• No results found

A.D Lester se benadering ten opsigte van pastorale sorg aan kinders in krisis (1985)

H OOFSTUK 3: B ASIS TEORIE

3.8 ‘N LITERATUURSTUDIE VAN ‘N AANTAL BYDRAES RAKENDE KINDERPASTORAAT

3.8.1 A.D Lester se benadering ten opsigte van pastorale sorg aan kinders in krisis (1985)

Lester noem dat daar min literatuur in hierdie verband in 1985 beskikbaar is. Dit is juis om hierdie rede dat hy in daardie stadium ‘n boek saamstel om pastorale hulp te verleen aan kinders wat krisisse beleef. Sy uitgangspunt is dat kinders ook gemeentelede is en daardeur die reg tot pastorale sorg het. Hy noem dat Jesus as die model van volwasse geloof in aksie en ook as voorbeeld van effektiewe bediening dien.

3.8.1.1 Kinders se behoeftes van ‘n pastor

‘n Pastor het nodig om ‘n kind met sekere behoeftes te help, soos onder andere:

Sin van vaardigheid

sodoende ‘n sin van vaardigheid te ervaar. By beide die skool en wanneer daar gespeel word, ondersoek kinders hul nuwe fisiese, sosiale en intellektuele potensiaal. Hulle toets ook hulself teen die verwagtinge van beide hul groep en hul ouers. Wanneer kinders by die proses om die uitdaging van die krisis te konfronteer en daarop te reageer ingesluit word, word hul sin van vaardigheid grootliks verhoog. Hulle voel dikwels dat hul vaardighede deur volwassenes raakgesien word. As pastor moet daar seker gemaak word dat kinders in ‘n krisistyd ingesluit, eerder as uitgesluit word (Lester, 1985:52-54).

Gesindheid en waardes

Wanneer die kind kleuterskool toe gaan, is vroeë indrukke rondom verskeie dinge reeds vasgelê. Teen die einde van die laerskool het hierdie selfde kind reeds volle kennis van sosiale vaardighede wat aangeleer is van die familie, onderwysers, groep en kontak met die gemeenskap en wyer wêreld deur middel van blootstelling aan films, radio, televisie en boeke. Dit is vir die pastor, wat intens in die kind se religieuse en geestelike groei belangstel, uiters belangrik om hierdie gesindhede en waardes te help vorm, veral aangesien dit dikwels die fondament vir die kind se latere geloofsisteem vorm. Heelwat mense se idee van hoe God is, hoe God in die wêreld werk en hoe God oor die mens voel, is juis deur krisisse in die kinderjare gevorm. Dikwels kan iets so eenvoudig soos ‘n gebed gesindhede en waardes weergee wat ‘n deurslaggewende indruk op ‘n kind kan maak (Lester, 1985:54-56).

Bevestiging van hul persepsies

Volwassenes is dikwels geneig om kinders te probeer beskerm deur inligting van hulle te weerhou, maar kinders besef gereeld dat hulle om die bos gelei word. As pastor verteenwoordig jy vir God en juis daarom is dit belangrik om altyd die waarheid deur te gee. As pastor tydens ‘n krisis is dit belangrik om:

- die kind te help om akkurate inligting te kry;

- om die kind by te staan om hierdie inligting te interpreteer, dit deur te dink en daarop te reageer;

- om in die toekoms terug te keer na hierdie inligting en om seker te maak dat hulle genoeg geleentheid gehad het om hierdie krisis te prosesseer en daarop te reageer (Lester, 1985:56-57).

‘n Plek om te behoort

In die laerskooljare begin kinders self vriende kies by wie hulle gemaklik voel, van wie hulle hou en wat positiewe terugvoer gee. Binne hierdie groepie leer hulle om regverdig te speel, hulle leer groepreëls, aanvaarbare maniere om omgee te wys, verbale en nie-verbale taboes, gedrag wat aanvaarbaar is en ook hoe om hulle in die groep te laat inpas. Teologies gesproke is hierdie ‘n goeie beskrywing van die basiese fondament vir die kapasiteit om gemeenskap te ervaar. Kinders wat effektief ‘n sosiale self kan ontwikkel, is ook in staat om die koinonia van die kerk te ervaar.

In ‘n krisis word die kind se behoefte aan ‘n plek om te behoort dikwels nie raakgesien wanneer volwassenes self met die krisis moet deel nie. Kinders het gevolglik nodig om versorging, gerusstelling en ondersteuning van hul gemeenskap te verkry. Dit sal verligting bring van die gevoel van verlatenheid en hul “sin van behoort “ herstel (Lester, 1985:57-59) .

Volwasse vriende en selfs helde

Volwassenes kan as rolmodelle vir volwassenheid dien, voorbeelde stel, help met doelwitte stel en hulle kan konkrete ideale vir kinders modelleer om na te volg. Volwassenes wat buite die gesin staan, het ‘n ander tipe outoriteit en sal selde in konflik met die kind staan rondom dissipline. Dit vergemaklik weer die vestiging van ‘n vriendskapsverhouding.

Sommige van die helde uit die kinders se fantasiewêrelde is nie altyd die ideale voorbeeld van Christenskap nie. Dit is dus belangrik vir die kerk om alternatiewe helde te verskaf. Deur die pastor kan die kind Jesus as ‘n ware vriend en held leer ken (Lester, 1985:59-61).

