• No results found

HOOFSTUK 4 ‒ BEELDVORMING

4.2 ʼn Meervoudige waarnemingsveld

4.2.4 Heterovoorstelling

4.2.4.4 Literêre pryse

In die strewe na simboliese kapitaal, is die verwerwing van ʼn literêre prys ʼn uiters belangrike gebeurtenis in ʼn skrywer se postuur. English (2005:10) stel dat literêre pryse die mees geskikte instrument is vir die onderhandeling van transaksies tussen kulturele en ekonomiese, tussen kulturele en sosiale en tussen kulturele en politiese kapitaal. Ook Dović (2010:169) wys op die belangrike rol wat nasionale en internasionale literêre pryse speel ten opsigte van die ikoonstatus wat skrywers, deur die toedoen van die media, verwerf. Hambidge (2008:s.bl.) noem tereg dat “[d]it wat bekroon word”, deel raak van die “geheuebank”. Hier is dus sprake van ʼn skrywer se sosiale kapitaal. Benewens die aanmoediging wat ʼn prys verskaf, bied dit ook “(broodnodige) finansiële steun aan pryswenners (deur prysgeld en/of verhoogde verkope)” (Galloway, 2014:s.bl.; kyk ook 3.5). In sy bespreking van die rol wat literêre pryse binne die literêre veld vervul, maak Squires (2004:42) gebruik van Adams en Barker (1993) se skema waarvolgens die bestudering van ʼn boek in vyf fases geskied, naamlik publikasie, produksie, verspreiding, resepsie en voortbestaan. Aangesien literêre prystoekennings veral met die resepsiefase verbind word, word die onderstaande bespreking nie in ooreenstemming met die oorspronklike volgorde (soos in Adams en Barker se model) aangebied nie.

59 Die term satura is afgelei van die Latynse word satira wat “ʼn bont mengelmoes of ʼn

deurmekaarspul” beteken. Oorspronklik het die term verwys na ʼn Latynse poëtiese vorm bestaande uit ʼn lang gedig wat dialoog bevat. Dit was in heksameters geskryf en het met die swakhede en wanpraktyke van die gemeenskap gespot (R. Pretorius, 1992c:464).

60 R. Pretorius (1992a:370) verduidelik dat die parodie as ʼn soort ‘newelied′ (Grieks: parodia: para ꞊

langs; ode ꞊ ʼn lied) oorspronklik op die lagwekkende nabootsing van ʼn bekende, ernstige gedig gedui het. As ʼn vorm van literêre kritiek, gewoonlik as ʼn subtiele en indringende evaluering van die teikenteks, is die opvallendste kenmerk van die parodie, volgens Pretorius, die feit dat die

wesenstrekke van die teikengroep op so ʼn wyse nageboots kan word dat die foute oordryf word en dat gekunsteldheid, ʼn uitspattige styl of ander gebreke onderstreep word. Soms word elemente uit die teikenteks herskep tot ʼn nuwe rol en status.

61 Volgens R. Pretorius (1992b:375) is die Franse begrip persiflage afgelei van persifler wat beteken

om op ʼn kwaadwillige wyse te skerts, te pla of gek te skeer. Dit kom ook voor wanneer daar op ʼn lighartige, oneerbiedige wyse met ʼn tema of onderwerp omgegaan word.

62 Grové (1992:157) voer die term hekeldig terug na die Nederlandse woord hekel (ʼn vlaskam) wat

verwys na ʼn gedig wat ten doel het “om te ‘roskam’, ʼn onreg te ontmasker en met spot, sarkasme of oordrywing ʼn misstand uit die weg te probeer ruim”.

63 In haar proefskrif verskaf Bonthuys (2016) ʼn omvattende bespreking van literêre pryse as ʼn vorm

(i) Resepsie

Die belangrikste rol van pryse is die erkenning en beloning van gehalte. Daarom is die resepsiefase en die kriteria waarvolgens beoordeling plaasvind, asook die kriteria waarvolgens beoordelaars aangestel word, van groot belang in die evaluering (Squires, 2004:42). Omdat literêre pryse, net soos literêre kritiek, ʼn vorm van literêre evaluering is, stem die argumente wat deur beoordelaars ingespan word, ooreen met dié wat in 4.2.4.3 bespreek is (vergelyk ook Bonthuys, 2016:90). Uit ʼn analise van beskikbare commendatio’s,64 lys Kleyn (2013:108–109 [oorspronklike kolparagrawe]) die volgende as motiverings vir toekennings en die vereistes wat aan tekste gestel word:

 Tekste moet boeiend en leesbaar wees.

