• No results found

ʼn Evaluering van en vergelyking tussen die verskillende veld of sisteemteorieë

HOOFSTUK 3 ‒ VELD OF SISTEEMTEORIEË

3.7 ʼn Evaluering van en vergelyking tussen die verskillende veld of sisteemteorieë

In hul bespreking van vyf veld- of sisteemteorieë (kyk inleiding tot Hoofstuk 3) identifiseer De Zepetnek en Sywenky (1997:3) ʼn skeidingslyn tussen drie groeperinge: Bourdieu en Luhmann, wat versigtig is in hul argumentering teen die hermeneutiese tradisie in literêre navorsing;47 Even-Zohar, wat sy teoretiese raamwerk in ʼn bemiddelingsposisie plaas; en Schmidt, wat daadwerklik ʼn breuk met die hermeneutiese tradisie verdedig en sowel sisteemteorie as die konsep van die empiriese inspan.

Soos wat uit die bespreking van veld- of sisteemteorieë na vore gekom het, blyk dit dat navorsing met betrekking tot postuur en beeldvorming in die besonder op die werk van Bourdieu, Heinich en Meizoz steun. Waar Meizoz voortbou op die veldteorie, verwerp Heinich dit op grond daarvan dat Bourdieu, volgens haar, ʼn sosiaalreduksionis is wat te veel klem plaas op die objektiewe en onpersoonlike met weinig aandag aan juis dίt wat van belang is in die wêreld van die kunste, naamlik die uitsonderlike, die buitengewone of die unieke (Bongers, 2011:15).

Alhoewel Bourdieu se veldteorie ʼn nuttige analitiese model verskaf waarbinne sosiale strukture by wyse van ʼn rangordelike, georganiseerde reeks velde ondersoek kan word, is dit tog nie bo kritiek verhewe nie. Die onderstaande word as die vernaamste punte van kritiek genoem:

 Daar is elemente van Bourdieu se werk wat nie “getransponeer kan word na ʼn eietydse situasie in ʼn ander letterkunde nie” (Bonthuys, 2016:35). Dit was veral Bourdieu, wat ook bekend gestaan het as die ‘smaaksosioloog′, wat smaak as ’n kriterium vir die tref van ’n klasonderskeid beskou het. Bourdieu se teorieë oor die homologie van klas, habitus en smaak hou nie rekening met die beskouing (ibid.; vergelyk Verdaasdonk, 2008:75) dat hoër opgeleide persone geneig is tot kulturele ‘omnivoor′-gedrag nie. In hierdie verband wys Van Coller (2011:72)48 op die belangrike kulturele verskuiwings wat gedurende die negentigerjare van die vorige

47 In hierdie verband skryf Reinfandt (2001:278) soos volg: “Perhaps the most distinctive feature of

the approach is its programmatic anti-hermeneutical stance, which problematizes many of the traditional pursuits of literary studies, such as reading texts and the writing of literary history based exclusively on the reading of texts.”

eeu plaasgevind het ‒ van die “‘highbrow snob’”, wat slegs in hoë kultuurvorme belangstel, na die sogenaamde omnivoor, wat oop is vir verskeie kultuuruitinge. Volgens Van Coller (ibid.) beteken laasgenoemde nie dat onderskeidings tussen kultuurvorme geminag word nie, maar dui dit eerder op “’n houding van kultuurrelativisme” waarbinne dinge binne eie verband en volgens eie voorwaardes begryp en geniet word. Daar is dus ʼn teenstrydigheid in Bourdieu se werk met betrekking tot habitus, klas en legitieme smaak. Bonthuys (2016:35) wys op Bourdieu se verklaring dat dit doelloos sou wees om die agent se sosiale agtergrond direk te knoop aan sy/haar habitus en posisie in die veld: “One ceaselessly has to combat the tendency to reduce an explanation relying on the relation between a habitus and a field to a direct and mechanical explanation by ‘social origin’” (Bourdieu, 1996a:83 [oorspronklike kursivering]). Tog is Bourdieu soms geneig “om dieselfde praktyk voor te staan as dit gaan om smaak, aangesien hy heelwat skryf oor die homologie tussen die sosiale hiërargieë en subvelde binne die literêre velde” (Bonthuys, 2016:35–36).

