• No results found

IN ’N MISSIONÊRE GEMEENTE WAT ERNS MAAK MET GELOOFSONDERSKEIDING SAL DIE ROL

HOOFSTUK 3. DIE WÊRELD WAARBINNE DIE GEMEENTE HAARSELF BEVIND

4. IN ’N MISSIONÊRE GEMEENTE WAT ERNS MAAK MET GELOOFSONDERSKEIDING SAL DIE ROL

LERAAR NUUT UITGEKLAAR MOET WORD

Indien dit wat reeds geskryf is ernstig opneem word, het dit radikale implikasies vir die rol van die leraar. Veral gesien in die konteks van NG Gemeente Murray (De Doorns). Aangesien die rolverwagting van die leraar so ‟n groot bron van spanning in die gemeente is, is dit belangrik om hier die implikasies van geloofsonderskeiding op die rol van die leraar duidelik uiteen te sit.

Indien die gemeente ernstig is om geloofsonderskeidend te funksioneer, moet daar wegbeweeg word van ‟n hiërargiese leierskapstyl na ‟n spanbenadering, waarin ‟n span leiers saam besin oor die pad vorentoe. Dit wat oor die Triniteit geskryf is in hoofstuk 2 bevestig dit (Niemand 2007 en Joubert 2007).

Martoia kies in Die Perfekte Storm (Joubert 2007:102-106) die benaming sweefstokleiers. Dit is leiers wat bereid is om die bekende te los en in die veranderende tye waarin ons leef die onbekende te verwelkom. Dit is leiers wat bereid moet wees om die innerlike reis eers self te onderneem voordat hulle kan verwag dat ander hulle op dieselfde reis sal volg. Wat die kerk nodig het, is leiers wat in ‟n opregte, diep persoonlike verhouding met God drie-enig leef. Dit is egter nie iets wat sommer vanself gebeur nie. Dit vra soos tereg genoem is tyd, rustigheid en afsondering. Dit vra van die leraar ‟n vaste besluit dat die vorming van sy geloofslewe prioriteit in sy lewe en bediening sal wees. Jamieson (Joubert 2007:115-117) praat van ervare geloofsvaarders. Mense wat met gesag kan praat van hulle verhouding met God.

Peterson (1989:30) laat die keuse in die hand van die leraar of hy kapelaan van ‟n kultuur wil wees waarin hy voldoen aan die verwagtinge van mense en of hy gaan kies om ‟n leraar te wees wat die status quo subversief gaan aanspreek. Wanneer die keuse vir subversie is, is daar drie belangrike voorveronderstellinge daaraan verbonde:

- Die status quo is verkeerd. -Daar is „n werklike alternatief.

99

Dis egter nie „n gewilde of maklike pad om te loop nie en die meeste leraars is nie bereid om die pad te loop nie. Indien daar tog besluit word om die pad te loop is die instrumente wat gebruik kan word die van gebed en die gebruik van gelykenisse (die vertel van stories). Dit is egter nie werk wat in die kollig plaasvind nie. Lidmate weet gewoonlik nie daarvan nie en daarom is dit nie ‟n gewilde keuse by leraars nie (Peterson 1989:34-36). In ‟n missionêre konteks is daar egter nie ‟n ander keuse nie, want God en sy besig-wees in die wêreld staan sentraal. Dit is die taak van die leraar om raak te sien en te hoor en te onderskei waar God aan die werk is, of waarheen Hy lei.

Die getroue daaglikse beoefening van geestelike dissiplines help die leraar om geestelik te onderskei en om op ‟n meer subversiewe manier werksaam te wees. Daarom behoort die beoefening van geestelike dissiplines eerste prioriteit in sy bediening te kry. Vanuit stilwees voor die Here ontwikkel die leraar die vermoë om God ook in die gewone alledaagse dinge van die lewe raak te sien. Wanneer die leraar hierin groei, sal hy die vermoë hê om ander gelowiges te help om God ook in hulle lewens raak te sien. Die leraar moet daarom daarteen werk en waak om die sogenaamde geestelike dinge los te maak van die alledaagse. Gesprekke met lidmate moet daarom nie net geestelik van aard wees nie, want dan kweek dit ‟n gevoel by lidmate dat die geestelike dinge en die gewone dinge in die lewe nie iets met mekaar te doen het nie. Dit is juis belangrik dat die teenoorgestelde moet plaasvind. Lidmate moet gelei word om te besef kind van God wees, of kerk wees, gaan juis daaroor dat ons verhouding met God neerslag moet vind in die alledaagse lewe. Die voorbeeld van Jesus en veral sy gebruik van gelykenisse help ons om dit beter te verstaan (Peterson 1989:32-33).

Van die belangrikste werk wat die leraar kan doen, is om mense te leer om te bid. Volgens Peterson (1989:65) is die leraar se taak:

... directing worship in the traffic, discovering the presence of the cross in the paradoxes and chaos between Sundays, calling attention to the “splendor in the ordinary,” and, most of all, teaching a life of prayer to our friends and companions in the pilgrimage.

Dit is belangrik om lidmate te leer om na God op te let, om te leer om Hom waar te neem, om die innerlike lewe te help vorm, sodat mense ontvanklik kan word vir die waarheid en nie net besig is met die opneem van ‟n klomp feite nie (Peterson 1989:89).

100

Om daarmee te help is daar volgens Peterson (1989:84) twee soorte van gebed: Kataphatic prayer uses icons, symbols, ritual, incense; the creation is the way to the Creator. Apophatic prayer attempts emptiness; the creature distracts from the Creator, and so the mind is systematically emptied of idea, image, sensation until there is only the simplicity of being.

By eersgenoemde leer jy mense om oop oë te bid en God in die geskape dinge raak te sien. In die gewone alledaagse dinge. In die tweede leer jy mense om met toe oë te bid en net voor God te wees. Centering prayer is ‟n voorbeeld hiervan en kan vir beide die leraar en die lidmaat help om fyner ingestel te raak op God se teenwoordigheid in die lewe.

Dit is dan ook waaroor pastorale werk volgens Peterson (1989:112) gaan. Om te spesialiseer in die ordinêre, gewone dinge.

It is the nature of pastoral life to be attentive to, immersed in, and appreciative of the ordinary texture of people‟s lives... If pastoral work, is to represent the gospel and develop a life of faith in the actual circumstances of life, it must learn to be at home....in the everyday things in people‟s lives..

Die leraar moet mense help om hulle geloof in die gewone van die lewe uit te leef. Dit is van groot belang om nooit uit die oog te verloor dat God reeds aan die werk is nie. Ook in die gewone dinge van die lewe is God voortdurend werksaam. As ons dit aanvaar, beteken dit dat die leraar nie alle gesprekke in die rigting van geestelike gesprekke hoef te forseer nie. Die leraar hoef nie iets te bewerk nie, aangesien God reeds aan die werk is en die leraar slegs daar hoef te wees indien God iets deur hom wil bewerk (Peterson 1989:114-116). Dit gaan dus oor die inskerp by lidmate dat God nie net binne die kerk werk nie, maar oral in die wêreld en dat gelowiges daarvoor op die uitkyk moet wees, sodat hulle kan aansluit by dit waarmee God reeds aan die werk is.

Daarmee saam is dit belangrik dat die leraar nie na mense sal kyk as sondaars nie, maar as mense in wie se lewe die genade van God reeds werksaam is. Die leraar moet daarom op soek wees na die tekens van God se genade wat reeds in mense se lewens werksaam is en hulle help om dit raak te sien. Hierdie ingesteldheid kan lei tot groter bedieningsvreugde by die leraar, asook ‟n groter openheid teenoor alle mense.

101

Die leraar is dus verantwoordelik om op alle vlakke van gemeente gelowiges te help om iets van God se genade, teenwoordigheid en werking in hulle lewe raak te sien. As geestelike begeleier is dit sy verantwoordelikheid om individue daarmee te help, maar ook om vergaderings so in te rig dat dit wegbeweeg van die gebruiklike waar agendas alles oorheers, na ‟n manier van bymekaarkom waar almal saam geloofsonderskeiding beoefen. Hierin sal gebed en die lees van die Woord ‟n baie belangrike rol speel.

Die leraar moet verder, soos reeds aangedui, besig wees met die maak van dissipels (Hirsch 2006, Niemand 2007). Die fokus daarvan is om gelowiges te lei tot ‟n diep persoonlike verhouding met God en die hulpmiddele is gebed, die formatiewe lees van die Woord en geestelike begeleiding. Die ruimte waarbinne dit moet plaasvind is die liefdevolle gemeenskap van gelowiges. Dit kan nie individueel plaasvind nie en moet nie deur vrees gedryf word nie (Barry 2004:59-60). Die doel daarvan moet wees om lidmate te bemagtig om ‟n pad van geestelike groei te loop waarin ons mekaar help om meer en meer soos Jesus te word. Jesus het geloofsonderskeidend geleef. Hy was voortdurend op soek na die wil van sy Vader (Morris & Olsen 1997:26-27). Leraars moet lidmate help om te leer om in gemeenskap en in harmonie met God te leef. Ignatius se verduideliking van konsolasie en desolasie kan hier baie help (Barry 2004:80-82). Is ek in kontak met God, of nie? Word ek nader aan Hom getrek, of nie? As geestelike begeleier kan die leraar lidmate help om te leer onderskei wanneer God hulle nadertrek en wanneer daar iets in hulle lewe is wat hulle van God af wegtrek. Silf verduidelik dit mooi in Landmarks: “Ignatius compares consolation to the action of water falling softly onto a sponge, and desolation to action of water splashing onto stone” (1989:89).

Die leraar moet dit ook op gemeentevlak doen. Eredienste is ‟n uitstekende plek om van hierdie oefeninge met gemeente te doen. Hierdie aanleer van geloofsonderskeiding moet op alle vlakke van gemeentewees toegepas word. By elke vergadering, wanneer kleingroepe bymekaar kom, waar toerusting plaasvind en wanneer jeuggroepe bymekaar kom. Die leraar moet die gemeente begelei op ‟n pad waarop daar geleer word om voortdurend, vier-en-twintig uur per dag en sewe dae per week, te leef met geloofsonderskeiding. Sodoende kan die geloofsgemeenskap (gemeente) die gewoontes begin aanleer om te ontdek waarmee God besig is in die wêreld en dan in gehoorsaamheid by Hom aansluit.

102

Indien dit nie gebeur nie, sal die fokus van die gemeente wees op oorlewing en die behoud van alles wat vir hulle na aan die hart lê. Dan vind ‟n verval in godsdienstigheid plaas waarvan God slegs ‟n deeltjie uitmaak.

Die leraar moet ook daaraan werk om die nodige vaardighede aan te leer wat verhoudinge kan skep, versorg, uitbou en laat blom. Leierskap moet mense so kan beïnvloed dat hulle leer om dinge saam te doen, dinge wat geeneen alleen sou kon doen nie. Die leraar behoort ander so op te bou dat elkeen ‟n beter mens word en saam as ‟n span groei in insig en vaardighede (Niemand 2007:125). Dit geld veral wat die aanleer van en uitoefening van geloofsonderskeiding betref.

Hierdie beskrywing van die rol van die leraar is anders as wat tot nou toe van ‟n leraar verwag is. Indien die gemeente ernstig is met die missio Dei en wil aansluit daarby waarmee God reeds besig is, sal die gemeente en die leierskap hierdie rolbeskrywing van die leraars ernstig opneem. Dit sal ook ‟n invloed hê op die struktuur van die gemeente en manier waarop besluite geneem word. Daar word nou hieraan aandag gegee.

5. IN ‟N MISSIONÊRE GEMEENTE WAT ERNS MAAK