• No results found

GOD OPENBAAR HOMSELF AS ’N GOD WAT ONS NOOI OM SAAM MET HOM TE WERK . 27

HOOFSTUK 2. DIE MISSIONÊRE IDENTITEIT VAN DIE KERK WORD BEGROND IN

2. HOE OPENBAAR GOD HOMSELF?

2.9. GOD OPENBAAR HOMSELF AS ’N GOD WAT ONS NOOI OM SAAM MET HOM TE WERK . 27

Wanneer ons oor die Triniteit dink, hou die gedagtes oor Triniteit ons nederig en bewaar dit ons daarvan dat ons God probeer indruk in wie ons wil hê Hy moet wees. God is nie ‟n verbruiksartikel nie, maar Iemand groots en misterieus. Ons word al dieper getrek in ‟n wêreld vêr groter as wat ons kan dink of verbeel. Die Triniteit nooi die mens om deel te kom neem in sy aktiwiteite. Ons is nooit toeskouers van ‟n afstand af nie. Ons word

28

genooi om saam met Hom te kom werk. Ons word vennote in die werk van God drie-enig (Peterson 2005:46). Daarom sy opdrag in Johannes 20:21: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Óns missie is Sý missie.

Hierdie denke oor die maniere waarop God Homself aan die mens openbaar, het gelei tot ‟n nuwe manier van dink oor die kerk. In die volgende afdeling gaan hierdie ontwikkelinge in die kerk vlugtig aandag kry.

3. ‟N NUWE VERSTAAN VAN DIE MISSIONÊRE

IDENTITEIT VAN DIE KERK GEGROND OP DIE MISSIO

DEI

Die voorafgaande bespreking rondom die Triniteit het die afgelope jare gelei tot ‟n nuwe manier van dink oor die kerk en wat die identiteit van die kerk behoort te wees. Vir eeue, sedert die huwelik tussen staat en kerk wat deur Konstantyn begin is, is daar op ‟n verarmende wyse oor kerkwees gepraat. Met die Edik van Milaan onder Konstantyn het daar ‟n einde gekom aan die missionaal apostoliese kerk en het die kerk beweeg van ‟n gemarginaliseerde, subversiewe en vervolgde beweging, wat in huise bymekaar gekom het, na ‟n godsdiens wat deur die staat ondersteun is. Konstantyn se optrede het dus ‟n nuwe manier van kerkwees in werking gestel en so breek ‟n nuwe era aan wat genoem word die Christendom-era. “In virtually an instant, Christianity moved from being a marginalized, subversive, and persecuted movement secretly gathering in houses and catacombs to being the favored religion in the empire. Everything changed” (Frost & Hirsch 2003:8).

Die kerk en staat het een geword en saam het dit die kultuur van die samelewing gevorm. ‟n Nuwe vorm van identiteit is deur die verhouding tussen staat en kerk gevorm.

Niemand (2007:13) skryf hieroor:

Die algemene kultuur van die tyd en die Christelike lewenswyse het dieselfde geword. Jy kan nie meer die twee onderskei nie....Die magte in die samelewing en die kerk het ineengevleg geraak. Die funksies van die samelewing (kultuur) het die taak van die kerk geword: om ‟n dokter te wees moes jy kerk toe gaan; om onderrig te ontvang moes jy kerk toe gaan, om na te dink oor die natuur moes jy kerk toe gaan. Musiek en wetenskap en

29

regspraak en wiskunde was alles op die kerk se agenda....Kerk en staat was een.

Almal in ‟n gegewe samelewing, is op grond van hulle geboorte as Christene beskou. Dit was nie meer gegrond op ‟n persoonlike keuse nie, maar op die land waarin jy gebore is. Die Christendom het van ‟n dinamiese geestelike beweging beweeg na ‟n godsdienstige instituut. Dit het die kerk dood gemaak. Die kerk het sy dinamika verloor. Die kerk het iets geword wat deur betaaldes aan die leke gedoen het (Frost & Hirsch 2003:8).