ʼn Tweede punt van kritiek is dat Bourdieu Aquinas ‒ van wie hy die begrip habitus geleen het ‒ se onderskeid tussen habitus corporis en habitus animae buite rekening laat: “the former but not the latter being outside the individual’s will and control. […]. In consequence, the habitus, in Bourdieu’s conception of it, appears both exigent and unchangeable to an excessive degree” (Goldthorpe, 2007:6 [oorspronklike kursivering]).

 In haar kommentaar op Bourdieu se habitusbegrip wys Jacobs (2016:30) op Sheffy (1997:37) se beswaar dat Bourdieu se siening van habitus as “verinnerlikte stelle ingesteldhede” eensydig en meganies is omdat sy beskouings “die heterogeniteit en dinamika van kulturele repertoriese keuses en individuele variasies binne die gegewe sosiale formasies buite rekening laat”. Gevolglik is daar ʼn negering van “die moontlikheid dat ʼn agent verskillende verhoudings (byvoorbeeld familie, beroep, etnisiteit) met betrekking tot sy habitus kan gebruik”:

What lacks in this view is the understanding, so integral to the notion of cultural repertoires in the Polysystem theory, of the conventional nature, and hence the relative autonomy, of repertoric options (subject to the dynamic of models formation […]), which, once established, may not only endure beyond the social conditions which initiated them, but also constrain ‒ or even initiate ‒ other social formations (Sheffy, 1997:38 [oorspronklike kursivering]).

Anders as by Bourdieu, in wie se veldteorie daar weinig ruimte vir die uitsonderlike is (Bongers, 2011:15), laat Meizoz en veral Heinich se teorieë ruimte vir buitengewoonheid. In

ʼn kritiese evaluering van Heinich se kunssosiologie, identifiseer Laermans (2000:4-5) egter die volgende leemtes:

 Aan die een kant bepleit Heinich ʼn neutrale en beskrywende sosiologie wat op (literêre) akteursinterpretasies en -evaluerings fokus. Hierdie metodologie gee aanleiding tot empiries-meervoudige, sosiologiese interpretasies van kontemporêre kuns. Daarteenoor identifiseer Heinich met slegs een evalueringsregister binne die breë spektrum van akteursinterpretasies, naamlik dié van individualiteit (die professionele register).

 ʼn Tweede punt van kritiek is die feit dat Heinich nie ʼn duidelike onderskeid tussen individuele gedagtes en publieke kommunikasies tref nie: “In line with Emile Durkheim’s sociology of collective consciousness, Heinich assumes that the observed positive or negative communicative reactions to works of art, refer to personal beliefs and conscious moral attitudes or to individual mental representations […]” (Laermans, 2000:5). Laermans is van oordeel dat Heinich die sosiologie van die kunste beperk tot die analise van artistieke werksaamhede en in die besonder metakommunikasie oor artistieke kommunikasie.

 Derdens weerhou Heinich haar daarvan om ʼn eenvoudige ontologiese definisie van die konsep artistieke gebeurtenis te verskaf. Volgens Laermans is die wêreld vol gebeurtenisse, maar moet sodanige gebeurtenisse waargeneem en gekommunikeer word om as gebeurtenisse bestempel te kan word. Op grond van die kommunikatiewe aard van sosiaalgekonstrueerde gebeurtenisse, is daar verskillende vorme of formate waarin oor gebeurtenisse gepraat kan word. Die individualisering van ʼn kunswerk as ʼn gebeurtenis sal dus nie dieselfde in interaktiewe situasies geskied as in die media of in ander artistieke organisasies met hul openbare kommunikasie nie.

Soos wat dit uit die bespreking in 3.6 blyk, is Meizoz se begrip postuur funksioneel in die beskrywing van ʼn skrywer se posisionering in die literêre veld. Alhoewel De Geest die waarde en belang van Meizoz se navorsing erken, identifiseer hy tog die volgende tekortkominge:

 Meizoz se ontledings van die skrywer as ʼn tekstuele kategorie laat ʼn hibriede en intuïtiewe indruk: “Meizoz blijft immers hoofdzakelijk geïnteresseerd in de analyse van individuele posturen, waardoor die individualiteit en vermeende originaliteit onvoldoende gethematiseerd en geproblematiseerd worden” (De Geest, 2013:61).