 Morele, etiese en filosofiese insigte in die tema van die boek moet sigbaar wees.  Die wyse waarop die teks gestruktureer is

 Kompleksiteit en verwikkeldheid

 Oorspronklikheid, vreemdmaak van die alledaagse en ʼn onderskeidende stem is ʼn aanbeveling.

 Taalgebruik moet ‘onparafraseerbaar′ wees.

 Kreatiewe omgaan met die sintaksis en die vermyding van clichés  Intieme kennis van dit wat aangeraak word in die teks

 Tematiese ruimheid

 Die gebruik van aktuele en relevante temas  Die voortsetting van bestaande literêre tradisies  Die gebruik van intertekstuele verwysings

Behalwe dat prystoekennings kanoniserende handelinge is wat reputasies vestig of versterk, vestig of versterk dit ook bepaalde poëtikale uitgangspunte (Van Coller, 2010:491).

Oor die keuse van beoordelaars skryf English (2005:122): “it is the first axiom among prize administrators that the prestige of a prize is reciprocally dependent on the prestige of its judges”. Volgens De Nooy (1988:532) hou die aanstelling van beoordelaars direk verband met status:

A prominent expert will not be inclined to accept seats in many juries for literary prizes deemed inferior; this might cost the expert his/her reputation. In contrast, the people forming juries will not like to hazard the reputation to their prize by recruiting many judges deemed insignificant.

64 Individuele keurdersverslae is moeilik bekombaar in die Afrikaanse literêre sisteem.

Mediavrystellings berus meestal op die commendatio of op ʼn samestelling van grepe uit

Die smaak van die beoordelaars word dikwels die oorkoepelende smaak van die prys: “for this reason the value of the prize’s judges plays a very significant role in determining its prestige” (Kiguru, 2016:45). Laasgenoemde outeur noem voorts dat beoordelaars gewoonlik op grond van die simboliese kapitaal wat hulle aan die prys kan toevoeg, gekies word: “The symbolic value of a judge is sourced from their experience in the cultural field that they are expected to judge as well as from their participation in other prestigious prizes as juries or winners.”

Aangesien die oorspronklike borgskappe dikwels nie genoeg is om al die uitgawes verbonde aan ʼn prys te dek nie, word organiseerders dikwels genoop om van hul netwerke van professionele en persoonlike verbintenisse gebruik te maak in die aanstelling van beoordelaars (Bonthuys, 2016:95).

(ii) Verspreiding

Op grond van die prestige en die bydrae wat dit tot hul fiksielyste lewer, is pryse ʼn groot bron van simboliese kapitaal vir uitgewerye (Galloway, 2014:s.bl.). Literêre pryse dra dus positief by tot die verspreiding van ʼn boek (Squires, 2004:42). Die verskynsel van literêre glanspersone (kyk 4.2.1.2) speel eweneens ʼn belangrike rol in verspreiding:

[The fact that] authors and their lives are promoted as heavily as the books themselves, is closely connected to prize culture and the promotional circuit, to the glamour of the award ceremony and the public appearance of the literary creator. This role has a direct link to sales, and hence the economic capital accrued by the title, but it is also linked to the mediating journalistic capital referred to by English (Squires, 2004:43).

(iii) Voortbestaan

Na Squires (2004:43) se mening is ʼn literêre prys een van die eerste stappe in sowel die kanoniseringsproses as die deurlopende aanwesigheid van sekere tekste in boekwinkels en biblioteke jare ná die aanvanklike publikasie. Die tydsverloop tussen publikasie en bekroning speel egter ook ʼn rol in die voortbestaan van ʼn werk. In ʼn ondersoek na die gradering van ʼn kunswerk kort na die produksie daarvan, na die ekonomiese sukses daarvan (ten opsigte van verkope), asook die langtermyn-reputasie van die werk, kom Ginsburgh (2003:100) tot die gevolgtrekking dat “prizes awarded shortly after the production of an artwork or rankings that result from competitions are correlated with economic success and may influence or predict it, but are poor predictors of true aesthetic quality or survival of the work”.

