• No results found

HOOFSTUK 4 ‒ BEELDVORMING

4.2 ʼn Meervoudige waarnemingsveld

4.2.4 Heterovoorstelling

4.2.4.5 Literatuurgeskiedenisse

Aangesien ʼn literatuurgeskiedenis as een van die belangrikste kanoniseringsinstrumente67 in die literêre waardesisteem beskou word (Van Coller, 1998:viii; 2014:s.bl.), dra ʼn skrywer se opname in literatuurgeskiedenisse uiteraard by tot sy/haar postuur.

67 Van Coller (2009:95) wys ook op die belang van koerantresensies in literatuurgeskiedskrywing. Hy

Volgens Kleyn (2013:160) is daar vier faktore wat die taak van die literatuurgeskiedskrywer bemoeilik:

 Die omvang van die materiaal wat vir insluiting oorweeg moet word

 Probleme met betrekking tot die sinvolle aanbieding of model wat die groter literêre konteks moet weergee sonder om skrywers se oeuvres te fragmenteer, maar terselfdertyd ook die genoemde genres in ag moet neem

 Die kwessie van die groter sisteem wat betrekking het op politieke veranderinge, ekonomiese knelpunte en publikasietendense

 Die probleem rondom die veldafbakening, teorie en metodes van aanbieding wat, volgens Kleyn, wissel van literêre kroniek en inventaris tot ensiklopedie en literatuuroorsig. In hierdie verband vra Van Coller (2016e:5) of die objek van ʼn literatuurgeskiedenis skrywers en tekste is wat binne bepaalde periodes chronologies gerangskik moet word en of daar liefs op die resepsie gekonsentreer moet word. Op grond van bogenoemde problematiek, bestaan daar uiteraard verskillende modelle van literêre geskiedskrywing. De Geest (2013:50) wys op die verskille tussen ‘klassieke′ literatuurgeskiedenisse en dié van die een-en-twintigste eeu. Klassieke literatuur- geskiedenisse was deurgaans op ʼn oorsigtelike en veral didaktiese skema gebaseer. De Geest verduidelik dat daar, ná ʼn algemene periodisering en breë kontekstualisering, gefokus is op ʼn betrokke styl of stroming. Daarna is die gestelde kenmerke konkreet getoets aan die hand van die belangrikste verteenwoordigers. Deur die navolging van ʼn min of meer vasgestelde skema, is skrywers nie slegs binne ʼn bepaalde epog geplaas nie, maar is daar gelyktydig en hoofsaaklik op die noue verband tussen die lewe en persoonlikheid van die skrywer en sy/haar werk gefokus. De Geest (ibid.) meen dat resente literatuurgeskiedenisse in die praktyk dieselfde visie het, maar dat daar groter klem gelê word op die kontekstuele inbedding van literatuur. Volgens De Geest (2013:53) is dit teoreties moontlik dat genres, strominge (kodes) of motiewe die belangrikste struktureringsbeginsels in ʼn literêr-historiese oorsig is, maar selfs dan tree skrywers steeds deurlopend op die voorgrond. Die konsep literatuurgeskiedenis is, volgens De Geest, blykbaar onlosmaaklik verbonde aan die begrip skrywer. Dit is ook die geval in sowel die postmodernisme as in vroeëre periodes waartydens ʼn moderne skrywersbegrip nog nie aan die orde was nie.

Kleyn (2013:160–183) en Van Coller (2016e) verskaf waardevolle besprekings met betrekking tot die aanloop tot, geskiedenis van en benaderings in die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing. Daar word verwys na Gerard Besselaar se Zuid-Afrika in de letterkunde (1914); Lydia van Niekerk se De eerste Afrikaanse taalbeweging en

letterkundige voortbrengselen (1916); E.C. Pienaar se Taal en poësie van die twede Afrikaanse taalbeweging (1920); P.C. Schoonees se Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging (1922); F.C.L. Bosman se Drama en toneel in Suid-Afrika (1928); Elizabeth Conradie se Hollandse skrywers uit Suid-Afrika (1934, 1949); en Beukes en Lategan se Skrywers en rigtings (1952). As voorlopers tot die huidige tendense in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing word genoem G. Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis wat tussen 1935 en 1972 in twaalf drukke verskyn het; Rob Antonissen se Schets van den ontwikkeling der Zuid-Afrikaansche letterkunde (1946) en Die Afrikaanse letterkunde van die aanvang tot hede wat tussen 1955 en 1965 in drie uitgawes verskyn het; en P.J. Nienaber se Perspekief en profiel wat vyf keer hersien en twaalf keer vanaf 1951 tot 1982 herdruk is.

Soos vroeër genoem (kyk 2.2.1), het die positivistiese beskouing van die literatuur veral uitdrukking gevind in die literatuurgeskiedskrywing van die negentiende eeu. Omdat die positiviste, onder wie sielkundiges, die kunswerk as ʼn uiting, gevolg of weerspieëling van verskillende invloede (waaronder die skrywer se psigiese samestelling en milieu) begryp het, is literatuurgeskiedenis as die gevolg van veranderinge in sosiale, historiese en kulturele faktore beskou.

Wat die huidige tendense in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing betref, word ʼn hele aantal benaderings geïdentifiseer (Kleyn, 2013:162, 168; Van Coller, 2016e):

(i) Sendergerigte literatuurgeskiedenisse

Alhoewel Jansen (1981:18) op die bruikbaarheid van kommunikasieteorie (kyk Jauss se estetika van resepsie; 2.3.4) in literêre geskiedskrywing wys, spreek sy die mening uit dat sendergerigte literatuurgeskiedenisse neopositivistiese en dikwels Marxistiese trekke vertoon deurdat die geskiedenis van die letterkunde binne hierdie benadering maklik ʼn sosiale en politieke geskiedenis kan word (vergelyk ook Michael Chapman se Southern African Literature, 1996, 2003 en Christopher Heywood se A history of South African Literature, 2004, 2006, 2010).

Oor die wenslikheid om periodes binne ʼn skrywer se werk te definieer en elke periode dan te tipeer en besondere kenmerke daaraan toe te dig ‒ ʼn werkwyse waarna as “Spätstill” (laatstyl) of “Spätwerk” (laatwerk) verwys word (Van Vuuren & Snyman, 2014:s.bl.) ‒ noem Van Vuuren dat die vertrekpunt van so ’n literêre perspektief ’n vergelyking van die vroeëre werk met die latere werk behels:

Op grond van verskuiwings en verskille in styl, temas en aard word nuwe insigte oor die betrokke skrywer se werk verkry. So ’n onderneming berus op ’n diachroniese of historiese oorsig oor ’n groot skrywer se werk, eerder as ’n sinchroniese of tydgenootlike beskouing. So ’n historiese ordening in periodes is onmisbaar vir beter begrip van die aard van die oeuvre en die werke van enige belangrike skrywer […].

Volgens Van Vuuren (Van Vuuren & Snyman, 2014:s.bl.) is so ’n benadering “veral insiggewend in die geval van skrywers met besonder verwikkelde of moeilike oeuvres, soos James Joyce, TS Eliot, Friedrich Hölderlin of Paul Celan, oor wie al vier nog aan die lopende band biblioteke vol navorsing gepubliseer word”. As een van die voordele van enige literêre ordening of periodisering, ook vir die Afrikaanse letterkunde, noem Van Vuuren (ibid.) “’n groter begrip van die aard van, en ontwikkelings in, die werk van belangrike skrywers”. Ook die indeling in fases in ’n uitgebreide, voltooide of byna-voltooide oeuvre het, volgens Van Vuuren, “die nut dat dit [’n] groter greep op ontwikkelinge in die oeuvre uitspel, omdat dit verskille in die fases duidelik profileer”. Sodanige verskille het veral te make met “styl, temas en vormgewing en gaan dikwels – meestal? – met eksperimentering gepaard in groot kunstenaars of skrywers se werk, en het dus met oorspronklikheid of vernuwing te make”. (ii) Boodskapgerigte benaderings

Van Coller (2016e:6) beskryf boodskapgerigte benaderings, waarin dit gaan oor die interpretasie van tekste, as hermeneuties subjektief. Daarom maak boodskapgerigte of outonomistiese benaderings, volgens Jansen (1981:20), literatuurgeskiedskrywing feitlik onmoontlik. Sy wys egter tog op die bruikbaarheid van ʼn “[a]nder primêr boodskap-gerigte benadering” naamlik dié van literêre evolusie wat op die model van die Russiese formaliste geskoei is. In sy ondersoek na T.T. Cloete as literatuurhistorikus wys Van Coller (2016e:4) daarop dat normdeurbreking, ʼn sentrale konsep in die denke van die Russiese formaliste, in Cloete se geskiedskrywing beslag gekry het: “Wat Cloete […] myns insiens doen, is om duidelik te stel dat literatuurgeskiedenis moet fokus op die inherente kenmerke van werke en moet probeer vasstel waarom sekere tekste die eie tyd oorlewe en steeds objekte bly van interpretasie en waardering.” Volgens Van Coller (ibid.) blyk Cloete se outonomistiese standpunt die duidelikste uit sy afwysing van biografiese besonderhede.

(iii) Resepsiebenaderings

Jansen (1981:20) beskou resepsiebenaderings, wat wetenskaplik-objektief is (vergelyk Van Coller, 2016e:3), as ʼn brug tussen die historiese instelling van die Marxiste en die estetiese benaderingswyse van die Russiese formaliste.

(iv) Die integrasiemetode

Deur gebruikmaking van die integrasiemetode ‒ wat veral neerslag gevind het in die werk van die Tseggiese strukturalis Felix Vodička (kyk 2.3.2) ‒ word die voorgenoemde drie benaderings geïntegreerd gebruik (Jansen, 1981:20). Vir Van Coller (2016e:4 [oorspronklike kursivering]) lê die bruikbaarheid van hierdie benadering daarin dat Vodička die teks as ʼn teken beskou: “Die literatuurhistorikus moet […] die teks as werk van ʼn skrywer sien wat in ʼn bepaalde verhouding tot tydgenootlike literêre strukture staan en wat ook ʼn verhouding onderhou met buiteliterêre tendense.”68

(v) ʼn Funksiegerigte literatuurgeskiedenis

Dit is veral Van Gorp (1985:247) wat ʼn funksiegerigte benadering bepleit:

De vraag naar het ‘wat’ bleek immers in de korte geschiedenis van de literaire historiografie telkens weer anders te zijn beantwoord: auteurs, teksten, sociale gegevens … en de selectie binne de ondersscheiden domeinen bleek al even discutabel: wie zijn de belangrijkste auteurs, wat zijn historisch waardevollen teksten, welke zijn de ingrijpende sociale fenomenen? Dit ‘wat’ ‒ het materiaal voor een literatuurgeschiedenis – moest dan ook nog worden geordend tot een samehangend verhaal. Hoe konden die duizenden auteurs, resp. teksten of gebeurtenissen met het nodige relief aan elkaar worden gerelateerd zodat ze reeksen gingen vormen.

Uit die bostaande aanhaling blyk dit duidelik dat hierdie benadering sosiologies in pas is met die benaderings van Siegfried Schmidt (kyk 3.2), Pierre Bourdieu (kyk 3.3.) en die Nederlandse veldteoretici (kyk 3.4).

In die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing word hoofsaaklik tussen twee modelle onderskei, naamlik die chronologiese, ensiklopediese model, en die perspektiewe- en profielemodel.

Die chronologiese, ensiklopediese model

In 1978 verskyn J.C. Kannemeyer se Geskiedenis van Afrikaans met hersienings in 1983 en 1984. In Kannemeyer se literatuurgeskiedenis, wat geskoei is op die struktuur van Antonissen en waarin periodisering voorop staan, word belangrike biografiese gegewens van die skrywers toegevoeg; die teks word aangevul met voetnote, verwysings of sogenaamde vermeldings (ook na buitelandse skrywers by die besprekings van die skrywers); en die literatuur word in periodes eerder as in dekades opgedeel. Voorts word elke periode met ʼn algemene historiese oorsig ingelei (Kleyn, 2013:169; Van Coller, 2016e:1–2).

In 1988 verskyn ʼn hersiene en verkorte weergawe van Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur met bygewerkte literatuur uit die jare 1970 tot 1987, asook van die werk van debutante wat voor 1970 gedebuteer en sedertdien verdere tekste gepubliseer het (Kleyn, 2013:172). ʼn Hersiene uitgawe getiteld Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1652– 2004, met byvoegings van die Afrikaanse letterkunde sedert 1976, verskyn in 2005.

Ten spyte daarvan dat Kannemeyer se literatuurgeskiedenis vir ʼn lang tydperk as die belangrikste in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis beskou is, was daar tog kritiek teen die inklusiewe, literatuurkronieke of ensiklopediese aard van die werk (Kleyn, 2013:170, 172– 174; Van Coller, 2014; 2016e:2–3).

Van Coller (2008:155) vestig die aandag op die reperkussies wat politieke en ideologiese transformasies sedert 1990 vir die Afrikaanse literêre terrein ingehou het. Eerstens was daar ʼn oproep vir ʼn inklusiewe geskiedskrywing van die Suid(er)-Afrikaanse literatuur wat die diversiteit daarvan sou reflekteer. Tweedens was daar ook die vraag na groter verteenwoordiging van voorheen gemarginaliseerde stemme in die hoofstroom van die Afrikaanse literêre sisteem (Van Coller, 2008:155–156). In die derde plek wys Van Coller (2008:157) op die feit dat die voorrang wat Engels in postapartheid-Suid-Afrika geniet, daartoe aanleiding gegee het dat baie Afrikaanse skrywers hul werk gedeeltelik of selfs in die geheel in Engels laat publiseer het.

Twee Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenisse wat tekens van ʼn politieke inslag vertoon, is Michael Chapman se Southern African literature (1996, 2003) en Christopher Heywood se A history of South African literature (2004, 2006, 2010). Volgens Kleyn (2013:175, 176) vertoon Chapman se literatuurgeskiedenis ʼn duidelike politieke inslag en kan dit, volgens sommige kritici, eerder as ʼn “literêr-historiese waarheids- en versoeningskommissie” bestempel word. Van Coller (2008:158–160) lys die onderstaande as punte van kritiek teen Chapman se literatuurgeskiedenis:

 Chapman […] adopts the point of view that a direct link exists (or ought to exist) between a literature and its circumambient social reality. This assumption prompts him to evaluate literary works according to their intention to produce political change.

 […] a naïve idealism apparent in his utopian vision of the rainbow nation […]

 […] a chauvinist arrogance that belittles the experiences of many women and the value of these experiences as a matter for poetry […]

 Chapman ostensibly favours the model of society above that of the nation and surmises that the whole of southern Africa shares the experience of colonialism, and that the theme of expression and liberation is a consequence thereof […]

 He also relies too exclusively on one-sided critical texts in Afrikaans and has no intimate knowledge of the field of Afrikaans criticism in general.

Ook Heywood se literatuurgeskiedenis word gekritiseer op grond van die “hoogs polities (maar ook eensydige) posisie” wat dit inneem (Kleyn, 2013:177). Op sy beurt kritiseer Van Coller (2008:164) Heywood se onderliggende aanname dat Suid-Afrikaners ’n spesie van ʼn Kreoolse samelewing is en dat ʼn geskiedenis die integrasie van sy literatuur moet reflekteer. Volgens Van Coller stel hy die Suid-Afrikaanse literatuur voor as ʼn rites de passage wat in elke fase van die oorgangsrite deur geweld gekenmerk word.

Jerzy Koch se literatuurgeskiedenis, A history of South African Literature, verskyn in 2015. As pluspunte van Koch se studie, noem Olivier (2016:s.bl.) die aandag aan verskuiwende teoretiese invalshoeke rondom letterkundige geskiedskrywing (in die eerste afdeling getiteld Part One: From the 17th to the 19th Century) en die uitwysing van ideologiese tekortkominge in bestaande (Suid-)Afrikaanse literatuurgeskiedenisse. As punte van kritiek noem Olivier (ibid.) die “verwarrende en onbevredigende gebruik van ‘African’ en sy variante” en aspekte wat buite verhouding aandag geniet: “Dit is dikwels dinge wat die ‘kompendium’-aanslag bevestig: interessante en boeiende historiese en maatskaplike gebeure en omstandighede, maar wat met die eintlike ontwikkeling van Afrikaans en veral die Afrikaanse letterkunde nie altyd veel te make het nie.” Tog ag Olivier Koch se literatuurgeskiedenis as ʼn belangrike toevoeging tot die literêre kritiek rondom die Suid-Afrikaanse letterkunde, veral op grond van die nuwe inligting en perspektiewe wat dit na vore bring en bevestig.

Multiperspektivistiese benaderings

Vroeër in hierdie bespreking is verwys na T.T. Cloete se outonomistiese standpunte. Tog identifiseer Van Coller (2016e:7) twee skynbaar onversoenbare benaderings in Cloete se literêre geskiedskrywing, naamlik wetenskaplik-objektief (die resepsie van tekste) en hermeneuties-subjektief (die interpretasie van tekste). In die genoemde artikel poog Van Coller om aan te toon dat hierdie skynbaar teenstrydige benaderings tog versoenbaar is binne die literatuurgeskiedenis. Vir Van Coller is multiperspektiwiteit “ʼn relatief unieke kombinasie van verskillende benaderings […] van diachronie en sinchronie”.

In Perspektief en profiel van P.J. Nienaber (red.) (1951–1982), soos in die latere werke van Kannemeyer, word gebruik gemaak van perspektiefbesprekings oor bepaalde tydperke en genres en verskyn daar chronologiese perspektiewe van belangrike skrywers wat in die voorafgaande perspektiewe ter sprake gekom het. Onder die redakteurskap van H.P. van Coller, ʼn oudstudent van Nienaber, verskyn die eerste uitgawe van Perspektief en profiel in 1998 en die tweede in 2006. In 2015 (2016) verskyn ʼn nuwe, bygewerkte en uitgebreide weergawe van Perspektief en profiel – tot op hede die omvangrykste en mees onlangse literatuurgeskiedenis in Afrikaans (Van Coller, 2014:s.bl.). Met betrekking tot die

