• No results found

HOOFSTUK 2 ‒ DIE SKRYWER IN DIE LITERATUURWETENSKAP

2.3 Literatuurwetenskaplike benaderings in die twintigste eeu

2.3.6 Die Nuwe Historisme

In aansluiting by die werk van Michel Foucault, Roland Barthes, Louis Althusser en Edward Said, gaan die Nuwe Historici van die standpunt uit dat daar ʼn magstryd in die samelewing bestaan en dat literatuur deur daardie magstryd bepaal word en deel daarvan vorm (Van der Merwe & Viljoen, 2012:160). Greenblatt (1982:2253) het die term new historicism gemunt in sy inleiding tot “The power of forms in the English Renaissance”, ʼn spesiale uitgawe van die tydskrif Genre waarvan hy die redakteur was. In die artikel “Towards a poetics of culture” rapporteer Greenblatt (1989:1) soos volg oor die ontstaan van die term: “I collected a bunch of essays and then, out of a kind of desperation to get the introduction done, I wrote that the essays represented something I called a ‘new historicism’.” Sy beskouing van ʼn poetics of culture gaan van die standpunt uit dat letterkunde binne sy kulturele omgewing bestudeer moet word. Opsommend wys Van der Merwe en Viljoen (2012:161 [oorspronklike kolparagrawe]) op drie wyses waarop literatuur bepaal word deur die kulturele kodes van die samelewing waarin dit ontstaan het:

 die gedragskodes van die besondere samelewing het ʼn uitwerking op die persoonlikheid van die skrywer;

 die literêre teks is die uitdrukking van die kodes en reëls van die samelewing; en

 in die literatuur is daar kritiese nadenke oor bestaande gedragskodes.

Ten spyte van die heterogeniteit onderliggend aan die Nuwe Historisme, stel Veeser (1989:xi; Afrikaanse opsomming deur Van der Merwe en Viljoen, 2012:163 [oorspronklike kolparagrawe]) die volgende vyf aannames as fundamenteel van die Nuwe Historisme:

 Elke literêre teks is ingebed in ʼn hele reeks sosiale en ekonomiese praktyke, wat weer verbonde is aan magsinstellings van die tyd.

 Elke kritiese ondersoeker is noodwendig gedeeltelik aangewese op die ondersoek- metodes wat hy/sy kritiseer. […].

 Literêre en nieliterêre tekste kan moeilik van mekaar onderskei word. […].

 Geen teks openbaar universele en onveranderlike waarhede nie.

 Nuwe ekonomiese omstandighede vereis ʼn nuwe benadering tot letterkunde.

Van groot belang vir hierdie studie is Greenblatt se werk oor die Shakesperiaanse tydperk. Greenblatt se benadering is geskoei op die sestiende-eeuse gedagte dat mense oor die vermoë beskik om hul eie identiteit te vorm. Hierdie identiteit en selfbeeld staan in ʼn noue verband met magsinstansies en gesag in die samelewing (Van der Merwe & Viljoen, 2012:161).

In die inleiding tot die genoemde publikasie oor selfvorming stel Greenblatt (1980:1) sy uitgangspunt: “my starting point is quite simply that in sixteenth-century England there were both selves and a sense that they could be fashioned”. Greenblatt (ibid.) verduidelik dat daar altyd een of ander persoonlike ‘orde’ waarneembaar is ‒ “a characteristic mode of address to the world, a structure of bounded desires” ‒ wat op ʼn doelbewuste vorming van identiteit dui ‒ dít wat hy self-fashioning noem. In sy navorsing oor sestiende-eeuse skrywers kom Greenblatt (1980:2) tot die gevolgtrekking dat daar gedurende hierdie tydperk ʼn toenemende selfbewustheid met betrekking tot die vorming van die mens se identiteit as ʼn manipuleerbare, kunstige proses was ‒ ʼn proses wat ook waargeneem kan word in die georkestreerde selfvorming van Marita van der Vyver (kyk Hoofstuk 6) en Bibi Slippers (kyk Hoofstuk 8). Greenblatt wys daarop dat die genoemde selfbewustheid wydverspreid onder die elite van die klassieke wêreld voorgekom het, maar dat die Christelike godsdiens tot die groeiende vermoede bygedra het dat die mens oor die vermoë beskik om identiteit te vorm.

Volgens Greenblatt (1980:2) was die term fashion lank reeds in gebruik en wel as verwysend na die skeppingshandeling of -proses, na spesifieke kenmerke of ʼn voorkoms, of na ʼn spesifieke styl of patroon. Die term het egter gedurende die sestiende eeu ook in omloop gekom as ʼn aanduiding vir die vorming van die self. Vir die doel van hierdie en soortgelyke navorsing, dui die term fashioning, volgens Greenblatt (1980:2), op die

bereiking van ʼn minder tasbare vorm (‘less tangible shape′): “a distinctive personality, a characteristic address to the world, a consistent mode of perceiving and behaving”.