(iv) Produksie

Alhoewel die finale rol wat Squires aan literêre pryse toedig direk met produksie skakel, hou dit verband met al vyf fases in Adams en Barker (1993) se model. In hierdie verband wys Squires (2004:43, 45) op die positiewe invloed van pryse op literêre produksie (vervaardiging, verspreiding, resepsie en uiteindelik oorlewing), op die ontwikkeling en stimulering van die uitgewerybedryf (op sowel streeks- as nasionale vlak), en op die totstandkoming en ontwikkeling van skrywers- en lesersgemeenskappe.

Ten spyte van die voordeel wat die verwerwing van ʼn literêre prys vir die betrokke rolspelers inhou, staan heelwat invloedryke denkers skepties teenoor literêre pryse. Hierdie skeptisisme hou veral verband met prysborge ‒ meestal korporatiewe borgskappe ‒ asook pryse ter nagedagtenis aan ʼn belangrike figuur (Bonthuys, 2016:93; Van Coller, 2010:487). Die vraag wat onwillekeurig opduik, is of “die ‘beste’ roman wat bekroon word nie dalk ook die ‘beste’ vir die bepaalde borg” is nie (Van Coller, 2010:487). Galloway (2014:s.bl.) is van oordeel dat die borge van toekennings baat by die “bemarkingswaarde via media- blootstelling”. Van Coller (2010:487) wys op “die moontlikheid van subtiele sensuur waar die staat as borg optree en ander vorme van manipulering waar die borge van pryse en toekennings ekonomiese belange daarby het” (vergelyk ook Norris, 2006:144). ʼn Ander vorm van magsverkryging is die daarstelling van nuwe pryse waardeur ʼn persoon of ʼn groep hul eie agenda of kriterium as die uitgangspunt van ʼn prys stel om sodoende ʼn posisie in die veld te vestig (Bonthuys, 2016:92).

Van Coller (2010:488) argumenteer dat “alles daarop gemik [is] om die magspel te laat lyk na ʼn spel van verdienste”:

[…] waar Bourdieu steeds glo aan ʼn digotomiese model: kuns versus verstrooiing, anders gestel, tussen hoë en lae vorme van kuns, word vandag algemeen aanvaar dat selfs die onderhouers van die ‘hoge’ kuns besef dat die spelreëls verander het en dat kulturele kapitaal manipuleerbaar is.65

As kritiek teen Bourdieu se digotomiese model noem Van Coller (2010:490) dat dit enersyds “ietwat naïef sou wees” of andersyds dat die model “te veel gerig is op die Franse situasie waar duideliker onderskeidinge bestaan tussen ‘hoër’ en ‘laer’ vorme van kultuur”. Tog is daar gevalle waar “ook ernstige skrywers wie se outonomie dan bedreig sou word deur kommersialisering, literêre pryse, en veral die finansiële voordele daarvan, gretig aanvaar het, [sonder] om hul artistieke integriteit op te offer” (ibid.).

Van Coller (2010:491) is van mening dat borge nie bloot literêre pryse borg “omdat hulle altruïsties is óf as skutheer vir die kunste wil optree nie”, maar dat hul ondersteuning van die kunste ʼn ruiltransaksie is:

Daarom het hierdie tendens ook toegeneem in die Suid-Afrikaanse boekewêreld: Insig (saliger)-boektafeletes met televisiepersoonlikhede, Volksblad en Exclusive Books se Boek- en teeklub, boekbekendstellings by kunstefeeste (dikwels met duur kos en drank) óf skrywers wat in televisiesepies optree, is almal voorbeelde van hierdie ‘ruilhandel’.

Ander aspekte wat uiteraard ʼn rol in beeldvorming speel, is die sigbaarheid van pryse en die status van die prys. Van Coller (2010:489–490) en Kleyn (2013:105) identifiseer ʼn paar tendense wat tot groter sigbaarheid van ʼn prys bydra:

 Die skep van skynskandale, dit wil sê, kontroversie en debat

 Geheimhouding van beoordelaars se keuses en die gevolglike fisiese teenwoordigheid van die genomineerdes

 Die insluiting van sogenaamde ‘persoonlikhede′ in die pryspanele  Die weiering van ʼn prys

Smuts (2005:2) koppel die status van ʼn prys aan die volgende aspekte:  Die tydperk wat die prys reeds bestaan