multiperspektiviese benadering wat in Perspektief en profiel gevolg word, skryf Van Coller (2014:s.bl.) dat dit ʼn betreklik unieke kombinasie van ʼn diachroniese benadering is waar daar in die verskeie perspektiewe gefokus word op die ontwikkelende aard wat kenmerkend van enige (literatuur)geskiedenis is. In die profiele word daar, volgens Van Coller, “poolshoogte geneem […] van die huidige stand van sake betreffende ʼn bepaalde skrywer; kortom: die wyse waarop op die huidige tydstip die plek en statuur van ʼn bepaalde skrywer ingeskat word”.

Van Coller (1999b:ix–x) noem dat die keuse met betrekking tot skrywersprofiele op ʼn demokratiese wyse geskied. Hy verduidelik dat profiele in hoofsaak toegeken is aan skrywers wat op ʼn bepaalde historiese moment ʼn sleutelfunksie binne die destydse bestaande literatuursisteem (ook binne die verband van genre, stylsoort en skrywersgroepering) vervul het. Die gekose skrywers moes ʼn minimum van drie boeke geskryf het en, as spilfigure, ook bepaalde normverskuiwings tot gevolg gehad het. Alhoewel status ʼn vae begrip is, noem van Coller dat daar in hierdie verband gekyk is na literêre prystoekennings, die frekwensie van opname in bloemlesings, literatuuroorsigte, literatuurstudies, die aantal tale waarin die skrywer se werk vertaal is en of hulle ʼn impak op die nuwe doelsisteem gemaak het.

Op die vraag of die profiele ooreenstem met biografieë, antwoord Van Coller (2014:s.bl.) dat die meerderheid profiele (in die 2015/2016-uitgawe) bestekopnames is van die wyse “waarop ʼn skrywer se werk gelees is en kan word én van die waardering daarvan”.

In 2012 word The Cambridge history of South African literature, wat die literatuur van al die amptelike tale in Suid-Afrika dek, onder redakteurskap van David Attwell en Derek Attridge gepubliseer. In hierdie literatuurgeskiedenis word van ʼn vergelykende, tematiese benadering gebruik gemaak. Drie-en-veertig medewerkers uit Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, die VSA en Australië het tot die publikasie bygedra wat uit 39 essays bestaan (Attwell, 2012:s.bl.; Van Vuuren, 2012:s.bl.). Die werk is volgens historiese tydperke en temas gerangskik waarbinne vyf geperiodiseerde onderwerpe bespreek word, insluitend inheemse mondelinge kulture soos dié van die /Xam San (Attwell, 2012:s.bl.; Van Vuuren, 2012:s.bl.).

As pluspunte van die werk wys Van Vuuren (2012:s.bl.) op die kruisverwysing na skrywers en werke tussen verskillende hoofstukke; dikwels deur een Engelse en een Afrikaanse deskundige. Kritiek sluit in die afwesigheid van verwysings na die transnasionale kontak met

Nederlands en ʼn wanbalans ten opsigte van twintigste-eeuse en huidige tekste in Afrikaans (Oliphant, 2012:s.bl.).

Teenoor die chronologiese, monotone en inventariese benaderings van vroeër, ag Kleyn (2013:163, 166) multiperspektivistiese benaderings, ten spyte van kritiek (Kleyn, 2013:163, 167–168) en vanweë die meervoudige stemme, as meer gebalanseerde benaderings.

Van Coller (2016e:6) se samevatting van die oorwegings wat, na sy oordeel, van belang is in literêre geskiedskrywing, bied ʼn bondige uiteensetting van die aard en funksie van literatuurgeskiedskrywing:

 Die begrip letterkunde behoort nie normatief nie, maar deurgaans hipoteties en pragmaties hanteer te word.

 Tekste en skrywers mag nie die enigste fokus wees nie. Daar behoort ook op ander vorme (soos genres), prosesse van marginalisering en kanonisering, subvelde en affiliasies gefokus te word.

 Die literatuurhistorikus behoort bewus te wees van die eie historiese posisie en ideologiese voorkeure en vooroordele, veral ten aansien van vroeëre tydperke.  Bogenoemde tydperke moet op ʼn pragmatiese wyse afgebaken en gerekonstrueer

word.

 Die onderskeid tussen literatuur en algemene geskiedskrywing of kultuurgeskiedenis mag nooit uit die oog verloor word nie.

 Aangesien enige literatuurgeskiedenis kanoniserend van aard is, kan daar nie totaal afstand gedoen word van estetiese oordeel nie.