Iemand om te luister

Een van die belangrikste funksies van ‘n goeie vriend is om aandagtig en versorgend te luister terwyl die persoon sukkel om sy diepste gedagtes te orden en te deel. Wanneer die kind ‘n vriend in ‘n volwassene gevind het, kan hulle in hierdie verhouding ook dieper godsdienstige vrae vra, hul grootste vrese uitdruk en skaamte of skuldgevoelens na vore bring (Lester, 1985:61-62).

Iemand om hul gevoelens te aanvaar

‘n Belangrike doel in die versorgingsproses van kinders tydens ‘n krisis is om ‘n geleentheid te skep waarbinne hulle hul emosies kan uitdruk. Binne hierdie konteks kan emosies beleef, beskryf en bespreek word sonder vrees vir afkeuring (Lester, 1985:62-63).

Geestelike leiding

Skoolgaande kinders is in ‘n fase van geestelike groei en ontwikkeling. Hulle beskik nou oor die intellektuele kapasiteit om dele van inligting en enkel beelde saam te voeg in konsepte oor God. Kinders het nie ‘n geskiedenis van persoonlike geestelike ondervindinge wat hulle deur ‘n krisis kan ondersteun nie. Jy, as die pastor, kan die een wees wat insette in ‘n tyd van krisis lewer (Lester, 1985:63-64).

3.7.1.1 Gebruikmaking van speel as deel van pastorale gesprekke

Lester noem die speelkamer die natuurlike habitat van ‘n kind. Wanneer kinders speel, doen hulle wat vir hulle die mees natuurlike is. In die proses van speel, maak kinders baie van wie en wat hulle is, bekend. Speel help nie net om verhouding te skep of pastorale assesserings te doen nie, maar skep ook die basis vir pastorale take soos die uitdrukking van emosies, werklikheidstoetsing en lering.

Lester maak gebruik van ‘n verskeidenheid van speelvorme tydens pastorale gesprekke:

Handpoppe

of deur ‘n handpop praat, as direk met ‘n volwassene. Kinders openbaar ook meer oor hulself deur ‘n handpop, aangesien hulle nie besef dat dit dieselfde is as om direk met ‘n volwassene te praat nie (Lester, 1985:87-91).

Bordspeletjies

Bordspeletjies bied aan kinders die geleentheid om deel te neem aan ‘n speletjie wat reëlgebonde is. Lester maak gebruik van die sogenaamde “Ungame” en ook die “Bag of words-game” wat in die VSA beskikbaar is. Dit sou dus gepas wees om van plaaslike of self-ontwerpte speletjies tydens pastoraat gebruik te maak (Lester, 1985:91-96).

Kuns

Die Skepper het aan die mens die gawe van uitdrukking gegee, die begeerte om dit wat gedink en gevoel deur die kreatiewe aktiwiteit wat kuns genoem word te simboliseer. Kinders is natuurlike kunstenaars. Kuns is by uitstek ‘n uitstekende medium vir selfuitdrukking aangesien dit nie van woorde en verbale of kognitiewe vermoëns afhanklik is nie. Kuns kan dus die medium wees waardeur die kind sy/haar pastorale krisis kan kommunikeer. Die pastor kan ook die kind se kuns gebruik om die kind se persepsies oor die krisis te bespreek, om seën in die kind se lewe uit te lig of om geloofsbeginsels oor te dra wat kan dien as ‘n soliede fondasie vir die ontwikkeling van geestelike insig (Lester, 1985:97-112).

Storievertelling en pastorale sorg

Alle mense is geskep met die kapasiteit om te fantaseer. Die mens het nog altyd stories gebruik om basiese dinge rondom kulturele waardes, veral hul geloof, te bewaar en te kommunikeer. Mites, legendes, fabels en gelykenisse is van die belangrikste storievertel metodes wat gebruik word. Jesus self het van gelykenisse gebruik gemaak om geestelike waarhede uit te lig. Bybelse storievertelling leen op sigself dus uitstekend daartoe om as ‘n hulpmiddel in pastoraat te dien (Lester, 1985:113-124).

Pastorale sorg deur te skryf

Gesproke woorde het baie krag en sodra dit gespreek is, kan dit nooit teruggeneem word nie. Kinders is in ‘n sekere sin bewus van hierdie krag en juis dit maak hul huiwerig om oor sensitiewe persoonlike vraagstukke te praat, veral dit wat hul kwesbaar maak. Volgens Lester blyk dit daarom dat die skryfproses as minder persoonlik en minder bedreigend deur kinders ervaar word. Die proses van skryf blyk aan kinders toestemming te gee om rondom verbode onderwerpe te deel. Verskillende skryfaktiwiteite word bespreek en kan aangewend word om die pastorale proses te versterk (Lester, 1985:125-133).

Opsommenderwys is dit duidelik dat Lester se boek rondom pastorale sorg bevestig dat die gebruik van speel in die pastorale proses as aanvaarbare hulpmiddel kan dien.

3.8.2 D. Sweeney en G. Landreth se benadering tot die heling van ‘n kind se