• No results found

H OOFSTUK 4: M ETA T EORIE

PERSPEKTIEWE MET BETREKKING TOT DIE EFFEK VAN DIE DOOD OP EN DIE BEGELEIDING VAN DIE GETRAUMATISEERDE LAERSKOOLKIND.

4.10 DIE KIND SE UNIEKE TAAL

4.10.4 Die gebruik van speel as deel van die hulpverleningsproses

Daar word van verskeie soorte speelmateriaal en verskillende vorme van speel gebruik gemaak tydens hulpverlening aan die getraumatiseerde laerskoolkind, wat elk ‘n besondere doel dien in die proses. Vir die doel van hierdie studie, sal daar slegs gefokus word op ‘n klein seleksie van speeltegnieke, weereens terwille van die lengte van die proefskrif.

4.10.4.1 Kreatiewe spel

Hieronder word verskeie elemente ingesluit, onder andere:

Teken en verf, klei, sand en enige ander kreatiewe aktiwiteite. Kreatiewe spel kan vir verskeie doeleindes aangewend word. Die volgende is van belang:

Kreatiewe spel kan gebruik word om die kind op sy gemak te stel, hom meer ontspanne te laat voel en om interaksie tussen die kind en die hulpverlener te bevorder (Van der Merwe, 1996:138; Geldard & Geldard, 2008:10 – 16). Kreatiewe spel kan die vestiging van ‘n verhouding en kommunikasie tussen

die kind en die hulpverlener fasiliteer (Porter, 1983:242 – 271; Blom, 2006:130).

Dit kan gebruik word om inligting rakende die kind se wêreld in te win.

Dit bied aan die kind die geleentheid om emosies op ‘n nie-bedreigende wyse uit te druk (Van der Merwe, 1996:139; Schoeman, 2004:92; Blom, 2006:130). Traumatiese gebeure kan herleef word en veranderinge kan aangebring word

(Jeffries & Gillespie, 1981:11).

Die volgende elemente is spesifiek van toepassing op die gebruik van teken as ‘n vorm van kreatiewe spel:

Dit mag ook die vermoë om herinneringe op te roep verbeter en die kind help om die gebeure as sy storie (narratief) te organiseer (Malchiodi, 2012:141). Volgens Malchiodi (2001:21) is teken ʼn natuurlike kommunikasiemiddel wat kinders moeilik weerstaan en is dit een van die enigste maniere om die kompleksiteite van pynlike ondervindings, onderdrukte herinneringe of onuitgesproke vrese, angstighede en skuldgevoelens oor te dra. Teken bring met ʼn doelmatigheid toepaslike sake tot hulpverlening na vore, wat die tydperk van hulpverlening verkort.

Teken is ʼn vorm van openbaarmakende terapie wat help met die konstruksie van die traumatiese narratief, terwyl dit terselfdertyd ook die herlewing van die traumatiese herinnering op ʼn nie-bedreigende wyse fasiliteer (Steele & Raider, 2001:12). Wanneer teken gebruik word saam met trauma-spesifieke vrae, help dit die kind om sy storie te ontwikkel, met ander woorde om taal daaraan te gee.

Die motoriese bewegings van teken, wat met die verbale storievertelling gepaard gaan help die kind om van ʼn passiewe (internaliserende) betrokkenheid met die trauma aan te beweeg na ʼn aktiewe (eksternaliserende) beheer daarvan (Steele & Raider, 2001:12).

Die volgende elemente is spesifiek van toepassing op die gebruik van sand as kreatiewe spel:

Die gebruik van sand is ‘n natuurlike medium waardeur kinders sensories kontak kan maak met die self, sonder die gebruik van woorde (Schoeman, 2004:98 – 99; Blom, 2006:135).

Kinders geniet die gebruik van sand en kan hul wêreld uitdruk deur tonele soos begrafnisse, ensovoorts (Schoeman, 2004:99). Steele en Raider, (2001:10) beklemtoon die volgende in hierdie verband: “Re-exposing the

trauma victim to his experience has remained a core component of trauma intervention”.

Dit verskaf aan die kind die geleentheid om trauma te hanteer deur dit te eksternaliseer (Geldard & Geldard, 2008:182).

Deur die gebruik van sand kan die kind ‘n kognitiewe verstaan ontwikkel rondom die gebeure in hul lewe en sodoende insig daarin verkry (Geldard & Geldard, 2008:182).

Die gebruik van sand bied ook die geleentheid om die verlede te verwerk (Geldard & Geldard, 2008:182).

4.10.4.2 Ontspanningspel

Ontspanningspel word meestal gebruik om die kind voor te berei vir die hulpverleningsproses (Van der Merwe, 1996:77). Verskeie komponente word onder ontspanningspel geklassifiseer, byvoorbeeld die gebruik van musiek, legkaarte, speletjies, uitstappies, troeteldiere. Die volgende is van belang tydens die gebruik van ontspanningspel:

Louw en Louw, (2007:239 – 260) noem dat werklikheidsgebaseerde spel, liggaamlike vaardighede en sport al meer dominant in die tydperk van die middelkinderjare raak. Speletjies met gestruktureerde reëls soos byvoorbeeld Monopoly en kaartspeletjies het veral aantrekkingskrag vir die middelkinder- jare kind en maak dus ‘n uitstekende medium om te gebruik.

Reëls stel die spelers in kennis oor die rolle wat hul sal speel, stel die limiete en verwagtinge vir gedrag en oor hoe die speletjie werk. Die gevolg is dat dit struktuur en grense bied vir die hulpverleningsproses, asook veilige raamwerk waarbinne die kind kan ontspan en die speel en speletjie geniet (Van der Merwe, 1996:15; Geldard & Geldard, 2008:236).

