• No results found

HOOFSTUK 4 ‒ BEELDVORMING

4.2 ʼn Meervoudige waarnemingsveld

4.2.4 Heterovoorstelling

4.2.4.3 Argumente by die skryf van literêre kritiek

Die studie van die klassifisering van waardeoordele blyk 'n omvattende een te wees. Toonaangewende studies op hierdie gebied is dié van Abrams (1953), Mooij (1973), Boonstra (1979), Praamstra (1984), De Moor (1993) en Joosten (2009, 2011). Gebaseer op die literatuurbeskouings wat in Hoofstukke 2 en 3 bespreek is, word ʼn aantal argumente by die skryf of uitspreek van literêre kritiek onderskei. Aangesien die tipe argument wat gebruik word ʼn bepaalde beeld van die skrywer daarstel, is dit belangrik om oorsigtelik op hierdie argumente te let:

(i) Realistiese argumente

Hierdie tipe argumente staan ook as mimetiese (nabootsende) argumente bekend en dui op die verband tussen die literêre teks en die werklikheid (feite, werklike omstandighede en gebeurtenisse) (Mooij, 1973:462). As voorbeeld van realitiese argumente noem Crous (2012:s.bl.) dat dialoog byvoorbeeld as onrealisties of ongeloofwaardig gesien word, of dat ʼn plot as onwaarskynlik beskou word as dit teen die werklikheid gemeet word. Wright (1972:13) lewer ʼn pleidooi dat, ten einde ʼn argument oorredend te maak, dit altyd ʼn rasionele grondslag moet hê en nooit op onvanpaste emosie moet berus nie. In hierdie verband verwys Greer (2001:59) ook na deduktiewe redenering wat op reeds gevestigde waarhede berus. Deduktiewe beredenering lei tot die formulering van ʼn gevolgtrekking. Dit is egter voor die hand liggend dat wanneer ʼn aanname op ʼn vals argument berus, sodanige gevolgtrekking onbetroubaar is.

(ii) Emosionele argumente

Emosionele argumente dui op die gevoelsmatige uitwerking van ʼn literêre werk (Mooij, 1973:462). Hierdie tipe argumente word gekenmerk deur taalgebruik wat die resensent (kritikus) se eie ervaring by die lees van die boek oordra (Crous, 2012:s.bl.).

(iii) Morele argumente

Kritiek ingevolge morele argumente gee daartoe aanleiding dat ʼn kritikus ʼn werk na gelang van sy of haar morele beginsels beoordeel (Mooij, 1973:462) en dat op inhoud eerder as vorm gefokus word (Adendorff, 2003:112). Morele argumente maak dikwels beswaar teen die inhoud van die teks, byvoorbeeld as ʼn kritikus hom of haar nie kan vereenselwig met die teks nie, omdat dit teen sy of haar geloofsoortuigings indruis (Crous, 2012:s.bl.).

(iv) Strukturele argumente

Volgens Mooij (1973:462) verwys strukturele argumente na die eenheid van die teks of die wyse waarop eenheid verkry word. Dit het betrekking op die opbou of samestelling van die teks. As voorbeelde noem Crous (2012:s.bl.) die verskillende perspektiewe wat in ʼn teks aangewend word, die verskillende vertellers wat aan die woord is, die afdelings waarin die bundel onderverdeel is, of die vorm van die gedig of verhaal. Op grond van strukturele argumente sal ʼn teks as “ewewigtig, gebalanseerd, ekonomies en veral samehangend” geloof word en gaan dit dus veral om die “tegniese vaardigheid en die vermoë om ʼn teks te slyp” (Bonthuys, 2016:75).

(v) Intensionele argumente

By intensionele argumente word die bedoelinge van die skrywer as norm geneem (Mooij, 1973:463). As voorbeeld hiervan noem Crous (2012:s.bl.) ʼn opmerking soos: “Die skrywer poog met hierdie teks om die onregverdighede van die verlede reg te stel.”

