• No results found

H OOFSTUK 2: B ASIS TEORIE

EKSEGESE VAN ‘N AANTAL SKRIFGEDEELTES MET BETREKKING TOT DIE PASTORALE VERSORGING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND

2.4 DIE KULTUUR-HISTORIESE AGTERGROND RAKENDE DIE DOOD

2.4.1 Waar kom die dood vandaan

Ten einde sin te probeer maak van die ervaring van die dood van ‘n geliefde is dit noodsaaklik om te verstaan hoe die lewe en die dood in hierdie wêreld ontstaan het. In die Ou Testament is daar tipies twee sieninge rondom die dood (Samuels, 2007:65; Douglas, 2004:265):

1. Die dood was eenvoudig die einde van lewe op aarde. Die punt waar hereniging met die voorvaders plaasvind en nie die gevolg van sonde nie; 2. Dat die mens se voorliefde vir sonde aanleiding gegee het tot die dood van

die self of soms die dood van ‘n hele gemeenskap.

Oordeel en die dood is gesien as die gevolg van sonde, want daar was geen plek vir die dood in God se perfekte skepping volgens Gen 1 & 2 nie (Winter, 1999:376). Nadat Adam en Eva gesondig het, was die uitvloeisel van hul sonde die dood. Atkinson (1990:97) is van mening dat heelwat “klein” dode ervaar is in die verandering van seën, vryheid en gemeenskap in die tuin, na vervloeking, moeisame arbeid en vervreemding. God het nie die dood as deel van die oorspronklike skepping beplan nie, maar het wel die moontlikheid van menslike keuses en vryheid toegelaat.

Die tweede tema van genade is ook in Genesis. Nadat Adam en Eva die sonde gepleeg het, word hulle verban uit die tuin. God het uit genade gesien dat dit nie goed sou wees vir die mens om vir altyd te bly leef in sy sondige toestand nie en die dood het ‘n genadige verlossing geword van die ouderdom, siekte en lyding (Winter, 1999:376).

2.4.2 Bybelse gebruike rondom die dood

voorgekom. Daar word gelees van die Israeliete se nakoming van ‘n routydperk vir Moses in Deut 34:8; Dawid se hartseer oor die dood van sy twee seuns, Amnon en Absalom in 2 Sam 13 en18; Job se optrede en sy hartseer oor sy kinders in Job 1:20 - 21 en ook Jesus se trane by Lasarus se graf in Joh 11:35.

2.4.2.1 Rituele

Die dood in Bybelse tyd was nooit ‘n stil en stemmige gebeurtenis, soos in die moderne tyd nie. Wanneer ‘n persoon gesterf het, was daar ‘n oop en publieke demonstrasie van rou deur die familie en bure. Gevoelens is nooit weggesteek nie. Die doodsberig is letterlik van die dakke van die huise af verkondig (Du Plessis, 1988:31) en mense het ook op die dakke gestaan en huil - “hulle huil op die

dakke ..”(Jes 15:3).

Daar is dikwels ook gebruik gemaak van professionele roubeklaers, wat die werk teen betaling gedoen het. Die beroep is van geslag tot geslag oorgelewer (Du Plessis, 1988:38). Mense het gesing of ‘n klaaglied uitgeroep – ‘n wettige en sosiaal aanvaarbare uiting van emosie (Thompson, 1996:92).

Die volgende rituele was algemeen:

Die treurendes sou huil, hulself op die bors slaan, hul klere skeur en as of grond op hul koppe gooi of daarin rondrol (Thompson, 1996:92; De Vaux, 1984:59; Stander & Louw, 1990:70; Winter, 1999:372).

Mans wat geraak is deur die dood, sou hulle koppe bedek het, hul baarde onversorg gelaat en soms self hul koppe kaalgeskeer het (Du Plessis, 1988:38; Stander & Louw 1990:72).

Vroue sou as ‘n teken van hul smart, ophou om skoonheidsmiddels te gebruik (Du Plessis, 1988:38; Thompson, 1996:92).

Daar is gevas (De Vaux, 1984:59).

Sommiges het hul liggame stukkend gesny (Deut 14:1 & 2) of hulle laat tatoeëer (Lev 19:27 & 28).

Gedurende die routydperk kon geen kos in die huis waar die dood plaasgevind het voorberei word nie, aangesien die huis “onrein” was. Bure het gewoonlik troosbrood en ‘n troosbeker as blyk van belangstelling en meelewing aangebied (Du Plessis, 1988:31).

Treurendes het soms ‘n sak of klere wat van bokhaar gemaak is om hul middel gedra teen die vel (Thompson, 1996:92; De Vaux, 1984:59).