 Ahoewel Meizoz (2010:85), soos reeds genoem (kyk 3.6), die verband tussen sy begrip postuur en ʼn repertorium van verskillende literêre posture erken, is sy betoog, volgens De Geest, uiteindelik gerig op die rekonstruksie van een soort homogene en konsekwente skrywersportret. Volgens De Geest (ibid.) heg Meizoz te veel waarde aan die uitsprake van skrywers oor hul eie skrywerskap ‒ uitsprake wat nie altyd samehangend en teoreties begrond is nie.

 Voortspruitend uit die genoemde neiging tot homogenisering, skenk Meizoz nouliks aandag die spesifieke oogmerk van ʼn uitspraak: “Poëticale informatie in een manifest is iets totaal anders als dezelfde uitspraak in de loop van een recensie (als reactie op het werk van anderen), en een interview verschilt fundamenteel van privé- briefwisseling of ongepubliceerde kladaantekeningen” (ibid.). In hierdie verband is Even-Zohar (kyk 3.1) se stelling dat daar binne die sisteem altyd gekyk moet word na watter uitgangspunte teoreties doelmatig is, dus ter sake.

Wanneer daar oor die verwerwing van ʼn posisie in die veld gepraat word, kan die belang van die skrywer se debuut nooit genoeg beklemtoon word nie. Alhoewel Meizoz ʼn debuut beskryf as die moment waartydens die (literêre) akteur “na buite tree” en vir die eerste keer, deur die inname van ʼn postuur, ʼn akteur in die literêre veld word, bestee hy, volgens Bongers (2011:13) weinig aandag aan hierdie belangrike moment. Dit is in teenstelling met Bourdieu wie se navorsing rakende die rol van debutante as een van sy grootste bydraes beskou word (Janssen, 1994:16).

Soos in die openingsparagraaf van hierdie afdeling genoem, is Luhmann (en Bourdieu), in teenstelling met Schmidt ‒ wat daadwerklik ʼn breuk met die hermeneutiese tradisie verdedig en sowel sisteemteorie as die konsep van die empiriese inspan ‒ versigtig in sy argumentering teen die hermeneutiese tradisie in literêre navorsing. As die belangrikste verskil tussen sy eie en Luhmann se beskouing, noem Schmidt (1997:126) die feit dat Luhmann uitsluitlik op kommunikasies fokus. Luhmann is van mening dat sistemiese kommunikasie onafhanklik van (menslike) aksie beskou moet word (Reinfandt 2001:278). Daarteenoor is Schmidt se belangstelling op die onderlinge samestellende interafhanklikheid van sosiale (literêre) akteurs, sosiale kommunikasies, kollektiewe kennis en die media gerig (ibid.). Terwyl Luhmann se beskouings dus kommunikasiegeoriënteerd is, is Schmidt se benadering agentgeoriënteerd (Fokkema, 1997:184). As kritiek teen Luhmann se teorie noem Fokkema (1997:177) dat eersgenoemde die stelling maak dat die sisteme bestaan, maar dat hy ʼn belangrike vraag vermy, naamlik wat presies bedoel word wanneer die woord sisteem in verskillende gevalle gebruik word: “What it should tell us is 1) how to distinguish a particular system from its environment; 2) how to investigate the functions of a system

with respect to adjacent systems; and 3) how to study the constitutive elements of a system, including their mutual relations.”

Vroeër in hierdie afdeling is verwys na Schmidt se beskouing van realiteit as ʼn menslike skepping. Fokkema (1997:179) vestig die aandag op die universalisme in Schmidt se denke: “All that he says must be applicable under all circumstances, which prevents him from commenting on specific cultural phenomena since cultural activities cannot be discussed in terms of universals.” In sy kritiek noem Fokkema (ibid.) dat konstruktiviste, soos Schmidt, hulle tot die gevolgtrekking verbind dat menslike kommunikasie moontlik is op grond van ooreenstemmende ervarings wat ooreenstemmend geïnterpreteer word: “In their terminology communication is possible, not because it refers to a reality which is somewhere out there, but because people apparently refer to similar experiences (synreferentiality).” Konstruktiviste verwerp dus die hipotese dat daar ʼn realiteit onafhanklik van die mens se begrip daarvan bestaan. Ten einde sy universalistiese perspektief te staaf, gaan Schmidt van die standpunt uit dat alle waarnemings relatief is. Hierdie siening is aanvegbaar. Fokkema (ibid.) wys op die feit dat sodanige beskouing empiriese navorsing in wese onmoontlik maak, aangesien empiriese navorsing slegs onderneem kan word onder omstandighede waar alle mense wesenlik dieselfde idees oor die sosiale realiteit huldig. As antwoord op die vraag of hy homself as ʼn realis ten opsigte van sy verstaan van die wêreld beskou, antwoord Simon Blackburn, professor in filosofie aan die Universiteit van Cambridge, soos volg:

Yes, I would. I think that as far as our central basic understandings are concerned ‒ the understanding of myself as having an occupation in space, a special location, as being surrounded by objects which are reasonably stable and enduring in space, and everything else that might be considered within the common-sense view of the world ‒ I don’t think there’s any serious option except to be a realist (Blackburn, 2009:6).

Uit die voorafgaande bespreking blyk dit duidelik dat, ten spyte van die waarde en belang van die werk van Even-Zohar en Bourdieu (en in navolging van Bourdieu ook die werk van Heinich en Meizoz), asook die teorieë van Luhmann en Schmidt, daar steeds ʼn behoefte bestaan aan ʼn wetenskaplike benadering waarbinne die komplekse denkbeelde wat gedurende die afgelope eeu oor literatuur ontwikkel het, ondersoek kan word. Vir hierdie doel het die Nederlandse veldteoretici Kees van Rees en Gilles Dorleijn (soos in Afdeling 3.4 uiteengesit) ʼn tweeledige ondersoekterrein voorgestel waarin komplementêre benaderings en ondersoekperspektiewe geïntegreer word. Die rekonstruksiemodel is egter nie sonder leemtes nie en Van Rees en Dorleijn (1993:11) identifiseer self twee probleemgebiede, naamlik die rekonstrueerbaarheid van die poëtika of literatuuropvatting en die toepas- baarheid daarvan. Hulle maan navorsers derhalwe tot versigtigheid wanneer verbande

tussen ʼn bepaalde tipe literatuuropvatting en literêre werke gelê word (Van Rees & Dorleijn, 1993:12). Vanweë die normatiewe en spekulatiewe aard van literatuuropvattings, waarsku hierdie outeurs dat literatuuropvattings as literêre ideologieë (dus ook as hipotetiese (re)konstruksies) en nie as teorieë behandel moet word nie (Van Rees & Dorleijn, 2006:25). Een van die doelstellings van die onderhawige studie is die ondersoek na die produksie van simboliese waarde. Op grond daarvan dat ideologiese, maatskaplikgebonde standpunte onderliggend aan literatuuropvattings is, bied Van Rees en Dorleijn se geïntegreerde benaderingswyse ʼn waardevolle oorkoepelende raamwerk vir hierdie studie.

3.8 Samevatting

Soos in die voorafgaande twee hoofstukke aangetoon, word die skrywer in die werk van Roland Barthes, Michel Foucault (kyk 2.3.4; 2.3.5) en Pierre Bourdieu (kyk 3.3) losgemaak van sy/haar werk – by Barthes en Foucault deurdat die skrywer as ʼn betekenisgewende konstruksie buite spel geplaas word. Bourdieu (1993:42), op sy beurt, plaas die skrywer as ʼn agent in die literêre veld en noem dat “[t]he established definition of the writer may be radically transformed by an enlargement of the set of people who have a legitimate voice in literary matters”. In Nathalie Heinich se kunssosiologie, waarin individualiteit en buitengewoonheid die maatstawwe is waaraan sukses gemeet word, word die aandag toegespits op die kunstenaarsidentiteit, op die loopbaan van die kunstenaar en op belangrike momente wat ʼn rol daarin speel ‒ aspekte van posisionering wat deur Jérôme Meizoz se begrip postuur saamgevat kan word. In die nuwer paradigmas het die sender dus weer sy/haar regmatige aandeel in die literêre proses verkry en is die sogenaamde ‘senderkode′ gerekonstrueer, veral aan die hand van teoretiese en persoonlike geskrifte deur die sender self (Van Coller, 1983:108).

HOOFSTUK 4