 Die feit dat dit geen bemarkings- of borgskapwaarde dra nie (hoewel dit in die jongste tyd nie meer die geval is nie)

 Die prys geen beperkinge stel ten opsigte van werke wat ingeskryf kan word nie (soos bv. van ʼn bepaalde uitgewer)

 ʼn Paneel bestaande uit professionele letterkundiges  Ruimte vir uiteenlopende en onafhanklike standpunte  Kontroleerbare en deursigtige resultate

In Suid-Afrika is die volgende pryse (in alfabetiese volgorde) in die onlangse dekades toegeken:

 Die APB-prys (Perskor-prys)

Deur die toekenning van die APB-prys (1963–1966), later bekend as die Perskor-prys (1973–1985), is titels van uitstaande gehalte uit die uitgewery se eie geledere beloon (Kleyn, 2013:106). In die laat tagtigerjare het die prysgeld R5 000 beloop (Heyns, 1995:32).

 Die ATKV-prys

Die ATKV bekroon jaarliks “uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord” (ATKV, 2019:s.bl.). Die ATKV-prosaprys word toegeken aan ’n werk “met ’n boeiende storie waarby die leser emosioneel en intellektueel betrokke bly”; dit “moet ook geskik wees vir massaverspreiding en moet beskik oor goeie agtergrondnavorsing”. Die wenner ontvang tans (2019) R25 000 en ’n ATKV-Woordveertjie. ’n Addisionele R5 000 word by die prysgeld gevoeg indien dit ’n debuutwerk is (eerste gepubliseerde teks in enige genre). In die ander kategorieë, naamlik poësie (“Inskrywings moet die mees verdienstelike bundels wees wat ’n positiewe bydrae tot die Afrikaanse poësie lewer”), romans, spanningslektuur en dramatekste ontvang die wenner R10 000 en ’n ATKV-Woordveertjie (ibid.).

 Die CNA-prys

Gedurende die tydperk 1961–1997 is dié prys jaarliks aan die beste Afrikaanse en Engelse letterkundige publikasie toegeken (Kleyn, 2013:104). Die prosedure wat in die toekenning van hierdie prys gebruik is, was dat elke beoordelaar vyf boeke in voorkeurorde moes plaas. Vyf punte is dan aan die eerste keuse toegeken, vier punte aan die tweede keuse, ensovoorts (Smuts, 2005:8). Alhoewel hierdie prosedure, volgens Smuts, ʼn objektiewe indruk maak, kon dit gebeur dat die werk aan wie die prys toegeken is, nie deur een van die keurders in die eerste posisie geplaas is nie. Volgens Kleyn (2013:105) was die afskaffing van die CNA-prys te wyte aan beperkte mediablootstelling. In die laat tagtigerjare het die wenner ʼn bedrag van R7 500 ontvang en die ander skrywers op die kortlys, elk R2 500 (Heyns, 1995:32).

 Die Elisabeth Eybers-prys

Nadat digbundels saam met kortverhaalbundels, dramas en romans om die W.A. Hofmeyr- prys meegeding het, het Ronel de Goede in 2013 namens die jurie van die WA Hofmeyrprys op die prystoekenningsgeleentheid van Media24 versoek dat daar ʼn afsonderlike kategorie vir die toekenning van 'n poësieprys geskep word. Sedert 2014 word die Elisabeth Eybers- prys vir digkuns in Afrikaans of Engels jaarliks toegeken aan ʼn digbundel wat deur Media24 se uitgewerye uitgegee is (Meyer, 2013:s.bl.). Die gesamentlike prysgeld vir die ses kategorieë in die Media24-boekprystoekennings beloop tans (2019) R210 000 (Beeld, 2019:s.bl.). Slegs oorspronklike werk (geen vertalings nie) kom in aanmerking vir die prys (Terblanche, 2015c:s.bl.). Die doel van die Elisabeth Eybers-prys is om “uitnemendheid en

vernuwing aan te moedig en erkenning te gee aan digters wat die grense van die digkuns deur hul werk verskuif”.66

 Die Eugène Marais-prys

Dié prys, waarvan die prysgeld tans (2019) R17 500 beloop (Brink, 2019b), word jaarliks toegeken aan ʼn skrywer vir ʼn eerste of vroeë belletristiese werk binne enige van die drie hoofgenres. Van Coller (2010:499) wys daarop dat hierdie prys, wat uit 1961 dagteken en sedert 1971 onder die huidige naam bekend staan, as ʼn “‘aanmoedigingsprys’” dien “sodat die Hertzogprys gesien kon word as ‘gehalteprys’”.

