• No results found

H OOFSTUK 4: M ETA T EORIE

PERSPEKTIEWE MET BETREKKING TOT DIE EFFEK VAN DIE DOOD OP EN DIE BEGELEIDING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND.

4.4. DIE KIND SE VERSTAAN VAN DIE DOODSKONSEP

Kinders in die middelkinderjare-fase sukkel met die konsep van finaliteit, maar begin onomkeerbaarheid verstaan – dat die dood permanent is (Doka, 1995:11). Hierdie fase is ’n moeilike fase om iemand aan die dood af te staan, want soos kinders begin verstaan, voel hulle ook die verlies meer intens. Hulle voel ook dikwels dat die dood op die een of ander manier vermy kon word. Soos wat die middelkinderjare kind ouer word, verstaan hy dat die dood finaal en onvermydelik is (Doka, 1995:11).

Die dood word egter steeds as ’n onpersoonlike krag beskou wat net gebeur as gevolg van ’n buite-faktor (O’Connor, 2004:23). In hierdie fase is die “wat, wanneer, waar”-feite rondom die dood vir kinders van belang, aangesien hulle in die tasbare aspekte belangstel. Hulle stel ook belang in oorsaak/gevolg en wil weet wat iemand se dood veroorsaak het (McGlaufin, 1990:12). Gedurende hierdie fase neem kinders die dood baie ernstig op en dit kom veral dikwels duidelik in die rituele en seremonies wat hul uitleef na byvoorbeeld die dood van ’n troeteldier.

Op ongeveer 10 jaar en daarna, begin kinders oor lewe na die dood in aansluiting met ’n geloofsisteem van die een of ander aard praat. Hulle begin dink oor abstrakte konsepte soos die ewigheid, spiritualiteit, die hemel en die hel (Van Zyl, 2007:92). Wat egter nooit uit die oog verloor moet word nie, is dat nie alle kinders teen dieselfde pas of op dieselfde manier ontwikkel nie. Die ontwikkeling van kinders het baie gemeenskaplike dimensies, prosesse en mylpale, wat weer deur ’n magdom individuele en omgewingsfaktore geaffekteer word. Een van hierdie faktore, die van kultuur, speel ’n kardinale rol in die verstaan van die doodskonsep vir kinders. Dit is dus belangrik om aandag hieraan te skenk.

4.4.1 Tradisies uit die Tswana-kultuur

Aangesien kinders vanuit verskillende kulture deelneem aan hierdie studie, speel die tradisies rakende die dood en begrafnisse ‘n groot rol in hierdie studie. Dit is dus baie belangrik om soveel as moontlik inligting hieroor in te win. Dit was egter opmerklik dat daar uiters min literatuur in hierdie verband beskikbaar is. Die navorser kon slegs sewe artikels opspoor rakende verskillende aspekte van tradisies in ander kulture. Slegs vier van die artikels het raakpunte met die Tswana-kutuur getoon en kon gebruik word in die studie. Daar is besluit om op die Tswana- en Westerse kultuur te fokus, aangesien die oorgrote meerderheid van mense in die Rustenburg-omgewing tot die Tswana-kultuur behoort.

In ‘n onderhoud met Monaledi (2010) wat as sielkundige in Rustenburg praktiseer, is gepoog om meer lig te werp rondom die Tswana-kultuur se hantering van die dood. Me. Monaledi is Tswana sprekend en ken die Tswana tradisies goed, aangesien haar ma ‘n tradisionalis is. Mndende (1997:793) noem dat ten spyte van die invloed van Westerse opvoeding en kultuur, vele patrone van gedrag en geloof steeds tradisioneel bly. Monaledi het aan die navorser verduidelik dat die dood as slegte geluk beskou word en dat lewendes deur dooies “besoedel” kan word. Ngubane, (2004:175) ondersteun hierdie stelling deur te noem dat daar ook geglo word dat hongersnood en slegte geluk of ongeluk (misfortune) deur die woede van die voorvaders veroorsaak word. Ndudane (1998:6) bevestig ook dat die dood as slegte geluk en as die oorsprong van besoedeling beskou word. Dit het aan die navorser verklaar waarom ‘n kennis by ‘n vorige geleentheid so huiwerig was om aan haar dooie baba te raak.

Verder is die volgende inligting rakende die verloop van ‘n begrafnis van haar verkry: ‘n Tent word by die oorledene se huis opgeslaan. Dit is waaruit die begrafnisdiens plaasvind. Volgens Selepe en Edwards (2008:4) het die opslaan van die tent ‘n dubbele doel: ten eerste is dit ‘n openbare aankondiging dat ‘n tragedie plaasgevind het en ten tweede gee dit aan die gemeenskap geleentheid om afsonderlike rolle te vervul om sodoende die bedroefde familie by te staan. Die kis word ongeveer 18:00

die aand voor die begrafnis na die oorledene se huis gebring. Indien die oorledene in ‘n motorongeluk of aan onnatuurlike oorsake dood is, word die lyk nie huis toe gebring nie, aangesien dit slegte geluk aan die oorlewendes sal besorg. Die lykswa sal slegs die volgende dag by die huis op pad begraafplaas toe, verbyry. Daar word geglo dat die oorledene afskeid moet neem van sy/haar huis.

‘n Nagwaak word by die huis gehou. Selepe en Edwards (2008:1) verwys na rituele uit ander kulture wat hiermee ooreenstem, byvoorbeeld die shiva van die Jode of ‘n vorm van ‘n nagwaak vanuit die Britse en Ierse kulture. Tydens die nagwaak word baie gesing – dwarsdeur die nag. Ongeveer 4 uur die oggend word daar met die voorbereiding van die kos begin. Slegs getroude vroue wat familie is, doen die kookwerk.

Die begrafnis word vroeg gehou sodat dit om 12:00 verby sal wees. Daar word geglo dat die voorvaders om 12:00 in die begraafplaas uit die grafte kom. Na die begrafnis sal al die begrafnisgangers by die oorledene se huis bymekaarkom en saam eet. Die hare van ‘n weduwee/wewenaar en die oorlewende kinders word na die begrafnis afgesny of afgeskeer.

Weduwees ondergaan rituele reinigingsbaddens en dra swart klere vir ‘n jaar, waarna dit verbrand sal word. Die oorledene se klere word in ‘n groot laken toegevou. Op die Sondag na die begrafnis word kruie oor die klere gegooi om slegte geluk te verdryf.

Monaledi (2010) noem dat dit taboe is om te praat oor wat jy voel. Kinders word in die middel van die nag wakker gemaak (volgens haar tydens die REM-slaapfase) en die nuus dat die geliefde dood is, word dan aan hulle oorgedra. Tradisioneel is geglo dat die kind dan sal dink dat hy dit gedroom het en wanneer hy wakker word, dit reeds sou aanvaar het. Ndudane (1998:6) noem die volgende in aansluiting hierby: somtyds wanneer jong kinders aanhou vra oor waar hul ouer is, of aanhou huil of ophou eet veroorsaak dit ‘n probleem vir die oorlewende- of pleegouer. ‘n

Spesiale ritueel word uitgevoer terwyl die kind slaap. Daar word dan in die kind se oor gefluister “jou ma is laat”. Die idee is nie dat die kind sy ma moet vergeet nie, maar om die kind te troos. Tradisioneel is daar ook geglo dat kinders nie die dood sou verstaan en/of dit ken nie en daarom is hulle nie toegelaat om ‘n begrafnis by te woon nie. Kinders word nie toegelaat om oor die oorledene te praat nie en niemand praat met hulle daaroor nie. Kinders is wel toegelaat om agterna die graf in die begraafplaas te besoek.

Volgens Monaledi (2010) het die kerke (spesifiek die Sondagskool) later die plek geword waar kinders oor hulle gevoelens rakende die oorledene kon praat en waar volwassenes met hulle oor die dood gepraat het.

4.4.2 Tradisies uit die Westerse-kultuur

Van Niekerk (2002:42) verwys na ‘n hedendaagse of Westerse kultuur waar ‘n treurmodel geskep is wat reeds vanaf kinderdae geprogrammeer word om sekere emosies op ‘n sekere manier te hanteer. Een daarvan is byvoorbeeld dat “ ‘n man nie huil nie”. Begrafnisse “lyk” ook baie dieselfde – gesigte is strak en sterk. Trooswoorde is dikwels niksseggend;- mense wil tog net nie betrokke raak nie.

