• No results found

HOOFSTUK 2. DIE MISSIONÊRE IDENTITEIT VAN DIE KERK WORD BEGROND IN

7. SAMEVATTING

Die vraag waarmee daar in die navorsing gewerk word, is: Het daar ‟n skuif in die kerkbegrip van lidmate in die NG Gemeente Murray (De Doorns) gekom en hoe beïnvloed dit hulle rolverwagting van die leraars? Die doel van die studie is om die kerkbegrip en rolverwagtinge van die lidmate vas te stel. Maar voordat dit kan gebeur, moet die normatiewe basis waaraan die situasie gemeet word, uiteengesit word. Dit

43

verteenwoordig, metodologies gesproke, die onder, bo en regterkant van die kruissimbool. Die normatiewe basis is aan die hand van ‟n literêre studie in hierdie hoofstuk gedoen. Die teologiese fondasie van die missionale teologie is gelê. Daar is vanuit die Woord en die geloofstradisie gewys hoe God se self-openbaring as ‟n drie-enige God ons denke oor die kerk beïnvloed. Die kerk (die plaaslike gemeente) se doel en wese word bepaal deur die missio Dei. God se missie ís die missie van die plaaslike gemeente. Buite die missio

Dei om het die plaaslike gemeente geen bestaansreg nie. Dit is vir enige gemeente belangrik om hulle te vergewis van die implikasies van die missio Dei op hulle roeping. Indien Murray gemeente ernstig is om goeie teologie te beoefen sal hulle deeglik hiervan kennis moet neem. Hulle sal hulleself moet oopstel vir die waarheid van die Woord en die geloofstradisie. Die volgende implikasies kan vanuit die hoofstuk afgelei word:

- God het Homself aan die mensdom openbaar as ‟n wese wat in gemeenskap met Homself lewe. Daarom is die gemeenskap van gelowiges vir die kerk ononderhandelbaar.

- In die navolging van God drie-enig se voorbeeld is die gelowiges (lidmate van die gemeente) op mekaar aangewese en kan die een nie sonder die ander een aan God se roeping voldoen nie. Ons is saam geroep om God hier op aarde te verteenwoordig. Elkeen is uniek en het ‟n unieke bydrae te lewer vir die liggaam van Christus om gesond te wees. Daarom is dit belangrik dat elkeen gehelp moet word om te ontdek wat sy of haar unieke plek in die gemeente is. Na die ontdekking sal elkeen vir hulle roeping bemagtig moet word.

- Die Triniteit maak dit duidelik dat onderlinge verhoudinge baie belangrik is en dat individuele gelowiges nie sonder mekaar kan funksioneer nie. Gelowiges het mekaar nodig en elkeen het ‟n bydrae te lewe tot opbou van die liggaam van Christus (Rom 12, 1 Kor. 12 en Ef. 4). Dit is nie net op die leraars van toepassing nie; elke gelowige speel ‟n belangrike rol in die geestelike gesondheid van ‟n gemeente. Die verstaan en rol-uitklaring van die ampte word hierdeur geraak. Veral die herontdekking van die amp van die gelowige en hulle betrokkenheid en rol as deel van die APEPT, soos uitgespel in hierdie hoofstuk, sal aandag moet kry. - Die plaaslike gemeente is ‟n eenheid, maar kan homself nooit onafhanklik van

ander gemeentes beskou nie. Daar is geen ruimte vir eksklusiwiteit binne die liggaam van Christus nie.

44

- God is ‟n Persoon, is persoonlik en kan alleen in ‟n persoonlike verhouding met Hom leer ken word. Daarom moet elke lidmaat bemagtig word om in ‟n persoonlike verhouding met God drie-enig te leef. Dit is waarskynlik die belangrikste taak van die leraars om lidmate hiermee te help.

- God se voorbeeld van liefde moet op ‟n sigbare en praktiese manier in en deur die plaaslike gemeente sigbaar word. Die onderlinge liefde wat die individuele lidmate van ‟n gemeente vir mekaar demonstreer, sal bepaal of die wêreld gaan glo dat God ‟n God van liefde is of nie. Die liefde moet op so ‟n manier aan die plaaslike gemeenskap gedemonstreer word dat die gemeenskap God se liefde vir hulle deur die gemeente se liefde vir hulle kan beleef en ervaar.

- Omdat God in sy wese ‟n God is wat stuur en wat van die wêreld ‟n beter plek wil maak (metodologies aangedui deur die bo-punt van die kruissimbool), het die plaaslike gemeente geen bestaansreg buite God se missie om nie. ‟n Gemeente se uitsluitlike bestaansdoel is om God se werk op aarde voort te sit. Daarom is die plaaslike gemeente nooit ‟n doel op sigself nie. Soos reeds uit Bosch (2004:290) aangehaal is: “There is church because there is mission, not vice versa (Agaard 1974:423). To participate in mission is to participate in the movement of God‟s love towards people, since God is a fountain of sending love.” Die plaaslike gemeente kan daarom nie anders as om aan te sluit by werk waarmee God reeds besig is nie. Die plaaslike gemeente moet leer om geloofsonderskeidend te leef sodat daar sinvol onderskei kan word waar God aan die werk is en waarvoor Hy die gemeente roep. Meer daarvan in Hoofstuk 4.

- Die inkarnasie van Jesus wys dat die plaaslike gemeente homself nie kan isoleer of distansieer van die omgewing nie, maar juis maniere moet vind om deel van die breë gemeenskap te word. Murray gemeente is in die Hexriviervallei geplaas om iets van God se nuwe Koninkryk hier sigbaar te maak. Die gemeente moet in navolging van Jesus se voorbeeld (Filippense 2) bereid wees om mag en eksklusiwiteit prys te gee, sodat maniere gevind kan word om die gemeenskap sinvol binne te dring. Die gemeenskap moet via die plaaslike gemeente beleef dat God werklik in hulle belangstel.

- Die gemeente moet die wonder herontdek dat ons deur God genooi is om saam met Hom te werk aan die sigbaar maak van sy koningkryk hier in die Vallei. As die gemeente die missio Dei reg verstaan, sal ingesien word dat die gemeente God se sending na die wêreld moet voortsit. Dan sal die gemeente altyd besig wees om na

45

buite te kyk om te sien waar daar ‟n verskil gemaak kan word. Die gemeente sal altyd aan die verander wees, aangesien dit altyd relevant sal wil wees vir die tye waarin dit leef.

- Vir Murraygemeente om ware kerk te wees is die konteks waarbinne die gemeente geplaas is bepalend vir die bestaansdoel van die kerk. Die konteks is die mense na wie God ons stuur. Daarom moet daar ‟n groter openheid wees vir mense wat anders as ons is en sal die gemeente hulself die vraag moet afvra: kan die samestelling van ons gemeente bly soos wat ons is, of moet iets van die bruid van Christus wat bestaan uit mense van elke volk, stam, taal en nasie, in die gemeente nou reeds sigbaar word?

- Die denke oor die Triniteit beïnvloed ook die manier waarop ons na die ampte in die kerk kyk. Elkeen kry by bekering ‟n amp en daarmee saam ‟n roeping. Ons het gesien dat die kerk nie deur die amp van die leraar gekonstitueer word nie, maar dat elke lidmaat ‟n bydrae te make het. Vir die kerk om gesond te wees het elke lidmaat ‟n aktiewe bydrae te lewer. In die lig van die navorsingsprobleem is hierdie ‟n belangrike saak waarvan die gemeente kennis sal moet neem.

- In navolging van Jesus se voorbeeld sal die maak van dissipels ‟n hoë prioriteit vir die gemeente wees. Dit is noodsaaklik sodat die gelowiges in die alledaagse lewe hulle geloof werklik kan uitleef.

- Die verstaan van bogenoemde sal weer ‟n invloed hê op die manier waarop daar na die rol van die leraars en die gewone lidmate gekyk word. Binne die Triniteit is daar geen hiërargie nie en daarom hoort dit ook nie in die gesagstruktuur van die kerk nie. Leierskap behoort aan die hele gemeente wat saam moet leer onderskei wat God se wil vir hulle is.

Die Missionale identiteit van die gemeente, soos verstaan uit die Teologie oor die Triniteit, het dus groot implikasie vir ons verstaan van kerkwees en het ingrypende gevolge vir die plaaslike gemeente se selfverstaan. In die lig van die navorsingsprobleem sal die gemeente deeglik moet kyk na die teologie soos beskryf in hierdie hoofstuk. Die gemeente sal homself moet herevalueer in die lig van dié teologie, aangesien dit die gemeente sal help om op ‟n meer Bybelse manier oor kerkwees en die rol van die leraars te besin.

Gesien in die lig van die enorme skuiwe wat tans in die samelewing plaasvind as gevolg van Post-modernisme, Globalisasie, die Inligtingsrevolusie en die einde van die

46

Christendom-era, is dit noodsaaklik dat die kerk (ook en veral die plaaslike gemeente) deeglik kennis moet neem van wat in die wêreld aan die gebeur is, veral wat die ontwikkeling van die teologie betref. In die volgende hoofstuk gaan daar gekyk word na die invloed van die veranderende wêreld op die mensdom. Goeie teologie kan immers nooit beoefen word los van die konteks waarbinne dit beoefen word nie. Dis juis in die korrelasie tussen die teologie en die wêreld waarbinne ons ons bevind, dat die gemeente God se roeping sal ontdek.

47

HOOFSTUK 3. DIE WÊRELD WAARBINNE DIE