Guder (1998:79) haal Bosch aan uit ‟n lesing wat laasgenoemde in 1991 in Holland aangebied het waarin hy beweer dat die kerke wat deur die reformasie gevorm is iets geword het wat die reformasie nooit bedoel het om te word nie. Dit raak veral die manier waarop ons van die kerk praat. Die kerk word nou gesien as “‟n plek waar sekere dinge gebeur.”

Hierdie verstaan van kerkwees is egter aan die verander. Reeds die afgelope 250 jaar praat historici van die post-Christendom-era. Die Westerse samelewing word nie meer as Christelik gesien nie. Die kerk en staat is nie meer in ‟n samewerkende verhouding met mekaar nie. Die Christendom is verby. Dit lyk ongelukkig asof die kerk in die Weste en veral die NGK hier in Suid-Afrika dit nog nie mooi besef nie. Die Christendom metanarratief (verstaan van kerkwees) oorheers nog volgens Frost & Hirsch (2003: 8-9) ons teologie en ons denke oor die kerk. Niemand (2007:13) sluit hierby aan wanneer hy praat van die einde van die Christenheid. Hy beskryf die begrip Christenheid as dat die algemene kultuur van die tyd en die Christelike kultuur, een en dieselfde was. Hy verduidelik dit as die einde van die Christendom, maar nie as die einde van die Christelike geloof nie, en ook nie as die einde van die kerk nie. Hy beskou dit as die einde van ‟n spesifieke bedeling en ‟n spesifieke wyse waarop die kerk in die samelewing gefunksioneer het. Die Christelike kultuur, waardes en manier van dinge doen is nie meer die bepalende, in, of vir, die breë samelewing nie.

Volgens Bosch (2004:493) het daar in die breë kerk ‟n skuif in die teologie plaasgevind. Daar is beweeg van ‟n teologie van Sending (Missiologie) na ‟n Sendeling-teologie. Sedert die sestiger jare van die vorige eeu word dit algemeen aanvaar dat sending tot die wese van die kerk behoort. Vir die protestante was Willingen in 1952 en die New Delhi byeenkomste van die Wêreldraad van Kerke, en vir die Katolieke kerk die Vatikaan 2, die deurslaggewende gebeurtenisse. Die kerk word nie meer primêr gesien as staande

30

teenoor die wêreld nie, maar eerder as gestuur in die wêreld in en dat die kerk bestaan ter wille van die wêreld. Sending (Missiologie) is nie meer langer gesien as ‟n aktiwiteit van die kerk nie, maar eerder as ‟n uitdrukking van die wese van die kerk.

Hieroor skryf Bosch (2004:493):

One could no longer think of the church except as being both called out of the world and sent forth into the world. The world could no longer be divided into “missionizing” and “missionary” territories. The whole world was a mission field, which meant that Western theology, too, had to be practiced in an missionary situation.

Om kerk te wees, is om deel te wees van God se sending (missie). Soos reeds gesê, het Barth ons gehelp om te begin verstaan dat die missio Dei groot betekenis het van hoe ons oor kerk en veral die taak van die kerk dink. Sedertdien is daar ‟n nuwe verstaan van kerkwees wat algemeen aanvaar begin word. En dit is dat die kerk nie ‟n eie missie, ‟n eie doel los van God se missie het nie. Die kerk is daar ter wille van God se missie. Sonder God se missie het die kerk geen rede vir bestaan nie. Kerk kan dus nie kerk wees los van die missio Dei nie. Keifert (2007:55) skryf dat as die lidmate van die plaaslike gemeente eers hulle fokus verskuif het van die plaaslike gemeente se missie na God se missie met die wêreld, sake dramaties verander in hulle verstaan van kerk-wees en wat hulle roeping as gelowiges is.

Sending (Missiologie) is egter ook baie meer as wat die kerk is. Omdat sending gegrond is in die Triniteit van God, is sending baie wyer en meer as wat die kerk is. Niemand (2007:147) som Bosch mooi op as hy skryf:

...sending is ‟n beweging van God na die wêreld. Sending behoort nie aan die gemeente nie, dit is nie iets mooi en kosbaar wat gehoorsame mense doen nie, dit is ten diepste ‟n eienskap van God self. Sending is primêr en geheel en al die werk van die drie-enige God, Skepper, Verlosser en Saligmaker, ter wille van die wêreld, waaraan die kerk bevoorreg is om deel te neem.

