• No results found

ADOLESSENSIE AS LEWENSFASE

2.4 ONTWIKKELINGSTAKE VAN DIE ADOLESSENT

2.5.3 SOSIALE KOGNITIEWE ONTWIKKELING

Sosiale kognisie is hoe ‘n mens oor jouself dink in verhouding tot ander, hoe jy jouself handhaaf tussen familie en vriende en hoe jy maksimum harmonie bewerk en negatiewe gevoelens en konflik minimaliseer (Jaffe, 1998:134; Kimmel en Weiner, 1995:146).

Meer volwasse adolessente is in staat om verskillende perspektiewe te koördineer. Dit stel hulle in staat om oor verhoudings te dink en dit te evalueer, hulle opinies te verdedig en terselfdertyd in staat te wees om iemand anders se opinie te verstaan, asook hoe albei opinies mekaar beïnvloed. Die adolessent kan hom/haarself in iemand anders se situasie plaas en sodoende ander met meer begrip en waardering hanteer. Adolessente is in staat om situasionele- en motiveringsfaktore in ag te neem in die verstaan van hulle eie en ander se optredes. Abstrakte denke maak dit ook moontlik vir adolessente om in die daaglikse omgang met ander persoonlikheidseienskappe af te lei. Hierdie eienskap help ook die adolessent om hom/haarself te verstaan (Jaffe, 1998:134- 135)

Adolessente dink abstrak oor vriendskappe, soos om vir mekaar om te gee, om gevoelens en denke te deel, mekaar te bemoedig en te ondersteun en mekaar te verdra en verskille uit te praat. Die adolessent kan ook beweeg na volwasse vriendskappe, waarin vriende sterk emosionele steun aan mekaar gee sonder om hulle onafhanklikheid prys te gee ( Kimmel en Weiner, 1995:153).

Die adolessent se kognitiewe ontwikkeling stel hom/haar dus in staat tot sosiaal- vaardige omgang met familie, vriende en ander mense. Die adolessent se morele ontwikkeling word vervolgens bespreek.

2.6 MORELE ONTWIKKELING

Om ‘n persoonlike waardestelsel te ontwikkel is een van die belangrikste ontwikkelingstake van die adolessent (Louw et al., 1998:464). Volgens Piaget (1932) in Louw et al. (1998:378) ontwikkel die kind moreel in drie stadiums. Die eerste stadium van 0 tot 4 jaar noem Piaget (1932) die pre-morele stadium, waarin die kind geen verpligting voel om reëls te gehoorsaam nie. In die volgende stadium (4 tot 8 jaar) gehoorsaam kinders reëls en is onderdanig aan gesagsfigure en beskou reëls as bindend en absoluut. Die derde stadium noem Piaget (1932) morele relativisme (10 jaar en ouer). Kinders in dié stadium neem die gevolge van oortreding van reëls in ag, maar het meer buigbare opinies wanneer die spesifieke situasie dit vereis.

Volgens Kohlberg (1975) in Jaffe (1998:153) hang morele ontwikkeling af van kognitiewe ontwikkeling en die blootstelling aan die onderskeiding tussen reg en verkeerd in die daaglikse lewe van die kind. Kohlberg (1975) is van mening dat ‘n adolessent van veertien jaar reeds op die tweede vlak van sy morele ontwikkeling is, waarin bestaande reëls en groepnorme aanvaar word. Adolessente glo dat mens jou met ander moet bemoei, betroubaar moet wees, reëls moet gehoorsaam en respek moet hê vir die samelewing se wette en reëls. Dit is belangrik om aan mense se verwagtinge te voldoen, hulpvaardig te wees en oor die algemeen goed te wees. Gedrag moet beoordeel word deur die individu se bedoelings en motiewe in ag te neem. Kohlberg (1975) meen dat vlak twee van sy klassifikasie die hoogste vlak van morele ontwikkeling is, wat die meeste volwassenes en adolessente gewoonlik bereik. Hierin word van mense verwag om hulle plig te doen en om sosiale orde te handhaaf en nie uit te

daag nie. Outoriteit moet gerespekteer word en daar word van almal verwag om verantwoordelik op te tree. Die derde vlak van morele ontwikkeling word deur min individue bereik en word postkonvensionele moraliteit genoem, waarin alle reëls onderwerp is aan ‘n hoër orde van etiese gedrag, eie gewete en universele etiese beginsels.

Jaffe (1998:160) is van mening dat kinders morele waardes leer in hulle daaglikse interaksie met ander mense. Die vermoë om moreel te kan oordeel word dus gevorm in sosiale interaksie. Daar bestaan klemverskille tussen die morele waardes van seuns en meisies. Seuns is veral bewus van onafhanklikheid en meisies van empatie en verhoudings.

Morele ontwikkeling hang dus af van kognitiewe ontwikkeling, opvoeding en sosiale interaksie. Sosiale ontwikkeling by die adolessent word vervolgens bespreek.

