• No results found

Kultuur: Afrikaners behoort toenemend minder aan Afrikaanse kultuurorganisasies en woon minder Afrikaanse kultuuraktiwiteite by Die enigste groeiende Afrikaanse

HOOFSTUK 2 Teoretiese diskoerse

5. Kultuur: Afrikaners behoort toenemend minder aan Afrikaanse kultuurorganisasies en woon minder Afrikaanse kultuuraktiwiteite by Die enigste groeiende Afrikaanse

kultuurbedryf is Afrikaanse popmusiek.

Van der Merwe (2009:243) verduidelik dat die staatkundige en sosiaal-maatskaplike transformasie wat Suid-Afrika sedert 1994 ondergaan het, die meerderheid Afrikaners tot ʼn groot mate onkant gevang het. Afrikaners was volgens hom nie voorbereid op die veranderinge wat gevolg het nie, met die gevolg dat hulle nou dringend gekonfronteer word om te besin oor hulle waardes, moraliteit, samehorigheid, identiteit, rol en plek in die nuwe Suid-Afrika. Vir die doeleindes van die artikel het hy gefokus op jong Afrikaners van die Suid-Vrystaat se belewenis van die postapartheid Suid-Afrika, maar noem dat die navorsingsresultate in ʼn groot mate van toepassing gemaak kan word op die res van die Afrikaners in Suid-Afrika aangesien die “Suid-Vrystaat kultureel, godsdienstig en polities gesproke nog altyd gedien het as ʼn betroubare barometer van wat in die Afrikanergemoed omgaan” (Van der Merwe, 2009:244).

Van der Merwe (2009:244-246) se eerste navorsingsresultaat is dat Afrikaners in ʼn postapartheid Suid-Afrika toenemend besef dat hulle nie ʼn homogene groep is (of ooit was) nie, en daarom is daar nie sprake van sterk etniese mobilisasie nie. ʼn Tipiese verbruikerskultuur het ook onder Afrikaners tot stand gekom, met ʼn gepaardgaande mentaliteit en individuele ingesteldheid van elkeen vir homself wat aangehang word. Volgens sy bevindinge blyk dit ook dat die Afrikanerjeug vandag die indruk van ambivalensie wek: Aan die een kant word dit wat tradisioneel met tipiese Afrikanerwaardes, -merkers, -kultuur en -identiteit geassosieer is, grootliks verwerp, en aan die ander kant is daar ongetwyfeld ʼn proses van herdefiniëring en herontdekking van Afrikanerskap aan die gang, met nuwe inhoude en betekenisse wat daaraan toegeskryf word. Hierdie verskynsel, asook die prosesse van representasie, reproduksie en weerstand wat daarmee verband hou, maak dat jong Afrikaners nou sekere immorele aksies, soos byvoorbeeld rassisme, moreel regverdig omdat hulle regeringsinisiatiewe

soos byvoorbeeld gedwonge integrasie op universiteitskampusse, kwotas in sport en regstellende aksies negatief ervaar.

Verder dui Van der Merwe (2009:244-246) aan dat seks, en veral voorhuwelikse seks, lankal nie meer ʼn taboe of sensitiewe saak onder jong Afrikaners is nie. Dit kom voor asof die waardebepaling en norme rakende seks by jong Afrikaners in ʼn postapartheid Suid-Afrika veel eerder deur persoonlike behoeftes en praktiese reëls gereguleer word as wat dit hoegenaamd georden of gerig word deur Christelike waardes en beginsels. Christelike waardes se gesag oor die Afrikaner se omgangstaal het ook verdwyn, met vloekwoorde en vulgariteit wat al hoe meer nes begin skop in die Afrikaner se lewens- en wêreldbeskouing. Ten opsigte van godsdiens huldig jong Afrikaners twee kontrasterende standpunte binne hulself, naamlik ʼn behoefte aan groter individualisme en vryheid van denke, teenoor ʼn groeiende behoefte aan geestelike warmte, ʼn godvresendheid en ʼn gevoel van godsdienstige geborgenheid. Ten slotte voer hy aan dat die Afrikaner besig is om sy moraliteit te herdefinieer en aan te pas sodat dit funksioneel kan wees ten opsigte van die nuwe omstandighede en lokaliteite waarin hulle tans hulself in die “global village” begewe.