Dit het tot gevolg dat die dood koud en onpersoonlik geword het, met mense wat afwesig is. Volwasse kinders woon nie meer by hul ouers nie, dus is kleinkinders onbekend met die dood en met hul ouers se hantering daarvan. Dit is juis hier waar die probleem ontstaan. Ouers het ‘n onvermoë om die dood te hanteer en kan dus nie gesonde hanteringsmeganismes aan hul kinders oordra nie.

Kübler-Ross & Kessler (2005:160) beskryf kinders as “forgotten grievers”. Kinders word dikwels nie toegelaat om ‘n begrafnis by te woon nie. Die navorser het in haar eie praktyk die belewenis dat ouers hul kinders die hartseer van ‘n geliefde se begrafnis wil “spaar” en daarom word hulle nie toegelaat om te gaan nie. Ouers huil nie voor die kinders nie, want anders word hulle “ontsteld”. Ongelukkig leer kinders dan dat die dood iets is wat nie regtig saak maak nie en dat dit verkeerd is om oor

In die Weste is daar minder tradisie as in die Afrika-kultuur. Dit is belangrik om ook kennis te neem van die reëlings en verloop van ‘n Westerse begrafnis teenoor die van ‘n begrafnis uit die Afrika-kultuur. Die verloop is die volgende:

Die lyk word na ‘n begrafnisondernemer geneem en bly daar tot die begrafnis. Alles word deur die begrafnisondernemer gedoen, byvoorbeeld die was en aantrek van die lyk. Die familie besigtig soms die oorledene as ‘n laaste huldeblyk of om vir oulaas afskeid te neem ‘n paar uur voor die begrafnis.

Die lykswa vervoer die kis tot by die kerk. By vele kerke word dit nie meer toegelaat dat die kis in die kerk ingebring word nie. Na die diens vertrek die lykswa of na die begraafplaas of na die krematorium. In die Weste is verassing in die algemeen aanvaarbaar. Na die roudiens (verassing) of na die begraafplaas-seremonie kom vriende en familie in ‘n kerksaal bymekaar om iets te ete (gewoonlik toebroodjies) en iets te drinke te geniet. Weduwees dra nie spesiale rouklere nie en daar is nie ‘n bepaalde routydperk nie.

Ndudane (1998:6) noem dat volgehoue druk deur sterk vrouegroepe, kerke en skole ‘n geleidelike positiewe verandering in die tradisionele manier om met die dood te deel teweeg bring. Wanneer ‘n familielid tans doodgaan, is daar ‘n geneigdheid om met kinders oor die dood te praat en wat dit beteken. Woorde wat gebruik word is gewoonlik: “Jy sal jou ma/pa nooit weer sien nie”. Sommige families sal kinders toelaat om insette met die begrafnisreëlings te lewer en die begrafnis by te woon. Soms sal kinders ook toegelaat word om vir oulaas afskeid van hul geliefde by die begrafnisondernemer te neem. Kinders sal tans ook eerder toegelaat word om te huil en sal vervolgens deur familie vertroos word.

Die artikel van Ndudane (1998), ‘n maatskaplike werker van die Oos-Kaap, is die enigste artikel waarin daar pertinent na die hantering van kinders verwys word nadat ‘n geliefde dood is. Hieruit blyk dat daar steeds heelwat ouers is wat aan die

tradisionele praktyke vashou, maar dat daar ‘n groter openheid en bewussyn rondom die rol van kinders na vore begin tree.

Wanneer die Afrika-kultuur en die Westerse kultuur se hantering van die dood met mekaar vergelyk word, is daar tog raakpunte rondom die hantering van die dood:

 Kinders word uitgesluit van begrafnisse.  Kinders word nie toegelaat om te huil nie.

 Kinders word nie hanteringsmeganismes rakende die dood geleer nie.

Dit is egter baie duidelik dat beide die Westerse en die Afrika-kultuur se hantering van die dood, veral waar dit kinders raak, skade veroorsaak. ‘n Ander manier sal gevind moet word om kinders te help om die dood van ‘n ouer te hanteer. Dit is ook die doel van hierdie studie, om sonder om aanstoot te gee aan ‘n persoon van ‘n ander kultuur, ‘n model van riglyne saam te stel om kinders te help om deur die rouproses te werk op ‘n manier wat by hulle kulturele waardes sal kan aansluit.

Daar is egter verdere faktore wat die kind se rouproses kan vergemaklik of bemoeilik. Dit is belangrik dat daarvan kennis geneem word en daar word vervolgens daaraan aandag gegee.