• No results found

HOOFSTUK 2: KONSEPTUALISERING VAN VOORBEREIDING VAN

2.6 Kundigheid en vaardigheid benodig vir onderrigleierskap

2.6.4 Onderrigleierskap en leerderprestasie

Daar is ʼn behoefte aan hoëkwaliteit-, innoverende kurrikulummateriaal wat spesifiek ontwerp word om leiers voor te berei om prestasiegapings te vernou, wat die sukses van elke leerder ondersteun (Young, 2015:399). Hitt en Tucker (2015:31-32) wys daarop dat die effektiwiteit van onderwysers wat tans in diens is, heroorweeg kan word om ander menings in verband met leierskap in ag te neem. Onderrigleiers beskik oor formele gesag sowel as die vermoëns om ʼn vatbare toestand vir leerderprestasie te skep en dit te ondersteun. Volgens Bruggencate et al. (2012:717) is die verhouding tussen doelwitte, die interne proses, onderrigleiers se gedrag en prestasie positief. Die verhouding tussen leierskapvoorbereiding, gegradueerdes en skooluitkomstes kan ook uitdagend wees (Orphanos & Orr, 2014:682).

Volgens Shah et al. (2011:42) verwys prestasie juis na ʼn onderwyser se vermoëns, bekwaamheid, resultate, invloed en werkuitsette, wat beklemtoon hoe goed die persoon presteer in sy of haar rol en werksaamhede. Leerderprestasie is net so belangrik, en volgens Mizell (2010:3) het navorsing in onderwys bewys dat onderrigkwaliteit en onderrigleierskap gesien kan word as die belangrikste faktore wat leerderprestasie verbeter. Hitt en Tucker (2015:31-32) is ook van mening dat daar op leierskappraktyke gefokus moet word sodat die ontwikkeling van effektiewe onderrig en die vlakke van leerderprestasie verbeter word ten einde ʼn dinamiese en innoverende omgewing te skep waarbinne onderwysers sowel as leerders kan leer. Dit is vir Orphanos en Orr (2014:684) belangrik dat die waarde van onderrigleierskap besef word. Bruggencate et al. (2012:720) noem dat verhoogde onderwyskwaliteit en effektiwiteit as gevolg van onderrigleierskap en onderrigleiers se gedrag ʼn direkte indirekte invloed op leeruitkomstes het. Leierskap vereis effektiewe onderwysers wat leerderprestasie bevorder. Dus moet leiers in staat wees om hul emosionele intelligensie, selfbewustheid, sosiale bewustheid en verhoudings voordelig aan te wend (AITSL, 2015:16). Volgens Tshabalala (2015:78) moet effektiewe onderwysers in hulself en hul vermoëns glo om leerders positief te beïnvloed en aan bepaalde behoeftes, verwagtinge en aanpassings van die onderrigprogram te voldoen. Dit is belangrik om potensiële leiers reeds op ʼn vroeë stadium te identifiseer aangesien dit

81

ʼn grondslag van selfvertroue, vaardighede en professionele kennis vir toekomstige leierskap lê (AITSL, 2015:12). Effektiewe formele leiers in die skool lê klem op kompeterende werwing van onderwysers, hoëkwaliteitvoorbereiding vir die praktyk en die stimulering van professionele ontwikkeling (Hitt & Tucker, 2015:31-32). Onderwysers word met behulp van professionele ontwikkeling en opleiding in staat gestel om hulself te bekwaam, wat besluite en aksies ten opsigte van leeraktiwiteite insluit (Young, 2015:405).

Departementshoofde het ʼn groot verantwoordelikheid wat effektiwiteit betref en word daarom as ideale leiers beskou (Ghavifekr et al., 2014:123). Effektiewe skole voorsien onderrig wat leer verbeter (Tshabalala, 2015:78). Dit is dus belangrik dat effektiewe skoolprogramme met die oog op akademiese prestasie ontwerp word sodat leerders uiteindelik verantwoordelikheid vir hul eie leerprestasies kan neem. Elke persoon wat verantwoordelik is vir die voorbereiding van onderwysers het volgens Young (2015:399-400) eksplisiete en implisiete oortuigings en idees van onderrigmetodes, onderriginhoud en redes vir onderrig. Dit is belangrik dat hierdie faktore in gedagte gehou word wanneer voorbereiding vir akademiese prestasie gedoen word aangesien dit terselfdertyd ʼn skool se prestasie verbeter. Ibrahim (201:190) is van mening dat daar heelwat instansies en liggame by die professionele voorbereiding van onderwysers betrokke is. Skoolhoofde en onderwysleiers kan ook die natuur van leierskappraktyke positief beïnvloed (Orphanos & Orr, 2014:683). ʼn Onderwysstelsel van hoë gehalte verseker dat skole suksesvol en effektief is deur ʼn grondslag vir leerders en die gemeenskap te lê, ten spyte van ʼn snelveranderende wêreld wat van leiers vereis om sterk en ingelig te wees (AITSL, 2015:4). Alhoewel die effektiwiteit van ʼn skool deur waardes, oortuigings, etos van kulture, die gemeenskap en alle betrokkenes beïnvloed word, moet dit nietemin op so ’n wyse bestuur word dat daar een kollektiewe skoolkultuur geskep word (Tshabalala, 2015:77).

Om ’n kollektiewe skoolkultuur te skep, is dit belangrik dat belanghebbendes reg bestuur word deur die skoolhoof aangesien onderwysers se persepsies oor hul skoolhoofde se transformasionele leierskap hul voorbereiding in besluitneming, onsekerheid en professionele ontwikkelingsaktiwiteite beïnvloed, en dit bepaal hoe onderwysers in die praktyk verander (Orphanos & Orr, 2014:681). Indien skole nie

82

reg bestuur word nie, kan daar nie van onderwysers verwag word om ten goede te verander nie, wat weer ʼn uitdaging vir skoolprestasie is. Volgens Ghavifekr et al. (2014:121) moet departementshoofde as onderwysleiers gereeld terugvoer verseker oor moontlike uitdagings en probleme in hul departemente aangesien hulle verantwoordelik is vir roetinewerk, soos onderrig, eksaminering en operasionele administratiewe werk, wat baie belangrik is vir skoolprestasie. Bayar (2014:320) verduidelik dat onderwyskwaliteit ʼn faktor is wat ʼn groot invloed op leerders se leer en prestasie uitoefen, wat uiteindelik ook ʼn impak op ʼn skool se prestasievlakke het. Ten einde leierskapkwaliteit te verbeter, stel Orphanos en Orr (2014:682) voor dat beleidmakers, navorsers en onderwysers op leierskapvoorbereiding fokus om te verstaan hoe en watter voorbereidingsprogramme vir verbetering aangewend kan word.

Indien beleidmakers, navorsers en onderwysers op voorbereiding fokus, het dit ʼn positiewe invloed op leerders en skole omdat dit enige probleme en uitdagings in die kurrikulum wat prestasie negatief beïnvloed, uitskakel. Volgens Ghavifekr et al. (2014:123) beskik departementshoofde oor geldigheid, betroubaarheid en persoonlike vermoëns om kenmerke van die kurrikulum te kombineer. Daarvoor is voorbereiding, samewerking, deelname in besluitneming en werkstevredenheid nodig, wat deur ontwikkelingsprogramme versterk word (Orphanos & Orr, 2014:684). Die prestasiegaping kan vernou word deur die toeganklikheid van hoëkwaliteitonderwys vir diverse groepe deur bevoegde, effektiewe plaaslike onderwysleiers wat in staat is om leerders in enige konteks te onderrig (Young, 2015:389). Orphanos en Orr (2014:681) verduidelik dat effektiewe onderrigleierskappraktyke met organisasiekultuur en effektiwiteit, onderwyserbetrokkenheid en toewyding geassosieer word en beter leerderuitkomstes tot gevolg het. Dit is met ander woorde ʼn kettingreaksie deurdat beter leerderuitkomstes deur kwaliteitonderwys verseker word, wat weer deur onderrigleierskap bewerkstellig word. Hallinger (2011:130) beklemtoon ook die feit dat onderrigleierskap ʼn groot invloed op leer het, wat volgens Bendikson et al. (2012:6) gesien word as die beste voorsteller vir prestasie.

Ter afsluiting is dit belangrik dat daar gefokus moet word op onderrig wat leer verbeter, aangesien onderwyserkwaliteit en effektiwiteit daarvan afhanklik is. Vir

83

onderrigleierskap om prioriteit te geniet moet daar in die behoefte aan hoëkwaliteitonderwys voorsien word deur uitdagings soos leierskapvoorbereiding, die bekwaamheid van onderwysers en effektiewe skool- en leierskapdoelwitte die hoof te bied. Ontwikkelingsprogramme is nodig vir akademiese prestasie, wat die verband tussen voorbereiding en effektiewe onderrigleierskap vir effektiewe onderwys beklemtoon.

2.7 Die verband tussen voorbereiding vir effektiewe onderrigleierskap en