• No results found

Die verband tussen voorbereiding vir effektiewe onderrigleierskap en

HOOFSTUK 2: KONSEPTUALISERING VAN VOORBEREIDING VAN

2.7 Die verband tussen voorbereiding vir effektiewe onderrigleierskap en

2.7.1 Inleiding

In die voorafgaande paragrawe is daar gefokus op onderrigleierskap en leerderprestasie wat op die effektiwiteit van onderwyserbekwaamheid, leierskapvoorbereiding, onderrigkwaliteit en akademiese prestasie fokus. Hierdie aspekte word nou saamgevat deur te wys op die verband tussen voorbereiding en effektiewe onderrigleierskap. Volgens Ghavifekr et al. (2014:137) is die 21ste eeu ʼn uitdagende era wat veranderinge in die onderwys betref. Naicker en Mestry (2015:1) lê klem op negatiewe terugvoer van die Onderwysdepartement, wat ʼn groot invloed op die huidige Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het en nadelig is vir die land se toekoms en ontwikkelende ekonomie. Die negatiewe terugvoer oor lae vlakke van onderwys en swak opleiding kan teruggespoor word na swak onderwyseropleiding van kollegas waar die kernvaardighede, vakkennis en pedagogiese vaardighede nie aangeleer word vir beste onderrig moontlik nie (Anon., 2013). Die verband tussen onderwyservoorbereiding en onderrigleierskap vir die bevordering van effektiewe onderwys word beklemtoon.

2.7.2 Die onderrigleier se verbintenis tot effektiewe onderwys

Die bevordering van doeltreffende onderrig en leer, asook die vestiging van ʼn leerkultuur hou volgens Naidu et al. (2008:193) verskeie implikasies in vir diegene wat betrokke is by bestuur, omdat dit onderwysdoelwitte kan benadeel. Kwaliteitonderwys is seker die belangrikste doelwit wat nadelig beïnvloed word indien onderrig en leer verkeerd bestuur word. Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (2010:1) hang die onderwys as geheel van kwaliteitonderrig

84

af aangesien onderrig en leer verantwoordelik is vir die opvoeding en kweek van goeie landsburgers.

Volgens Jumani et al. (2011:150) is daar talle faktore wat die kwaliteit van onderrig beïnvloed, onder andere ideologiese en sosio-ekonomiese behoeftes, die huidige onderwysstruktuur, goed gedefinieerde teorieë sowel as die onderrig-en-leerpraktyk. Volgens verskeie artikels wat vir die studie geraadpleeg is, word onderrigleierskap steeds as die belangrikste faktor gesien wat geïmplementeer moet word om kwaliteitonderwys en leerderprestasie te verseker.

Verandering in die onderwys is onvermydelik; daarom moet daar op die positiewe verbetering van onderrig en leer gefokus word. Onderwys word gesien as die hoeksteen van volhoubare ontwikkeling, waar die doel daarvan nie bereik sal word indien transformasie van sistematiese leierskapgedrag en ontwikkeling van skoolhoofde, kollegas en onderwysers afwesig is nie (Ashwini et al., 2015:9). Volgens Young (2015:405) is effektiewe onderrigleiers kritiek belangrik vir transformasie van skole, wat tot gevolg sal hê dat alle leerders op hoë vlakke kan leer en universiteits- of kollegekwalifikasies kan verwerf. Volgens Ghavifekr et al. (2014:137) moet departementshoofde as middelvlakleiers verantwoordelikheid neem vir transformasie van die hele skool sodat daar ʼn model geskep word van dit wat ingestel moet word en die nodige leiding beskikbaar is vir onderrigleiers. Dit is belangrik dat die onderrigleier ʼn professionele verbintenis maak tot die verbetering van kwaliteitonderrig en -leer (Tshabalala, 2015:82).

Die kwaliteit van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel hang in ʼn groot mate van akademiese en professionele kwalifikasies af, aldus Jumani et al. (2011:153). Kwaliteit verwys onder meer na noodsaaklike kennis en vaardighede waaroor onderrigleiers moet beskik om bekwaam te wees om probleme rakende diversiteit, verskille, gelykheid en die kurrikulum uit te klaar sodat dit tot voordeel van onderrig en leer kan strek (Young, 2015:405). Harris en Sass (2011:798) beskou onderwyskwaliteit as onderwyserproduktiwiteit en onderwyseropleiding, wat formele voordiensopleiding, indiensopleiding en professionele ontwikkeling sowel as ander informele opleiding insluit.

Opleiding en ontwikkeling geskied deur middel van onderrigleierskap waardeur leiers hul ondervinding met onderwysers deel sodat hulle kan ontwikkel om uiteindelik ʼn

85

hoë onderrigstandaard te handhaaf. Kwaliteitonderrig is baie belangrik, en volgens Hoy en Hoy (2009:13) lê die anker van kwaliteitonderrig in ervaring. Daarvoor word voor- en indiensopleiding (leer deur doen) gebruik sodat die nodige ondervinding opgedoen kan word om kwaliteitonderrig en verhoogde produktiwiteit te verseker (Harris & Sass, 2011:810). Sodoende skep skoolhoofde en onderwysers as onderrigleiers professionele leergeleenthede waartydens onervare onderwysers ondersteun word.

Die werksplek moet uit die aard van die saak ook bydra tot geleenthede vir beter onderwys (Tshabalala, 2015:81), wat verder die bevordering van onderwysers beklemtoon en leerderuitkomstes uiteindelik bepaal (Harris & Sass, 2011:798). Orphanos en Orr (2014:697) is van mening dat die voordele wat voorbereiding vir hoë kwaliteit inhou, geensins onderskat moet word nie aangesien dit op die leiding van onderrigleiers sowel as die verbetering van ʼn skool fokus. Dit moet die strewe van elke onderrigleier wees om ʼn kultuur te skep wat onderwysers se werksomstandighede bevorder en leerderuitkomstes verbeter ten einde goeie prestasie in toenemend gesentraliseerde instellings te verseker (AITSL, 2015:4). Volgens Naicker en Somdut (2014:577) het die skoolkonteks van ʼn skool as instelling ʼn invloed op leierskappotensiaal. Dit is op die organisasie se styl en struktuur van onderwys gebaseer en kan en moet fokus op professionele norme en demokratiese waardes (Ashwini et al., 2015:7). Young (2015:406) beklemtoon dat gegradueerdes verhoogde bekwaamheid en vaardighede het wat nodig is om hul eie leierskappraktyke te verbeter om sodoende die vermoë van hul skole te bou en leerders se leer te ontwikkel en positief te beïnvloed. Presterende onderwysers is geneig om positief oor hul werk en werksplek te wees, wat dan ook aan minder presterende onderwysers oorgedra kan word (Ronfeldt et al., 2015:507). Effektiewe onderrigleiers, soos departementshoofde, is gewoonlik verantwoordelik vir so ʼn positiewe gesindheid, wat weer op onderwysers toegepas en oorgedra word.

2.7.3 Die potensiaal van leierskap vir voorbereiding

Effektiewe leierskap lei tot effektiewe leer (Tshabalala, 2015:64). Daar is ʼn volgehoue debat oor leierskap en die gewenste uitkomstes vir leierskap. Crow et al. (2008:3) is ten gunste van meer debatte oor leierskapontwikkeling en voorbereiding

86

aangesien dit oor die bekwaamheid en ander eienskappe van leiers gaan, wat ʼn direkte invloed op onderwysers het, wat weer ʼn invloed op die klaskamer uitoefen. Verder stel voorbereiding betrokkenes in staat om sekere vooruitsigte te hê, veranderinge te maak, probleme op te los en uitdagings te aanvaar. Volgens Ghavifekr et al. (2014:136) is leiers se vooruitsigte niks anders as ʼn visie wat nagestreef moet word nie. Aangesien hierdie vooruitsigte nie onafhanklik nagestreef kan word nie, is samewerking tussen kollegas volgens Ronfeldt et al. (2015:509) uiters belangrik omdat onderwysers by mekaar leer en op so ʼn wyse betekenisvolle kennis oor onderrig opdoen, wat uiteindelik individuele prestasie verbeter. Sodra individuele prestasie verbeter, word die regte kennis, vaardighede en waardes aan leerders oorgedra om die beste akademiese uitslae te verseker. Jumani et al. (2011:150) beklemtoon dat akademiese kwalifikasies, kennis van ʼn spesifieke vakgebied, bekwaamheid, onderwysvaardighede en toewyding ʼn effektiewe impak op die onderrig-en-leerproses het.

Volgens Jumani et al. (2011:150) steun die bevolking van ʼn land op kwaliteitonderwys, wat beteken dat onderwysers hul volle samewerking moet gee en op onderrigareas met ʼn hoë prestasiesyfer moet fokus. Vir beter prestasie lig Bush (2007:404) uit dat daar te alle tye gefokus moet word op die sleuteltaak van bestuur, dit wil sê onderrig en leer, wat die fokus direk plaas op onderwysers omrede hulle verantwoordelik is vir onderrig en leer. Dus wend voortreflike skole professionele kennis en vaardighede aan om elke leerder se groei en potensiaal deur gelyke geleenthede te bevorder (Tshabalala, 2015:80). Ono en Ferreira (2010:71) vestig die aandag daarop dat onderrig nie oornag kan verander nie; dit is ʼn voortdurende proses wat verbetering en gehalte teweegbring (Nash & Hwang, 2012:xiii). Daarom is die regte aanstellings belangrik om kwaliteitonderrig in skole voort te sit (Instituut van Onderwys, 2012:1).

2.7 Samevatting

’n Baie belangrike vraag wat aandag geniet is die volgende: Hoe kan die uitdaging van swak gehalte en onbevoegde onderwysers die hoof gebied word? Goed gekwalifiseerde onderwysers word gesien as die beste hulpbron vir leerders se leer. Dit is juis talentvolle leiers wat leerders se sukses na ʼn volgende vlak neem, wat die klem op onderrigleiers plaas. Ten einde die swak gehalte werk van onbevoegde

87

onderwysers te verbeter, moet die nodige opleiding verskaf word om van ontwikkeling en voorbereiding seker te wees. Die hoofelemente van kwaliteitonderwys moet dus gevestig wees om voorspoed in die land te bewerkstellig. Hierdie hoofelemente sluit die noodsaaklikheid van onderrigleierskap in wat op die rolle en verantwoordelikhede van betrokkenes in die departement en die skool fokus met die inagneming van onderrig wat leer verbeter. Elemente van onderrigleierskap wat leierskapvoorbereiding en prestasie verseker, moet ook in ag geneem word. Voortreflike onderrig as gevolg van volgehoue verbetering en voorbereiding word alleenlik deur onderwysers en onderrigleiers se samewerkende aksies moontlik gemaak. Daarom is dit belangrik dat die strukturele onderwys modelle gebruik wat ʼn direkte invloed op onderwysersamewerking en skoolhoofde se onderrigleierskap het vir leerderprestasie.

88