• No results found

EVALUERING VAN DIE EMPIRIESE RESULTATE BETREFFENDE DIE BEGELEIDING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND AS GEVOLG VAN DIE DOOD VAN ‘N OUER.

5.1 INLEIDING

In hierdie hoofstuk word ‘n uiteensetting van die terapeutiese program wat gevolg is gegee. Volgens Dreyer (1991:229) hou empiriese navorsing verband met die aktiwiteit waarmee mens besig is wanneer jy noukeurig en sistematies te werk gaan om ‘n probleem op te los. Empiriese navorsing was noodsaaklik om hierdie program te toets en finaal te ontwikkel om die waarde van hulpverlening aan die getraumatiseerde laerskoolkind as gevolg van die dood van ‘n ouer na te vors .

Barker (2003:406) en Neuman (2006:6) definieer navorsing in die sosiale wetenskappe soos volg:

“It involves the study of people’s beliefs, behaviour, interaction and institutions in order to test hypotheses, acquire information and solve problems pertaining to human inter-relationships.”

Die empiriese proses wat vir hierdie navorsing gebruik is, word voorts verduidelik. Die data wat uit hierdie empiriese navorsing verkry is, sal geïnterpreteer word om na te gaan of speel ‘n verskil aan die rouproses van getraumatiseerde kinders gemaak het.

5.2. DOELWIT VAN DIE EMPIRIESE BEVINDINGE IN DIE KONTEKS VAN DIE

NAVORSING

Die navorsingsproses is volledig in hoofstuk 1 bespreek , maar dit is belangrik om weer kortliks daaraan aandag te skenk ten einde die verstaan ten opsigte van die empiriese gegewens en bevindinge wat volg, te vergemaklik.

Die doelwit van hierdie empiriese studie is om op ‘n wetenskaplike manier ondersoek in te stel na die rol en die gebruik van speel tydens die rouproses van kinders wat ‘n ouer aan die dood afgestaan het. Volgens Delport en de Vos (2011:45 - 46) moet daar ‘n balans tussen praktiese probleemoplossende navorsing en teorie- ontwikkelende navorsing gehandhaaf word. Basiese navorsing verskaf ‘n fondament van kennis en verstaan van sosiale probleemsituasies. Van die gevolgtrekkings wat op grond van die navorsing gemaak sal word, sal uiteindelik bydra om n praktykteoretiese model daar te stel wat gebruik kan word om deur middel van pastoraat en speel hulp aan die getraumatiseerde laerskoolkind te verleen. Om hierdie doelwit te bereik moet meta-teorie en basis-teorie geïntegreer word. Die empiriese navorsing dien vervolgens as ‘n toets wat gebruik word om ondersoek in te stel of dit praktiese moontlik is om die twee perspektiewe met mekaar te versoen.

5.3 METODOLOGIESE VERANTWOORDING

Daar is ‘n neiging onder navorsers om elemente van twee benaderings in navorsingsprojekte te kombineer (Bergman, 2008:1). Vir die doel van hierdie studie word die gemengde metode (“mixed methods”) van navorsing gevolg. Kwalitatiewe en kwantitatiewe metodes word in ‘n poging om ‘n meer volledige beeld van die navorsingsprobleem te kry, vermeng (Delport & Fouché, 2011:434). In hierdie studie val die fokus op beide kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing, aangesien van onderhoude en ‘n meetinstrument gebruik gemaak word. Die sessies met die kinders word onder gevallestudie geklassifiseer, aangesien die effek van ‘n program op die deelnemers getoets word (Fouché & Schurink, 2011:320).

5.3.1 Kwalitatiewe navorsing

Kwalitatiewe navorsing is die paradigma waarbinne ‘n deel van die navorsing uitgevoer word. Die paradigma bied noodwendig nie die antwoorde op die vrae nie, maar dui aan waar om vir die antwoorde te soek (Fouché & Schurink, 2011:322). Henning (2004:5) gaan verder en definieer kwalitatiewe navorsing soos volg:

“ ... the term that denotes the type of inquiry in which the qualities, the characteristics or the properties of a phenomenon are examined for better understanding and examination.”

