• No results found

FINALE SAMEVATTING

1.1. INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

1.1.1 Inleiding

In Suid-Afrika word kinders toenemend getraumatiseer as gevolg van die dood van ‘n ouer of ‘n versorger weens die hoë vlakke van misdaad asook die hoë Vigs- sterftesyfer. Hierdie situasie het tot gevolg gehad dat die Universiteit van Limpopo ‘n projek van stapel gestuur het om artikels rondom trauma en psigoterapie vanuit die Afrika-perspektief te versamel en in boekvorm te publiseer (Madu (red.), 2009). Verskeie van die artikels verwys na die gebruik van speel as hulpmiddel in die begeleiding van die kind. Sefotho (2009:135) wat ook ‘n bydrae in hierdie bundel gemaak het, beklemtoon met die volgende stelling die feit dat kinders onder die huidige krisis ly:

“Children are faced with a plethora of problems resulting from the complexity of life in today’s world. Such experiences may be loss of one or both parents, loss of property, or becoming surrogate parents to siblings”.

Suid-Afrika het gedurende 2006 ongeveer ‘n derde bygedra tot die sowat 2,8 miljoen vigssterftes wêreldwyd (Mulder, 2006:5). Die 2008 nasionale skatting van HIV voorkoms onder Suid-Afrikaners van alle ouderdomsgroepe is 10,6%. Dus is ongeveer 5.2 miljoen mense van die totale bevolking HIV-positief (HSRC, 2008:30). Die hoogste persentasies van HIV kom voor onder vrouens tussen die ouderdom van 25–29 jaar (32,7%) en mans tussen die ouderdom van 30-34 jaar (29,1%) (HSRC, 2008:31). Op hierdie ouerdomme is daar waarskynlik reeds ‘n paar kinders gebore, wat dan wees gelaat word wanneer die ouers sterf. Sweeney (2008) noem

tydens ‘n seminaar dat daar na raming 660 000 kinders in Suid-Afrika is wat een of albei ouers verloor het.

1.1.2 Dood

Die dood van ‘n ouer of versorger is ‘n traumatiese gebeurtenis wat enige mens, maar veral ‘n kind se hele lewe, onherroeplik verander en is een van die moeilikste belewenisse vir ‘n kind (Malchiodi, 2008:179). Skielik is daar ‘n nuwe fase wat deurgewerk moet word, met gepaardgaande intense gevoelens van pyn en verlies. Rungan (1997:6) beklemtoon die absolute finaliteit van die dood en die gepaardgaande verbreking van verhoudings. Volwassenes is vanweë hul ontwikkelingsvlak beter toegerus om met die dood te deel, met jare se lewenservaring in die hantering van krisisse asook die beskikbaarheid van goeie steunstelsels. Ondanks hierdie ‘voordele’ is die dood vir talle volwassenes steeds traumaties. Hierteenoor beskik kinders oor geen van bovermelde ‘voordele’ nie. Ferriera en Read (2006:183) verwoord hierdie probleem soos volg:

“What must be kept in mind is that children experience the same feelings as adults, but do not have the language skills to verbalize them, nor the cognitive ability to understand, identify or express their feelings”.

Die navorser het in haar beradingspraktyk die afgelope aantal jare ook opgemerk dat ouers dikwels geneig is om die tema van die dood te vermy in gesprekke met hul kinders – uit onkunde is hulle van mening dat dit tot voordeel van die kind is. Troeteldiere wat doodgaan, word vervang voor die kind van die skool af kom. Van Niekerk (2008:41) ondersteun hierdie observasie deur te praat van ‘n sogenaamde “westerse treurmodel”. Hierdie model se stappe is: onderdruk jou gevoelens, vervang enige verlies so gou as moontlik, treur alleen, en met tyd vind genesing plaas. Kinders het dus óf nie voorheen blootstelling aan die dood nie óf is geleer om hul gevoelens te onderdruk, wat uiteindelik daartoe lei dat hulle nog moeiliker die dood van ‘n ouer hanteer.

