• No results found

Ontnugterde en pessimistiese Afrikaners

HOOFSTUK 2 Teoretiese diskoerse

4. Die pragmatis, byvoorbeeld Solidariteit wat ʼn belangeorganisasie is.

3.2 Die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in Oemkontoe van die nasie

3.2.2 Ontnugterde en pessimistiese Afrikaners

Van Coller (2016:446) tipeer pessimisme oor die nuwe bedeling as ʼn duidelike kenmerk van baie resente (Suid-)Afrikaanse literêre tekste. Aangesien hierdie pessimistiese beskouings van die skrywers uiteindelik in hul karakters neerslag vind, stel Barendse (2013:84) met reg dat Oemkontoe van die nasie as ʼn tipe outobiografiese roman beskou kan word, aangesien die hoofkarakter Faan Starck net soos P.J. Haasbroek ʼn wit, Afrikaanse, manlike (polities inkorrekte) skrywer is. Siende dat

Haasbroek vir Faan as ʼn fiktiewe weergawe van homself beskou, dien die roman uiteindelik as ʼn persoonlike besinning oor die Afrikanerman se posisie in die nuwe Suid-Afrika.

Faan se siening van homself as Afrikanerman en as skrywer het reeds neerslag gevind in sy roman met ʼn sterk outobiografiese inslag, Die dagboek van Vaal Maan, waarin hy ʼn antiheld wou skep, ʼn volslae romantikus wat nes hy heeltemal onbeholpe is (20). Daar is by die vyf-en-dertigjarige Faan dus geen sprake van ʼn sterk selfbeeld nie. Trouens, wanneer hy na homself in die spieël kyk, beskryf hy hom soos volg: “Skraal en van middelmatige lengte [...] Vaal Faan. [...] Eintlik onopsigtelik met sy lang, smal gesig en grysblou oë agter ʼn ouderwetse skilpadraambril. Dit lyk of hy meestal verleërig staan en glimlag” (281).

Faan vertel dat sy skrywery met ʼn rubriek vir Nylstroom se weekblad, Die

Waterberger, begin het. Die koerant publiseer reeds so lank plaaslike nuus dat dit as

“doktor Treurniet se koerant” (8) bekendstaan. Dit verwys natuurlik na die omstrede Afrikanerfiguur doktor Andries Treurnicht43, NG predikant, kabinetsminister en leier van die regse Konserwatiewe Party. Hy was die redakteur van die NG Kerk se

Kerkbode en later van Hoofstad, ʼn regeringsgesinde middagblad, asook Volksraadlid

vir die Nasionale Party in die kiesafdeling Waterberg. Die vereenselwiging met doktor Treurnicht dien dus as bewyse van die politiese inkorrektheid van beide die weekblad en van Faan self.

Faan erken self dat Die Waterberger se politiek “onaanvaarbaar” (10) is, aangesien ʼn ander nuusblad dieselfde ding kan skryf sonder om die nekhare te laat rys, maar dat daar altyd ʼn storm losbars wanneer hulle dit plaas. Pierre Els, die redakteur van Die

Waterberger, se benadering word daarom as “antidemocratic”, “reactionary” en as “a

lavatorial editorial” (10) beskryf. Faan het aanvanklik berigte vir Die Waterberger onder sy eie naam geskryf, maar toe hy verslag lewer oor die getuienis van twee Britse administrateurs wat voor die WVK gedaag was oor hul aandeel in die oprig van

43 Andries Treurnicht was ʼn groot ondersteuner van die destydse regering se apartheidsbeleid. As adjunk-

minister van Bantoe-onderwys het hy beveel dat tegniese skoolvakke in swart skole slegs in Afrikaans aangebied moet word. Tydens die Suid-Afrikaanse referendum van 1992 het hy “nee” gestem vir onder- handelings om apartheid te beëindig (Giliomee, 2004:531; 590-591).

lokasies in Zoeloeland, het dit die Kommissie se aandag op Faan se eie politieke oortuigings gevestig en het dit hulle aangespoor om hom ook te laat kom getuig. Daarom word Faan gedwing om voortaan alle rubrieke onder die skuilnaam, Kerneels Moepel (10), te publiseer. Faan het heel moontlik baie doelbewus hierdie spesifieke skuilnaam gekies, aangesien “moepel” natuurlik na die inheemse Suid-Afrikaanse boom verwys wat op bergagtige streke in warmer areas voorkom (South Africa Online, 2019). Met die land se politiek en sosio-maatskaplike omstandighede wat al hoe “warmer” raak, bevind Faan homself as rubriekskrywer op ʼn “bergagtige” terrein. Die feit dat die moepel ʼn inheemse boom is, saam met die sterk Afrikaansheid wat die naam “Kerneels” oproep, is dus ook ʼn poging van Faan om as (onderdrukte) Afrikaner steeds met die land te identifiseer en sy plek in (Suid-)Afrika op te eis.

