• No results found

HOOFSTUK 3 ‒ VELD OF SISTEEMTEORIEË

3.4 Nederlandse veldteoretici: Kees van Rees en Gilles Dorleijn

3.4.2 Die institusionele benadering

In Hoofstuk 1 en in die inleiding tot hierdie bespreking van Van Rees en Dorleijn se geïntegreerde benaderingswyse is reeds melding gemaak van die feit dat waardetoekenning deur ʼn hele aantal instellings uit die literêre veld gereguleer word. Hierdie instellings (biblioteke, boekhandelaars en boekklubs, asook owerheidsinstellings wat adviserend optree ten opsigte van kunstebeleid) het nie slegs betrekking op die materiële produksie en verspreiding van literatuur nie, maar vervul ook ʼn belangrike rol in die simboliese produksie,

dit wil sê die spesifisering en propagering van bepaalde opvattings oor literatuur (literatuurkritiek). Volgens Van Rees en Dorleijn (1993:5‒6) stel die termpaar materiële en simboliese produksie die ondersoeker in staat om die verband tussen aspekte wat gewoonlik van mekaar geskei word, te ondersoek: aan die een kant die menings wat oor kunswerke en kunstenaars uitgespreek word en die gevolglike beeld wat van die kunswerk en kunstenaar geskep word, en, aan die ander kant, die netwerke van persone op wie die uitsprake en beeldvoming betrekking het. Soos reeds in die bespreking van ander teorieë oor die literêre veld genoem is, vorm al hierdie aspekte gesamentlik die literêre veld – ʼn voortdurend veranderende sisteem van magsverhoudinge (Van Rees & Dorleijn, 1993:4). Belangrik in Van Rees en Dorleijn se benaderings is hul gebruik van die literêre veld as metafoor, naamlik “een institutie als de literatuurbeschouwing”. Met hierdie metafoor beskryf hulle die wyse waarop kritici, deur hul joernalistieke, essayistiese en akademiese kritiek (dit wil sê die instelling), die gehalte en aard van literêre tekste in terme van literatuuropvattings beskryf (Van Rees & Dorleijn, 1993:5, 6). Die volgende stelling is dus sentraal in Van Rees en Dorleijn (1993:6) se geïntegreerde benaderingswyse: “Literatuuropvattingen worden deur de literatuurkritiek gebruikt om het literaire aanbod te ordenen en er waarde en betekenis aan toe te kennen.” Literatuuropvattings is egter nie slegs instrumenteel in die waardepaling en klassifikasie van literêre werke nie. Elke kreatiewe en kritiese aktiwiteit, ook die beeld wat kritici van die boek, die skrywer of van ʼn groep skrywers skep (Van Rees & Dorleijn, 1993:6), word deur literatuuropvattings gerig (Van Rees & Dorleijn, 2006:97). Daarom kan die rol van literatuuropvattings in die produksie van vertroue en in beeldvorming as ʼn vorm van simboliese kapitaal nooit ontken word nie (ibid.).

In die bespreking van Bourdieu se veldteorie (kyk 3.3.4) is gewys op die belang van die begrip habitus as ʼn bepalende praktyk in rangordening. Met betrekking tot die verband tussen literatuuropvattings en habitus skryf Van Rees en Dorleijn (2006:94–95 [my voetnoot]) die volgende:

‘Habitus’ is het sociale zoals dat in het individu geïncorporeerd is, om het kort te zeggen; het zijn de verworven ‘disposities’ in de vorm van waarnemingsschema’s ‒ classificatieschema’s, waarderingsschema’s ‒ die het individueel gedrag in het veld bepalen; het individu, of liever de actor, heeft zich een praktisch gevoel voor de regels van het spel eigen gemaakt.40 Explicieter in de richting van literatuuropvattingen

geformuleerd: de poëtica van een auteur is een belangrijk bestanddeel van zijn habitus […].

Skrywers speel uiteraard ʼn belangrike rol in beeldvorming deurdat hulle deurgaans self materiaal vir die beeldvorming voorstel (Van Rees & Dorleijn, 1993:6). Om aandag op hul

40 Soos wat dit uit die bespreking in Hoofstuk 7 sal blyk, is Francois Smith, op grond van sy rol as

werk te vestig, kan verskeie strategieë ingespan word. Volgens Van Rees en Dorleijn (1993:7‒8) kan skrywers die fokus op vernuwende aspekte plaas en gevestigde skrywers as “ouderwets” en “voorbij” karakteriseer. Van Coller (2009:124) herinner aan die hewige stryd wat met die vestiging van die Dertigers en die Sestigers, die twee belangrikste skrywersgroeperinge in die Afrikaanse letterkunde, gepaardgegaan het. Volgens Van Coller geskied “[d]ie skeppende figuur se kanoniseringsaktiwiteite […] ook nie altyd met presies dieselfde doel as die van die ‘gewone’ kanoniseerder nie” en is daar dikwels as “ʼn versweë doelwit” die skepping “van ʼn klimaat waarbinne die eie kuns sou kon gedy” (Van Coller, 2009:129). Daarom word daar “veral aanvanklik standpunt ingeneem teen die onmiddellike voorgangers” (ibid.).41

Ander strategieë waardeur die skrywer aandag op sy/haar werk kan vestig, is om hom- /haarself, deur die gebruik van bepaalde literatuuropvattings, in poëtikale geskrifte soos programnotas, manifeste, essays en tydskrifte herkenbaar te manifesteer (Van Rees en Dorleijn, 1993:8). Die aanvanklike beeld wat van die skrywer gestel is, word dan deur kritici aangepas of gereproduseer. Die leiding en invloed van kritici kring dan ook uit na ander instellings en veral die literatuuronderrig. Van Rees en Dorleijn (ibid.) maak derhalwe die afleiding dat prosesse van beeldvorming dus tot ʼn groot mate deur literatuuropvattings bepaal word.

In hul navorsing oor beeldvorming skenk Van Rees en Dorleijn, in navolging van Viala (vergelyk Van Rees & Dorleijn, 1993:16–17; kyk ook 4.1), nougeset aandag aan die konteks waarbinne skrywers funksioneer. Voorts gaan hulle van die standpunt uit dat die gebruik van literatuuropvattings instrumenteel in beeldvorming is. Die skrywers verduidelik dat literatuur, soos ander kunsvorme, uit meer as slegs ʼn versameling materiële objekte bestaan en dat, sonder die tussenkoms van die literatuurbeskouing (die kommentaar oor die artistieke kwaliteit van die boek), die boek nog nie literatuur is nie. Van Rees en Dorleijn (1993:17) herinner daaraan dat, wanneer die leser vir die eerste keer met die boek in aanraking kom, hy/sy nouliks kan ontkom aan kommentaar oor die boek. Voorbeelde van sodanige kommentaar sluit in die advies van kennisse, flaptekste,42 resensies, uittreksels uit boeke of dele in literatuurgeskiedenisse, literêre rubrieke in tydskrifte, artikels in literêre en vakwetenskaplike tydskrifte en die verslae van keurders vir literêre pryse (asook wie die keurders is). Sonder dat hy/sy die boek gelees het, beskik die leser dus reeds oor ʼn beeld

41 Vergelyk ook Van Coller (1999a:9) se verwysing na die polemiek tussen Opperman en Van Wyk

van die gehalte van die boek en die skrywer daarvan. Daarom is die beeld op sigself ʼn sosiale realiteit.

Alhoewel publikasie ʼn noodsaaklike voorwaarde vir skrywerskap is, onderstreep Van Rees en Dorleijn (1993:18) die feit dat dit nie die enigste doel is waarna die literêre skrywer of kritikus streef nie. Daar is ook ʼn strewe na erkenning: “erkenning van zijn kwaliteiten als literair auteur of als deskundige die in staat is de hoedanigheid en waarde van (nieuw) werk te beoordelen”. Hierna word algemeen as die simboliese produksie van literatuur verwys. Aangesien absolute en eenduidige kriteria ontbreek, is waardetoekenning altyd relatief van aard en hang dit saam met die waarde wat aan ander tekste toegeken word. In die geval van ʼn debuut is die naam van die uitgewer ʼn belangrike aanduiding. Ander aspekte wat as waardebepalend genoem word, is die name van reeds gevestigde skrywers wat op die uitgewery se fondslyste figureer, die uitsprake van gewaardeerde en hoogaangeskrewe kollegas en, soos reeds genoem, die reputasie van die uitgewer (ibid.)

Beeldvorming van literêre werke word ook gekenmerk deur orkestrasie, wat beteken dat die kommentaar en waardeoordele wat deur verskillende literatuurbeskouers oor die werk van dieselfde skrywer uitgespreek word, mettertyd toenemend ooreenstem (Van Rees & Dorleijn, 1993:18; vergelyk ook Van Rees & Dorleijn, 2006:91).43 Voorts rig kritici hulle dikwels op die uitsprake van die skrywer self: “Binnen de ideologie van de auteur als schepper, wordt de auteur in staat geacht om de achterliggende motieven, intenties en betekenissen van het eigen werk te kunnen doorgronden of althans te kunnen controleren” (Van Rees & Dorleijn, 1993:19). Daarom kan die rol van die skrywer self in die beeldvorming nooit onderskat word nie.

3.5 Nathalie Heinich se kunssosiologie: ʼn sosiologie van die uitsonderlike