• No results found

H OOFSTUK 3: B ASIS TEORIE

3.2 DOEL VAN DIE HOOFSTUK

3.5 GESKIEDENIS VAN PASTORAAT

Vanaf die aanvang van die Christelike kerk het basiese en meer ingewikkelde vorme van pastorale teologie bestaan. Die Bybelskrywers het hulp aan mens nie as opsioneel beskou nie, maar as die verantwoordelikheid van elke gelowige, insluitend die kerkleiers (Collins, 2011:3). Dit dien as ‘n voorbeeld van ‘n basiese vorm van pastorale teologie. By punt 3.4.2 is ‘n lys van ingewikkelde aktiwiteite wat deur pastors hanteer is reeds genoem (Pattison, 1993:7 - 8). Berading het in die Kerk as ‘n natuurlike funksie van die spirituele lewe van sy lede bestaan. Paulus skryf aan gelowiges “ ...dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help” (Rom 15:14).

Alhoewel pastorale sorg op die basis van die Ou Testament gebou is en dus as die fondament van pastorale sorg in die Nuwe Testament dien, sal pastorale sorg (vir die doel van hierdie studie) in die Nuwe Testament as vertrekpunt in die geskiedenis van die pastoraat dien.

3.5.1 Pastorale sorg in die Nuwe Testament

In die boek van Handelinge word die rol van die Heilige Gees as ‘n verlengstuk van menslike aktiwiteite beklemtoon (Heitink, 1999:91). Mans en vroue het geestelike gawes (charismata) ontvang. Romeine 12:8 verwys na die gawe van bemoediging. In Ef. 4:12 skryf Paulus dat die doel van die gawes was “om gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus”. Die invloed van die Heilige Gees is dus die middelpunt van ware Christelike hulp. Sy teenwoordigheid en invloed maak Christelike berading uniek (Collins, 2011:8). Deur die Bybel heen word dit duidelik dat God verkies om deur mense te werk.

Daar word selfs in Hebreërs 13:3 die versoek gerig: “Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan die wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.” Watter beter voorbeeld van empatie kan gebruik word? (Heitink, 1999:92). Empatie vorm in ‘n sekere sin die kern van pastoraat.

3.5.2 Pastorale sorg tydens die Reformasie

Binne die Lutherse tradisie is ‘n basiese pastorale model gevolg wat Genève in kwarte verdeel het, met ouderlinge in beheer van tuisbesoeke en kerkdissipline en diakens wat aandag aan die sosiale en materiële behoeftes geskenk het (Heitink, 1999:95). Die kerk het gevolglik die verantwoordelikheid vir die versorging van armes, die siekes en die behoeftiges aanvaar.

Volgens Heitink (1999:96) was Martin Bucer die eerste om die volgende spesifieke take in die area van pastorale sorg in die kerk toe te deel:

 Om te soek na verlore skape en hulle te vind.  Om die wat verstoot is terug te bring.

Om heling na gewondes (“wounded”) te bring.  Om die swakkes te versterk.

 Om die wat gesond is te beskerm en te versorg.

Gijsbertus Voetius (1589 - 1676), professor by Utrecht, was die eerste wat die term

Theologia Practica vir kursusse in pastorale teologie gebruik het. Peter Binsfeld het

waarskynlik die eerste boek oor hierdie onderwerp geskryf. In 1591 het sy boek,

Enchiridion Theologiae Pastoralis verskyn (Heitink, 1999:96).

Verskeie groot Protestante het boeke en bydraes in hierdie verband in die vroeë kerk geskryf, onder andere Thomas Brookes se Precious remedies against Satan’s

devices, Richard Baxter se A Christian directory en Jonathan Edward se A Treatise concerning religious affections (Powlinson, 1994:44). Edwards se boek is byna 250

jaar oud en van die ander boeke meer as 300 jaar oud.

3.5.3 Pastorale sorg onder die Engelse Puriteine

Die Puriteine het bekend gestaan as ‘dokters van die siel’ en hulle verteenwoordig onder andere die eerste Protestante skool vir Bybelse berading (Keller, 1988:11). Hierdie Puriteinse beweging het hulself vir reformasie in die kerk en suiwering van die lewe van die individuele gelowiges vanaf die middel sestiende eeu tot die vroeë agttiende eeu beywer (Sarles, 1994:22).

Die Woord was die middelpunt van Puriteinse gedagtes en lewens. Puriteinse berading het op die Bybelse beginsel van inspirasie deur die Heilige Gees berus (MacArthur & Mack, 1994:30).

Die beginsel wat deur die Puriteine neergelê is en wat steeds vandag as uitdaging dien, is hul verbintenis tot die integrering van geloof en dade.

3.5.4 Pastorale sorg in die twintigste eeu

In die negentiende en twintigste eeue het Christene die gebruik van die waarheid en die vaardighede wat daarmee gepaard gaan, verloor. Die psigologie het in ‘n groot mate die plek daarvan ingeneem, sonder om te beweer dat daar nie ‘n regmatige plek vir die psigologie is nie. Powlinson (1994:46) stel dit so: “The Christians took

the Bible, and the psychologists took people.” Daar het dus ‘n mate van wanbalans

ontstaan wat ‘n regstelling benodig.

Teen die 1960’s is Bybelse berading herontdek (Powlinson, 1994:46; Heitink, 1993:104). Daar was verskeie rolspelers wat in hierdie tydperk belangrike bydraes gelewer het, byvoorbeeld Adams (1973, 1976, 1979), Clinebell (1992), Collins (1993), Crabb (1974), Gerkin (1997), Heitink (1979, 1999), Nouwen (1998), Louw (1997), MacArthur & Mack (1994), McMinn (1996) en Thurneysen (1963).

Vir die doel van hierdie studie, gaan daar nie verder op die detail van hierdie geskiedenis gefokus word nie, maar die klem gaan vervolgens eerder na die ontwikkeling van Kinderteologie en Kinderpastoraat verskuif.

3.6 KINDERTEOLOGIE

Eerstens is dit belangrik om kennis te neem van sekere belangrike bydraes wat in die veld van Kinderteologie gelewer is.

White, (2010:5) skoei sy benadering rondom kinderteologie asook sy siening ten opsigte van die ontstaan daarvan op die benadering wat Jesus in sy interaksie en omgang met mense gevolg het. White se gevolgtrekking is dat Jesus se aksies en optrede en Sy leer mekaar aanvul.

3.6.1 ‘n Definisie van Kinderteologie

White (2010:8) definieer kinderteologie soos volg:

mean for us today to respond to the teaching and example of Jesus when he placed a little child in the midst of his disciples so that they could be encouraged to change and become lowly like little children in order to enter the Kingdom of heaven?”

Om by die hart van hierdie definisie uit te kom, is dit nodig om te begin by wat ‘n kind is en wat die kind se rol in die Bybel was.

3.6.2 Vertrekpunt van Kinderteologie

Tydens ‘n lesing by die Children and Spirituality Simposium in Australië in 2012 begin Cupit (2012:5) deur te verduidelik wie en wat ‘n kind is. Volgens hom gaan dit om ‘n kind van enige ouderdom, hoewel normaalweg jonk, vir wie dit onmoontlik is, om enige rede, om outonome bevoegdheid uit te oefen en wat in stede daarvan op andere moet staatmaak om hulle te versorg en vir hulle te besluit.

3.6.2.1 Kinders in die Ou Testament

Kinders in die Ou Testament is as deel van die sosiale lewe en strukture inggesluit. Lofprysing was visueel en dramaties – beide maklik toeganklik vir kinders en volwassenes. Met betrekking tot die simbole van Paasfees sou kinders maklik kon vra wat dit alles beteken (Eks 20) en so ook die twaalf klippe wat gestapel is nadat die Jordaan oorgesteek is (Jos 4). Kinders is regdeur die Ou Testament as ‘n teken van die seën van God beskou, maar hulle was ook diegene wat eerste deur oorlog, trauma en sonde geraak is (White, 2000:2).

3.6.2.2 Kinders in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word daar dikwels na insidente wat kinders insluit verwys, maar daar is vier aspekte van die Evangeliese narratiewe wat veral belangrik is (White, 2000:4-6):

1. God het gekies om in die wêreld as ‘n kind in te kom – klein, swak, kwesbaar, afhanklik, sonder opvoeding en opleiding en taal.

2. Die gedeeltes van Matt 17 – 21, Mark 9 - 11 en Luk 9 - 19 bevat van die suiwerste lering van Jesus rakende die aard van die Koninkryk. Die eerste daad van Jesus na die verheerliking op die berg is om ‘n bose gees uit ‘n seun te verdryf (Mat 17:14 - 21). In hoofstuk 18 gebruik Jesus ‘n kind om aan die dissipels te demonstreer wat nederigheid en diensbaarheid behels en om aan hulle te illustreer hoe belangrik kinders in Sy Koninkryk is (Mat 18:1 - 5). Net hierna plaas Jesus weer eens kinders in die middelpunt van die Koninkryk (Mat 19:13 - 15) wanneer Hy die kindertjies seën. Dan volg die gedeelte waar Jesus die ryk jong man beveel om alles te verkoop sodat hy “‘n skat in die hemel sal hê”, met ander woorde om soos ‘n kind te word. Toe Jesus Jerusalem binnegaan, het almal Hom geloof en geprys, maar toe Hy die tempel binnegaan, was dit slegs die kinders wat voortgegaan het om Hom te prys. Kinders se gedrag is nie onbeduidend nie maar dit is gevestig in God (Cupit, 2012:7). Jesus bevestig dat die kinders presies doen waarvoor God hulle gemaak het, naamlik lofprysing (Ps 8:2).

3. Jesus leer dat die Koninkryk van God niks met status, krag, mag, invloed, rykdom of die normale aannames van die samelewing te doen het nie, maar wel met die feit dat die mens moet verander en berouvol moet wees. Die mens moet van nuuts af begin, soos ‘n klein babatjie ... in Christus.

4. In Johannes word hierdie waarheid in die verhouding tussen Jesus en die Vader vasgelê - dit is die dominante beskrywing: Vader en Seun. Dit moet ook die mensdom se norm wees. Die evangelie van Johannes begin by “kinders van God,” en Jesus se lewe wys hoe dit veronderstel is om te lyk.

3.6.3 Die kern van Kinderteologie

Kinderteologie begin by Jesus en vra watter lig kinders op God (Vader, Seun en Heilige Gees) en Sy manier van dinge doen in die wêreld laat val (White, 2010:8). Dit is duidelik uit die Evangelies dat Jesus ‘n baie besondere plek aan kinders toegeken het. Jesus het in Sy omgang met kinders en deur Sy gebruik van kinders

as voorbeelde aan volwassenes, aangevoer dat ‘n vorm van geloof, fundamenteel aan kindwees, belangrik vir God was (Cupit, 2012:6).

Dit is uit die voorafgaande duidelik dat kinders vir God baie belangrik is en dat volwassenes met groot omsigtigheid en liefde met kinders moet omgaan. Die volwassene wat tot kinders toetree, hetsy om hulp te verleen of om die Evangelie te verkondig, mag nooit vergeet dat baie van kinders geleer kan word nie. In die lig hiervan, is dit belangrik om kennis te neem van wat kinderpastoraat is.