Die nuwe regering het dreigend uitgevaar teen Faan – as Kerneels Moepel – se rubrieke waarin hy die spot dryf met die tekortkominge van die nuwe Suid-Afrika. So is hy byvoorbeeld uitgekryt as een van die “oorblywende reaksionêre rassiste” (14) waarmee demokratiese magte moet afreken. Wanneer hy voor die WVK verskyn, verwys Faan na homself as iemand wat “die ou bedeling” (16) verteenwoordig.

Die nuuskantoor van Die Waterberger word uiteindelik deur die polisie gesluit met Els wat gearresteer word. Nylstroom se burgemeester, beter bekend as Cuddles, verskaf die volgende verduideliking aan Faan waarom hulle vir Els gaan aankla: “Els is besig om ons demokrasie te ondermyn. Hy wil nie aanvaar die wêreld het verander nie. Hoe lank nou al publiseer hy artikels in sy koerant wat ons regering in diskrediet bring. Rassistiese berigte. Haatpraatjies. Als opruiende propaganda” (38). So word die stem van die Afrikanerman wat durf van die regering verskil, gedemp. Dis egter belangrik om in gedagte te hou dat hierdie stem nie alleen die regering se optredes bevraagteken nie, maar die regering ook bespotlik maak en gevolglik in ʼn slegte lig stel.

Tydens Faan se laaste dag as Afrikaansonderwyser, wil sy leerders by hom weet waarom hy afgedank is. Faan se uitgebreide antwoord is ʼn besinning oor sy identiteit as wit Afrikanerman, maar ook oor die toekoms van Afrikaners binne die nuwe bestel, en is tekenend van die sogenaamde Boetman-debat wat aan die begin van die 21ste eeu

gevoer is44. Faan begin deur N.P. van Wyk Louw se stelling aan te haal wat waarsku dat die hele geslag wat ʼn rebellie vermy, verlore kan gaan. Volgens Faan is al die wit mans verlore wat tussen 1975 en 1990 op hoërskool of universiteit was, aangesien hulle nie in opstand gekom het nie. Gedurende daardie tyd was daar opstande in swart woonbuurte en aan swart skole en universiteite, maar hulle wit mans kon nie daaraan deelneem nie, aangesien hulle grens toe is om Suid-Afrika teen terroriste te beskerm (42-43).

Volgens Faan is sy generasie verlore omrede hulle in die verlede bloot “PW en sy trawante” (43) se bevele uitgevoer het sonder om daaroor in opstand te kom omrede hulle mislei is deur die regering se bedoelings:

“Sonder hoop of vooruitsig dwaal party van ons nog in plattelandse dorpies rond. [...] Of ons peuter moedeloos aan ons karre se enjins [...]. Dertig verby, en talle van ons is nog werkloos en bly in ʼn woonwapark langs ʼn vuil spruit. Wanneer jy ʼn bottel kan bekostig, raak jy so dronk soos ʼn spook. Verlorenheid is ʼn egskeiding op veertig. Verlore is almal met hulle onvertelde stories. En hulle wat nog glad nie eens ʼn storie het nie.” (43)

Faan se betoog sluit ook ʼn radikale poging in om die leerders uit te lok om standpunt in te neem en in opstand te kom. Hy vertel hulle dat hy al oorweeg het om ʼn bom by die Departement se kantore te plant, as poging om teen sy “verlorenheid” te rebelleer. Hy weet egter dat hy man-alleen nie suksesvol sal wees nie: “Toe wonder ek of ek julle kan vra om my te help” (42). Volgens Faan is dit “net die jeug wat ʼn opstand kan laat slaag” (43) omdat hulle vir niks stuit nie en die drif het wat nodig is – anders as volwassenes wat die risiko’s te deeglik oorweeg:

“Dalk voel julle ook opstandig. Maar sien julle regtig daarvoor kans? [...] Sal julle teen onreg baklei, of gaan julle laat slap lê? [...] Ons het die kuns van protes verloor [...] Ons is net nie meer van nature rebelle nie. Ons praat nie eens meer teë nie. Waarteen kan ʼn mens ook deesdae rebelleer? Is daar nog ʼn saak oor wat die moeite werd is? Ek praat nie van ʼn

persoonlike grief nie, maar iets wat ʼn groot klomp mense raak. Iets soos apartheid . . .” (43-44)

Bogenoemde teksaanhaling kan as doelbewuste verwysing na die Soweto-opstande van 1976 gelees word, waar swart skoolkinders teen die apartheidsregering in opstand gekom en geprotesteer het teen (onder andere) die afdwinging van Afrikaans as onderrigtaal. Faan impliseer dus dat die jeug van vandag nie meer ʼn doel het nie, en dat hulle – anders as die benadeelde jeugdiges wat tydens die vorige bedeling onderdruk is – geen politieke bewussyn het nie.4546

Faan gee egter ook hiermee te kenne dat sy kans verby is om as volwasse man in opstand te kom. Alhoewel dit wil voorkom asof hy sy situasie gelate aanvaar, rebelleer Faan tog deur middel van sy skryfwerk, én sy lewenshouding, opmerkings en waar- nemings. In die spreekwoordelike sin probeer hy wys dat die pen magtiger is as die swaard (of die spies). Faan se poging om nou as volwasse man in opstand te kom teen die regering deur middel van sy skryfwerk kan as korrektief gesien word op die kans wat hy in die verlede verspeel het.

Wanneer Faan se studente nie vir hom ʼn antwoord kan gee op wat dit is in Suid-Afrika wat hulle opstandig laat voel nie, besef hy dat hy self vir hulle ʼn rede gaan moet gee wat ʼn rebellie sal regverdig. Volgens Faan kan die antwoord in die politiek gevind word, “in die onverdraagsaamheid van wie ook al heers” (45). Faan vind dit nodig dat daar teen hierdie meerderheidsregering gerebelleer word wat nie in staat is om kritiek te verduur nie, en wat weier dat die massas teëgegaan word.

Faan kritiseer Suid-Afrika se demokrasie wat poog om verskille tussen mense uit die weg te ruim, en stel die vraag aan sy leerders: “[...] hoekom mag ons nie maar verskil nie?” (45). Volgens Faan beweer politici dat hulle Suid-Afrikaners se belange op die hart dra, maar dat hulle eintlik net hul eie saak dien: “Gelykstelling is niks anders as ʼn

45 In 2015 het daar ʼn oplewing in die politieke bewustheid van jong Suid-Afrikaners gekom te danke aan

verskeie protesaksies soos #RhodesMustFall, #FeesMustFall en #AfrikaansMustFall. Hierdie protesaksies – wat teen alles is waarvoor Faan staan – is uiteraard nie die tipe protesoptrede wat hy in gedagte gehad het nie.

46 Hierdie siening van Faan word later in die roman weerspreek wanneer hy terugdink aan hoe die skoollewe ná

rookskerm nie. Die rookskerm van meerderheidsteun waaragter hulle die enkeling se teenstand die hoof kan bied” (45). Die burgemeester het aan Faan verduidelik dat hy afgedank word omdat die mense nie hou van wat hy skryf nie, maar Faan meen dis eerder ʼn geval van die politici wat nie langer sy gespot wou verduur nie.

Soos reeds genoem, trek Faan en baie ander Afrikaners af Kaap toe omrede hulle ontnuger is deur die stand van sake in die Noorde van die land. Die utopie wat hulle gehoop het om in die Kaap te vind, lei egter tot verdere ontnugtering. ʼn Goeie voorbeeld is Faan se erkenning aan homself in Huis Gavok:

Voorheen het ek nooit aan die Kaap gedink nie. Nie eens as ʼn vakansiebestemming nie. Dit was te ver en ten ene male te vreemd. [...] ʼn Almanakwêreld waarin die inwoners hulle lewe anders lei as in Nylstroom. Els het my opgewonde gemaak oor [...] ʼn Kaapse kultuur wat soveel van ons lewe in die Waterberge verskil dat dit net sowel ʼn ander land kon wees. Ek het my voorgestel hoe ek op ʼn strand sit en witwyn drink. Volgens Els drink die Kapenaars soggens op die strand witwyn en eet hulle kreef wat hul glo self vang. [...] Maar tot nou toe het ek nog nie een Kapenaar strand toe sien loop met ʼn bottel wyn nie. En kreefduik vir sport is verbode. Kreefpermitte word net aan voorheen benadeeldes uitgereik. (105)

Hierdeur lewer Faan in wese kommentaar op sy eie vooroordele en wanopvattings. Faan se mededeling dat die Kaap voor sy verhuising vir hom heeltemal vreemd en onbekend was, is egter ʼn aanduiding van sy geïsoleerdheid, nie net as Afrikaner nie, maar ook as Suid-Afrikaner binne sy eie land. Sy en Els se wanopvatting van die Kapenaars se leefwyse, kan ook gelees word as onkunde oor die omstandighede waarin mede-Suid-Afrikaners (veral van verskillende rasse en kulture) daagliks lewe. Sy ontnugtering kom ook sterk na vore in die ontevrede opmerking dat slegs persone wat in die vorige bestel benadeel is, permitte mag kry om vir kreef te duik.

Die losieshuis waar Faan in die Paarl ʼn kamer huur is in “Gavokstraat” (69). Talle resensente maak melding van hierdie woordspeling. Volgens Abrahams (2002:17) is Huis Gavok ʼn variasie op “Hy’s gefok”, wat dus die ontmanning van die Afrikanerman

beklemtoon. Die woordspeling funksioneer egter nie alleen op individuele vlak nie, maar ook kollektief, aangesien dit ʼn aanduiding van Afrikaners se gemarginaliseerde posisie in die hedendaagse Suid-Afrika is (Viljoen, 2002a:11; Wasserman, 2002:4; Van Coller, 2016:445).

Faan vra later vir oom Giep waar die straat se vreemde naam vandaan kom. Oom Giep vertel dat die nuwe dorpsraad in die eerste week ná bewindsoorname niks anders gedoen het as om ou straatname te verander nie, en so is die oorspronklike “Galantlaan” na “Gavokstraat” verander: “Hulle dink mos hulle vat iets deur dit ʼn naam te gee” (330). Faan noem hierdie proses “onteiening deur middel van naamgewing” (330). Faan beskuldig die nuwe regering dat hulle bloot hul eie name aan al die strate, hospitale, universiteite en tronke gee wat Afrikaners self uitgelê en gebou het, wat bydra tot sy pessimistiese siening van die nuwe bestel: “Ons maak sommer vir onsself ʼn geskiedenis!” (330).

Weideman (2002:74) meen dat Huis Gavok ook as ʼn metafoor vir ʼn tydgenootlike én bo-tydelike oorgangsituasie gelees kan word. Daarom kan ons hierdie losieshuis as ʼn liminale ruimte beskou, aangesien dit verskillende randfigure huisves wat verbete sosiale-, maatskaplike-, en politieke verandering probeer teëstaan, maar uiteindelik die knie moet buig voor iets soos grondhervorming. Die inwoners van Huis Gavok poog dus om hierdie losieshuis as geprivatiseerde wit ruimte, oftewel wit Afrikaanse enklawe (sien Van der Westhuizen, 2017) te laat funksioneer, maar sonder enige sukses.

ʼn Groep voornemende plakkers het een aand besit geneem van die stuk grond langs die parkeerterrein van Huis Gavok om hutte te bou. Oom Giep het hulle sonder enige sukses probeer verjaag, en wanneer die polisie eers teen elfuur die oggend opdaag, verduidelik hulle aan oom Giep dat hulle nie die plakkery kan stop nie, aangesien dit ʼn “private aangeleentheid” (193) is, en dus net ʼn klag van rusverstoring kan ondersoek. Daar word aan oom Giep verduidelik dat hierdie benadeelde mense se behoefte aan grond en behuising ʼn dringende behoefte is, wat sterker opweeg as sy behoeftes. Oom Giep reageer onsimpatiek en meen dat die plakkers se behoeftes nie sy probleem is nie. Wanneer hy dreig om hulle met geweld te verwyder, word hy herinner dat die Grondwet van hom vereis dat hy hul eise moet oorweeg, en indien nodig, hulle op ʼn wetlike wyse van die grond laat verwyder, sonder enige geweld (193-194).

Volgens Faan voel oom Giep magteloos, nie omdat hy deur die reg in die steek gelaat word nie, “maar deur sy eie verwagting van die reg” (194). Oom Giep van Noord, die eienaar van Gavok en dus ʼn tipe Afrikanerpatriarg, word later weens intimidasie van regeringskant gedwing om ʼn stuk van sy grond vir “ontwikkeling” prys te gee. Vir Stephanie Nieuwoudt (2002:4) is dit simbolies van die Afrikaner wat deur die jare heen ver verwyderd geraak het van die landelike bestaan en meer spesifiek die wit, middel- jarige Afrikanerman wat ontmagtig voel in ʼn nuwe bestel.

Op stemdag mor een van Huis Gavok se inwoners oor die feit dat alle Suid-Afrikaners gedwing word om te gaan stem. Faan herinner sy mede inwoners dat hulle ʼn stem- stempel in hul identiteitsdokument kry wanneer hulle gaan stem, en sonder daardie stempel sal hulle nie toegang tot ʼn regeringskantoor kan kry nie. Daarom sal hulle nie ʼn motorlisensie kan hernieu, of selfs eers ʼn klagte by die polisie kan gaan lê nie. Volgens Faan bewys jy met jou stem dat jy jou met die land vereenselwig en aan die demokratiese proses deelneem, wat die kiesers verder laat glo dat hulle inspraak in die groot debatte het en saam regeer (250).

Die regering se poging om die landsburgers te beheer deur middel van ʼn stempel in hul identiteitsdokument, roep in herinnering die paswette van die apartheidsregering waar nieblankes se bewegings ook beperk is. Al het die Afrikaners in die verlede dus voordeel getrek uit daardie wetgewing, word hulle nou ingesluit by al die ander lands- burgers wat moet meedoen aan hierdie nuwe wetgewing.

Nog ʼn voorbeeld van tipiese apartheidspraktyke wat op toepassing gemaak word van Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika, is wanneer Faan en Katryn hul beurt afwag om te stem, en Faan na die assistent van ʼn bruin politieke kommissaris as ʼn “werfbobbejaan” (252) verwys. Faan word onmiddellik deur sekuriteit uit die tou geruk, en na ʼn tent geneem waar hy vir versteekte wapens ondersoek word. Daarna word Faan polisiestasie toe geneem vir verdere ondervraging. Volgens Faan skend hulle sy reg op vryheid, maar die polisie waarsku dat hy nie die reg het om politieke leiers te verkleineer, of om verkleinerende dinge in die publiek kwyt te raak nie (253). Die polisieman stel aan Faan die vraag of hy dink hy verdien om te stem, met Faan wat antwoord dat dit sy reg

is. Die polisieman besluit egter dat Faan in aanhouding moet bly, “[...] merely on suspicion of criminal intent” (253).

Faan as Afrikanerman ervaar nou wat menige nieblankes tydens apartheid ervaar het, met hierdie toneel wat as ʼn vorm van kommentaar dien, aangesien die satire nou beide kante toe sny. Tydens apartheid was nieblankes dikwels onskuldig gearresteer en aangehou vir ondervraging wat dikwels met marteling gepaardgegaan het. Faan besef egter dat iemand agter sy arrestasie sit, en hy vermoed dat dit raadslid Stofberg kan wees omdat hy te hore gekom het waaroor Faan besig is om te skryf, en nie daarvan hou nie. Daarom staan hy op en stap bloot uit die aanklagkantoor. Soos Faan terugstap na die stemlokaal, neem hy hom voor om vir die regse opposisieparty te stem: “ʼn klein, luidrugtige groepie bittereinders wat elke tekortkoming van die regering aan die grootste internetklok hang” (254). Wanneer hy by die lokaal opdaag, vind hy Katryn wat geduldig vir hom wag. Die stembus is nog oop en sy vra hom of hy wil gaan stem. Faan erken dat hy sy voorneme rakende die regse opposisieparty oorweeg, maar onthou dan dat die regses saam met die ander klein partytjies gediskwalifiseer is. Hy antwoord: “Nee, ek sal maar op ʼn ander manier protesteer” (254). Faan se roman waaraan hy in die Paarl skryf, is sy uiteindelike protesaksie teen die nuwe regering.

Aan die einde van die roman stap Faan na buite en gaan staan in die parkeerarea waar hy omdraai en na Huis Gavok en die munisipaliteit se eenslaapkamerhuisies in die maanlig kyk. Die geboue aan die voet van die berg lyk vir hom soos die Pierneef- houtsnee in die losieshuis se gang: “Wit teen ʼn swart agtergrond. Dis omdat die meenthuise agter Gavok teen die hang nog ongepleister en ongeverf is; net swart reghoekige vlakke” (340). Faan maak dan die volgende opmerking: “Toe onthou ek ʼn houtsnee druk nie wit af nie. Wit is die dele wat uitgekerf is. Die slote en die gate. Niks. Dit is dit swart dele, die bome en die berg, wat uitstaan. Swart druk op die wit papier. [...] Swart het die papier oorweldig” (340). Hierdie teksaanhaling kan as simboliese opsomming gelees word van Faan en die ander Afrikanerkarakters se gevoel oor die posisie waarin hulle hulself bevind, en wat hul tot pessimisme stem. As Afrikaners in