Bundy en Cordier, (2009:49) noem dat wanneer dit by kompeterende speletjies kom, dit juis die onsekerheid is oor wie aan die einde gaan wen wat die deelnemer aanmoedig om die speletjie te speel.

Speletjies kan gebruik word om die kind te help om gemaklik te voel tydens die hulpverleningsproses en om die verhouding tussen die hulpverlener en die kind verder uit te bou (Porter, 1983:319; Van der Merwe, 1996:81; Schaeffer & Reid, 1986:4 – 11; Geldard & Geldard, 2008:236). Schaeffer en Reid (1986:2) verduidelik dit so:

“Game playing is an activity that shares at least two of elements of the basics of play: both are meant to be fun and provide a

context for fantasy experience. However, when playing an organized game, children must abide by the relatively fixed set of rules”.

Geldard en Geldard (2008:235) noem dat speletjies kinders ook help om fisies, kognitief, emosioneel en sosiaal te ontwikkel.

Speletjies kan ook gebruik word om inligting in te win (Van der Merwe, 1996:81). Frey (1986:29) ondersteun die stelling deur te noem dat terwyl bordspeletjies gespeel word, dit moontlik is om die kind se gedagtes, gevoelens en gedrag, verbale vermoëns, aandagspan, persepsie, liggaamstaal, doelgerigtheid, vermoë om gevoelens te verbaliseer en vlak van ontwikkeling waar te neem. Speletjies het dus die dubbele doel in die sin dat dit goed gebruik kan word indien ʼn kind skaam is of skugter om in verhouding met die hulpverlener te staan en ook dat sekere inligting bekom kan word. Speletjies verskaf ook ‘n geleentheid vir die kind om van spesifieke onderwerpe te leer, byvoorbeeld gesinsgeweld en dan by implikasie ook van die dood en God (Geldard & Geldard, 2008:238).

Speletjies is ‘n goeie medium om te gebruik om inligting van die kind rondom voorveronderstellings en fisiese simptome te verkry, asook wat die kind rondom die dood glo (Schoeman & Van der Merwe, 1996:81).

Dit is noodsaaklik dat regstellings plaasvind indien die kind vreemde persepsies het (Wass & Corr, 1984:193; Kübler-Ross & Kessler, 2005:160).

4.10.4.3 Biblio-spel

Biblio-spel sluit die gebruik van stories, lewensboeke, dagboeke, padkaarte, gedigte, tydskrifte, prente, strokiesprente, onvoltooide sinne, briewe, ensovoorts in. Die waarde van die gebruik van stories tydens die hulpverleningsproses sluit die volgende in:

Die gebruik van ‘n storie is ‘n genotvolle aktiwiteit wat die verhouding tussen die kind en die hulpverlener, verder uitbou (Porter, 1983:271-316; Thompson & Rudolph, 1992:199; Geldard & Geldard, 2008:213).

Die gevoel van isolasie word verminder wanneer die kind besef dat ander ook soortgelyke probleme oorkom het (Porter, 1983:271-316; Thompson & Rudolph, 1992:199; Geldard & Geldard, 2008:213). Sweeney, (1997:121) ondersteun hierdie standpunt deur te noem dat die kind op onbewuste vlak met die karakters in die stories identifiseer en die situasies op sy eie lewe van toepassing maak en daardeur sy gevoel van isolasie tydens probleme na ʼn gevoel van gedeelde ondervindings verander.

Die gebruik van stories is op sigself terapeuties in die sin dat dit miskonsepsies regstel (Van der Merwe, 1996:110).

Die krag van ʼn storie is in die vermoë om gebeure en situasies oor te vertel, om mense te skep wat die kind verstaan en met wie die kind kan identifiseer geleë (Gunn & Fewell, 1993:47) .

Die kind sal deur die storie bewus gemaak word van emosies wat ervaar kan word, veral deur hul eie angstigheid of vrese te herken deur en met die karakters te identifiseer (Gunn & Fewell, 1993:47; Sweeney, 1997:121; Geldard & Geldard, 2008:214).

Davis (1989:18) noem dat die gebruik van stories nie-bedreigend is en dat dit beide die bewussyn en onderbewussyn gebruik. Sy gaan verder deur te noem dat: “the unconscious of the child appears to be able to understand

conceptually at a much higher level than the child’s conscious mind”.

Die gebruik van storie is ‘n gestruktureerde vorm van speel, wat dadelik die gesprek op die bepaalde onderwerp fokus (Van der Merwe, 1996:110).

Die gebruik van biblio-spel bespoedig die hulpverleningsproses (Van der Merwe, 1996:110).

Deur dadelik die gesprek rondom die dood te inisieër, sal aandui dat die hulpverlener nie wegskram om oor die dood te praat nie. Toestemming word

hierdeur aan die kind verleen dat dit veilig is binne hierdie verhouding om oor die dood te praat (Kübler-Ross & Kessler, 2005:162 – 163).

Die navorser volstaan by slegs hierdie bydraes vanuit die spelterapie, aangesien dit spesifiek van toepassing is op die inhoud van die voorgestelde model en ter wille van die lengte van die studie. Die doel van hierdie studie is om ‘n eenvoudige metode daar te stel, wat onder andere deur versorgers van alle kulture gebruik kan word. Aangesien spelterapie intensiewe opleiding en dikwels ‘n internskap behels, het die navorser besluit om slegs gebruik te maak van speel, wat die model meer bruikbaar maak vir ‘n groter deel van die samelewing. Die navorser gaan voorts ‘n voorgestelde hulpverleningsmetode daarstel, wat in die empiriese ondersoek getoets sal word. Dit sou soos volg daar kon uitsien: