• No results found

H OOFSTUK 4: M ETA T EORIE

PERSPEKTIEWE MET BETREKKING TOT DIE EFFEK VAN DIE DOOD OP EN DIE BEGELEIDING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND.

4.3. DIE KIND SE REAKSIE OP DIE DOOD VAN ’N OUER

Rousmart is uniek vir elke persoon. As gevolg van die samelewing se houding teenoor kinders, is dit moeilik vir kinders om gehoor te word (Ferreira & Read,

2006:193). Dit is moeilik vir die jonger kind om hul gevoelens te verwoord en dit moet in ag geneem word tydens die rouproses. Kübler-Ross & Kessler (2005:166) sê: “A child should be affected by loss ... these are normal reactions, and no

reaction at all may be unseen or delayed grief”. Die kind mag van die volgende

reaksies toon, wat normale reaksies is na ‘n verlies wat die kind ervaar:

4.3.1 Fisiese reaksie

Worden (1996:85 - 86) beskryf die eerste fisiese effek wat die kind sal voel as ‘n hol gevoel in die maag en ‘n gevoel van styfheid in die bors en keel . Hy noem ook dat die kind ‘n algemene swakheid van die spiere mag beleef en dat moontlik kan kla oor droogheid van die mond. Volgens Van Niekerk (2008:127) is slaapsteurnisse en nagmerries algemeen by ‘n kind na die dood van ‘n ouer. Grollman (1992:6) noem dat verskeie fisiese probleme soos hoofpyn, maagpyn, verandering in eetpatrone, maag- en blaasprobleme mag voorkom. Hierdie simptome is ‘n vorm van angstigheid wat psigosomaties van aard is. Dikwels is dit weens ‘n onvermoë om verbaal uitdrukking aan emosies te gee (Furman, 1984:187).

4.3.2 Emosionele reaksie

Intense hartseer is ‘n kenmerk van rou by kinders. Kinders gee dikwels nie uiting aan hul emosies nie. Hierdie klaarblyklike gebrek aan emosies help kinders dikwels om hulself van die pyn van die oomblik los te maak (Perry, 1995:10). Hulle reageer soms op vreemde maniere deur byvoorbeeld aan iets te peuter of met iets te speel wanneer die nuus van die dood aan hulle gebreek word. Dit beteken nie noodwendig dat hulle nie omgee nie (Kübler-Ross & Kessler, 2005:164). Kinders, anders as volwassenes, kom nie tot stilstand om hulle volle aandag te gee nie. In die roufase sal kinders ook dikwels regresseer, wat sou impliseer dat enurese en enkoprese kan voorkom en dat skeidingsangs ook na vore kan kom (Hart-May, 2005:373).

Skuldgevoelens en gevoelens van leegheid kan by die kind voorkom (Vos, 1997:36; Van Niekerk, 2008:127). Die kind voel dikwels skuldig omdat hy byvoorbeeld stout was en nie altyd geluister het nie.

Deur die kind voor te berei dat daar baie emosies na vore sal kom, sal die rouproses vergemaklik word. Ook die verduideliking dat die mens oor verskillende emosies beskik en dat dit dus reg is om dit te beleef, sal ondersteunend vir die kind se proses wees om die rousmart te verwerk. Verhoudings is uniek en daarom is elke persoon se rouproses ook uniek. Elke kind sal sy eie emosionele response tydens die rouproses beleef. Elke kind het ook ‘n unieke proses wat hy deurgaan om sin uit die rousmartproses te maak (Nadeau, 1998:12).

Soos reeds genoem sal algemene angstigheid (soms ook angsaanvalle) en vrees dat die oorlewende ouer ook sal sterf, algemeen voorkom (Vos, 1997:36). Dit is belangrik om seker te maak dat die angstigheid nie ‘n vorm van depressie is nie, veral omdat kinders normaalweg ten spyte van die verlies, nog steeds pret het en speel.

4.3.3 Kognitiewe reaksie

‘n Gebrek aan konsentrasie in die skool kom algemeen voor. Kinders is dikwels ook traag om skool toe te gaan (Van Niekerk, 2008:127). Kinders sukkel om eenvoudige dinge te onthou, vergeet huiswerk, verloor motivering om te leer en beskik oor min energie, met die gevolg dat hul akademiese vordering verswak (Papadatou & Papadatos, 1991:86 - 87). Webb (1993:40) noem dat kinders baie nou let op die opinies van onderwysers en klasmaats. Wanneer ‘n kind die dood van ‘n ouer beleef, is die reaksie van onderwysers van uiterste belang vir die kind. Dit is daarom belangrik om daarvan kennis te neem dat dit die werk van ‘n volwassene is om ‘n gesprek rondom die dood te begin (Kübler-Ross & Kessler, 2005:163). Die kind sal dikwels voel dat die volwassenes in sy lewe nie omgee as daar nie oor die dood gepraat word nie.

Dit sou ideaal wees as onderwysers, wat ‘n groot hoeveelheid tyd van elke dag met die kind spandeer, ‘n groter rol in hierdie verband kon speel, veral omdat hul opinie van soveel belang vir die kind is. Dit is juis in hierdie fase waar ondersteuning by die

skool van kardinale belang is. ‘n Onderwyser wat die nodige kennis het en simpatieke ondersteuning bied kan die rouproses vergemaklik, terwyl die kwaai en veroordelende onderwyser groot skade kan aanrig.

4.3.4 Sosiale reaksie

Kinders kan soms van die buitewêreld onttrek en nie meer so dikwels met maatjies speel nie, soms omdat hulle bewus word daarvan dat ander kinders twee ouers het en dan ingedoen voel of omdat onsensitiewe vriende hulle spot (Vos, 1997:36; Worden, 1996:86). Wanneer dit gebeur word hulle dikwels oor-afhanklik van die oorlewende ouer. Dit is egter so dat die kind ook na vriende sal gaan om sodoende spesifiek nie die nuus te hanteer nie. Ouers sal hierdie reaksie kan misinterpreteer as dat hulle nie ontsteld is nie (Silverman, 2000:37). Die kind sal sy oorlewende ouer probeer beskerm deur behulpsaam te wees en sy gevoelens onderdruk om sodoende nie ontsteltenis te veroorsaak nie (Silverman, 2000:37).

Die kind se reaksie op die dood van ’n ouer sal deur sy verstaan van die doodskonsep óf vergemaklik óf bemoeilik word. Dit is daarom uiters belangrik om seker te maak hoe en wat hulle verstaan.

4.3.5 Geestelike reaksie

Kinders wat gelowig is, sal dikwels worstel met die vrae: “Waarom het God toegelaat dat my ouer doodgaan? Hoekom nou? Hoekom moes dit met my gebeur?”, net soos wat volwassenes doen. Dit is ook normaal dat hulle vir God sal kwaad wees. Volgens Tripp (2005:11) behoort die dood die mens hartseer te maak en is dit geregverdig om kwaad daaroor te wees. Kinders wonder ook soms oor God se bestaan na die dood van ’n ouer: “Is Hy regtig daar en in beheer?” Is dit die moeite werd om te glo? My ouer het altyd probeer om ’n goeie mens te wees en kyk wat het met hom gebeur.” Blore (2007:50) noem dat hierdie en ander vrae normaal vir ’n gelowige kind is. Die oorblywende ouer of ’n helpende volwassene moet

uitvind of die kind met hierdie vrae worstel en leiding uit die Woord verskaf. Nadeau (1998:29-32) het uit die bydraes van verskillende skrywers bevind dat die meeste mense graag die sin in krisisse opsoek.