• No results found

RESULTATE, BEVINDINGE EN INTERPRETASIES

FIGUUR 6.1: FOTO VAN DEELNEMER 1 SE SANDBAK

6.2.1.1 TERUGVOER TYDENS DIE ONDERHOUD

Daar word sover moontlik gebruik gemaak van die deelnemer se eie woorde in verslaggewing van die onderhoud. Tydens die onderhoud het die deelnemer na die miniatuurfigure in haar sandbak gewys wat die navorser toelig met beskrywing in hakies.

(a) EKSPLORERING

Deelnemer 1 sê dat sy beter voel en vertel die volgende oor haar sandwêreld: Daar is mense se huis en die mense kom van die werk af (man en vrou net buite die heining van die huis) en die kinders speel in die jaart (twee tennisspelers). Die man en die vrou en die kinders bly in die huis. Die leeus (vier) is in die hok en mense kan vir hulle kom kyk en dan kan hulle daar naby op die stoepie sit en teedrink. Die leeus is nou babaleeus, hulle kom nou na die mense toe. As hulle grootword, sal hulle die mense opeet. Daardie twee diere loop op die jaart rond (twee kalkoene). Hierdie is net vir die mooi en niemand kan op dit loop nie (die brug). Hier is die mense se werk (die groen huisie) en hier is (drie) feetjies net vir die mooi en hulle kan nie beweeg nie en is bly as hulle skoongemaak word. Daar is die dam met twee eende, twee seeskilpaaie, ‘n dogtertjie wat met ‘n vissie speel en ‘n seuntjie wat swem. Daar is ook ‘n meisie wat in ‘n stoel sit en visvang, sy is dertien jaar oud. Almal by die dam is gelukkig. Die vlinders vlieg en sit op goed en die feetjies is vir versiering. Die werk is daar en dit is ook die skool. In die jaart is twee bome, een is deur die weerlig geslaan en is nou dood, maar word gehou vir versiering. Die ander boom is mooi en die kinders sit daaronder as dit warm is. Die hond hou die skelms uit, is bly om die mense te sien en is ‘n wyfie. Die kat is skaam en is ook ‘n wyfie. Om die huis is ‘n heining wat die hond inhou en die leeus uit. Die heining om die dam hou die diere binne. Die besem en die hark is daar vir die man en vrou wat moet skoonmaak.

(b) EKSPLORERING MET POLARITEITE

Deelnemer 1 het gesê die probleem in die bak is by die werk en by die skool. Daar is nie ‘n probleem by die huis en by die dam nie. As die kinders saamspeel, is dit goed en as die leeus baklei, is dit kwaad. Sleg is as daar skoongemaak moet word en lekker is om te swem in die dam. Die sterkste is die ma en die pa en die swakste is die leeus.

(b) IDENTIFISERING EN BESITNEMING

Die deelnemer het gesê dat die sandbak dieselfde is as haar lewe, dit stel die huis voor waar sy by haar tannie en oom bly (pleegouers), die kinders is die tannie se twee groter kinders en die kleintjie wat by die dam speel. Sy sê naby hulle huis is daar ‘n dam waarby hulle almal lekker speel. Sy sê dat sy gelukkig is by die huis, maar nie by die skool nie. Sy sê dat sy die meisie by die dam is wat die kleintjies oppas en visvang. Dit is vir haar lekker. Haar probleme is ook by die skool, sy is in graad 7. Sy “slip” klasse saam met haar maats en kom dan in die moeilikheid. Sy voel hartseer en kwaad vir haarself dat sy dit gedoen het. Sy sal graag wil soet wees by die skool en ordentlike maats hê. As sy nie saam stout is nie sê die maats en haar sussie dat sy ‘n “nerd” is en hulle terg haar en baklei met haar. Dit is vir haar baie sleg.

Uit die onderhoud tot dusver neem die navorser die deelnemer se voorgrondprobleem waar as probleme by die skool en die behoefte om te behoort aan ‘n portuurgroep waarby sy gemaklik kan voel.

(d) EKSPLOREER ALTERNATIEWE VIR DIE DEELNEMER SE

VOORGRONDPROBLEEM

Sy sal graag wil soet wees by die skool. Sy wil nie meer met die maats speel wat haar in die moeilikheid laat beland nie. Sy is nou in ‘n ander klas as die stout maats. Sy werk ook deesdae eerder pouse in die kantoor. Sy sê die verandering is beter, want nou kom sy nie meer in die moeilikheid nie. Sy mis dit egter om maats te hê.

(e) AFSLUITING

Sessie 2 word afgesluit deur evaluering, bemagtiging en selfvertroeteling. Die navorser bemagtig die deelnemer deur haar te komplimenteer oor die keuse wat sy gemaak het om nie meer met die kinders te speel wat haar in die moeilikheid bring nie. Die sessie word geëvalueer. Die deelnemer sê dat die sessie vir haar lekker was en dat sy nou beter voel. Om haarself te vertroetel, sê sy sy gaan speel.

(f) WAARNEMINGS DEUR DIE NAVORSER TYDENS DIE SESSIE

Die volgende waarnemings is gedurende die sessie gemaak: Deelnemer 1 maak geen melding van haar ma, pa en sussie nie en stel hulle ook nie voor in haar sandbak nie. Sy gee haar volle samewerking (sy is gewillig om te doen wat die navorser vra) en doen haar bes om die navorser se goedkeuring te kry (sy vra die navorser by drie geleenthede of dit reg is hoe sy die opdrag uitvoer). Met die bou van die sandbak was sy aanvanklik onseker (vra of dit reg is wat sy doen), maar sy bou later doelgerig. Haar organisasie in die sandbak is sinvol (sien foto figuur 6.1), haar energievlak is deurgaans goed (sy loop vinnig heen en weer tussen die sandbak en die rakke vol miniatuurobjekte) en haar emosies kom neutraal voor (haar gesigsuitdrukking is neutraal).

6.2.2.2

INTERPRETASIE VAN SESSIE 2

(a) DIE LEEFWÊRELD VAN DEELNEMER 1 SOOS SY DIT IDENTIFISEER