Omdat die kerk se roeping op die missio Dei gebou word, is dit die taak van die kerk om die evangelie wêreldwyd te bly verkondig. Die kerk sit dus bloot die sending van God voort. Daarom hét die kerk nie sendingwerk soos ons dit al die jare gesien het nie.

31

Sending kan nie meer net ‟n onderdeel van die kerk wees wat deur ‟n paar yweriges gedoen word nie. As ons die missio Dei reg verstaan, sal ons insien dat die kerk God se sending na die wêreld is.

Keifert (2007:22) skryf dat in die tyd van die apostoliese era die plaaslike gemeentes hulleself gesien het as voorposte van gestuurdheid binne God se groot missie; “as gemeenskappe wat deur God geroep, versamel, gefokus en gestuur is na die ongelowige wêreld.” Hulle het verstaan dat om gestuurd te wees beteken om kerk te wees in die doodgewone lewe tussen en saam met vriende, bure, kollegas, vreemdelinge. Hulle het verstaan dat dít die identiteit van die kerk was, dat dít is wat kerk-wees beteken. Daarin lê die identiteit van die kerk. Alleen daarin het die kerk enige reg op bestaan.

As ons dit reg verstaan, sal die denke in Murraygemeente oor wat die kerk is radikaal moet verander. Sal ons moet verstaan dat ons as gemeente nie hier is ter wille van onsself nie. Ons doel lê nie in onsself nie, nee, ons is hier omdat God ons betrek by sy sending na die wêreld. Ons moet ons taak sien as om dit wat Jesus kom doen het voort te sit. Dit het natuurlik geweldige implikasies vir waarmee ons as gemeente besig is.

Dit is belangrik vir die plaaslike gemeente, in dié geval Murray-gemeente, om te begin waarneem wat in die kerk wêreldwyd aan die gebeur is, sodat ons denke oor kerk-wees daardeur gevorm kan word. Gibbs en Coffey (2001:57) beklemtoon die belangrikheid hiervan vir die plaaslike kerk, sodat die plaaslike gemeente nie sekere dinge ten opsigte van wat van die kerk verwag word per ongeluk, of met opset, miskyk nie. Ons sal ons taak moet begin sien as beelddraers van God wat aansluit by God se werk in die wêreld en veral hier by ons in die Vallei. Hieroor skryf Hendriks (2004:70): “A missional congregation is called to be the light of the world and the salt of the earth (Mt 5:13-14); thus it should also influence its context.” Indien die plaaslike gemeente nie hieraan voldoen nie, verloor die gemeente na regte sy bestaansreg.

God is steeds in die wêreld werksaam. Hy werk nie net daar waar die kerk werksaam is nie. God is aan die werk in die wêreld en nooi ons (ook as gemeente) om by Hom te kom inskakel. Dit is soos Bosch (2004:391) sê: “..the real author of this humanized history is the Holy Spirit.” Dit stroop die mens van elke moontlike vorm van arrogansie. Selfs in die manier waarop die kerk sy sending voortsit behoort die kerk te waak teen hoogmoed. Die kerk kan nie maak asof dit met die antwoorde kom nie. Die kerk kan nie maak asof God nie reeds lank voor die kerk op ‟n spesifieke plek begin werk het nie. Die uitdaging vir die

32

plaaslike gemeente is juis om die vermoë te ontwikkel om te kan raaksien waar God reeds aan die werk is en dan aan te sluit by die werk waarmee God reeds besig is. As dit gesê word, impliseer dit die aanvaarding dat God drie-enig by uitstek die God is wat Homself in die geskiedenis van die wêreld openbaar.

Hierdie proses waarin ‟n gemeente probeer onderskei waar God reeds aan die werk is en wat God van die geloofsgemeenskap verwag, word genoem ‟n proses van geloofsonderskeiding. Daar gaan later aandag gegee word aan hierdie proses.

Dit bring amper onwillekeurig die vraag na vore: wanneer is ‟n kerk dan werklik kerk? Of, wat maak dat ‟n kerk kerk is? In die volgende afdeling kyk ons na die vraag.