• No results found

Afrikaners se postkoloniale sosio-maatskaplike en/of politieke omstandighede

HOOFSTUK 2 Teoretiese diskoerse

2.3 Afrikaners se postkoloniale sosio-maatskaplike en/of politieke omstandighede

Kenmerkend van Roos (2015:92-271) se gesaghebbende en aktuele oorsig van die Afrikaanse prosa is haar werkswyse om ontwikkelings in die Afrikaanse prosa binne die breër konteks van die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis te beskou en te beoordeel, en

die prysenswaardige en ingeligte wyse waarop sy raakpunte en resonansies belig. Haar motivering vir hierdie werkswyse verwoord sy soos volg:

Begrip vir en ʼn oordeel oor die Afrikaanse prosa kan eintlik eers gevorm word deur ʼn perspektief op die oorsprong en voortgang van die breë Suid- Afrikaanse geskiedenis te verkry, en deur die samehang tussen die Afrikaanse literatuur en ʼn groter Suid-Afrikaanse samelewing duidelik te verreken. (Roos, 2015:92)

In die artikel, “Die Afrikaanse plaasroman as ideologiese refleksie van die politieke en sosiale werklikheid in Suid-Afrika” (1995), beklemtoon Hennie van Coller dat die verhouding tussen literatuur en werklikheid ʼn belangrike topos in die literatuur- wetenskap is. Hierdie verhouding staan sentraal in die bespreking rondom die ontologiese status van die literêre werk, en speel verder ook ʼn belangrike rol in die markering van die literêre sisteme. Van Coller (1995:22) wys verder daarop dat hierdie saak dikwels gereduseer word tot ʼn vermeende opposisie tussen nuutskepping (creatio) en blote herskepping (mimesis). Hy verduidelik egter dat geen herskepping moontlik is sonder ʼn (implisiete) verwysing na die empiriese werklikheid en sy samehange en hiërargieë nie, net so min as wat nabootsing bloot weerspieëling kan wees en sonder ʼn mate van kreatiewe herskepping (seleksie en kombinasie) kan geskied.

Die insluiting van ʼn oorsigtelike bespreking van Afrikaneridentiteit binne die Suid- Afrikaanse konteks, dien dus nie alleen as bewys dat dit as kontensieuse diskoers op verskeie terreine in die (Suid-)Afrikaanse samelewing heers nie, maar motiveer die siening dat die Suid-Afrikaanse sosio-maatskaplike en/of -politieke omstandighede tog ʼn invloed op die Afrikaanse letterkunde het, wat bespeur kan word in die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994. Volgens Roos (2013) is literatuur ʼn produk van die lewe waardeur ʼn mens die problematiek van ons tyd leer ken en selfs beter verstaan. Die prosa, voer Roos aan, is dus ʼn teks wat ontstaan deur iemand wat deel is van ʼn gemeenskap, wat gevorm word deur konteks en geskiedenis. Philip John se artikel, “Die tyd van die triekster: identiteit in enkele hedendaagse Afrikaanse prosatekste” (2008), huldig dieselfde sienings as Roos rakende die verband tussen letterkunde en sosio-maatskaplike en/of -politieke werklikhede. John fokus op

die verskillende vorme waarin identiteit in Afrikaanse romans tussen 1996 en 2006 figureer, en kom tot die gevolgtrekking dat die Afrikaanse prosa ʼn diepgaande identiteitskrisis van die Afrikaner registreer8. John (2008:83) benader die tekste literatuursosiologies, en beskou die geselekteerde prosatekste as “reaksies op en aanduidings van gebeure en prosesse in die maatskappy, en spesifiek in die Afrikaanse bevolking”. Hy beklemtoon egter dat ʼn belangriker doelwit sou wees om die tekste te lees as nie slegs reaksie op nie, maar ook as ʼn ingryping in die situasie.

Tydens die Jan Rabie en Marjorie Wallace Gedenklesing op 23 Augustus 2016 lewer die skrywer S.J. Naudé – wat in 2019 die Hertzogprys vir prosa ontvang – die lesing “Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie” aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hierin gee hy te kenne dat 1994 nie slegs ʼn fundamentele breuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vergestalt nie, maar ook ʼn politieke oorgang wat iemand van sy eie generasie se kinderdae en jeug van sy volwasse jare afsny: “Die betekenisse wat mense heg aan die voor en die ná, hang natuurlik hoofsaaklik van ras af. [...] Jy was self deel van die voor. Jy was in die vakuum, in die wit ruimte” (Naudé, 2016).

In sy lesing vra Naudé homself af hoekom ʼn skrywer in die 21ste eeu steeds sou kies om in Afrikaans te skryf, wat hom na ander vrae lei, naamlik wat intussen met kulturele produksie in Afrikaans gebeur het; hoe mens die geamputeerde absurde verlede met die absurde hede moet integreer; en hoe mens op die troebel en gefragmenteerde nuwe sosio-politieke landskap moet reageer. Naudé meen dat Suid-Afrikaners ná 1994 in ʼn nuwe soort vakuum leef: ʼn neobrutale ruimte waarin ongelykheid en armoede steeds seëvier, en met ʼn regering wat so lamgelê is deur gierigheid en magsug dat hulle nie die politieke wil of vermoë het om iets daadwerkliks hieraan te verander nie. Net soos in die geval van die vorige politieke bestel, voel Naudé dat die mag van ons huidige heersers die morele en etiese sfeer ontruim het:

ʼn Mens het ná 1994 gehoop op ʼn werklik nuwe stel waardes, ware omvorming. [...] Dit was naïef, besef jy by terugskoue, om nie te verwag

8 Twee van die romans waarop John fokus is John Miles se Die buiteveld (2003) en Eben Venter se Horrelpoot

(2006). Aangesien John reeds die uitbeelding van spesifiek Afrikaneridentiteit in hierdie twee tekste gedeeltelik bespreek het – en vanweë die reeds omvattende aard van die geselekteerde tekste wat in hierdie studie ondersoek word – is daar besluit om hierdie twee romans nie by hierdie studie te betrek nie.

dat die patologie van die eertydse meesters die nuwe meesters se DNS sou penetreer en vervorm nie. [...] een soort brutaliteit word geleidelik vervang deur ʼn ander soort, amper so kil, dog meer gesofistikeerd, sterker in aanraking met 21ste-eeuse neigings tot blinde materialistiese vraatsug en ekstreme nepotistiese kapitalisme. Dis die soort mag wat fundamenteel koudgelaat word deur die lot en lyding van individuele burgers. Wat blind en onverskillig staan teenoor verwoestende armoede, wat staatsfondse koelbloedig plunder. Jy woon, begryp jy, in ʼn land wat skynbaar brutaliteit in sy gene het. In ʼn soort tydsprong, asof in ʼn wetenskaps- fiksiefilm, is mens terug in ʼn vakuum.

Naudé spreek sy twyfel en kommer uit of hy, as wit Afrikaanse man, die reg het om in die huidige politieke klimaat oor sy ontnugtering te praat – veral by ʼn instansie soos UWK – en erken dat hy oor sy gevoelens sou swyg as dit nie vir die uitnodiging was om die lesing te lewer nie. Naudé beskryf hierdie nuwe vakuum in Suid-Afrika as volg:

Dis ʼn plek van ongemaklike, onnatuurlike stilte, hierdie ruimte, waar fragmente historiese rommel warrel. [...] Gewone burgers is lugtig om die oopte as protesruimte op te eis. Daar is ʼn heersende diskoers wat jou, met jou wit vel, ten diepste laat twyfel of jy die openbare plein mag betree. [...] ʼn nuwe soort vervreemding begin intree [...].

Die verwagting dat alle Afrikaanse letterkunde deur wit skrywers in ʼn postapartheid Suid-Afrika alleenlik iets rondom Afrikaneridentiteit kommunikeer, is volgens Naudé ʼn beswaar waarmee swart Suid-Afrikaanse skrywers hulself kan vereenselwig, aangesien daar tydens boekfeeste byna uitsluitlik deur ʼn etniese bril na hulle werk gekyk word. As ʼn skrywer wit en Afrikaans is, meen Naudé dat hulle werk nooit as ʼn projek beskou word wat die (on)moontlikheid van postnasionale bestaan ondersoek nie, maar dat dit alleen gelees word as fiksie wat kwansuis die stand van kollektiewe Afrikanerpsigologie weerspieël:

Dit gaan, volgens sulke lesers, noodwendig oor iets soos “Afrikanerskap in ʼn veranderde Suid-Afrikaanse konteks”. ʼn Hard- koppige parogiale blindheid vir die breër strominge van letterkunde binne die konteks van globalisering en denasionalisering, en die

moontlikheid dat Afrikaanse tekste eerder dáárby aansluit, is kenbaar.

Alhoewel Naudé aansluit by Burger se Poolshoogte-artikel (sien par. 1.1.2) deur te beklemtoon dat daar verskeie strominge is wat ʼn wesenlike invloed op die Afrikaanse letterkunde uitoefen, gee hy terselfdertyd erkenning aan die rol wat die politieke oorgang van 1994 in die letterkunde beklee het. Naudé erken ook dat die grotendeels chaotiese sosio-maatskaplike en -politieke omstandighede van postapartheid Suid- Afrika by hom as wit Afrikaanse Suid-Afrikaner ʼn gevoel van vervreemding skep, wat opsigself ʼn verwoording van ʼn verwarde tipe Afrikaneridentiteit is. Wat veral in Naudé se lesing onderstreep kan word, is die gevoel van wit Afrikaanssprekendes dat hulle nie hulle misnoeë oor hierdie omstandighede mag lig nie, omrede hulle outomaties as “hardkoppige Afrikaners” gebrandmerk sal word.

Om konteks te skep vir die klimaat waarbinne Afrikaneridentiteit in die Suid- Afrikaanse samelewing bevraagteken, gevorm en gekritiseer word, sal daar nou ʼn oorsigtelike bespreking van die sosiaal-maatskaplike en/of -politieke omstandighede van die (Suid-)Afrikaanse samelewing sedert 1994 tot 2019 gegee word. Soos reeds vermeld, word Roos se oorsig van die sosiale konteks vanaf 1994 tot 2010 kortliks opgesom, met my oorsig van die sosiale konteks vir die tydperk 2011 tot 2019 wat daarby sal aansluit maar ook daarop sal voortbou.

2.3.1 1994-2010

Roos (2015:162) begin haar literêre oorsig getiteld “ʼn Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010”, met die uiteensetting van die sosiale konteks waarbinne tekste met ʼn sterk besinning oor (Afrikaner)identiteit voorkom deur dit onder die subopskrif “Verkenning en ontvoogding” te plaas. Roos (2015:166) beklemtoon egter dat “paradoksale en soms selfs direk teenstrydige verskynsels op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en kultuur in hierdie laaste dekade [...] waarskynlik die omringende sfeer van onsekerheid en omwenteling [reflekteer].” Roos (2015:180) skryf verder:

Die betrokkenheid by die tydgenootlike werklikheid, veral deur verkenning van ʼn persoonlike geskiedenis om so die wortels van dit wat in die hede gebeur te probeer bepaal, is kenmerkend van seker die opvallendste stroming in hierdie periode binne die Afrikaanse prosa. Op hierdie wyse vorm die letterkunde deel van die heersende diskoers oor die aard en gang van die maatskappy wat steeds in Suid-Afrika aan die ontwikkel is. Verkenning, innovasie, ontvoogding, bevryding – in die proses van die losmaak van ou bande betree die Afrikaanse prosa aan die einde van die twintigste eeu in Suid-Afrika ʼn letterkundige area waarvan die verwysingsveld, die grense en die verwagtings uitdagend nuut en oop vorentoe lê.

Die belangrikste (en kenmerkendste) gebeurtenis binne hierdie sosio-maatskaplike en/of -politieke konteks, is ongetwyfeld die eerste demokratiese verkiesing van 26 tot 28 April 1994. Hierdie geskiedkundige verkiesing is egter voorafgegaan deur wydverspreide en uiterste gewelddadigheid binne die alledaagse gemeenskapslewe, waarvan die skrikwekkende toename in misdaad ook in die wit gemeenskap ervaar is. Moorde op wit bejaardes, dikwels op plase en in die platteland, is as polities geïnspireerd beskou, waarvan die konflik verhoog is deur die toenemende grondeise van swart mense en hulle verbruikersboikotte op dorpe. Weerstandsbewegings se slagspreuke soos “Kill the boer, kill the farmer” en “One settler, one bullet”, is weer met nuwe intensiteit gehoor wat bygedra het tot ʼn gespanne politieke en maatskaplike opset waarin veral wit mense onseker was oor hulle plek binne ʼn toekomstige bedeling. Dit het gelei tot opmerklike emigrasie, en by regse groepe tot gewelddadige aanvalle op swart mense en sabotasie van private en staatseiendom (Roos, 2015:164-165).

Gedurende die verkiesingsweek van 1994 het regse groepe verskeie bomme in openbare plekke laat ontplof, maar die feitlik onmiddellike arrestasie van verdagtes het ʼn einde aan die terreur gebring. Die verkiesingsdae is gekenmerk deur buitengewone vreedsaamheid en ʼn byna euforiese stemming van gemoedelikheid en gemeen- saamheid. Nasionale versoening en eenheid is, amper 92 jaar ná die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog, vir die eerste keer konstitusioneel moontlik gemaak, en dit het geblyk om ook ʼn werklikheid te word (Roos, 2015:165).

Ná die algemene verkiesing het die ANC as meerderheidsparty met Nelson Mandela aan die hoof ʼn regering van nasionale eenheid gevorm wat vir vyf jaar oor ʼn eenheidstaat met nege sterk outonome gebiede regeer het. Nie alleen was die “onafhanklike” tuislande nou deel van Suid-Afrika nie, maar wit heerskappy oor Suid- Afrika het tot ʼn einde gekom. Vanaf die middel van die negentigerjare het ʼn totaal nuwe staatkundige opset begin wat tot die strukturering van ʼn totaal nuwe maatskaplike opset gelei het (Roos, 2015:164).

Vir Roos (2015:165) kan die verbrokkeling in Afrikaner-eenheid waargeneem word in die oënskynlike versplintering van Afrikanerdom in die eerste periode van die negentigerjare: met die Konserwatiewe Party as die amptelik opposisie in die laaste parlement waar die Nasionale Party-regering aan bewind was, het ʼn duidelike teken gekom dat die eertydse ideaal van Afrikaner-eenheid verlore gegaan het:

Wanneer die NG Kerk in November 1990 belydenis van sy skuld aan die apartheidsisteem doen, sluit baie Afrikaners hulle aan by die nuutgestigte, regse Afrikaanse Protestante Kerk (APK). Die AWB en ander, nog verder regse obskure militantes soos die Wit Wolwe en die Orde Boerevolk dreig in toenemende mate met gewelddadige optrede teen swart mense maar ook teen wit Afrikaanse politici wat as verraaiers van die Afrikanersaak beskou word. [...] Die beperkte toelating van anderskleuriges in Afrikaanse staatskole, die besef dat die vlag en volkslied, en waarskynlik die meeste ander nasionale simbole sou verdwyn, en die belewenis dat swart nie- Afrikaanssprekendes ʼn steeds hoër profiel in openbare sale inneem, het sekerlik hierdie gees van weerstand versterk.

Hierdie era, volgens Roos (2015:167), het toenemend die besef gebring dat Afrikaans sy status as amptelike en – weens die politieke mag van sy sprekers oor die dekades heen – ook as oorheersende taal in Suid-Afrika gaan verloor, met Engels wat die algemene gebruikstaal sou word.

As staatshoof het Mandela die aksent geplaas op versoening en ʼn vreedsame oorgang van die apartheidsbewind na ʼn nuwe demokratiese bestel. Daarvoor was die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) saamgestel: ʼn groep wat landswyd

openbare sittinge sou hou waartydens slagoffers sowel as uitvoerders van apartheids- vergrype hulle ervarings kon bekendmaak met die doel om versoening te bereik (Roos, 2015:185). Hierdie unieke gebeure waar die twee opponerende partye van ʼn wrede en langdurige stryd bymekaargebring is met die hoop dat kommunikasie, in stede van vergelding, tot die herstel van menseverhoudings sou bydra, het volgens Roos (2015:185-186) op verskeie maniere in die letterkunde neerslag gevind. Nie net was literêre kritici skepties oor die ambivalente aard van hierdie “confessional fiction” nie, maar die verslae van die WVK het in weinig gevalle by Suid-Afrikaners volle aanvaarding van skuld, berou of grootskaalse versoening opgelewer.

Volgens die meerderheid Suid-Afrikaners kan die Mandela-era (1994-1999) steeds beoordeel word as ʼn tydperk toe die ideale van nasionale saambestaan, die algemene verbetering van lewenstandaarde en die gemaklike deelname aan internasionale welvaart maklik verwesenlik kon word. Die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Grondwet in Mei 1996 was die duidelikste demonstrasie dat individuele regte, die beskerming van minderhede en die verwerping van stereotipiese diskriminasie binne hierdie nuwe bestel sentraal sou staan (Roos, 2015:186).

Met Nelson Mandela het Suid-Afrika aan die wêreld ʼn eerste werklike wêreldikoon gebied, maar met sy aftrede as president in 1999 het die land se wittebrood van wêreldwye koestering tot ʼn einde gekom. Die minder plesierige aspekte van globalisering was legio, met die volgende verskynsels wat ʼn geweldige impak op die Suid-Afrikaanse maatskappy gehad het: blootstelling aan onbekende en onvoorspelbare magte wat ekonomiese onstabiliteit en sosiale verskuiwings snel meegebring het; winsbejag sonder enige meelewing met die armes en die ongeskooldes; toenemende ongelykheid tussen ryk en arm; die vervlakking van ʼn geskakeerde leefwêreld deur die oorname van Engels as kommunikasietaal en ʼn Amerikaanse leefkultuur; en die gepaardgaande spanning en druk op tradisionele hiërargieë binne kulture, menseverhoudings en godsdiens (Roos, 2015:185).

Die Mbeki-era, wat formeel in 1999 begin het, het egter vir buitelandse verleentheid en binnelandse vervreemding gesorg, veral vanweë die situasie in Zimbabwe. Die skynbare onwilligheid van die Suid-Afrikaanse regering om die ineenstorting van ʼn ordelike maatskappy in Zimbabwe te veroordeel, het by wit Suid-Afrikaners, maar

veral Afrikaners, voorspooksels van ʼn soortgelyke toekoms in Suid-Afrika opgeroep. In ʼn dekade waartydens grondhervorming en -restitusie in Suid-Afrika self werklikheid geword het, en arbeidswetgewing die tradisionele baas/werker-verhoudinge herskryf het, is die toenemende kriminaliteit – veral in die vorm van aanrandings en moord op kleinhoewes en plase – meermale in politieke en rassistiese terme verklaar. Die toepassing van die beleid van swart ekonomiese bemagtiging, beter bekend as “BEE”, het ʼn groot bron van konflik geraak, deurdat kleurkwotas in die werksplek, by opleiding en op die sportveld swartmense bevoordeel het, en die minderheidsgroepe van wit, bruin en Indiërs benadeel het (Roos, 2015:187-188).

Vanuit die wit bevolking het aggressiewe teenstand teen die nuwe politieke bestel hoofsaaklik van klein groepies verregse ekstremiste gekom, waarvan die verhoor van gearresteerde lede van die “Boeremag” in Mei 2003 in Pretoria begin het, en eers in 2012 afgehandel sou word (Roos, 2015:189). Volgens Roos kan die jammerlike moord op die eertydse regse leier Eugène Terre’Blanche op sy plaas in April 2010 as simbool van die futiliteit van hierdie gewelddadige weerstand gesien word. Die Solidariteit- beweging in die vorm van sowel die vakbond as AfriForum het egter in ʼn toenemende mate niegewelddadige burgerlike verset begin organiseer (Roos, 2015:189).

Die Nuwe Nasionale Party (NNP), die erfgenaam van die eens oppermagtige Nasionale Party wat in ʼn demokratiese Suid-Afrika wou ontwikkel tot ʼn tuiste vir middelklas- burgers oor kleurgrense heen, het in 2005 tot niet gegaan. Teen 2009 het meer as 80 persent van alle Afrikaanssprekende stemgeregtigdes die DA (Demokratiese Alliansie) onder leiding van die oud-aktivis Helen Zille gesteun. In die sensusopname van 2011 is bevind dat witmense se welvaart in die algemeen verhoog het, hoewel die aantal armblankes ook toegeneem het (Roos, 2015:190-191).

In die onderafdeling “Afrikaanse kultuurgeskiedenis” van haar literêre oorsig, skryf Roos dat die aftakeling van Afrikaans as amptelike taal binne die nuwe taalbeleid waarvolgens elf tale tot amptelike landstale verklaar is (maar Engels die hooftaal sou word), een van die groot kwellings van aktivistiese Afrikaners geword het. In die stryd teen die marginalisering van Afrikaans is deurlopend op die nierassige gebruiksprofiel gefokus, en het die argumente teen die oorheersing van Engels ook die agterstelling van ander “minderheidstale” na vore gestoot. Die Afrikaanse Taalraad is in Mei 2008 gestig

as ʼn koördinerende en inklusiewe liggaam met die doel om veeltaligheid te onderskryf, alle Suid-Afrikaanse tale te bevorder, en Afrikaans te sien as “die eiendom van almal wat dit praat”. Meer as 40 kultuurorganisasies het by die ATR aangesluit, en bepaalde fokusareas is geprofileer: bemagtigingsprojekte in Afrikaans, jeugaksies en die ondersteuning van tweede en derdetaalsprekers. Die taalstryders was tot vroeg in 2003 nog oorwegend manlik en wit, met ʼn eksplisiete stigmatiseringsproses wat saam met die statusverlies van Afrikaans waargeneem kan word, met die voorheen heroïese Boer wat as gevolg van die WVK-getuienis met die van “evil Boer” vervang word. ʼn Ander aspek van Afrikaans se statusverlies was die afskakeling van Afrikaans se taalregister tot ʼn informele gebruik deurspek met Engelse idioom (oftewel Engafrikaans). Een van die belangrikste oorsake vir die afname van die getal Afrikaanssprekendes was egter die buitengewoon groot getalle veral wit Afrikaanssprekendes wat ná bewinds- verandering die land verlaat het, met hierdie emigrasie wat gelei het tot die gebruik van ʼn term soos “diaspora” (Roos, 2015:192-194).

Dit het duidelik geword dat verantwoordelikheid self geneem sou moes word deur die Afrikaner/Afrikaanssprekende om eiesoortige kultuurgoedere te bewaar, wat Roos (2015:194-200) deur middel van talle voorbeelde dan ook duidelik in haar oorsig aantoon. Landswye kunstefeeste waarby in ʼn meerdere of mindere mate ook populistiese en populêre kultuuraktiwiteite aangebied word, het in aantal en gewildheid toegeneem, met populêre Afrikaanse sangers en vertoonkunstenaars wat steeds ʼn groter blootstelling gekry het. Volgens Roos (2015:195) verteenwoordig die sanger Bok van Blerk en die groep, Die Antwoord, twee pole binne hierdie milieu. Van Blerk se gewilde “De la Rey” het soos ʼn veldbrand deur die Afrikaanssprekende bevolking versprei, met die lirieke wat deur regerings- en linkse politici as opruiend en antiversoenend beskou is. Roos (2015:195) beklemtoon dat hierdie romantiese versugting na ʼn reddende leiersfiguur impliseer het dat die ontnugterde Boetman- generasie deur ʼn jonger groep vervang is wat sterker bewus was van ʼn eiesoortige identiteit en die gelyktydige gebrek aan bepaalde leiding binne daardie groep.