• No results found

DIE INVLOED VAN DIE VERANDERENDE WÊRELD OP DIE KERK

HOOFSTUK 3. DIE WÊRELD WAARBINNE DIE GEMEENTE HAARSELF BEVIND

3. DIE INVLOED VAN DIE VERANDERENDE WÊRELD OP DIE KERK

Dis dus duidelik dat ons lewe in ‟n tyd waarin alles teen ‟n drastiese tempo verander. Sweet beskryf dit in Die Perfekte Storm (Joubert 2007:30), dat die verandering wat in die twintigste eeu plaasgevind het, vandag in slegs 14 jaar beleef sal word, en vorentoe sal dit in slegs sewe jaar beleef word. Die tempo van verandering sal vorentoe eenvoudig net toeneem.

Bill Easum (2000) gebruik die beeld van ‟n “wormhole” wat geneem word vanuit die sterrekunde. “A wormhole is thought to be a portal in space that offers rapid travel from one universe to another” (Easum 2000:46). Ons bevind ons volgens hom tans in ‟n tydperk tussen twee tydperke. Ons bevind ons aan die einde van sowel modernisme as die Christendom-era, en iets wat niemand kan bepaal wat dit gaan wees nie, maar waarna sommige verwys as die Post-Modernisme. Easum (2000:47) noem dit ‟n tyd van radikale diskontinuïteit.

The discontinuity is so rapid and so all-encompassing that many are beginning tot concede that it will be impossible to preserve many of our existing institutions... the pattern of behavior in the wormhole is so rapid and continuously in flux that we are experiencing revolutionary discontinuity.

Easum waarsku egter dat die “wormhole” nie tweerigtingverkeer toelaat nie. Dit is nie meer moontlik om terug te keer na hoe dinge in die verlede gedoen is nie en daarom sal dit nie meer moontlik wees om die 1950‟s weer te rekonstrueer nie.

Die kerk sal dus moet leer om aan te pas en veral om nuut te leer dink oor baie dinge. Die ou bekende manier van Kerkwees gaan ons nie deur hierdie tyd van transformasie dra nie. Frost en Hirsch (2003:7) haal vir Albert Einstein aan wanneer hulle skryf, “the kind of thinking that will solve the world‟s problems will be of a different order to the kind of thinking that created those problems in the first place.” Hulle skryf dat, indien Einstein reg is oor hierdie stelling van hom, dan sal die kerk moet leer om nuut en buite die boks te dink. Hulle dink dis tyd om uit die boks van Christendomdenke te klim, sodat die probleme wat die Christendomdenke geskep het, opgelos kan word. Met ander woorde, die kerk kan nie vandag in die na-Christendom-era antwoorde soek deur met Christendomdenke oor die kerk na te dink nie. Dit wil dus voorkom asof die kerk, dit sluit leierskap en lidmate

62

in, doelbewus daaraan sal moet werk om die bestaande denke oor kerkwees af te leer. Dinge wat nie meer werk nie, sal of toe gemaak, of stopgesit moet word.

Volgens McLaren (2006:25) moet die kerk nie ingestel wees om op die minste moontlike manier te verander in ‟n poging om te bly oorleef nie. Hy sê daar moet eerder in die kerk ‟n openheid gekweek word vir verandering. Hy reken dat as die gemeente se houding teenoor verandering kan verander, al die ander dinge ook sal verander. Hy is waarskynlik reg hieroor. In Suid-Afrika het al die veranderinge sedert 1994, toe die eerste demokratiese verkiesing die rol en plek van die Afrikaner in Suid-Afrika ingrypend verander het, gemaak dat veral die Blanke Afrikaner, waarskynlik veranderings-voos gelaat is. Daarom word die kerk vir hulle die laaste vesting wat net nie ook moet verander nie. Dis al plek waar dinge kan bly soos wat dit voor 1994 was. Hieroor merk Niemand (2007:37) op dat dit ‟n menslike reaksie op verandering is om laer te trek, maar dat dit lewensgevaarlik kan wees vir die kerk.