Immorele aksies soos rassisme waaraan Afrikaners hulself skuldig maak, vorm ook die fokus in Cornel Verwey en Michael Quayle se artikel, “Whiteness, Racism, and Afrikaner Identity in Post-Apartheid South Africa” (2012). Verwey en Quayle het om ʼn braaivleisvuur onderhoude gevoer met vyftien Afrikaners van verskillende ouderdomme en geslagte, maar almal woonagtig in Bloemfontein – “een van die fermste bastions van Afrikanermag onder apartheid” (Verwey en Quayle, 2012:557) – om sogenaamde “identiteitspraatjies” in die private domein te verken. Deur spesifiek te fokus op die verhouding van Afrikaneridentiteit teenoor “witheid” en “Afrikaskap”, meen hulle dat hul bevindinge as barometer dien waarvolgens Afrikaneridentiteit in postapartheid Suid-Afrika gekonstrueer word.

Die eerste bevinding is dat die deelnemers sigbare aspekte van Afrikaneridentiteit, soos stereotipes, geskiedenis en kultuur verwerp en die belangrikheid van die Afrikaanse taal vir hedendaagse Afrikaneridentiteit onderspeel. Deur hierdie bande met die Afrikaner se apartheidsverlede te verbreek, word hulle Afrikaneridentiteit gereinig en beperk dit die skuld vir historiese oortredinge. Die tweede bevinding is dat die deelnemers

“witheid” as ʼn sentrale faktor binne Afrikaneridentiteit beskou, met die gevolg dat Afrikaneridentiteit strategies van ʼn swart Afrika-identiteit gedistansieer word wat die eis vir wit bevoorregting neerlê. Die laaste bevinding is dat alhoewel deelnemers apartheid verwerp, hulle steeds van rassistiese verwysings gebruik maak – soortgelyk aan apartheidsideologie – soos dat swart mense onbevoeg is, en dat wit mense in Suid- Afrika bedreig word. Die feit dat jy ʼn Afrikaner is, is volgens die deelnemers nie die probleem nie, maar wel om jouself ʼn Afrikaner te noem (Verwey en Quayle, 2012:560).

Ook die Nederlandse joernalis Fred de Vries maak gebruik van onderhoude in sy poging om die hedendaagse Afrikaner te definieer. In Rigting bedonnerd: Op die spoor

van die Afrikaner post-94 (2012), gesels De Vries met uiteenlopende Afrikaners soos

Antjie Krog, die lede van Fokofpolisiekar, Angus Buchan en Pieter Mulder. Reicher et al (2010) se opvattings oor sosiale identifikasie (sien par. 2.2) word duidelik weerspieël in hierdie publikasie. In oorleg met Van Meijl (2010) se sienings oor differensiasie met kultuur, stel die verskillende reaksies van hierdie uiteenlopende figure – wat almal, hetsy ʼn positiewe, negatiewe of self apatiese houding jeens Afrikanerskap huldig – De Vries in staat om die beeld van ʼn gemengde volk, oftewel “Kreole” (De Vries, 2012:6) te skep.

De Vries (2012:8) fokus intensief op die drie pilare waarop apartheid gesteun het, wat volgens hom as verteenwoordigend van Afrikaneridentiteit gedurende die apartheids- jare beskou kan word: die Nasionale Party (wat vandag nie meer bestaan nie), die NG Kerk (wat vandag besig is om teen ʼn tempo leeg te loop), en die Broederbond (wat nou voortbestaan as die Afrikanerbond sonder enige byt). Volgens De Vries kan daar vandag twee Afrikanertipes geïdentifiseer word: dié wat rassiste is, en dié wat swartbehep is (oftewel, polities korrek). Hy benadruk egter dat die Afrikaanse taal nou die belangrikste instrument vir kultuuridentiteit geword het.

Afrikaners se politieke magsverlies, hul ekonomiese bedreiging deur beleidsmaatreëls soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie, en die druk waaronder Afrikaans as taal verkeer, voer De Vries as redes aan waarom dit moeilik vir hom is om inhoud aan die begrip “Afrikaner” te gee. Die definisie wat Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus vir De Vries bied, is soos volg: “ʼn Afrikaner definieer

homself. Maar natuurlik gaan dit om taal, kultuur en geskiedenis. As jy jou daarmee kan vereenselwig, is jy ʼn Afrikaner” (De Vries, 2012:9). Hierdie siening wissel De Vries af met dié van sanger en skrywer, Koos Kombuis: “Vir tradisionele Afrikaners is dit nie net die taal nie. Nee, dis om wit te wees, te vrek oor rugby, kerk toe te gaan en jou kinders te mishandel” (De Vries, 2012:29).

Volgens De Vries (2012:72) het Bok van Blerk se “De la Rey” vir Afrikaners weer ʼn rede gegee om trots te voel en hulle identiteit aan iets anders as apartheid en die nadraai daarvan te koppel (sien ook Visser, 2007:24-27; Grundlingh, 2008b:180-183). De Vries verduidelik waarom hierdie liedjie die hedendaagse problematiek rondom Afrikaner- identiteit verwoord, deur te verwys na die Hertzogprysbekroonde digter Antjie Krog se lesing oor kuns en politiek by die Goethe-instituut in Johannesburg, waar sy wenkbroue laat lig het deur te verklaar dat sy Van Blerk se liedjie as ʼn positiewe metafoor beskou. Krog het erken dat sy haar bloedig vererg het vir Engelssprekendes wat die liedjie as misplaaste Afrikanernasionalisme afmaak, en was selfs verdoemend teenoor die Engelstalige pers wat die Afrikaner in terme van clichés (soos lomp, stompsinnige rassiste) sien. Vir Krog skets die liedjie “De la Rey” die belewingswêreld van ʼn postapartheid-Afrikaner wat sat is daarvan om beskou te word as nasaat van rassiste en onderdrukkers. Die etniese ondertoon in die lied wys volgens Krog na die Afrikaner wat as etniese groep verantwoordelik gehou word vir apartheid. Tog meen sy is die lied nie ʼn oproep tot opstand wat deur rassisme en frustrasies gevoed word nie, maar dat die skrywers van die liedjie eerder die apartheidsverlede en die onsekere hede teenoor mekaar stel (De Vries, 2012:72-76).

Krog se beskouing van generaal De la Rey was dat hy ʼn goeie persoon was om as rolmodel te hê, aangesien hy hom verset het teen die eksklusiewe pro-Afrikaner-beleid van president Paul Kruger, en aangesien hy nie ná die Boereoorlog as Afrikaner- nasionalis ontpop het nie, maar as iemand met ʼn verdraagsame uitkyk. Omrede daar so ver teruggegryp word na die verlede, word die Afrikaner se onlangse geskiedenis, naamlik apartheid, verontagsaam. Volgens Krog is so ʼn houding tipies van iemand wat iets traumaties beleef het. Deur apartheid weg te laat in die liedjie (sowel as op Van Blerk se hele album), word dit as onreëlmatigheid in die Afrikanergeskiedenis aangebied – ʼn stilte, omdat dit onmoontlik is om die trauma in die groot verhaal in te pas. Volgens Krog is die “Van Blerk-generasie” almal “weeskinders” wat

surrogaatouers nodig het om vir hulle rigting en betekenis te gee. Daarom word generaal Koos de la Rey so ʼn surrogaatvader, omdat hy die jeug help om skuld te hanteer, sodat hulle kan begin met die integrasie binne ʼn nuwe samelewing waarvan hulle onteenseglik deel is. Volgens Krog worstel jong Afrikaners met ʼn dubbele skuld: hulle word verlam deur al die teenstrydige gevoelens weens hul komplekse verlede, en moet terselfdertyd ʼn bydrae tot die land se toekoms maak. Daarom meen sy dat Afrikaners die ruimte kry om hulself te herdefinieer en hul selfbeeld aan te pas – ʼn bekende proses in alle lande waar traumatiese gebeure plaasgevind het. Krog pleit dus dat hierdie proses van herdefiniëring op waardige wyse geskied, en nie gedwarsboom word deur teenstanders wat op clichés teer nie (De Vries, 2012:72-76).

Volgens De Vries (2012:178) wil die meeste Afrikaners niks weet van ʼn oorlog, ʼn volkstaat of die strewe na selfregering nie, maar is hulle bereid om op te gaan in die nuwe Suid-Afrika, solank dit gepaardgaan met respek vir hul taal en kultuur, en solank dit nie lei tot diskriminasiemaatreëls nie. Hy toon egter aan dat daar binne die Afrikanerkultuur sogenaamde reaksiegroepe gevind kan word wat hy soos volg uiteensit (De Vries, 2012:179-208):

1. Die opportunis, byvoorbeeld die Vryheidsfront Plus (VF+) wat die grondwet