Aangesien die gedagtes, aksies en emosies van deelnemers aan kwalitatiewe navorsing belangrik is, noem Janse van Rensburg (2007:7) kwalitatiewe navorsing ‘n kliënt gesentreerde benadering. Juis hierdie eienskap van kwalitatiewe navorsing maak dit die ideale navorsing vir die studie van kinders.

Die navorser word as’t ware deel van die respondente se leefwêreld om noukeurig te kan waarneem en hulp te verleen. Die doel van kwalitatiewe navorsing is om by ‘n betroubare of egte of oorspronklike verstaan van mense se ervarings uit te kom (Silverman, 2001:13).

In kwalitatiewe navorsing word daar sterk gefokus op wat die respondent as werklikheid ervaar. Die grootste sterkpunt van kwalitatiewe navorsing is die vermoë om te analiseer wat werklik in ‘n natuurlike situasie gebeur (Steyn & Lotter, 2006:107).

5.3.2 Gevallestudie

Aangesien kwalitatiewe navorsers hoofsaaklik belangstel in die betekenis wat die mens aan sy lewenservaring toeken, is dit ook nodig om ‘n vorm van gevallestudie te gebruik om die aktiwiteite van ‘n klein groep mense te ondersoek om sodoende ‘n intieme beeld van hul lewens, woorde en aksies te vorm (Fouché & Schurink, 2011:320). Gevallestudie word deur die Woordeboek vir Maatskaplike Werk (1995:8) as ‘n navorsingsmetode vir die vasstelling van die oorsaaklike faktore van bepaalde verskynsels soos dit by individue, gesinne of organisasies voorkom beskryf.

‘n Gevallestudie kan gebruik word sodat spesifieke gevalle die vertrekpunt van ‘n ondersoek kan wees. Daar kan sodoende insig in die lewe van ‘n bepaalde persoon

verkry word en daardeur, spesifiek met betrekking tot hierdie studie, kan die invloed wat speel tydens die pastorale hulpverleningsproses op die kind gehad het, bepaal word. Daarom word hierdie metode vervolgens ook vir die onderhawige studie gebruik. Die hoë syfers rondom HIV asook die hoë misdaadsyfers het die sterftesyfers in Suid-Afrika aansienlik verhoog en het grootliks bygedra tot die navorser se soeke om nuwe maniere te vind om hulp te verleen aan getraumatiseerde kinders bygedra.

Data-insameling is deur middel van ongestruktureerde onderhoudvoering aan die hand van die temas van die voorgestelde program gedoen. Notas is gebruik en dien as ‘n geskrewe weergawe van die dinge wat gehoor, gesien, beleef en gedink is tydens die onderhoude (Babbie, 2007:311).

5.3.3 Kwantitatiewe navorsing

Volgens Kumar (2005:12) het kwantitatiewe navorsing ‘n meer gestruktureerde aanslag, aangesien alles wat deel van die navorsingsproses uitmaak vooraf bepaal is. As ‘n gestruktureerde aanslag is dit meer geskik om die omvang van ‘n probleem vas te stel. Leedy en Ormrod (2005:94 – 97) noem dat ‘n kwantitatiewe studie gewoonlik met die bevestiging al dan nie van die hipoteses wat getoets word eindig. Delport en Roestenburg (2011:171) meld daarom die volgende:

“Quantative data-collection methods often employ measuring instruments.”

5.3.3.1 Gebruik van ‘n meetinstrument

Die navorser wou die effektiwiteit van die hulpverlening aan die kind vir die doel van hierdie studie deur middel van ʼn gestandaardiseerde meetinstrument vir kinders probeer meet. Die navorser het met die assessering gewag tot die tweede sessie, om sodoende ‘n beter verhouding met die kind te bou. Die gebruik van ʼn

meetinstrument vorm nie deel van die navorser se model nie. Hepworth en

Larsen, (1993:36-37) identifiseer die volgende as ʼn rede om die proses te monitor: