• No results found

HOOFSTUK 1: INLEIDING EN ORIËNTERING

1.8 Metode van ondersoek

Die doel van hierdie ondersoek is om vas te stel watter leemtes daar bestaan in die voorbereiding van departementshoofde as middelvlakbestuurders en te bepaal of hulle oor die nodige kennis en vaardighede beskik wat hulle voorberei vir die leierskap- en bestuursrol in ʼn sekondêre skool. Verder het die ondersoek ook ten doel om vas te stel hoe departementshoofde hul bevoegdheid sien ten einde die leemtes aangaande voorbereiding van departementshoofde as effektiewe onderrigleiers vas te stel en voorstelle ter verbetering voor te lê.

1.8.1 Literatuursoektog

Wanneer daar verwys word na departementshoofde as middelvlakbestuurders, kan die aanname gemaak word dat hierdie persone gekwalifiseerde onderwysers is met ervaring in hierdie beroep, wat as bestuurders van ʼn departement optree. Om tersaaklike literatuur te bekom, het die navorser gebruik gemaak van die volgende databasisse en soekenjins om die mees resente en tersaaklike bronne op te spoor:

16

Google Scholar, EBSCOHost, Education Resources Information Center (ERIC) en Science Direct.

Die volgende sleutelwoorde is vir die soektog van akademiese manuskripte (d.w.s. artikels, proefskrifte, boeke en verslae) gebruik: departementshoofde, voorbereiding, bevordering, professionele ontwikkeling, indiensopleiding, onderrigleierskap, leierskap, bestuur, hoofde, onderwysers, leierskap- en bestuursontwikkeling, middelvlakbestuurders, middle management, department leaders, instructional

leadership, in-service training en preparation and training.

1.8.2 Empiriese ondersoek

Volgens Wilkens en Krebs (2001:1274) verwys navorsing na ʼn sistematiese ondersoek om nuwe feite te ontdek en om sodoende inligting in te samel oor ʼn spesifieke onderwerp. Navorsing vorm deel van praktiese toepassings vir teorieë wat kwalitatief of kwantitatief van aard kan wees. Die verskynsel wat ondersoek is, het aanleiding gegee tot ʼn spesifieke wêreldbeskouing wat ʼn bydrae lewer tot bestaande literatuur. Kwalitatiewe en kwantitatiewe empiriese ondersoeke verskil en word gebaseer op verskillende paradigmas. Elke studie poog dus om nuwe kennis in te win, in lyn met ʼn spesifieke paradigma. In die volgende paragrawe word die navorsingsparadigma en -metodologie wat in hierdie navorsingstudie toegepas is, uiteengesit.

1.8.3 Navorsingsparadigma

Volgens Nieuwenhuis (2016:51) verwys ʼn paradigma na ʼn stel aannames en oortuigings wat ʼn sekere wêreldbeskouing beklemtoon en help om sosiale realiteit te verstaan. ʼn Paradigma dien ook as ʼn filosofiese raamwerk van ʼn dissipline waarvolgens die wetenskaplike ondersoek uitgevoer kan word en ondersoek fundamentele aannames oor geloofsoortuigings van natuur en realiteit (d.w.s. ontologie), die verhouding tussen die kenner en die bekende (d.w.s. epistemologie), asook aannames van metodologie (Nieuwenhuis, 2016:51). Die keuse van ʼn spesifieke navorsingsparadigma word gebaseer op die navorser se aannames en praktyke. Die lens (oftewel paradigma) waarmee die navorser die ondersoek voltooi, het ʼn groot invloed op die tipe inligting wat ingesamel word. Dit beïnvloed ook die

17

ontledingsproses van die inligting omdat die paradigma ʼn grondslag bied vir die navorser om sy of haar eie wêreldbeskouing uit te druk.

Vir die doeleindes van hierdie studie is daar gepoog om binne ʼn positivistiese navorsingsparadigma te funksioneer. Maree (2016:33) voer aan dat ʼn positivistiese navorsingsparadigma ondersteun word deur werklike kennis en inligting wat objektief van aard is. Die navorser het gefokus op die leemtes en werklike behoefte aan voorbereiding van departementshoofde in sekondêre skole. Daar is gepoog om data in te samel wat objektief en neutraal is om die navorsingsvrae te beantwoord. Die navorser het ten doel om universele kenniswaarhede te voorsien wat objektief en neutraal is en enige tyd empiries geldig verklaar kan word. Hierdie kwantitatiewe navorsingsparadigma is waarneembaar en kan aangewend word om mense en situasies te beheer en te manipuleer. Volgens Nieuwenhuis (2016:68) ondersteun positivisme as ʼn wetenskaplike navorsingsmetode die navorsingsvraag volkome deur presiese, sistematiese en teoretiese antwoorde te lewer wat neutraal en tegnies is.

1.9 Navorsingsmetodologie

Die navorsingsmetodologie is gebaseer op kwantitatiewe navorsingstrategieë. Volgens Maree en Pietersen (2016:162) word kwantitatiewe navorsing beskou as ʼn proses wat sistematies en objektief van aard is, waar numeriese data van ʼn geselekteerde groep of populasie gebruik word en die data dan ontleed word ten opsigte van daardie spesifieke populasie. Hierdie ontwerpe kan eksperimenteel of nie-eksperimenteel wees.

Vir die doeleindes van hierdie studie is ʼn nie-eksperimentele ontwerp gebruik. Nie- eksperimentele navorsing is ʼn opnamenavorsing en volgens Fouché et al. (2011:155) word nie-eksperimentele navorsingsontwerpe gebruik in beskrywende studies waar alle verkose eenhede gemeet word op alle tersaaklike veranderlikes, op ʼn gegewe tyd, sonder enige manipulering daarvan. Hierdie ontwerp is hoogs toepaslik vir die doeleindes van hierdie studie aangesien die verskynsel wat bestudeer is, deelnemers die geleentheid gegee het om deel te wees van ʼn opname waarin hulle en die navorser sin maak van die verskynsel. Met hierdie studie poog die navorser om ʼn dubbele-perspektief-ontleding aan te bied waarin die navorser nie

18

net die stem en perspektief van enkele deelnemers verkry nie, maar van die spesifieke populasie deur steekproefneming.

1.9.1 Populasie en steekproef

Om die navorsingsvraag te beantwoord, het die navorser gebruik gemaak van steekproefneming. Volgens Nieuwenhuis (2016:85) verwys steekproefneming na die proses waartydens daar ʼn kleiner deel van die populasie gekies word. Wanneer navorsing gedoen word, moet daar ʼn seleksie gemaak word van wie aan die navorsing gaan deelneem aangesien ʼn hele populasie nie gebruik kan word nie. Weens koste en tyd is dit nie moontlik vir die navorser om ʼn hele populasie te betrek nie. Die studie fokus daarop om leemtes aangaande die bevoegdheid van departementshoofde se voorbereiding uit te lig sodat hulle sodoende toegerus kan word as effektiewe onderrigleiers.

Die navorser het gepoog om die navorsingsvraag te beantwoord deur middel van ʼn eenmalige dwarsdeursnitopname wat verkry is uit ʼn ewekansige trossteekproefneming van sekondêre skole in die Vrystaat met ten minste 200 of 300

leerders. Met hierdie steekproefneming het die navorser gepoog om die onderskeie kategorieë skole uit die Lejweleputswa-distrik in die Vrystaat in te sluit. Die nasionale onderwysstelsel bestaan uit vyf kategorieë, bekend as kwintiele een tot vyf. Skole word in ʼn kwintiel ingedeel na gelang van die skool se finansiële hulpbronne. Kwintiel een-skole word beskou as skole met baie behoeftes, terwyl kwintiel vyf- skole as welvarende skole beskou word.

Daar is ongeveer 70 sekondêre skole in die Lejweleputswa-distrik. Al die departementshoofde van die betrokke skole is versoek om die vraelyste te voltooi. ʼn Totaal van 186 departementshoofde het aan die ondersoek deelgeneem.

1.9.2 Data-insameling en -ontleding

In hierdie studie is daar gepoog om ondersoek in te stel om die leemtes aangaande die voorbereiding van departementshoofde as effektiewe onderrigleiers vas te stel om sodoende voorstelle ter verbetering van onderwys in Suid-Afrika voor te lê. Vir die doeleindes van hierdie studie het die navorser gebruik gemaak van ʼn self- ontwerpte vraelys aan die hand van die literatuur. Fouché et al. (2011:156) identifiseer vraelyste as een van die effektiefste maniere vir data-insameling omdat ʼn

19

groter steekproef gedoen kan word, waarby baie persone betrokke is en die deelnemers ʼn reeks vrae ontvang wat beantwoord kan word. Volgens Maree en Pietersen (2016:174) bestaan vraelyste uit baie veranderlikes en kan verskeie hipoteses getoets word.

Die vraelys is op so ’n wyse gestruktureer en saamgestel dat dit die navorsingsvrae weerspieël. Dit is belangrik dat die samestelling van die vraelys geskik is vir die studie sodat die ontledingsproses doeltreffend afgehandel kan word. Die gestruktureerde vraelys bestaan uit verskillende afdelings, waar onder andere ook die biografiese en demografiese inligting verkry is. Vir die doel van die vraelys is daar gepoog om die leemtes aangaande die voorbereiding van departementshoofde as effektiewe onderrigleiers vas te stel en voorstelle ter verbetering daarvan voor te lê. ʼn Vierpunt-Likert-tipe vraelys is hiervoor gebruik sodat die navorser die navorsingsdoel effektief kon bereik.

Beskrywende statistiek (frekwensies, persentasies, gemiddeldes en standaardafwykings) en eksploratiewe faktorontleding is gebruik om onderliggende latente veranderlikes te identifiseer. Cronbach se alpha-koëffisiënt is gebruik om die betroubaarheid van betrokke veranderlikes te bepaal. Hiërargiese lineêre modelle is gebruik om verbande met biografies en demografiese veranderlikes te bepaal.

1.9.3 Statistiese tegnieke

Die volgende statistiese tegnieke sal gebruik word om die data te ontleed:

 Frekwensie-ontleding: Frekwensies met betrekking tot die biografiese en demografiese faktore sowel as die individuele items sal bepaal word.

 Faktorontleding: ʼn Faktorontleding sal op die data uitgevoer word ten einde die geldigheid van die vraelys te bepaal.

 Betroubaarheid: Die betroubaarheid van die faktore sal bepaal word.

1.10 Etiese aspekte

Navorsingsetiek poog om etiese kwessies wat moontlik uit ʼn navorsingsprojek kan voortspruit, te identifiseer. Maree (2016:44) beklemtoon die belangrikheid daarvan om deelnemers te alle tye bewus te maak van hul etiese regte deur die ondertekening van ʼn ingeligte toestemmingsbrief.

20

Die volgende etiese aspekte sal vir hierdie studie in ag geneem word:  Die deelnemers en hul skole sal anoniem bly.

 Indien daar teenstrydighede in die navorsing is, sal dit uitgewys word.

 Deelname aan die navorsingstudie is vrywillig en die deelnemers kan op enige stadium van die navorsingsproses onttrek sonder om redes te verskaf.  Data sal ingesamel en gebruik word vir die spesifieke doel van hierdie studie.  Die deelnemers mag nie uitgebuit word of kultureel skade ly nie.

 Die navorser sal die data wat ingewin word te alle tye vertroulik hanteer en tydens opnames sorg dat die inligting wat die deelnemers verskaf, op geen wyse, hetsy negatief of positief, beïnvloed word nie.

 Die deelnemers sal goed ingelig word oor die aard van die navorsing en die data wat ingesamel word.

 Die navorser moet kennis dra van plagiaat sodat dit verhoed kan word.

Etiese toestemming is van die Noordwes-Universiteit se Etiekkomitee verkry en die Vrystaatse Onderwysdepartement het toestemming verleen dat die vraelyste versprei mag word.

1.11 Geldigheid en betroubaarheid

Die geldigheid en betroubaarheid van die navorsing is ondersteun deur die etiese beginsels wat tydens die navorsingsproses gevolg is. Volgens Nieuwenhuis (2016:122) lê die sleutel tot validering in die oop en deursigtige aard van die navorsingsprosedures, deur ’n duidelike “voorbeeldige spoor” van besluite en interpretasies wat tydens die navorsingsproses geneem is, te laat. Betroubaarheid is ’n maatstaf van die stabiliteit of konsekwentheid van toetsmetodes. Dit is noodsaaklik dat die navorser met behulp van ’n deeglike en duidelike beskrywing van alle aspekte van die navorsing moet poog om betroubaarheid aan die navorsing te verleen.