2.7 SOSIALE ONTWIKKELING

Sosiale ontwikkeling by die adolessent word bestudeer na aanleiding van vriendskappe en die portuurgroep. Daar word ook na die rol van die gesin en die verhoudings met die teenoorgestelde geslag gekyk.

2.7.1

PORTUURGROEPVERHOUDINGS

Die adolessent se ”sosiale ontwikkeling word gekenmerk deur ‘n toenemende belangstelling in en betrokkenheid by die portuurgroep..” (Louw et al., 1998:454). Volgens Jaffe (1998:276) is naby vriendskappe die reël gedurende adolessensie en portuurinvloed gedurende hierdie fase is gewoonlik positief en opbouend. Volgens Sullivan (1953) in Kimmel en Weiner (1995:283) begin adolessente

met naby vriendskappe in dieselfde tyd wanneer hulle sensitief begin raak vir die behoeftes en gevoelens van ander.

Dunphy (1972) in Jaffe (1998:276) meen dat adolessente deur die portuurgroep nuwe sosiale waardes moet aanleer, aangesien dié waardes wat hulle in hulle gesinne leer, nie relevant is vir die opvoedkundige en beroepswêreld van die adolessent nie. Elke nuwe groep adolessente behoort aan ‘n nuwe generasie met sy eie gebruike, waardes en verwagtinge, volgens Codrington en Grant- Marshall (2004). Om dus aan ‘n groep te behoort, is belangrik vir die adolessent se onafhanklikwording en totstandkoming van ‘n eie identiteit. Volgens Kimmel en Weiner (1995:296) is dit vir die adolessent baie belangrik om aanvaar te word in sy portuurgroep, daarvan deel te wees en daaraan te behoort. Adolessente is baie bewus van populariteit en konformiteit met die wil en wense van die portuurgroep. Hoe die adolessent regkom met sy portuurgroep word bepaal deur dit wat hy/sy geleer het in sy gesin aangaande selfopenbaring, vertroue, lojaliteit, konflik, kompromieë en respek. (Jaffe, 1998:278)

Die adolessent se vriendskappe speel ‘n belangrike rol in sy ontwikkeling. Vriendskappe dien as kognitiewe en sosiale hulpbronne vir die ontwikkeling van morele waardes. Dit is ook hier waar adolessente hulle lewensvaardighede onder die knie kry en met ‘n verskeidenheid volwasse rolle kan eksperimenteer. In hulle gesprekke vertrou adolessente op mekaar vir bystand, terugvoer, praktiese inligting en emosionele ondersteuning (Jaffe, 1998:267). Vriendskappe speel ook ‘n belangrike rol in die vorming van ‘n identiteit en is vir die adolessent ‘n sosiale leerskool, want dis hier waar hy/sy leer van die belangrikheid van wisselwerking in naby verhoudings, selfopenbaring, versorging, vertroue en konflikoplossing.

Adolessente is meer geneig om na hulle vriende te gaan vir kameraadskap, ontspanning en begrip sodat die verhoudinge met die ouers tydelik meer op die agtergrond skuif (Louw et al., 1998:461). Dit is belangrik vir hulle vorming,

aangesien dié wat in die portuurgroep aanvaar word ‘n hoër selfwaarde het en gewoonlik beter doen op skool (Jaffe, 1998:267). Kimmel en Weiner (1995:291) meen adolessente verwag van vriendskappe gedeelde aktiwiteite en belange, lojaliteit en verbintenis, samewerking, hulp en ondersteuning, eerlikheid en opregtheid, intimiteit, vertroue en afwesigheid van konflik.

Volgens Jaffe (1998:267) is die teendeel onsekere, kwesbare adolessente wat smag na aanvaarding. Die gevaar bestaan dat hulle dan by die sosiaal- verwerpte groep kan aansluit. Hierdie sosiale wanaanpassing is kommer- wekkend, aangesien dit die moontlikheid vergroot dat hierdie adolessente as volwassenes ook sosiaal wanaangepas sal wees. Adolessente wat aktief verwerp word deur die portuurgroep het dikwels nie sosiale vaardighede nie, of pas nie in nie, of is moeilik om mee klaar te kom. Moeilike huislike omstandighede veroorsaak dikwels sulke probleme. Die bykomstige las van verwerping en isolasie wat adolessente dra, lei tot spanning en weersin in hulle portuurgroep, wat weer lei tot gedragsprobleme by die skool en tuis. Bronfenbrenner (1989) en Erickson (1968) in Jaffe (1998:291) is van mening dat die opbreek van ‘n adolessent se sosiale netwerke kan lei tot beskadiging van sy/haar geestesgesondheid, sosiale gedrag en akademiese prestasie. In volwassenheid is hierdie adolessente in die hoë risikogroep vir huweliks-, seksuele-, sielkundige- en beroepsprobleme. (Parker en Asher, 1987 in Jaffe, 1998:292)

Dit blyk dus dat die portuurgroep ‘n belangrike rol speel in die adolessent se ontwikkeling. Aanvaarding in die portuurgroep dra by tot selfwaarde en identiteitsvorming, terwyl verwerping deur die portuurgroep lei tot wanaanpassing en probleme.