• No results found

HOOFSTUK 3 ‒ VELD OF SISTEEMTEORIEË

3.2 Die konstruktivistiese variant: Siegfried J Schmidt en Niklas Luhmann

nuwe benaderings soos resepsie-estetika, polisisteemteorie, empiriese literatuurstudie, konstruktivisme of dekonstruksie op literêre navorsers se beskouings met betrekking tot onderwerpe, probleme, metodes en doelstellings. Ten einde te bevestig dat daar wel ʼn invloed uitgeoefen is, moet aan die volgende voldoen word (Schmidt, 1997:119 [oorspronklike kolparagrawe]):

 Dit is ontoereikend om literêre tekste geïsoleerd van hul konteks (literêre akteurs, kultuur en die samelewing) te bestudeer. Schmidt wys derhalwe op die belang daarvan dat ʼn wetenskaplike rekonstruksie van literêre verskynsels as model moet dien vir ʼn netwerk van interaktiewe items ‒ die sisteem.

 Betekenis kan nie as ʼn ontologiese eienskap van literêre tekste beskou word nie, maar verrys binne ʼn bepaalde sosiokulturele konteks en wel uit een of ander vorm van interaksie tussen teks en leser.

 Literêre konsepte ontwikkel uit ingewikkelde sosiokulturele prosesse van kanonisering, sosialisering en ideologiese oriëntasie.

 Literêre navorsing word beoefen deur (literêre) akteurs in ʼn sosiale sisteem en in ooreenstemming met spesifieke en toepaslike reëls en norme, doelwitte en belangstellings.

 In ʼn tydperk waarin begrotings kleiner word, word die geesteswetenskappe die meeste deur besnoeiings geraak en moet daar dus goeie redes verskaf word waarom literêre studie institusioneel lewend gehou behoort te word.

In ʼn poging om bogenoemde aspekte op ʼn wetenskaplike wyse te ondersoek, stel Schmidt (1997:120) twee konsepte voor, naamlik sisteem en waarnemer. Vir hom (ibid.) bly die eis om tekste binne konteks te beskou onbeantwoord totdat daar gespesifiseer word watter (dele van) kontekste van toepassing is en watter verhoudings daar tussen die konsepte gevestig kan word: “The concept of ‘system’ seems to be a useful tool to organize the

relevant sections from the infinity of contextual ‘bits and pieces’ […]”. Die feit dat tekste, soos hierbo genoem, nie meer in isolasie bestudeer word nie, bevestig die belang daarvan dat enige vorm van tekstuele analise ʼn waarnemingsisteem voorveronderstel. Sodanige sisteem beskik oor die kommunikatiewe hoedanighede om binne ʼn empiriese sosiokulturele situasie te kan funksioneer.

Schmidt (1997:121 [oorspronklike kolparagrawe]) baseer sy uitgangspunte op dié van Niklas Luhmann27 (1927–1998) en som dit soos volg op:

 Sosiale sisteme ontstaan uit kommunikasies, dit bestaan uitsluitlik uit kommunikasies en reproduseer en onderhou sigself outopoëtikaal28 ten opsigte van kommunikasie.

 Kommunikasie is die drievoudige seleksie van boodskap, inligting en begrip.

 Uit bogenoemde twee punte volg dat individue (literêre akteurs en onderwerpe) nie deel uitmaak van enige deel van kommunikasie óf van sosiale sisteme nie, maar dat individue tot die omgewing van sosiale sisteme (en dus van kommunikasie) behoort. Vir Fokkema (1997:180) lê die waarde van Luhmann se uitgangspunte in sy beskouing dat sisteme uit ʼn netwerk van interne verhoudings tussen die elemente daarvan bestaan, dat sisteme van hul omgewings onderskei kan word en dat sisteme ʼn kenmerkende funksie relatief tot ander sisteme vervul. Hieruit maak Fokkema (ibid.), soos in 3.1.6 vermeld, die stelling dat sisteme konstruksies is wat in ooreenstemming met ʼn spesifieke belangstelling of perspektief kan verander: “if we wish to talk about the literary system at a particular juncture of, for instance, Wes-European history, we must make explicit what our specific interest or perspective is”.

Met betrekking tot die literêre sosiale sisteem stel Schmidt (1997:124) vyf strukturele dimensies of subsisteme voor: (literêre) akteurs en hul kognitiewe terreine; kommunikasie; sosiale strukture en instellings (wat mediasisteme insluit); media-aanbiedings (van literêre tekste en ander literêre verskynsels); en uiteindelik die simboliese ordening van kulturele kennis.

27 Aangesien die navorser nie Duits magtig is nie, word Schmidt (1997) en Fokkema (1997) se

besprekings van Luhmann se teorie as bronne gebruik.

28 Reinfandt (2001:276) beskryf selforganisasie en outopoëse as twee verskillende aspekte van

selfverwysing: “Autopoiesis describes self-reference with regard to a system’s ongoing and strictly immanent (re-)production of its elements. Accordingly, the term refers to a mode of organization which is characteristic of a system and determines its identity. Self-organization, on the other hand, describes self-reference with regard to a system’s translation of impulses from its environment into immanently produced structures which are constantly modified while the basic organization/identity of the system remains unchanged.”

3.2.1 Literêre akteurs

In sy verwysing na die optrede van (literêre) akteurs, noem Schmidt (1997:123) dat akteurs se sosiale handelinge altyd ‘gekleur′ word deur sosiale verhoudings, oriëntasies en beperkinge. In hierdie verband maak Schmidt gebruik van Sterbling (1991) se elite-teorie en beskryf hy die elite as individue of (min of meer georganiseerde) groepe wat, teen die agtergrond van sistemies-bepaalde doelwitte en moontlikhede, saamwerk of in stryd met mekaar verkeer. Volgens Schmidt speel die elite ʼn deurslaggewende rol in die sosiale konstruksie van realiteit, in die beskrywing van spesifieke situasies en in besluitneming. Voorts stel die elite sosiaal-relevante idees, verklarings en oriëntasies, asook simboliese sisteme wat die verkryging van kulturele kapitaal verteenwoordig voor en bekend, en stabiliseer en verander hulle ook die genoemde aspekte. Op grond van die bevoorregte posisies waar vanuit hulle optree, het die elite ʼn groot invloed op die algemene publiek. Schmidt (1997:124) noem dat (literêre) akteurs in die reël in twee groepe verdeel word, naamlik professionele en nieprofessionele akteurs. Albei hierdie groepe kan deel van die elite vorm.

Volgens Schmidt (ibid.) word die handelingsmoontlikhede van (literêre) akteurs binne die sosiale sisteem institusioneel in vier handelingsdimensies versprei, naamlik produksie, bemiddeling, resepsie en die postprosessering van literêre verskynsels. Hierdie vier handelingsdimensies is die hoofargumente in Schmidt se teoretiese en metodologiese raamwerk waarna kortweg as ESL (empiriese studie van literatuur) verwys word. In ESL word daar op onderwerpe gekonsentreer wat ʼn (bewysbare) sosiale impak sou kon hê en word vrae gestel oor die funksie van die literêre instruksie ‒ wat die langtermyngevolge daarvan is en hoe studente hierdie deel van hul opvoeding verstaan (Schmidt, 2010:5). 3.2.2 Kommunikasie

Schmidt (1997:121) verduidelik dat kommunikasie (teoreties) dus self tot (literêre) akteur gemáák word deurdat kommunikasie sigself waarneem, deurdat kommunikasie verdere kommunikasies op grond van verbindingsmoontlikhede ‘kies′ en deurdat kommunikasie sigself deur outopoëse reproduseer.

3.2.3 Sosiale strukture en instellings

Twee ontwikkelinge gedurende die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu het veranderinge in ESL genoodsaak (Schmidt, 2010:6). Schmidt wys op die invloed wat die bekendstelling van private uitsaaidienste (1980’s) en die vinnige groei van die internet

Deur hierdie nuwe media is globalisering bevorder, die arbeidsituasie is verander en persoonlike en sosiale verhoudings is beïnvloed: “Media systems served as instruments by which societies observed themselves and by which media systems observed one another” (ibid.). Voorts het sosiale veranderinge met ʼn filosofiese verandering gepaardgegaan. Hierdie verandering, bekend as radikale konstruktivisme, het ʼn invloed op die toekoms van ESL uitgeoefen: “This philosophical school’s designations include the constitutive role of observation and description, of self-organization and self-reference, and of autopoiesis” (ibid.). As die belangrikste uitgangspunt in hierdie benadering noem Schmidt dat die mens self sy/haar wêreld konstrueer: “what we experience as objects in our world of experience results from processes we perform according to our conditions of actions” (ibid). Met betrekking tot die waarneming van realiteit as ʼn konstruksie, skryf Fokkema (1997:179) dat die mens die wêreld konstrueer tot dié mate waartoe hy/sy dit kan waarneem en wel op maniere wat deur die beperkte kapasiteit van sy/haar eie biologiese sisteem moontlik is. In sy teorie stel Schmidt die wêreld dus as ʼn menslike skepping voor.

3.2.4 Media-aanbiedings

Ten opsigte van die mediakultuur noem Schmidt (2010:6) dat in die behandeling van literatuur daar binne enige mediakulturele samelewing rekening gehou moet word met die feit dat literatuur slegs een medium tussen ander is en dat dit in kompetisie met ander media is.29 Voorts moet onthou word dat die beheer van media-aanbiedings deur die totale mediasisteem van ʼn samelewing vasgestel word. Ter verduideliking van hierdie stelling noem Schmidt dat die literêre in die mediasisteem van ʼn samelewing ingebed is. Nuwe media poog om tradisionele konsepte van die skrywer, die ontvanger, betekenis, verspreiding, inligting, kreatiwiteit, fiksie, ensovoorts te transformeer. Binne die literêre sisteem kan die betekenis van konsepte slegs verstaan word ooreenkomstig ʼn beskrywing van die betekenisverskil vis-à-vis ander mediasisteme. Aangesien die beeldvorming van Bibi Slippers, veral deur die gebruik van nuwe media, ʼn uitstekende voorbeeld van die genoemde transformasies is, word haar beeldvorming later in hierdie proefskrif (kyk Hoofstuk 8) binne die raamwerk van Luhmann se kommunikatiewe sisteemteorie (soos aangepas deur Schmidt met sy akteur-georiënteerde benadering) ondersoek.

29 Soos uit die bespreking in Hoofstuk 8 sal blyk, is Bibi Slippers intens hiervan bewus en benut sy ook

3.2.5 Die simboliese ordening van kulturele kennis

Volgens Schmidt (2010:7) voorveronderstel die opkoms van ʼn samelewing ʼn raamwerk van kategorieë waardeur die semantiese oriëntasie van die lede met betrekking tot belangrike aspekte van sosiale lewe moontlik gemaak kan word. Hierdie model staan as die model van die realiteit van ʼn samelewing bekend en word in spesifieke terme as die kollektiewe kennis van die lede van ʼn samelewing beskryf.30 Met betrekking tot kulturele kennis spreek Fokkema (1997:180–181) die mening uit dat hierdie soort kennis die grondslag van estetiese konvensie vorm: “if texts are intended to be read as literature or for other reasons elicit a literary response, the text processing is not to be geared towards a testing of factual truth or towards immediate practical application, but rather towards the cognitive and emotive assimilation of general beliefs or models of behavior”. Ter verduideliking wys Fokkema (1997:182) op drie stadia van lees:

 Die historistiese poging tot kontekstualisasie

 Die toeskrywing van simboliese betekenis wat saamhang met dekontekstualisering (algemene oortuigings en gedragsmodelle word uit die teks afgelei)

 Rekontekstualisering, wat verwys na die verbinding van algemene oortuigings en gedragsmodelle met die leser se eie leefwêreld (algemene oortuigings word spesifieke oortuigings terwyl gedragsmodelle oorgaan in konkrete aksie)

Teen die agtergrond van hierdie drie leesstadia maak Fokkema (ibid.) die afleiding dat die sentrale aktiwiteite binne die literêre sisteem hoofsaaklik deur die estetiese konvensie gekenmerk word.