• No results found

Die Afrikaner en die Waarheids-en-Versoeningskommissie

HOOFSTUK 2 Teoretiese diskoerse

4. Die pragmatis, byvoorbeeld Solidariteit wat ʼn belangeorganisasie is.

3.2 Die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in Oemkontoe van die nasie

3.2.3 Die Afrikaner en die Waarheids-en-Versoeningskommissie

Die WVK dagvaar Faan, “die eerste Afrikaanse onderwyser-skrywer wat aangekla word” (22), om te kom getuig oor die bydrae wat hy gelewer het tot die “uitbouing van apartheidsonderwys in die Nylstroomse hoërskool” (11). Wanneer die voorsitter van die Kommissie vir Faan vra wat sy gesindheid teenoor 1994 se verkiesing en Suid-Afrika se nuwe demokratiese regering is en hoe hy dit aan sy skoliere oorgedra het, laat hierdie vrae vir Faan “kriewel”. Faan voel “demokrasie is regering op die peil van die grootste gemene deler” wat “sonder uitsondering laer as jou nawel” is (12). Van hierdie misnoeë gee Faan egter niks te kenne nie, maar systap die voorsitter se vraag deur te antwoord dat daar geen departementele voorskrifte was oor hoe die onderwyser die kwessie van stemreg in die klas moes hanteer nie. Die voorsitter maan hom dat die Kommissie bloot wil vasstel wie die land oorspronklik mislei het om te glo apartheid is reg.

Hierdie getuienis van Faan word in die romangebeure as herinnering aangebied, wat onderbreek word deur die invoeging van sy verslag wat hy oor die Britse administra- teurs se getuienis geskryf het. In hierdie verslag was die voorsitter, ʼn Indiëradvokaat, se beslissing dat die geskiedenis vir jare al deur ʼn “apartheidsbril” gelees word, en dat dit Suid-Afrikaners se visie so aangetas het, dat daar nie meer sprake van waarheid is nie. Daarom meen hy moet Suid-Afrikaners hulle van geskiedenis losmaak, wat die rede is waarom geskiedenis as skoolvak binne die nuwe Suid-Afrika afgeskaf is. Wanneer die twee administrateurs die voorsitter vra wat hulle lot is, antwoord hy soos volg: “Julle sal met baie ander moet meeding om ʼn plekkie in die geskiedenis” (13). Hierdie ontkenning van die geskiedenis, veral Afrikaners se geskiedenis, lei daartoe dat daar deurgaans in die roman byna nostalgies na die (Afrikaner se) verlede teruggegryp word, in ʼn poging “om iets uit die vuur te probeer red” (61) (sien par. 3.2.4 vir volledige bespreking).

Nog voordat die voorsitter enige vrae aan Faan tydens sy verhoor kan rig, trek Faan los met ʼn gedetailleerde vertelling van sy herkoms en familiegeskiedenis. Tydens sy vertelling besef Faan dat die kommissarisse heel moontlik wonder hoe hierdie besonderhede verband hou met die probleem van apartheidsonderwys, maar verseg steeds om te verduidelik waarop hy afstuur, aangesien “geen getuienis van die getuie se omstandighede losgemaak kan word nie” (23). As die WVK wil weet wat sy rol in apartheidsonderwys was, moet hulle volgens Faan eers hoor waar hy vandaan kom: “My ouerhuis is immers ʼn deel van my geskiedenis. Daarsonder was ek nie Faan Starck nie” (23).

Tydens Faan se verhoor, verduidelik die voorsitter dat hierdie verhore nodig is, aangesien versoening slegs kan plaasvind wanneer daar erken word wat in die verlede verkeerd geloop het, en as almal wat aandadig aan die misdaad van apartheid is hulle skuld verklaar deur te verstaan hoe immoreel hulle optrede was (17).

Hierdie verduideliking deur die voorsitter is ironies, siende dat geskiedenis as skoolvak afgeskaf word juis om nasiebou te bevorder. Faan betrap homself dan ook tydens sy verhoor dat hy geen skuldgevoel oor sy vermeende aandeel in die apartheidsverlede het nie: “Net so min as wat ek aan die huidige regering se foute aandadig is, aanvaar ek skuld vir politieke oortredings van die verlede. Jy dryf in die stroom saam. Dit gee jou nie juis ʼn keuse nie. Al wat jy kan doen, is om kop bo water te probeer hou” (17). Faan se argument is dus dat hy geen skuld aan apartheid het nie, aangesien hy as individu nie in staat was om hom teen hierdie magtige “stroom” te verset nie.

