• No results found

Konserwatisme wat liberalisme verwerp en eerder eerlikheid, versigtigheid, spaarsamigheid en lojaliteit aanhang.

HOOFSTUK 2 Teoretiese diskoerse

6. Konserwatisme wat liberalisme verwerp en eerder eerlikheid, versigtigheid, spaarsamigheid en lojaliteit aanhang.

In “White Afrikaners’ Search for New Identities” skryf Erasmus (2002:96) dat ʼn “Afrikaner” in die algemeen gedefinieer word as ʼn wit Suid-Afrikaner wie se moedertaal Afrikaans is, maar voeg by dat hierdie definisie verskeie probleme aktiveer, soos blyk uit die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaner. Gevolglik het dit aanleiding gegee tot die gebruik van nuwe alternatiewe terme soos “Nuwe Afrikaners”, “Afrikaanssprekende persone” en “gebruikers van Afrikaans”. Hy verduidelik dat dit vir die Afrikaner gedurende die apartheidsjare nie nodig was om te besin oor identiteit nie, en dat dit ook nie nodig was om daardie identiteit in stand te hou nie20. Die Afrikaner se magsverlies op politieke gebied in die nuwe Suid-Afrika het egter ʼn krisis ontketen wat die Afrikaner se sin van eenheid en identiteit bedreig (Erasmus, 2002:98). Vir Erasmus (2002:100-102) is die volgende aspekte van kardinale belang in die Afrikaner se soeke na ʼn nuwe identiteit post-94:

1. Afrikaners moet besef dat hulle nie ʼn permanente, homogene groep is nie – nie wat hulle oorsprong en agtergrond betref nie, en ook nie in sosiale, politieke, kulturele en genetiese terme nie;

2. Afrikaners moet die Afrika-konteks aanvaar en het daarom die verantwoordelikheid en verpligting om ʼn verstaan van hulle gedeelde geskiedenis en omgewing te kry, aangesien Afrikaners spesifieke vaardighede en vermoëns het wat net ten volle in die Afrika konteks verstaan kan word. Die Afrikaners se erkenning van Afrika sal ook “die Ander” in staat stel om Afrikaners se definisie van hulself te begryp;

20 Hierdie uitspraak deur Erasmus is problematies, aangesien apartheid juis ingestel is om Afrikaneridentiteit te

beskerm en optimaal te ontwikkel. Dit is wel so dat besinnings oor Afrikaneridentiteit nie nodig was nie, aangesien die kerk en regering ʼn sleutelrol gespeel het om ʼn baie spesifieke identiteit onder Afrikaners in stand te hou. Daar is egter Afrikaners wat hierdie pogings bevraagteken en gekritiseer het (sien par. 1.1.1).

3. Afrikaans as taal moet bevry word van alle politieke en ideologiese konnotasies en kontaminasie wat deur apartheid ontstaan het;

4. Daar moet duidelikheid gekry word oor die betekenis van nasionalisme vir Afrikaneridentiteit.

Erasmus kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat daar nie van vaste verwysings- raamwerke vir Afrikaneridentiteit gepraat kan word nie, aangesien Afrikaneridentiteit as ʼn subjektiewe en deurlaatbare konstruksie voorgestel is wat geen betekenis buite die Afrikanerwêreld vind nie. Die feit dat baie van die kriteria wat deur Afrikaners gebruik word om hulself te identifiseer gewoonlik vaag, kontrasterend, implisiet en ongeartikuleerd is, dui nie vir hom op swakheid nie, maar dit reflekteer eerder die moeilikhede wat betrokke is in die proses om ʼn eie identiteit te vorm. As gevolg van die konstante sosiale, kulturele en politieke veranderinge, meen hy dat Afrikaners moet voortgaan met hulle besinnings oor en herinterpretasie van die “self” en “die Ander” (Erasmus, 2002:103).

ʼn Voorbeeld van hierdie besinning oor die “self”, kan in Dan Roodt se LitNet-artikel, “Taal, landskap en identiteit” (2003) gevind word. Hierin bied Roodt ʼn besinning oor sy ervaring van vreemdelingskap in sy eie land wat hy as ʼn soort interne ballingskap ervaar, deurdat hy aanvoer dat Afrikaners van hul kulturele burgerskap ontneem word. Volgens Roodt word daar van die Afrikaner en sy politieke betrokkenheid in Suid- Afrika ʼn stereotipe of karikatuur gemaak, wat hulle as “fasciste, mensvreters, moordenaars, barbare, ontaarde wit mense, en wat nog” bestempel. Roodt teken beswaar aan teen die idee van ʼn globale identiteit, aangesien daar volgens hom ʼn besondere verhouding tussen Afrikaans en die landskap bestaan – ʼn tipe gewortelheid. Roodt se definisie van Afrikanerskap is dus iemand wat sterk genoeg is om sy globale identiteit af te staan. Dis egter nie maklik nie, aangesien ʼn globale identiteit juis meer aanneemlik of pynloos lyk, grotendeels vanweë die selektiewe onthou van die verlede in die Suid-Afrikaanse maatskappy (asook internasionaal). Roodt stel anti- Afrikaansheid of “Boerehaat” vormlik en konseptueel aan anti-Semitisme gelyk, wat hy motiveer deur die argument dat beide Jode en Afrikaners ʼn kollektiewe aartsonde jeens die Weste gepleeg het. In die geval van die Jode, verwys Roodt spesifiek na die moord op Christus, asook hul andersheid en gevolglike eksklusiwiteit. Wat Afrikaners betref, is dit hul vergeetagtigheid wat hy as aartsonde identifiseer: die feit dat hulle vergeet het

hoe om korrek en algemeen beskaaf Nederlands te praat, en in ʼn sekere sin hul rug gekeer het op die Westerse beskawing.

Daar is die opvatting dat Afrikaners ʼn verworde wit “stam” en geen “volk” is nie, met die vergeet van ʼn Europese nasionale identiteit wat een van die ernstigste aanklagte teen Afrikaners is. Roodt verduidelik dat hierdie aanklag Afrikaners as minder beskaafd, nader aan barbare, en minder moreel tipeer. Daarom meen hy dat die Afrikaner hom in ʼn tussengebied bevind: tussen Europa en Afrika. Die probleem is egter dat die Afrikaner nóg oor die Westerse beskawing, nóg oor die morele ongeskondenheid van die Afrikaan beskik. Afrikaners verkeer dus in ʼn huiwerende situasie: vasgevang in hul taalgebied in Afrika, maar intellektueel in pas met Europa. Eerder as wat Afrikaners die identiteit nastreef wat deur die sogenaamde “kultuurpolisie” aan hulle voorgehou word, argumenteer Roodt dat Afrikaners die proses van vergeet – wat eie aan Afrikaans is – voort moet sit, en hulle verlies aan ʼn identiteit bevestig, óf dit “beja”. Laasgenoemde sou onder meer behels om verby die taalmoraliteit en -moralisme te kyk. Om aktief te vergeet, behels volgens Roodt ʼn stellingname, ʼn sekere strydvaardigheid en bereidheid om ʼn standpunt te huldig. “Middelmatige persoonlikhede”, soos Roodt hulle bestempel, wat onsinnighede oor Afrikaans en die kultuur in die algemeen kwytraak en skotvry daarvan afkom, moet volgens hom verantwoordbaar gehou word. Roodt se artikel dien dus as pleidooi vir Afrikaners om ʼn globale identiteit te verwerp, en op te staan en te baklei vir Afrikaans en die eerbaarheid van hul Afrikanerskap.

Die mees omvattende, feitlik korrekte, betroubare en gevolglik meer gesaghebbende navorsing oor die Afrikaner, is die top-historikus Hermann Giliomee se Die Afrikaners:

ʼn Biografie (2004) waarin hy ʼn historiese oorsig van die ontwikkeling van die

Afrikaner gee21. In hierdie magistrale biografie gee Giliomee nie net ʼn deeglike oorsig van die totstandkoming en ontwikkeling van die Afrikaner tot en met die 21ste eeu nie, maar hy vertel ook die volledige storie van die Afrikaners se stryd om oorlewing waartydens die klem dikwels op een gegewe geplaas word: die Afrikaner se

21 ʼn Verkorte (en effens bygewerkte) weergawe van hierdie uitgebreide biografie verskyn in 2018, kort nadat dit

ewigdurende veranderende posisie in die Suid-Afrikaanse samelewing. Vir die doeleindes van hierdie studie, word daar slegs gesteun op Giliomee se besinnings oor Afrikaners ná 1994. Ter opsomming kan daar wel vermeld word dat vyf gebeurtenisse vanuit Giliomee se historiese oorsig uitgesonder kan word, aangesien hierdie gebeurtenisse ʼn beduidende verandering in Afrikaneridentiteit teweeggebring het: die Anglo-Boereoorlog; verstedeliking en die gevolglike armblankevraagstuk; die opkoms van apartheid; die Soweto-opstande; en die demokrasiewording van die nuwe Suid- Afrika.

Giliomee beklemtoon deurgaans in die biografie dat die term “Afrikaner” deur die loop van die geskiedenis dikwels op ʼn oop en inklusiewe wyse gebruik is en dat mense vanuit ʼn breë spektrum steeds bereid is om hulself as Afrikaners te beskou, mits die term nie met rassisme en uitsluiting vereenselwig word nie. Giliomee (2004:xiv) wys egter op die heersende tendens om die term “Afrikaner” net tot wit mense te beperk, aangesien daar verkeerdelik gemeen word dat slegs wit, konserwatiewe mans, tot hierdie term aangetrokke voel. Nog ʼn tendens waarna Giliomee verwys, is die houding van wit mense wat in Afrikaanse skole en universiteite was en Afrikaans as hul eerste taal praat, maar wat nie as Afrikaners wil bekendstaan nie, omrede hulle – foutief en ahistories – meen dat die term “Afrikaner” deur sy assosiasie met Afrikaner- nasionalisme en apartheid fataal besmet is. Die gevolg wat Giliomee uitwys, is dat daar ʼn opvatting ontstaan dat die kultuur rondom Afrikaans irrelevant is vir die uitdagings waarvoor Afrikaners in die 21ste eeu te staan kom. Ten spyte van hierdie uitdagings, benadruk Giliomee (2004:xvi) dat die Afrikaners, van al Suid-Afrika se gemeenskappe, tot dusver die heel grootste impak – goed of sleg – op die land gemaak het.

Die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 het, soos Giliomee tereg aandui, nie alleen ʼn draaipunt in Suid-Afrika se geskiedenis verteenwoordig nie, maar ook ʼn draaipunt ten opsigte van Afrikaneridentiteit. Die nuwe Suid-Afrika wat formeel op 10 Mei 1994 aangebreek het met die inhuldiging van Nelson Mandela as president, word deur Giliomee as ʼn “oomblik van euforie” bestempel – ook vir Afrikaners. Giliomee (2004:610) meen dat Mandela die Afrikaners verras en selfs betower het. As voorbeeld gebruik hy Mandela se verskyning by die eindstryd van die 1995 rugbywêreldbeker waar hy in ʼn Springboktrui opgedaag het om die spelers op die veld sterkte toe te wens; dit terwyl hy daarop aangedring het dat die springbokembleem behoue bly, al het dit vir

soveel jare apartheid in sport versinnebeeld. Hierdie voorbeeld wat Giliomee gebruik, onderstreep die belangrikheid van sport (spesifiek rugby) binne die Afrikanerkultuur (sien ook Giliomee, 2004:620; Grundlingh, 2008a:69-70).

Giliomee (2004:610) skryf verder dat veral die jonger geslag kort ná 1994 verheug was om bevry te wees van die kulturele konformiteit van die verkrampte Afrikaner- gemeenskap. Aanvanklik was Afrikaners oor die algemeen trots daarop om in ʼn demokrasie te leef, en het hulle die land se nuwe inklusiewe nasionale simbole aangegryp, en entoesiasties probeer om by die nuwe Suid-Afrika te integreer.

Vele Afrikaners was egter ontnugter deur die koms van demokrasie in Suid-Afrika, omrede dit duidelik geword het dat die Afrikaner besig was om veral politieke mag te verloor. Die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se onthullings; ʼn misdaad- golf en die toename in plaasmoorde; kwotas in sportspanne; en regstellende aksie het baie Afrikaners ná 1994 laat emigreer (Giliomee, 2004:615-622), met emigrasie wat Giliomee as die belangrikste kenmerk van die Afrikaner post-94 beskou. Die onthullings van die WVK, benadruk Giliomee, het daartoe gelei dat die Afrikaner ʼn skuldgevoel ontwikkel wat ʼn minderwaardigheidsgevoel tot gevolg gehad het.

Aan die begin van die 21ste eeu het dit gelyk of die Afrikaners ʼn taalgemeenskap is, eerder as ʼn goed georganiseerde etniese groep met mites van oorsprong en bloedverwantskap. Tog wys Giliomee (2004:630) daarop dat hoe meer Afrikaans- sprekendes gevoel het dat hulle onregverdig behandel word, hoe sterker hulle hulself as Afrikaners begin identifiseer het – ʼn groep waarvan die mees vasbeslote pogings verwag kan word om die regeringsbeleid oor taal en regstellende aksie, onderwys en politieke uitsluiting teen te staan.

Die Afrikaners in die nuwe, inklusiewe demokrasie, verduidelik Giliomee (2004:635), is oorwegend ʼn wetsgehoorsame, godsdienstige en pragmatiese gemeenskap wat saam met al die ander mense in die land individuele regte geniet. Giliomee meen verder dat Afrikaners ook nie meer van hulself as aparte volk met ʼn spesiale roeping praat nie: Hulle is Afrikaners en Suid-Afrikaners wat nie alleen na groepsbelang omsien nie, maar ook help om uitdagings in die samelewing die hoof te bied.

Giliomee (2004:635) sluit Die Afrikaners: ʼn Biografie met die volgende woorde af, wat as omvattende beskrywing vir Afrikaneridentiteit post-94 beskou kan word:

Die groot meerderheid is nie aangetrokke tot die nuwe regering se credo van een geskiedenis, een amptelike taal en een “patriotiese” party nie. Hulle is sonder sterk leiers en organisasies22, maar hulle is besig om hul eie besondere gemeenskapsidentiteit te herontdek en te herbeskryf. Dit is ʼn identiteit wat gesmee is in hul komplekse en onstuimige geskiedenis, in hul liefde vir die taal wat hulle praat en hul toewyding aan die pragtige maar harde land waarin hulle woon. Hul uitdagings is om hul geskiedenis reguit in die oë te kyk, om hul liefde vir hul taal en hul land te koester en te vernuwe, en om hul kulturele erfenis aan ʼn volgende geslag oor te dra.

Indien Afrikaners hierdie uitdaging aanvaar, sal hulle, aldus Giliomee (2004:635), deel word van ʼn nuwe, demokratiese Suid-Afrika op hul eie, besondere manier. In sy outobiografie van 2016 getiteld Historikus, maak Giliomee verwysing na sy uitgebreide navorsingsbelangstelling in die Afrikaner. Die posisie waarin Afrikaners hulself teen 1997 bevind het, vergelyk Giliomee met dié ná hul verpletterende nederlaag in die Anglo-Boereoorlog (sien ook Boshoff, 2014:218; Scholtz, 2016:9). Volgens Giliomee (2016:190-191) was die Afrikaner-middestand teen 1997 in twee kampe verdeel juis as gevolg van die botsende definisies van Afrikaneridentiteit, en die verskille oor die Afrikaner se pad vorentoe. Die een kamp wat die pluraliste genoem kan word, het veelvuldige identiteite: hulle is professioneel, kultureel en godsdienstig – maar plaas ʼn besondere premie op hul identiteit as Afrikaners en Afrikaanssprekendes, en is diegene wat bereid is om ʼn bydrae te maak tot die voortbestaan van Afrikaans op alle vlakke van die samelewing. Die ander kamp is die korporatiste wat die samelewing as een groot korporasie beskou. Hulle het die histories Afrikaanse universiteite soos Pretoria en Stellenbosch ook as semi-outonome korporasies beskou wat met die oog op ʼn onpersoonlike mark eerder as ʼn bepaalde kulturele gemeenskap bestuur moes word. Ter

22 Hierdie gevolgtrekking van Giliomee sluit aan by die drie gevolgtrekkings waartoe Reicher et al (2010:58) in

hul samevatting oor sosiale identiteit kom: waar mense nie ʼn gemeenskaplike sosiale identiteit deel nie, is leierskap oor hulle onmoontlik, aangesien niemand vertrou kan word om die groep te verteenwoordig as daar geen ooreengekome kollektiewe norme, waardes en prioriteite is nie; hoe meer ʼn persoon gesien word as ʼn prototipe van die groep, hoe meer sal die persoon gesien word as ʼn leier met die vermoë om ander lede van die groep te beïnvloed; soos wat die groepprototipe wissel van een vergelykende konteks na ʼn ander, so verskillend sal mense beskou word as geskikte leiers.

wille van “sosiale harmonie” wil hulle die staatsgesteunde nasionale kultuur en identiteit sterker uitbou en terselfdertyd sekondêre kulture (insluitende Afrikaans) tot ʼn mindere plek relegeer.

Hierdie verpletterde posisie van postkoloniale Afrikaners word ook deur J.C. Kannemeyer in Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004 (2005) verwoord. Kannemeyer skryf dat die demokratiese verkiesing van 1994 Afrikaners van hul toonaangewende rol in die samelewing ontneem het, wat daartoe gelei het dat hulle aanvanklik in ʼn toestand van skok en verwarring was. Volgens hom het die onthullings voor die WVK ʼn sterk demoraliserende uitwerking gehad. Afrikaners se vertroue is geskok, want hulle voormalige leiers wat in die ou bedeling groot mag, aansien en prestige geniet het, het nou as leuenaars beskamend in die oë van die wêreld ontbloot gestaan. Kannemeyer skryf verder dat daar by baie Afrikaners die vrees is dat hul taal, wat in die verlede so sterk met Afrikanernasionalisme en apartheid verknoop was, in die nuwe Suid-Afrika sal ondergaan. Omdat Afrikaners sedert 1994 geen spesiale staatkundige beskerming meer geniet nie, en hul rol in die openbare sektor – in vergelyking met vroeër – geweldig afgeskaal is, verkeer die Afrikaanse taal in ʼn bedreigde posisie. Die vraag wat Kannemeyer stel, is of ʼn minderheidstaal soos Afrikaans sonder enige beskerming en territoriale afbakening op die lange duur kan oorleef (Kannemeyer, 2005:546-547). Nog ʼn kwessie wat ʼn radikale invloed op postkoloniale Afrikaneridentiteit uitoefen, is emigrasie en Afrikanerdiaspora. Elirea Bornman skryf in haar artikel, “Emigrasie onder Afrikaners vandag” (2005)23, dat ʼn alternatiewe woordeskat in die nuwe bedeling

23 In 2013 verskyn Maria Marchetti-Mercer en Louw Roos se artikel, “Afrikaanssprekende emigrante: verliese

en verwagtinge”, waarin hulle die sielkundige ondervindings ondersoek van wit Afrikaners wat ná 1994 geëmigreer het. Marchetti-Mercer en Roos (2013:575-577) identifiseer die volgende ondervindings van Afrikaanse emigrante, wat grotendeels ooreenstem met Bornman se bevindinge: 1) Bekommernisse oor veiligheid en sekuriteit is die grootste dryfkrag agter emigrasie; 2) Van die emigrante wou bloot ʼn verandering in hulle lewe gehad het, en het daarom na ʼn nuwe land getrek waar hulle vaardighede en ondervinding waardeer word; 3) As Afrikaners het hulle egter gevoel dat hulle nie langer in Suid-Afrika hoort nie, en dat hulle nooit ten volle in die land aanvaar sal word nie; 4) Emigrasie het ʼn proses van konstante rou tot gevolg gehad, wat spruit uit die verlies van geliefdes en plekke wat agtergelaat is; 5) Daar was veral ʼn vrees dat Afrikaans as moedertaal vir toekomstige generasies gaan uitsterf, aangesien die kinders van hierdie emigrante geneig is om vinniger die nuwe taal van die nuwe land te bemeester; 6) Interpersoonlike verliese kom ook voor, wat verwys na die besorgdheid oor die lot van bejaarde ouers wat in Suid-Afrika agtergelaat is; 7) Oor die algemeen was die gevoel dat emigrasie hulle meer vryheid en beweging asook minder stresvolle lewensgebeure sou bied, met veral hul kinders wat daarby sou baat. Die gevolgtrekking waartoe Marchetti-Mercer en Roos kom, is dat dit die uitdaging van Afrikaanssprekende emigrante is om balans te vind tussen die rou oor wat hulle verloor het en wat agtergebly het, en die geleenthede wat die nuwe samelewing bied. Een so ʼn poging beskou hulle as die neiging

ontwikkel het wat na die grootskaalse emigrasie van geskoolde Suid-Afrikaners in die tydperk ná 1994 verwys. Dit sluit begrippe in soos “Die nuwe Groot Trek”, “White flight”, “The chicken run”, “The brain drain” en “Blyers of glyers” (Bornman, 2005:386). Bornman ondersoek enkele tendense wat verband hou met emigrasie vanuit Suid-Afrika sedert 1994, maar skenk veral aandag aan teoretisering oor emigrasie onder Afrikaners. Volgens Bornman (2005:387) is Afrikaners waarskynlik dié gemeenskap in Suid-Afrika wat die hardste getref word deur die vloedgolf van emigrasie, wat die term “Afrikanerdiaspora” (Bornman, 2005:388) laat ontstaan het. Dat hierdie emigrasie ʼn bedreiging vir die land as geheel inhou, het daartoe gelei dat daar in 2003 ʼn “Kom huis toe”-veldtog geloods is waarby organisasies soos Solidariteit en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) betrokke geraak het.

Omrede Afrikanerdiaspora in verskeie van die geselekteerde tekste ʼn prominente rol speel, is dit van belang dat Bornman (2005:388-391) se geïdentifiseerde faktore wat aanleiding gee tot Afrikaners se besluit om te emigreer, kortliks opgesom word:

1. Globalisering

Die nuwe politieke bedeling wat in 1994 aangebreek het, het ʼn einde gebring aan die isolasie en beperkings waaraan Suid-Afrikaners in die apartheidsera onderwerp is, deurdat Suid-Afrika weer in die globale gemeenskap terugverwelkom is. Afrikaners het gevolglik deel geword van die “ethnoscapes” van globalisering, en het na alle uithoeke van die wêreld geëmigreer – hetsy tydelik of permanent.