Binne ‟n veranderende wêreld word die kerk, volgens McLaren (2007), geroep tot ‟n lewe van radikaliteit. Dit is belangrik dat daar ‟n herontdekking moet plaasvind van die essensie van Jesus se boodskap. Sy boodskap is nie daar om mens te help om van hierdie gebroke wêreld waarin ons leef te ontsnap nie. Daar kan nie net vir eendag in die hemel geleef word nie. Vir te lank het die kerk nagelaat om mense te help om op ‟n sinvolle manier te leef. Mense moet gehelp word om op so ‟n manier te leef dat God se wil hier op aarde kan geskied. Jesus se boodskap roep die kerk op om iets van God se wil nou reeds op aarde sigbaar te maak. Wanneer dit gebeur, sal gelowiges beter verstaan wat die oorsaak van die probleme op aarde is en sal hulle wil weet hoe hulle kan bydra om God se drome hier waar te maak. Die vraag: Hoe kan die kerk die koninkryk van God hier op aarde laat kom, behoort hoog op die kerk se agenda te wees (McLaren: 2007:4).

McLaren skryf: “I see that it‟s about changing the world, not just escaping it and retreating into our churches. If Jesus‟ message of the kingdom of God is true, then everything must change” (McLaren 2007:23).

McLaren help ons om die metanarratief van die wêreld te verstaan. Hy gebruik die metafoor van die selfmoordmasjien wat besig is om alles te vernietig. Die masjien bestaan volgens hom uit drie vernietigende sisteme:

63

- Die Voorspoedsisteem - waarin die mens nie tevrede is om net te oorleef nie, maar begeer om vooruit te gaan en in weelde te lewe. Dit lei tot verbruikers mentaliteit, wat selfs in die kerk sy kop uitsteek.

- Die Veiligheidsisteem - waar lande groot somme geld spandeer om hulle land veiliger te maak. So maak hulle seker hulle beskerm die rykdom wat hulle opgaar. - Die Gelykheidsisteem (equity): Daar is ‟n snelgroeiende gaping tussen die ultraryk

mens en die wat in uiterste armoede leef.) - Hieroor merk hy tereg op: “the equity system seeks not only to fairly spread the expanse of the security system, but also to support the expansion of the prosperity system in equitable ways” (McLaren 2007: 56). Om dit te doen, moet daar wette wees wat afgedwing word; ‟n belastingstelsel, die beskerming en oprigting van vrye pers en ‟n regstelsel; ook NGO‟S wat die armoede kan help verlig.

Volgens hom kan nie een van die drie sisteme sonder die ander een funksioneer nie. Hulle het mekaar nodig. Dis die oorheersende “framing” stories van die tyd waarin ons leef (McLaren 2007:54-58). Weens die voorspoedsisteem vergroot die gaping tussen ryk en arm, en omdat die spanning tussen die wat het en die wat nie het nie al hoe groter word, is dit nodig om jouself verder te beskerm teen die aanvalle van die wat nie het nie. Wat sake vererger is dat die godsdienste in die wêreld, insluitende die Christendom, nie daarin geslaag het om ‟n werkbare alternatief daar te stel nie (McLaren 2007:5).

Daarteenoor het Jesus tydens sy menswording op aarde ‟n radikale alternatief kom stel. ‟n Ander metanarratief. Gelowiges moet hulle laat lei en vorm deur die goeie nuus dat God koning is. Ons kan in ‟n verhouding met God en in Sy liefde leef, eerder as met Caesar en sy mag. McLaren (2007:94) stel ‟n alternatiewe hipotese voor waarin hy pleit “that the Bible instead is the story of the partnership between God and humanity to save and transform all of human society and avert global self-destruction.” Die evangelies maak dit duidelik dat Jesus ‟n alternatiewe moontlikheid daar kom stel. McLaren (2007: 99) stel dit soos volg:

The time has come! Rethink everything! A radical new kind of empire is available – the empire of God has arrived! Believe this good news, and defect from all human imperial narratives, counter narratives, dual narratives, and withdrawal narratives. Open your minds and hearts like children to see things freshly in this new way, follow me. And my words, and enter this new way of living.