 Die FAK-Helpmekaar-prys

Die FAK-Helpmekaar-prys is tussen 1983 en 1986 toegeken aan ʼn werk in die genre populêre fiksie (Kleyn, 2013:106).

 Die Helgaard Steyn-prys

Hierdie prys word sedert 1987 in opdrag van ʼn bemaking in die testament van regter J.H. (Jan) Steyn (1902-1983) toegeken. Die prys word vierjaarliks toegeken ‒ om die beurt aan ʼn komponis, skilder, skrywer of beeldhouer. Volgens boedelbepalings stel die rektore van die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat elk jaarliks ʼn beoordelaar uit die betrokke dissiplines aan. In 2016, toe die prys aan Willem Anker toegeken is, het die prysgeld R575 000 beloop. In finansiële terme is dit dus die grootste Afrikaanse letterkundeprys in Suid-Afrika (Cilliers, 2016:s.bl.; Van Coller, 2010:493).

 Die Hertzog-prys

Die Hertzog-prys is vir die eerste keer in 1916 toegeken uit ʼn skenking wat generaal J.B.M. Hertzog in 1914 aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gemaak het (Kleyn, 2013:104). Sedertdien word hierdie prys jaarliks toegeken aan werke wat in die voorafgaande drie jaar in een van die hoofkategorieë, naamlik poësie, prosa en drama gepubliseer is. Van Coller (2010:493) verduidelik dat die hoofgenres dus beurtelings elke drie jaar vir bekroning aan die beurt kom. Die prysgeld, wat in 2018 ʼn bedrag van R50 000 beloop het, word gedeeltelik deur Rapport geborg (Netwerk24, 2018:s.bl.). In 2019 is aangekondig dat die prysgeld na R75 000 verhoog is. Die wenner ontvang ook ʼn 18-karaat goue medalje (Brink, 2019b).

66 Vernuwing as enigste kriterium is debatteerbaar. Soos reeds in 4.2.4.3vi genoem, vorm vergelyking

(selfs wanneer vernuwingsargumente gebruik word) die basis van die literatuurwetenskap en is daar selfs in ʼn “nuwe beweging” ʼn kreatiewe soeke “na ʼn ‘eie verlede’ of aansluiting by aspekte van

 Die Jan H. Marais-prys

Die Jan H. Marais-prys word sedert 2015 jaarliks toegeken vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur werk en publikasies op ʼn hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Die prysgeld beloop tans (2019) R500 000. Die wenner ontvang ook ʼn beeldjie bekend as ‘Helpende Hand′ deur Coert Steynberg (Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2019:s.bl.).

 Die L.W. Hiemstra-prys

Die L.W. Hiemstra-prys vir niefiksie word driejaarliks toegeken (Van Coller, 2010:499). Die prysgeld beloop tans (2019) R30 000 (Brink, 2019b).

 Die W.A. Hofmeyr-prys

Die W.A. Hofmeyr-prys is in 1954 ingestel as bekroning vir die beste literêre werk in die Naspers-stal (Kleyn, 2013:106). Jare lank is daar in die toekenning van hierdie prys van drie beoordelaars gebruik gemaak, naamlik ʼn literator, ʼn joernalis en ʼn kenner van kinderboeke. Later is twee letterkundiges as beoordelaars benoem. In gevalle waar eenstemmigheid nie bereik kon word nie, is van ʼn derde letterkundige gebruik gemaak (Van Coller, 2010:493). Die W.A. Hofmeyr-prys, wat vroeër onder die Via Afrika-groep (NB Uitgewers, Jonathan Ball Uitgewers, Lux Verbi-BM, NVA en Van Schaik Uitgewers) geval het (Kleyn, 2013:107), is een van die Media24-boekpryse. Die gesamentlike prysgeld vir die ses kategorieë in die Media24-boekprystoekennings beloop tans (2019) R210 000 (Beeld, 2019:s.bl.).

 Die Ingrid Jonker-prys

Die Ingrid Jonker-prys vir poësie word sedert 1965 jaarliks afwisselend aan ʼn Engelse en ʼn Afrikaanse debutant toegeken (Kleyn, 2013:106). Die prysgeld van R10 000 is ʼn skenking deur die Dagbreek Trust (LitNet, 2019:s.bl.).

 Die Louis Luyt-prys

Hierdie prys, wat op sy dag die grootste prysgeldbedrag ter wêreld beloop het (R15 000 in 1984), is van 1978 tot 1984 toegeken (Heyns, 1995:32; Kleyn, 2013:106).

 Die M-Net Boekprys

Die M-Net Boekprys ‒ in 1990 deur M-Net (Electronic Media Network) ingestel ‒ het ʼn aanvanklike prysgeld van R30 000 en later R50 000 per kategorie gehad, wat dit een van die grootste literêre pryse in Suid-Afrika gemaak het. Die doel van die prys was om die

gehalte van romans deur Suid-Afrikaanse skrywers in enige van die elf amptelike landstale te bevorder. Daar was ook ʼn filmkategorie, toegeken aan die roman wat die grootste belofte vir herskrywing tot ʼn visuele medium ingehou het. Die prys word sedert 2013 nie meer toegeken nie (Kleyn, 2013:105; revolvy.com: s.j.:s.bl.; Sunday Times Books LIVE, 2014a:s.bl.).

 Die Nielsen Boekverkopersprys

Die Nielsen Boekverkopersprys word jaarliks aan ʼn Suid-Afrikaanse skrywer toegeken. Die wenner is die skrywer wie se boek, op grond van verkope deur die jaar, plaaslike boekverkopers se gunsteling was (Sunday Times books LIVE, 2017a:s.bl.).

 Die Ou Mutual-prys

Hierdie prys is in 1985 ingestel ter viering van die uitgewery Human & Rousseau se vyf-en- twintigste bestaansjaar. Volgens Kleyn (2013:106) het die Ou Mutual-prys tot en met 1988 uitnemende werk in vyf afdelings van hierdie uitgewery se stal bekroon en geborg. In die laat tagtigerjare het die prysgeld R5 000 beloop (Heyns, 1995:32).

 Die Protea Poësieprys

Sedert 2004 poog Protea Boekhuis om, deur die instelling van hierdie prys met ʼn prysgeld van R5 000, asook ʼn goue protea, die status van Afrikaanse poësie te bevestig (Kleyn, 2013:106).

 Die kykNET-Rapport-pryse

Die Rapportprys is sedert 1986 aan die beste debuutwerk toegeken. As gevolg van die omstredenheid rondom die toekenning van die prys aan Koos Prinsloo in 1987 vir Die hemel help ons, is die prys beëindig totdat dit in 2003 as die Jan Rabie-Rapportprys heringestel is (Kleyn, 2013:105–106). Die kykNET-Rapport-boekpryse dien as “aansporing vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as bakens in die Afrikaanse letterkunde”. Die prysgeld beloop tans (2019) R250 000 elk vir die kykNET-Rapport-prys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET- Rapport-filmprys en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapport-prys (kykNET-Rapport-boekpryse, 2019:s.bl.).

 Die South African Literary Awards

Hierdie prys is in 2006 deur die National Arts Council in die lewe geroep met die volgende onderafdelings: die Lifetime Achievement Literary Award; die Posthumous Literary Award;

die K. Sello Duiker Memorial Literary Award; die Poetry Award; en die First-time Published Award (Kleyn, 2013:106–107). As sentrale kriterium vir die toekenning van hierdie prys, geld nasiebou en die uitbeelding van die nasionale identiteit (Bonthuys, 2016:107).

Die Sunday Times Barry Ronge-fiksieprys

Die Sunday Times Barry Ronge-fiksieprys word toegeken vir ʼn vollengte roman deur ʼn Suid- Afrikaanse skrywer of iemand wat vir meer as drie jaar in die land woonagtig is. Die roman moet in Engels geskryf wees of binne vyf jaar ná publikasie in Engels vertaal wees, in welke geval die prys gelykop tussen die skrywer en die vertaler verdeel word. Die boek mag nie deur selfpublikasie gepubliseer wees nie. Uitgewerye nomineer ʼn maksimum van vier titels vir die prys (Sunday Times Books LIVE, 2017b:s.bl.).

 Die UJ-prys

Die UJ-(Universiteit van Johannesburg)prys, vroeër bekend as die RAU-prys vir Skeppende