1.1.3 Trauma

Die term “trauma” is afgelei uit die Griekse woord trauma, wat wond beteken (Coetzer, 2008:24). Rothschild (2000:5) is van mening dat al het geen liggaamlike leed plaasgevind nie, trauma steeds beskryf moet word as ‘n “psychophysical

experience”. Die dood affekteer dus die hele persoon: fisies, sielkundig,

emosioneel, sosiaal en spiritueel.

1.1.3.1 Die trauma van dood en die brein

Die feit dat dood baie traumaties is, het bepaalde implikasies wanneer daar gekyk word na die manier waarop trauma in die brein gestoor word. Trauma word in die brein gestoor in die limbiese stelsel wat hoofsaaklik sensories van aard is. Traumageheue is nie feitelik nie. Ziegler (2002:26) stel dit so:

“Memories of past trauma are not stored in the neocortex where our reasoning functions can have an impact on these recollections”.

Kinders sukkel oor die algemeen vanweë hul ontwikkelingsvlak om hul emosies te verwoord. Blootstelling aan trauma veroorsaak dat dit nog moeiliker is om oor die trauma te praat, veral as gevolg van die chemiese veranderinge in die brein. Van der Kolk (2003:306) stel dit so:

”... high levels of arousal interfere with the adequate functioning of the brain region necessary to put one’s feelings into words, Broca’s area”.

As gevolg van hierdie probleem moet kinders op ‘n spesiale manier begelei word om uitdrukking te gee aan hul emosies. In hierdie proses is gesprekvoering nie effektief nie, omdat dit te veel staatmaat op denkende insig (Blom, 2006:20). ‘n Ander vorm van hulpverlening sal dus gevind moet word om hierdie kinders te help. Malchiodi (2001:22) ondersteun hierdie standpunt deur die volgende te noem:

“Because the core of traumatic experiences is physiological, the expression and processing of the sensory memories of trauma are essential to successful intervention and resolution – drawing is an activity that taps a variety of senses”.

Speel is gevolglik ‘n moontlike opsie om as hulpverleningsinstrument aan verwonde kinders te gebruik, veral wanneer die voorafgaande faktore in ag geneem word. Ziegler (2002:50) is van mening dat die gebruik van nie-verbale metodes belangrik is tydens die hulpverleningsproses, veral aan kinders:

“Nonverbal therapy methods will be needed to get the best understanding of trauma memories. Use art, play, movement and expression of all kinds to get information. Words will be distracting and often useless”.

Malchiodi (2012:166) ondersteun die gebruik van kuns as deel van die hulpverleningsproses deur die volgende stelling:

“The use of drawing also has an added advantage. For children, as well as adults, trauma memories are encoded in images because trauma is a sensory experience rather than an solely cognitive experience“.

Die hulpverlener moet as’t ware ’n getuie kan word van die kind se traumabelewenis en teken verskaf die geleentheid om die kind se belewenis met hom te deel en deur die kind se oë te “sien”.

Speel is ‘n uiters belangrike medium waardeur kinders in die algemeen uitdrukking gee aan innerlike gevoelens. Die vryheid wat die kind ervaar deur spontaan die voortou te neem met spel, bied ook geleentheid aan die Heilige Gees om te werk (Piers & Landau, 1980:16). Sodoende word onderliggende probleme na vore gebring deur spel . Kinders van alle kulture speel – net hul speelgoed en speletjies verskil. Die Bybel verwys ook na speel as ‘n tipiese aktiwiteit van kinders, in Sagaria 8:5: “Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel” (Bybel, 1983:987).

Deur speel vind kinders uit hoe die wêreld werk, probeer hulle verskillende rolle vertolk en hanteer hulle verskillende emosies. Deur spel kan daar genesing vir wonde en hartseer plaasvind, verbreking van spanning en ook ‘n meer gemaklike uitdrukking van die self. Sweeney en Landreth (1993:355) voel dat sonder die natuurlike helingskrag van speel, die emosionele wonde wat deur die dood van ‘n ouer of ouers opgedoen is, moontlik nooit geheel kan word nie.