(vi) Vernuwings- of tradisie-argumente58

Van Coller (2009:133) beskryf kanonaansluiting (“die doelbewuste aansluiting by voorgangers in die eie (en ander) literatuur, by ‘klassieke tekste’, by die literêre tradisie, ensovoorts”) as ʼn werkwyse wat veral deur skeppende skrywers gevolg word as middel om hul eie werk te kanoniseer. In die woorde Van Coller (2001a:69) sal ʼn “nuwe beweging […] kreatief soek na ʼn ‘eie verlede’ of aansluiting by aspekte van die literêre tradisie”. Volgens hierdie outeur (2009:131) was die fokus eers retrospektief gerig, maar daar moet nou ook vorentoe gekyk word: “Nie net na die daarstelling van ʼn ‘eie’ sinchrone kanon nie, maar ook na wat nodig is om dit as’t ware voor te berei. Hiervoor is persone nodig wat onderleg is in die eietydse literatuur en teorie en dit is opvallend dat elke nuwe ‘geslag’ skrywers in Afrikaans ook sy eie kritici gehad het.”

In die teenoorgestelde werkwyse (vernuwingsargumente) word “die afwyking van ʼn bepaalde werk (van byvoorbeeld die literêre tradisie)” gebruik “as motivering vir die kanonisering daarvan” (Van Coller, 2009:134). Daarom vorm vergelyking die grondslag van die literatuurwetenskap (Hellinga & Scholtz, 1955:81). Daar moet egter gewaak word teen die problematiek dat beskrywing noodwendig en outomaties ʼn verklaring word deurdat een werk met behulp van ʼn ander verklaar word. Dan is dit nie meer ʼn beskrywing van struktuurverhoudings binne ʼn bepaalde werk nie, omdat die werk dan van buite aangevul en verklaar word. In die heen-en-weer lees tussen tekste is dit belangrik om te onthou dat dit wat in die eerste plek aangebied word, die enkelkunswerk is. Hierdie kunswerk moet eers in sy selfstandigheid geken word voordat vergelyking kan begin. Van Coller en Strauss (2007:5) wys op die belang van ooreenkomste en verskille in die identifiserings- en onderskeidingsproses: “Wie […] bepaalde gegewens wil vergelyk moet fasette na vore bring ten opsigte waarvan die betrokke gegewens met mekaar in verband gebring kan word” [oorspronklike kursivering]. Vergelyking kan dus slegs plaasvind as die kritikus weet wát vergelyk moet word. Dit is derhalwe baie belangrik dat daar tussen primêr- en sekondêr- gegewe gehele onderskei word (Hellinga & Scholtz, 1955:84–85). Volgens Van Coller (2009:132) veronderstel “[v]erwysing, aanhaling en parodie telkens kennis van tekste (die sogenaamde brontekste) buite die doelteks” [oorspronklike kursivering].

In die bespreking in 4.2.4.1 is die soeklig geplaas op die rolspelers of bemiddelende agente in die literêre veld. Die instrumente wat deur rolspelers gebruik word of waarmee gekommunikeer word, staan as kanoniserende aktiwiteite bekend (Van Coller, 2009:129). Hierdie aktiwiteite staan sentraal in die kanoniseringsproses. Die volgende word as kanoniseringsinstrumente gelys: die keuring van manuskripte; die skryf van blakerskrifte (blurbs) vir tekste; formele boekaankondigings en -besprekings (byvoorbeeld in die vorm van resensies of ander eksegetiese studies); asook informele boekaankondigings en boekbesprekings (soos in voorlesings en briewe aan die pers). Ander kanoniserings- instrumente sluit in deelname aan literêre prystoekennings; die saamstel van formele bloemlesings (soos ʼn keur van gedigte); die saamstel van informele bloemlesings (soos byvoorbeeld ʼn seleksie van gedigte vir ʼn ad hoc-doel); ontlening vir vertaling uit ʼn ander historiese tyd of taal; die skryf van literatuurgeskiedenisse of -oorsigte; die opstel van lyste van voorgeskrewe boeke; en enige evaluerende optrede, soos die skryf van inleidings by boeke en adviese by bloemlesingsamestelling, asook die skryf van kantaantekeninge (Van

Coller, 2009:129, 138–141). Kritiek kan ook in die vorm van satires,59 parodieë,60 persiflages61 en hekeling62 voorkom (Cloete, 1992:272).