• No results found

Die skoolhoof se onderrigleierskapsrol op topbestuurvlak

HOOFSTUK 2: KONSEPTUALISERING VAN VOORBEREIDING VAN

2.3 Onderrigleierskap in skole

2.3.4 Onderrigleierskap op verskillende vlakke in die skool

2.3.4.1 Die skoolhoof se onderrigleierskapsrol op topbestuurvlak

Die skoolhoof se onderrigleierskap word volgens Bendikson et al. (2012:3) voorgestel as die organisering en bestuur van die skool, wat die bestuur van die leerders, roosters, hulpbronne, personeelallokering vir professionele ontwikkeling en beleide insluit. Manaseh (2016:32), Osman (2013:41) en Rajoo (2012:19) lig uit dat die skoolhoof as die primêre leier gesien word wat verantwoordelik is vir die algehele bestuur van die onderrigprogram. Die skoolhoof van vandag se rol is baie meer kompleks as dié van skoolhoofde van die verlede (Mestry et al,. 2013:119), waar hulle net voor uitdagings van besluitneming en ander eenvoudige verantwoordelikhede te staan gekom het. Die skoolhoof se besluite oor beleide en die bestuur van skoolaktiwiteite en -roetines skep ʼn spesifieke atmosfeer tussen onderwyser, leerders en betrokkenes, wat volgens Bendikson et al. (2012:3) gesien word as die hoeksteen van skoolhoofde se onderrigleierskap in skole.

Volgens Osman (2013:41) moet die skoolhoof se onderrigleierskapgedrag ʼn onmiddellike invloed hê op die interne eerder as die eksterne struktuur van die skool, waar die interne struktuur die skoolonderrigpraktyke, organisasiestruktuur, klimaat en

47

kultuur insluit. Dit forseer skoolhoofde om ʼn innoverende rol aan te neem as onderrigleier wat oor die nodige vaardighede, kapasiteit en toewyding beskik (Mestry

et al., 2013:119) vir effektiewe leiding van ʼn skool. Volgens De Voe (2014:26) is dit

ook belangrik dat die skoolhoof op sy personeel, die gemeenskap en skooldoelwitte fokus. Dus word die skool se prioriteite eerste gestel, wat sorg dat die skoolhoof in sy of haar onderrigrol fokus op effektiewe roetines en prosedures (Bendikson et al., 2012:7). Hierdie roetines en prosedures sluit volgens Osman (2013:46) die drie groot areas van erkenningbasis, taakverstaanbaarheid en geskikte vaardighede in. Hierdie areas vereis dat skoolhoofde toegerus en bekend moet wees met die onderrigleierskapmodel wat hulle sal lei om die onderrigprogram te bestuur (Manaseh, 2016:44). Hallinger (2005) se onderrigleierskapmodel vir skoolhoofde beklemtoon drie dimensies wat nodig is om die bogenoemde areas te dek, naamlik die definiëring van die skool se missie, die bestuur van die onderrigprogram en die bevordering van ʼn positiewe leerklimaat. Gürkan (2012:627) se onderrigleierskapsrol vir skoolhoofde stem ooreen met die dimensies van Hallinger (2005), wat soos volg beskryf word:

 Die identifisering van die skool se vissie en missie: verantwoordelik vir doelwitontwikkeling, -implementering en assessering.

 Die programmering en administrering van onderwys: behoud van goeie onderrig, ’n leeromgewing, samewerking en koördinasie.

 Personeelontwikkeling: verantwoordelik vir die vergoeding en groei van personeel.

 Monitering en assessering van die onderrigproses: beheer oor die onderrigperiodes en die assessering daarvan.

 Die skep en ontwikkeling van ʼn positiewe skoolklimaat: verantwoordelik vir organisasieverandering en kommunikasie vir die vestiging van vir ʼn positiewe skoolklimaat.

Uit die bogenoemde dimensies is dit duidelik dat skoolhoofde verskeie bestuurs- en administratiewe take het, wat die rol van onderrigleiers beïnvloed. Daarom is dit, volgens Mestry et al. (2013:122), belangrik dat skoolhoofde ʼn goeie balans tussen hul verskillende rolle moet handhaaf vir hoë leerderprestasie. Prytula et al. (2013:3) lig uit dat skoolhoofde meer ingestel moet wees op die onderrigrol as die bestuursrol

48

ten einde effektiewe onderrigleierskap in die skool te verseker. Volgens Osman (2013:44) moet die skoolhoof as onderrigleier:

 vertroud wees met kurrikulumontwikkeling, onderwyser- en onderrigeffektiwiteit, observasie, personeelontwikkeling en die evaluering van onderwysers;

 saam met ander onderwysers kan werk vir die skep van leierskapspanne op die sekondêre vlak van bestuur om sodoende die kritieke funksies van die kurrikulum, onderrigkoördinasie en toesighouding uit te voer; en

 verantwoordelikheid aanvaar vir die skep van ’n sterk skoolkultuur, wat toelaat dat onderwysers saamwerk vir die herontwerp van onderrigprogramme vir leer.

Dit is duidelik dat die skoolhoof verantwoordelik is vir die fasilitering en ontwikkeling van onderrigleierskap, wat die bestuur van die onderrigprogram insluit en volgens Manaseh (2016:44) nie effektief genoeg is nie as gevolg van beperkte kennis oor onderrigleierskap. Mestry et al. (2013:120) beklemtoon dat skoolhoofde die nodige kennis en ervaring moet hê om die moontlike uitdagings van onderrigleierskap raak te sien wat ook die kwantiteit en kwaliteit van interaksie tussen personeellede in die skool beïnvloed (Amanchukwu et al., 2015:11). Skoolhoofde beïnvloed onderwysers en daarom is dit volgens Prytula et al. (2013:21) belangrik dat skoolhoofde die geleentheid vir onderwysers moet skep om die kurrikulum te verstaan en te ondersteun deur die voorsiening van inligting en die bespreking van die uitkomstes van die skool.

Onderrigleiers vorm deel van bestuursprosesse in die skool. Volgens Amanchukwu

et al. (2015:12) kan prestasie slegs verkry word deur prosesse wanneer daar

samewerking is tussen die verskillende eenhede (vlakke) wat saamwerk as ’n eenheid. Die skoolhoof se sukses is ʼn belangrike faktor by onderwyser- en leerderprestasie (Mestry et al., 2013:122), wat die skoolhoof se benadering as onderrigleier belangrik maak vir die bevordering en prestasie van die skool.

Uit bogenoemde kan afgelei word dat die skoolhoof die mag het om skoolprestasie te beïnvloed deur sy onderrigrol, die stel van skooldoelwitte en die bevordering van effektiewe onderrigpraktyke wat van hulle sterk direktiewe skoolhoofde maak (Horng & Loeb, 2010:66) en nodig is in skole. Jenkins (2009:37) is van mening dat die

49

onderrigleierskapsrol van die skoolhoof geherdefinieer moet word sodat struikelblokke van leierskap uitgeskakel kan word aangesien die onderrigrol van die skoolhoof juis onderwyseruitnemendheid en leierskap bevorder (Osman, 2013:46). Volgens Amanchukwu et al. (2015:10) het organisasies die vermoë om te groei. Dit veroorsaak verdeling in subgroepe wat die makro- en senior bestuur van ʼn skool as organisasie kan beïnvloed en aanleiding gee tot gedeelde rolle van bestuur op verskillende vlakke (Amanchukwu et al., 2015:10).

Bush en Glover (2014:566) lig uit dat skoolhoofde nie die enigste onderrigleiers is nie en die rol van onderrigleierskap gedeel moet word. Naas skoolhoofde is adjunkhoofde en departementshoofde belangrike onderrigleiers wat ook verantwoordelik is vir die fasilitering en ontwikkeling van die onderrigprogram in die skool. Dus sal die skoolhoof saam met adjunkhoofde en departementshoofde op middelvlakbestuur moet werk ten einde die beste uitkomste te verkry (Rajoo, 2012:30).