELNEMER 2 SOOS HY DIT IDENTIFISEER

IN DIE SANDBAK

Deelnemer 2 het in sy sandbak sy ma wat saam met haar vriend drink en baklei in ‘n parkie voorgestel. Hy het ook gesê dat sy baie lief was vir haar drank. Sy pa het by die huis gedrink en die deelnemer was die meeste van die tyd by sy vriende.

(b) ITEMS VAN DEELNEMER 2 SE SANDBAK WAT HY NIE GEÏDENTIFISEER HET NIE

Deelnemer 2 het al die items geïdentifiseer

(c) HIPOTESES GEMAAK UIT SIMBOLIESE BETEKENISSE VAN

MINIATURE EN SANDSPELNAVORSING

Simboliese betekenisse is nie hier van toepassing nie, aangesien die deelnemer al die items bevredigend geïdentifiseer het wat hy gebruik het.

Uit sandspelnavorsing soos in die literatuur bespreek word wat betrekking het op hierdie sessie is die klassifikasie van ‘n leë wêreld (Bühler, 1951 en Bowyer, 1970 in Homeyer en Sweeney,1998: 69) wat daarop dui dat die deelnemer sy wêreld ervaar as ‘n ongelukkige en leë plek en dat hy depressief is of ‘n begeerte het om te verdwyn.

(d) BEVINDINGE OOR DIE LEEFWÊRELD VAN DEELNEMER 2 VOLGENS

DIE GESTALTBENADERING

Die deelnemer se veld word in hierdie sessie geïdentifiseer as sy ma wat drink

en baklei in die parkie saam met haar vriend, sy pa wat by die huis drink en hy wat na sy vriende toe vlug.

Die deelnemer se voorgrondbehoefte word geïdentifiseer as sy behoefte om

by sy biologiese gesin te wees en om hulle te help.

Kontakgrensversteurings wat in die sessie by die deelnemer waargeneem is,

is introjekte (Blom, 2004:23) aangesien hy verantwoordelik voel vir sy ouers. Hy neig ook om te deflekteer en homself te desensiteer. Aangesien dit vir hom moeilik is om aan die gebeure van die verlede terug te dink, verkies hy om dit te vermy (Blom, 2004:29; Selwyn, 1994:130). Die deelnemer poog ook om kontrole

te neem oor sy ouers se drinkpatroon (wat in die werklikheid onkontroleerbaar is) deur homself die taak op te lê om hulle te verander. Hierin word die kontakgrensversteuring van egotisme waargeneem (Blom, 2004:31).

Struktuur van persoonlikheid: Die deelnemer funksioneer in die vals laag van

die struktuur van persoonlikheid, aangesien hy optree soos hy dink die mense in sy kultuur van hom verwag (Blom, 2004:35).

Polariteit: Daar word ook ‘n polariteit waargeneem in die sandbak (Blom,

2004:33). Die deelnemer vertel dat hy swaargekry het in sy ouerhuis in die verlede, maar dat hy dit nou as lekker ervaar om daar te wees.

(e) BEVINDINGE OOR DIE LEEFWÊRELD VAN DEELNEMER 2 VOLGENS

DIE ADOLESSENTE ONTWIKKELINGSTADIUM

Ontwikkelingstake: As die deelnemer se ontwikkelingstake volgens Erickson

(1963) in ag geneem word soos beskryf in Louw et al. (1998:53-54) het hy waarskynlik weens die omstandighede in sy ouerhuis vanaf geboorte tot die ouderdom van ongeveer agt jaar probleme ondervind in die eerste vier stadiums van Erickson (1963) se ontwikkelingsmodel. Hierdie model dui daarop dat die deelnemer waarskynlik probleme sal ondervind met vertroue in verhoudings. Die deelnemer het in die eerste sandbak reeds gesinsverhoudings uit sy sandbak weggelaat.

6.3.4 SESSIE 4

Die vierde sessie met deelnemer 2 het nie plaasgevind nie. Die deelnemer wou nie verder aan die navorsing deelneem nie. Hy het gesê hy wil graag vergeet van die tyd toe hy klein was en sy ouers so gedrink het. Die sandbak het hom dit alles weer laat onthou wat hy wil vergeet. Die navorser respekteer die deelnemer se gevoelens en is verbind aan die etiese kode om die deelnemer nie emosioneel bloot te stel as dit vir hom ongemaklik is nie. Die navorser gebruik

die sessie om die deelnemer se emosies te ontlont deur oor sy gevoelens te praat, die redes waaroor hy so voel en hom daarna te bemagtig met positiewe terugvoer. Daar is ook aandag gegee aan wyses om sy gevoelens te hanteer. Die deelnemer verseker die navorser daarna dat hy beter voel.

Die bevindinge oor deelnemer 2 word nou by wyse van ‘n samevattende tabel

6.6 aangebied wat die inligting toon wat in die sessies ingesamel is deur te

eksploreer met sandspel volgens die Gestaltbenadering in maatskaplike werk.

6.3.5 SAMEVATTENDE BEVINDINGE OOR DIE LEEFWÊRELD

VAN DEELNEMER 2 MET SANDSPEL VOLGENS DIE

GESTALTBENADERING

Die bevindinge oor die leefwêreld van deelnemer 2 met sandspel volgens die Gestaltbenadering word by wyse van ‘n samevattende tabel aangebied (tabel

6.6). Die volgende afkorting word in die tabel gebruik: