• No results found

H OOFSTUK 2: B ASIS TEORIE

EKSEGESE VAN ‘N AANTAL SKRIFGEDEELTES MET BETREKKING TOT DIE PASTORALE VERSORGING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND

2.8 PAULUS SE VOORBEELD IN 1 KOR 9:19

2.8.1 Die boek van 1 Korintiërs

Paulus verwys in 1 Kor 5:9 na ‘n vorige brief wat hy geskryf het aan die gemeente in Korinte. Daardie brief is klaarblyklik misverstaan en is nie vir die mens bewaar gebly nie (Keck, 2002:776; Morris, 1989:23).

Die huidige 1 Korintiërs is waarskynlik uit Efese geskryf. Paulus het sekere berigte ontvang aangaande probleme in die gemeente. Een daarvan was ‘n mondelinge berig van lede uit Chloë (‘n Korintiese vrou) se huishouding en ‘n tweede was ‘n brief van sommige of al die lede van die kerk waarin daar vrae gevra word oor spesifieke kwessies wat verdeeldheid in die gemeente veroorsaak het (Blomberg, 1994:22).

2.8.2 Die plek van die boek in die Bybel

1 Korintiërs is die 7de boek in die Nuwe Testament. Dit is net na Romeine (‘n ander brief van Paulus) geplaas.

2.8.3 Die skrywer

Die skrywer is Paulus en hy identifiseer homself in die inleiding: “Van Paulus, wat deur die wil van God ...” (1 Kor 1:1)

Die brief is uit Efese geskryf tydens Paulus se derde sendingreis. Hy het vir ongeveer 3 jaar in Efese gewoon en gewerk vanaf 52-55 n.C (Gill, 2002:3, Hays, 1997:5; Keck, 2002:777).

2.8.4 Literêre styl

Die brief van Korintiërs bevat argumente om die luisteraars te oorreed, en nie soseer Christelike doktrine nie. Om hierdie doel te bereik maak Paulus gebruik van vorme van redenasie of retoriek wat algemeen in die Hellenistiese kultuur gebruik is.

Retoriek is die kuns van oorreding. In Paulus se tyd was opleiding in retoriek ‘n basiese vorm van opvoeding vir almal wat dit kon bekostig (Keck, 2002:783). Deliberende retoriek (wat vir of teen toekomstige aksies argumenteer) was oorheersend, maar by sommige punte gebruik hy ook wetlike retoriek (wat in howe gebruik is om aksies van die verlede te verdedig of te veroordeel) of epididaktiese retoriek (wat ontwerp is vir publieke toesprake of by begrafnisse) (Horsley, 1998:22; Keck, 2002:783).

Die struktuur van 1 Korintiërs is baie dieselfde as Paulus se ander briewe. Dit begin ook met ‘n groet en danksegging, dan die brief self en sluit af met groete en seën. Hierdie brief is egter anders. Waar Paulus se briewe gewoonlik na appèl as klimaks (Rom. 12:1; Fil. 4:2) beweeg, volg die eerste appèl reeds na die danksegging. In ander briewe van Paulus word een of twee probleme op die voorgrond geplaas deurdat Paulus dit inweef in die brief. In 1 Korintiërs is daar ‘n hele string probleme wat Paulus opeenvolgend hanteer, asof in antwoord op vrae wat die gemeente in Korinte gevra het (Keck, 2002:779). Die tipiese taalgebruik wat kenmerkend aan Paulus is, kom skaars daarin voor. In plaas daarvan domineer teenoorgesteldes soos wysheid versus dwaasheid, volwassenheid versus kinderlikheid, ryk versus arm, ens. hele seksies. Paulus bespreek sekere kwessies wat hy nie eers noem of kwessies wat hy op ‘n heeltemal ander manier in ander briewe hanteer (Horsley, 1998:22). Hierdie brief is duidelik geskryf in antwoord op vrae en om probleme in die Korinte-gemeente aan te spreek.

2.8.5 Historiese agtergrond

Die boek is geskryf uit die stad Efese as ‘n persoonlike kommunikasie aan die gemeente in Korinte.

In 146 v.C. is die stad Korinte verwoes deur die leërs van die Romeinse ryk. Julius Caesar het ‘n eeu later die stad herbou en vrygelate Romeinse soldate en hul slawe het die bevolking opgemaak. Die stad het ‘n bloeitydperk beleef, soveel so dat dit in

die eerste eeu na Christus as een van die vernaamste stede in die Romeinse ryk bekend was.

Korinte was ‘n hawestad, met ‘n kosmopolitaanse vermenging van mense en godsdienste (Keck, 2002:775). Daar was verskeie tempels vir Apollo, Asklepius en Afrodite. Daar was ook ‘n Joodse sinagoge, wat identifiseerbaar was deur ‘n gefragmenteerde inskripsie (Blomberg, 1994:19).

Dit is belangrik om kennis te neem van die kulturele en sosiale veronderstellings wat daar in daardie tyd in Korinte geheers het (Keck, 2002:782):

Pater Familias

Paulus en sy lesers was bekend daarmee dat die vader verantwoordelik was om waardes aan die gesin te leer, om te ondersteun, om te dissiplineer, om gesinslede op te lei en hulle te beskerm. Dit was dan ook baie belangrik vir die vader om die regte gedrag uit te leef, wanneer hy hierdie verantwoordelikhede uitgevoer het.

Eer/Skande; Lof/Blaam

Die belangrikste kulturele norm was die verwerwing van eer en die vermyding van skande. Besluite is gewoonlik geneem en tot aksie oorgegaan met dien verstande dat daar eerbaar opgetree word en dat skande ten alle koste vermy word om sodoende lof in te palm en blaam te vermy.

Beskermheer/Kliënt

Daar was ‘n stelsel in plek waar beskermhere, gewoonlik ryk en invloedryke, individue, hele families en assosiasies van mense aanvaar het as hul “kliënte”. Hierdie beskermhere het land, werk, geld en wetlike beskerming aan hulle verskaf in ruil vir politieke ondersteuning en publieke betrekkinge.

Daar is heelwat informasie wat daarop dui dat die skeuring in die kerk van Korinte, die verwaarlosing van die armes deur die rykes by nagmaal en die reaksie op Paulus se weiering om geld te aanvaar, moontlik veroorsaak is deur hierdie beskermhere se onwilligheid om te breek met die sosiale konvensies van die samelewing – wat hulle eie reputasies en belange gepas het (Blomberg, 1994:20). Paulus berispe die ryk Korintiërs wat die armes voor die hof daag om hul sin te kry (hoofstuk 6) en omdat hulle hul mag as die gashere by die nagmaal misbruik (11:17-34) (Keck, 2002:785).

2.8.6 Plek van die perikoop in die boek

Die sketsplan van 1 Korintiërs sien as volg daar uit volgens Blomberg (1994:29-30) en Du Rand (1993:1756):

I. Inleiding (1:1 - 9). II. Brief self

A. Paulus reageer op die mondelinge verslag oor die kerk in Korinte 1. Verdeeldheid in die kerk (1:10 - 4:21).

2. Hantering van ‘n man wat saam met sy stiefma woon (5:1 - 13).

3. Hofsake tussen gelowiges (6:1 - 11).

4. Erns van onsedelikheid in die algemeen (6:12 - 20). B. Paulus reageer op die brief uit Korinte

1. Leiding rondom die huwelik (7:1 - 40).

2. Leiding rondom Christelike vryheid, die gebruik van offervleis en offermaaltye (8:1 - 11:1).

3. Leiding ten opsigte van die erediens (11:2 - 14:40). 4. Leiding rondom die opstanding (15:1 - 58).

III. Slot (16:1 - 24).

A. Kollekte vir Judea (16:1 - 4). B. Paulus se reisplanne (16:5 - 12).

Hierdie perikoop (1Kor 9:19 - 23) val onder die gedeelte waar Paulus reageer op die brief uit Korinte, spesifiek die deel rondom Christelike vryheid onder andere die regte en pligte van ‘n apostel.