1.1.3.2 Die verband tussen die trauma van dood en spiritualiteit

Kinders is geskep na die beeld van God en daarom is hulle inherent waardevol. Die waarde van kinders lê nie in hul onskuld of nut nie, maar in hul geestelike natuur (Sisemore, 2003:116). Betreffende die begeleiding van getraumatiseerde kinders word daar in die VSA oor die algemeen al sterker gefokus op enersyds die geestelike natuur van die kind, en andersyds die hulpbronne van kinders (Bunge, 2001 & Stonehouse, 1998). Blore, (1998:27) noem in verband met rou van kinders dat “grief affects the whole person – mentally, physically, emotionally, socially and

spiritually”.

Axline (1964:184-187) beskryf byvoorbeeld in hierdie verband hoe ‘n jong seun wat geensins agtergrond het rondom geloof nie, begin vrae vra oor God. O’Connor (2004:124) sluit hierby aan:

“Regardless of their family’s personal belief system or faith tradition, all children ask questions about God, heaven and what happens to us when we die”.

Schoeman (2004:128) toon aan dat daar heel dikwels ‘n bepaalde godsdiens gerigtheid in die rouproses na vore kom. In die lig van die feit dat 73,5% van alle Suid-Afrikaners (Johnston, 2001:577) beweer dat hulle Christene is, is dit belangrik om in ag te neem dat ‘n kind vanuit ‘n Christelike agtergrond wat deur die dood gekonfronteer word, heel waarskynlik geestelike vrae sal vra. ‘n 2006 Opname gedoen deur The Pew Forum, ‘n Amerikaanse organisasie, dui aan dat 79% van Suid-Afrikaanse inwoners bo 18 hulself as Christene beskou (The Pew Forum, 2010; vergelyk ook ooreenstemmende statistiek vanuit die webblad van die Suid- Afrikaanse regering, 2010).

Simboliek en geloof is sleutelelemente in die geestelike bewussyn van kinders. Hierdie misterie van geloof, naamlik “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb 11:1) groei en ontwikkel deur die simboliese funksie van speel (Sweeney & Landreth, 1993:352). Fowler (1981:133) stel dit dat die ontwikkeling

van geloof gekenmerk word deur fantasie, asook die vloeibaarheid van denkpatrone. Speel is die middel tot hierdie simboliese en verbeeldings-gevulde ondersoek.

1.1.4 Hulpverlening

Hulpverlening aan die groot hoeveelhede kinders wat ‘n ouer aan die dood afstaan, is ‘n groot uitdaging wanneer daar bloot na die syfers gekyk word. Die feit dat kinders op ‘n ander wyse benader moet word, is ook ‘n groot uitdaging. Die wye verskeidenheid van literatuur wat beskikbaar is uit die psigologie en maatskaplike werk-dissiplines en hierteenoor die relatief min beskikbare literatuur rondom pastoraat aan kinders, dui daarop dat hulp tradisioneel verleen is deur middel van spelterapie deur sielkundiges en maatskaplike werkers, terwyl leraars en beraders die pastorale versorging waargeneem het. Die sielkundiges en maatskaplike werkers is goed opgelei (almal het minstens ‘n graad) en het dikwels ook internskappe deurloop en praktiese ondervinding opgedoen. Vir baie van die kinders wat ‘n ouer aan die dood afstaan, is daar egter nie fondse beskikbaar om te gaan vir hulp deur ‘n professionele persoon nie. Die feit dat leraars dikwels nie opgewasse voel om met kinders te werk nie, blyk duidelik uit Lester (1985:14) se verduideliking van hoe hy gevoel het toe hy vir die eerste keer met kinders moes werk:

“I did not know what they were thinking or how to talk with them. How I wished for a book about pastoral care with children in crisis!”

Daar bestaan dus ‘n groot leemte aan ‘n eenvoudige model wat deur versorgers (“caregivers”) van welsynsorganisasies, kerkraadslede of selfs leraars na afloop van ‘n paar weke se opleiding gebruik sou kon word. Daar is navraag gedoen by FAMSA, CMR en Kindersorg en geen model of riglyne in hierdie verband bestaan tans nie.