64

Hoe lyk hierdie alternatief wat Jesus vir ons kom stel het? Die goeie nuus wat Hy bring, is daarop gemik om die wat in magsposisies is tot ‟n val te bring, die reg van die arm mens te herstel en die godsdienstige samewerking met die regering te ontbloot vir wat dit is. Daarom gebruik Hy die kruis, wat deur die Romeine as simbool van mag gebruik is , as teken van die hoop wat Hy gebring het. Jesus vra van sy volgelinge om hulle eie agendas op te gee en Hom te vertrou. Sy voorbeeld was om inklusief te wees, ten spyte van verskille.

Sy oproep tot bekering sluit nie net jou siel in nie. Hy is ook besorg oor die hele menswees. Wanneer Hy praat van bekering, is dit ‟n wegdraai van die bestaande “framing story” na ‟n nuwe een. Die kerk moet tot ‟n verstaan van Jesus kom waarin besef word dat daar nou reeds ‟n verskil in die wêreld gemaak kan en moet word. (McLaren 2007:77-147)

Indien die kerk Jesus se voorbeeld wil volg, sal die kerk moet leer om soos Jesus subversief te werk te gaan. Die kerk moet leer om te vergewe, deur versoening na te jaag en genadig te wees. Die kerk moet gemeenskappe vorm wat vrede soek deur regverdigheid, vrygewigheid, wedersydse besorgdheid en ‟n bereidheid om onder vervolging te lei, maar ‟n weiering om dit aan ander te doen. (McLaren 2007:151-185) Mense moet gehelp word om nie ingesluk te word in die kultuur van verbruikersdruk wat kenmerkend van die samelewing is nie. Die persone van welvaart, en die wat arm is, moet hande vat en saamwerk tot voordeel en tot opbou van die samelewing en die ekologie. McLaren (2007:222) sê: “... the bottom line of economic profit is exchanged for the top line of the common good.” Die kerk het ‟n belangrike rol om te speel om hierdie alternatiewe kultuur onder sy lidmate te vestig.

Deel daarvan is om doelbewus weg te beweeg van individualisme. Vir te lank het die kerk ‟n tipe individualistiese geloof verkondig, wat soos reeds gesê is, net besorg is oor die redding van die individu se siel. Die belangrikheid van ‟n gemeenskaplike verantwoordelikheid moet gevestig word. Die kerk kan hiermee help deur ‟n nuwe vorm van gemeenskap daar te stel. ‟n Gemeenskap wat volgens McLaren (2006: 39) gevorm is deur die Bybelse visie van wat die werklikheid behoort te wees, nl. “the unifying, inclusive realities of the group, family, community, church, ecosystem, planet or universe – realities that enhance and enrich, not obliterate, the value of the individuals who constitute these larger realities.”

65

Dis die kerk se rol om nuwe outentieke gemeenskappe daar te stel wat nie ingestel is op die behoud van die kerk as instituut nie, maar waar godsdiens georganiseer word rondom ‟n gemeenskaplike voorspoed en heil vir almal (McLaren 2007:265). ‟n Kerk wat leef vir iets groters as haarself. Die belangrike vraag wat die kerk haarself moet vra, is of die kerk bereid is om nuut en vars na die wêreld te kyk en aanpassings te maak wat die kerk weer relevant sal maak in ‟n era in die wêreld se geskiedenis waar alles nuut en aan die verander is? ‟n Wêreld waarin voortdurende en snelle verandering aan die orde van die dag is, maar ook ‟n wêreld waarin die kanse en geleenthede vir die kerk legio is. Die kerk moet dus die plek word waar mense hulle identiteit, as volgelinge van Jesus, rondom die

missio Dei kan bou.

Die wêreld het ingrypend verander en daarom het die rol en funksie van die kerk verander. Hierdie veranderinge kan nie geïgnoreer word nie. Dit maak dat mense anders dink, anders leef en hulle identiteit op ‟n nuwe manier vorm. Murraygemeente sal hiervan kennis moet neem. Die gemeente sal in die lig van hierdie veranderinge die teologie van hoofstuk 2 moet herbesoek.