Die voorsitter van die WVK-verhoor vergelyk apartheid met ʼn boom wat “giftige vrugte gedra het” (18), met takke in die volgende liggame: “regering, kerke, sakeondernemings en veral skole” (18). Die WVK wil nie bloot die “giftige vrugte” vernietig nie, maar die “hele boom met wortel en tak uitkap” (18). Gevolglik word daar ʼn direkte aanval geloods op Afrikaners se politiek, geloof, ekonomie en onderwys (alles singewende identiteitmerkers). Die proses waartydens die oue vir die nuwe plek moet maak, is volgens Faan “traumaties”. Uit persoonlike ervaring weet hy dit, aangesien die verandering van onderwyser tot skrywer nogal ingrypend was vir hom: “Meer spesifiek van onderwyser-rubriekskrywer tot onderwyser-skrywer. Volwaardige skrywer, met ʼn roman agter my naam. En hierby my metamorfose van romanskrywer

tot romantikus. Wat was die ergste?” (18-19). Soos blyk uit die romangebeure, is die grootste uitdaging Faan se (gepoogde) metamorfose om as romanskrywer én as Afrikanerman sy stem en plek binne die nuwe Suid-Afrika te vind.

Faan se derde boek was ʼn roman oor ʼn onderwyser in die dae van die onderwyskrisis. Hy het daaraan begin skryf in die jaar “wat die matriekslaagsyfer in swart skole gelyk aan die verhouding swangerskappe onder hierdie skole se matriekmeisies” (29) was. Die anargie wat in die skole geheers het, sowel as die feit dat een uit elke ses van hierdie swanger matriekmeisies MIV-positief was, was deel van sy roman se gegewens. Faan se motivering was dat “[M]ens moet net skryf oor iets waarvan jy weet” (29), en as onderwyser het hy dus die onderwys geken. Die fout wat Faan egter begaan het, was om sy hoofkarakter ʼn swart man te maak en die skool in Soshanguve te plaas. Toe die roman, Die paprevolusie, uiteindelik verskyn, is dit sterk gekritiseer omdat dit nie meer polities korrek was om te sê dat die struggle swart onderwys donker gemaak het nie. Resensente het ook die romantitel as metafoor gebruik vir Faan se eie “kort, onbenullige skrywersloopbaan” (29). Die gevolg is dat die roman eers verbied en toe verpulp is, met selfs die oorspronklike handgeskrewe manuskrip wat gekonfiskeer is. Boonop het die Departement Onderwys by die skoolhoof navraag gedoen oor die wenslikheid om Faan in so ʼn verantwoordelike posisie te laat aanbly waar hy “subtiel rassisties ideologiese inhoude by sensitiewe vakgebiede kan inlyf” (29).

Gedurende sy WVK-verhoor voel Faan dat die doel van die ondervraging nie is om sy rol in apartheidsonderwys te verstaan nie, maar dat hulle eerder belangstel in wat hy nóú dink: “Watter van my idees nog die stempel van die ou orde dra. En hoe reaksionêr ek in my oortuigings is” (25). Faan besef dat indien hulle hom daaraan skuldig bevind, sal die aanklag ook teen ander soos hy staan. Aangesien hy dus nie meer die koers van sy betoog kan verander om sy posisie te red nie, erken hy maar dat hy glo die regering nie ʼn saak het met dié wat nie inpas by die gemiddelde nie: “Andersheid is eenvoudig onaanvaarbaar. Daarom organiseer hulle alles so dat dit ons in hulle reënboognasie inbind; ons dwangbuis van middelmatigheid” (25). Faan waarsku dat ʼn “vaal reënboog” (25) die nuwe Suid-Afrika se bestemming gaan wees, aangesien die nuwe regering geen teenstand duld nie. Faan wys die voorsitter daarop dat daar nie in die nuwe Suid-Afrika op grond van “ras, kleur, geslag, godsdiens, swangerskap, MIV/vigs of wat ook al” (26) gediskrimineer mag word nie, maar om die ou wanbalans reg te stel,

die regering mag kies wie hulle wil bevoorreg en wie benadeel moet word. Hierop is die voorsitter se verweer dat dit die “demokratiese prerogatief” (26) is, en vra of Faan teen demokrasie gekant is. Faan besef moedeloos dat mens net nie kan wen nie (26). Die voorsitter besluit dan om ʼn proteslied oor die onderwys tydens die verhoor te speel: Pink Floyd se “Another Brick in the Wall”. Die skoolsaal se vloer begin skud soos wat die voorsitter en skoolkinders – wat deur die hoof opgekommandeer is om die verrig- tinge te kom bywoon (16) – begin toyi-toyi. “Liberation before education!” (32) roep die skoolkinders begeesterd uit, gevolg deur “We don’t need no re-conciliation!” (32). Koos meen dat hierdie hul geleentheid is om die verhoor te verlaat, maar Faan herinner hom dat die Kommissie nog nie eers oor Afrikaans gepraat het nie. Koos reageer deur Jan F.E. Cilliers se bekende gedig, “Dis al”, gedeeltelik aan te haal: “Wat kan hulle daaroor sê? Oor die taal van die onderdrukker? Dis die blond, dis die blou. Dis al. Swart en bruin het nie getel nie” (32). Faan noem dat iemand sekerlik nog gaan verduidelik hoe Afrikaans as ʼn werktuig van onderwerping gebruik is: “Dwing jy mense om ʼn vreemde taal te gebruik, tas jy hulle waardigheid aan. So sê hulle. Omdat jy hulle laat sukkel om hulself uit te druk. Dis ʼn soort ontmagtiging” (32). Hierdie teksvoorbeeld is een van vele waar uitbeelding aan Faan se komplekse identiteit gegee word deurdat hy tegelykertyd toon dat hy bewus van sekere sosiale en politieke euwels is, maar dit dan vanweë ideologiese oortuigings verwerp.

Wanneer Faan byvoorbeeld in die Paarl vir Meisie by die biblioteek gaan kuier, vertel Meisie hom hoe een van die raadslede haar kom besoek het omdat hulle ook nou vir die mense in die plakkerskamp boeke wil uitneem. Faan meen dat die plakkers die boeke net vir vuurmaakgoed gaan gebruik, en stel voor dat hulle Origin of Species daarvoor moet gebruik (95). Faan se siening van die inwoners van die plakkerskamp as onge- letterd en onopgevoed, beklemtoon sy rassistiese houding. Faan se minagting van Charles Darwin se welbekende (en invloedryke) wetenskaplike boek, waarin hy deur middel van sy evolusieteorie aanvoer dat bevolkings oor generasies heen ontwikkel deur middel van ʼn proses wat as natuurlike seleksie bekendstaan (History, 2019), is tekenend van Faan se konserwatiewe geloofsoortuigings deurdat hy Darwinisme ver- werp op grond van sy Christelike oortuiging dat die mens alleenlik volgens die beeld van God geskape is.

Faan is nie bereid om skuld voor die WVK te erken nie, wat bydra tot sy woede teenoor die nuwe Suid-Afrika en ʼn onvermoë om werklik as Afrikanerman enige vooruitgang in postapartheid Suid-Afrika te maak. In teenstelling met Faan vind ons die karakter van Mathilda Elizabeth Benson-Matikula (gebore Benson), wat graag wou getuienis kom lewer. Sy het vertel hoe sy biologie by ʼn hoërskool in Mamelodi gegee het, waar die laboratoriumtoerusting verdwyn het, die oomblik wat dit aangekoop is. Daar was geen skoolboeke nie, en haar beursie is ook uit haar handsak in die klaskamer gesteel. Omdat sy geweet het hoe arm almal is, het sy al hierdie dinge soos volg geregverdig: “Dis nood wat mense dryf om goed te vat” (54). Sy lewer ook getuienis van hoe sy ʼn slagoffer van ʼn motorkaping was, en hoe sy daarna noodgedwonge die bus skool toe moes neem. Hier is sy op ʼn dag in die bank vasgedruk en het ʼn groep mans haar halskettinkie afgeruk en ook haar horlosie gesteel. Mathilda het al hierdie dinge gelate aanvaar, omrede sy gevoel het dit haar straf is: “Vir die prinsipaal met sy sambok, vir die weelde van ʼn jeug in ʼn boomryke voorstad. Sy betaal blymoedig haar deel van die apartheidskuld” (55).

Die ironie is dat hierdie skuld-mentaliteit van Mathilda nie deur haar skoliere raakgesien word nie. Wanneer sy ʼn bruin huisslang by die skool opmerk en besef dat die skoolkinders die reptiel met klippe gaan doodgooi, red sy die slang en bêre die reptiel in haar handsak wat sy in haar lessenaarlaai sit. Toe ʼn skoolmeisie gedurende pouse geld uit Mathilda se handsak wou steel, het sy op die huisslang afgekom, beheer oor haar blaas verloor en histeries begin skreeu. Die skoolmeisie het Mathilda daarvan beskuldig dat sy die slang met opset in haar laai gesit het om die kinders wat iets daar kom soek het, te byt: “Dis omdat sy nie van hulle hou nie. Sy het nog nooit van hulle gehou nie!” (55). Ná hierdie insident het die skoliere haar lewe so moeilik gemaak, dat sy uiteindelik bedank het.

Bloot op grond van die feit dat Mathilda ʼn wit Suid-Afrikaner is, het die skoliere haar goeie bedoelings as rassisties ervaar en geïnterpreteer. Dit wil dus voorkom asof Mathilda haar vrywillige getuienis voor die WVK beskou as ʼn poging om haar van haar “witheid” te verlos. Die dubbeldoor in haar van wat bestaan uit haar Engelse van en ʼn swart van, is ook ʼn aanduiding hoe sy ten spyte van haar “witheid” probeer om by die nuwe Suid-Afrika te integreer. Hiermee word daar ook kommentaar gelewer op diskriminasie wat dikwels slegs op grond van ras geskied, met die gedagte dat daar

nooit in Suid-Afrika verby ras gekyk sal kan word ten einde ʼn samebindende Suid- Afrikanerskap te bereik nie.