2.4.2.2 Begrafnisse

Dooies is dieselfde dag begrawe, waarskynlik omdat die liggame in die hitte vinnig ontbind het en ‘n gesondheidsgevaar sou inhou (Thompson, 1996:92;, Metzger & Coogan, 2001:78). Grafte was dan ook altyd gereed vir onmiddelike gebruik, soos afgelei kan word in Luk 23:53 waar Josef van Arimatea sy nuwe graf aanbied om Jesus in te begrawe (Du Plessis, 1988:31).

Volgens De Vaux (1994:56) word daar reeds in Gen 46:4 verwys na die tradisie om die oë van die oorledene te sluit. Naaste familielede het ook die liggaam omhels soos in Gen 50:1 beskryf word (Stander & Louw, 1990:72). Die liggaam is met geurige olies gesalf en in doeke toegedraai, soos in Mark 16:1 en Joh 19:40. Soms is ‘n mengsel van mirre en aalwyn in die liggaam ingevryf (Van der Walt, 2006:288). Tussen die doeke is speserye gestrooi en die gesig is toegebind met ‘n kopdoek (Du Plessis, 1988:31). Nadat die liggaam behandel is, is dit op ‘n draagbaar geplaas en na die begraafplaas geneem. Bykans die hele gemeenskap het in ‘n stoet agter die familie aanbeweeg (Marx, 2007:11).

2.4.2.3 Hoe die liggame begrawe is

Kiste is oor die algemeen nie gebruik nie. Indien die grafkamers vol was, is die bene soms in ‘n ossuarium geplaas (Thompson, 1996:93; Du Plessis, 1988:37). Die gebruik van ‘n ossuarium was egter meer algemeen by die Egiptenare en Babiloniërs as by die Israeliete.

Die ideaal was dat mense in familiegrafte begrawe is. Grotte is baie gebruik om as grafte te dien (De Vaux, 1984:57). Grafkamers is dikwels in die kalksteen heuwels rondom Palestina gegrawe (Du Plessis, 1988:34; Samuels, 2007:68 ). Die graf se opening is met ‘n ronde klip verseël.

Daar is wel etlike verwysings waar liggame in die grond begrawe is in die Bybel te vinde, byvoorbeeld Gen 35:8, waar Debora onder die groot boom naby Bet-El begrawe is, ook in Gen 35:19 waar Ragel begrawe is op die pad na Efrata (Bethlehem) toe. Jakob het ‘n groot klip op haar graf gesit. ‘n Verdere verwysing is in 2 Kon 23:17 waar Josia ‘n grafsteen opmerk en dat die mense van die stad dan na die graf van die “man van God uit Juda” verwys. Volgens Jer 26:23 en 2 Kon 26:6 was dit ook die gebruik om armes, haweloses en veroordeelde kriminele in ‘n gemeenskaplike sloot buite die dorpe te begrawe (De Vaux, 1984:57). In Luk 7:12 is daar ‘n verdere verwysing na grafte buite die dorp/stad (Stander & Louw, 1990:74).

2.4.3 Rou

Die tydperk van rou het gewoonlik van 7 tot 30 dae geduur, soms langer. In Deut 34:8 is dit geskryf dat daar 30 dae oor Moses gerou is en in Gen 50:3 dat daar in Egipte vir 70 dae oor Jakob gerou is. Josef en sy broers het ‘n verdere 7 dae gerou (Gen 50:10) oor hul pa.

Tradisioneel is daar openlik uiting gegee aan emosies en in die Bybel is daar baie gevalle van mense wat gehuil het en uiting gegee het aan hul hartseer en rou. Trane is nie as verkeerd of swak beskou nie, maar eerder as ‘n God-gegewe manier van uitdrukking van hartseer en pyn (Winter, 1999:369).

In die Ou, sowel as die Nuwe Testament, is daar voorbeelde van die uitdrukking van rou as ‘n vorm van katarsis. In die Ou Testament word daar in Eseg 27:30 - 32 beskryf hoe daar deur “geskreeu, bitterlik gekerm, bitterlik gehuil, tussen hul smartkrete deur” uiting gegee is aan hul hartseer. Daar word ook in Gen 23:2

beskryf hoe Abraham oor Sara “gaan rou en huil” het. Dawid het openlik uiting gegee aan sy verdriet oor die dood van Saul en Jonatan.

In die Nuwe Testament beskryf Markus (5:38) “ ‘n hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan” na die dood van ‘n kindjie. Ook in Luk 23:27 word die volgende geskryf: “.. onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het”. Jesus self het by Lasarus se graf gehuil, wat die omstanders laat opmerk het: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” (Joh 11:36).