Waar Christus aanvanklik as die fundamentele model vir hierdie tipe vorming beskou is, is daar voorbeelde in die Nuwe Testament waar Christus nié as die enigste rolmodel voorgehou word nie. As voorbeeld hiervan verwys Greenblatt (1980:3) na 1 Kor. 9:22 waarin Paulus homself as voorbeeld stel. ʼn Wegbreek van die nabootsing van Christus het, volgens Greenblatt, allerlei nuwe betekenisse tot selfvorming toegevoeg. In hierdie verband noem Greenblatt die voorbeeld van ouers en onderwysers, die handelswyses van die elite, selfvorming wat misleidend is deurdat dit skynheiligheid vertoon en op uiterlike vertoon steun, asook selfvorming waarin die voorstelling van die persoon se aard en intensies hoofsaaklik deur spraak en handelswyse geskied.

In sy navorsing oor die selfvorming van Engelse Renaissance-skrywers het Greenblatt (1980:8‒9 [oorspronklike numerering]) tot die gevolgtrekking gekom dat sekere beherende omstandighede algemeen in die meeste gevalle van selfvorming voorkom – in sowel die selfvorming van die skrywer as in die vorming van sy/haar literêre karakters:

1. Eerstens word daarop gewys dat weinig van hierdie figure ʼn oorgeërfde titel gehad het en dat die skrywers oor die algemeen uit die middelklas afkomstig was.

2. Vir hierdie Renaissance-skrywers het selfvorming onderwerping aan ʼn absolute krag of outoriteit, gedeeltelik buite die self, beteken. As voorbeelde word genoem ʼn heilige boek, ʼn instelling soos ʼn kerk, ʼn hof of ʼn koloniale of militêre administrasie. 3. Selfvorming is voorts bereik in verhouding tot iets wat as vreemd of vyandig

waargeneem word. Ten einde sodanige “threatening Other” aan te val en te vernietig moet dit, volgens Greenblatt, eers ontdek word.

4. Hierdie vreemde verskynsel of vyandigheid word deur die outoriteit waargeneem óf as iets wat chaoties is (“the absence of order”), óf as iets wat vals of negatief is (“the demonic parody of order”) (Greenblatt, 1980:9).

5. Een persoon se outoriteit kan deur ʼn ander persoon as ʼn vreemde of vyandige verskynsel ervaar word.

6. Wanneer een outoriteit of vreemd-vyandige verskynsel vernietig word, word dit deur ʼn ander vervang.

7. Daar is altyd meer as een outoriteit of vreemd-vyandige verskynsel op ʼn gegewe moment aanwesig.

8. Wanneer sowel die outoriteit as die vreemd-vyandige verskynsel buite die self geleë is, word hierdie verskynsels tegelyk as geestelike noodsaaklikhede ervaar, met die gevolg dat sowel onderwerping as vernietiging altyd reeds geïnternaliseer is.

9. Selfvorming geskied altyd, maar nie uitsluitlik nie, deur taal.

10. Die krag wat nodig is om die vreemde verskynsel in die naam van die outoriteit aan te val, word in oormaat geproduseer. Uiteindelik word die outoriteit self deur hierdie oormaat ‒ aanvanklik gerig op die verdediging daarvan ‒ bedreig. Selfvorming geskied gevolglik altyd deur die ervaring van bedreiging, ondermyning en verlies aan die self.

ʼn Ander aspek van Greenblatt (1997:12) se beskouing van belang vir die ondersoek na beeldvorming, is sy bewering dat alle kulturele praktyke oor ʼn inherente vorm van sosiale energie beskik. Dit bring die teoretikus by die vraag na die wyses waarop sosiale energie onderhandel en uitgeruil word. In ʼn poging om hierdie vraag te beantwoord, moet die volgende wanopvattings, volgens Greenblatt (ibid. [oorspronklike kursivering en nume- rering]), eers uit die weg geruim word:

1. Genialiteit kan nie as die enigste bron van energie in die ontstaan van groot kunswerke beskou word nie.

2. Geen skepping vind sonder ʼn beweegrede plaas nie.

3. Daar bestaan nie iets soos oortreffende of tydlose of onveranderlike uitbeelding nie. 4. Geen kunsuitdrukking kan plaasvind sonder ʼn oorsprong en ʼn voorwerp ‒ ʼn van wie

en ʼn vir wie ‒ nie.

5. Sonder sosiale energie sal daar geen kuns wees nie.

6. Daar bestaan nie iets soos die spontane generering van sosiale energie nie.

Hand aan hand met hierdie wanopvattings is daar sekere algemene beginsels betrokke by die onderhandeling en uitruiling van sosiale energie. Greenblatt (1997:12 [oorspronklike numerering]) stel die volgende:

1. Mimesis word altyd vergesel ‒ asook geproduseer ‒ deur onderhandeling en uitruiling.

2. Die uitruilingstransaksies waarby kuns betrokke is, mag geld betrek, maar ook ander ruilmiddels. Greenblatt wys daarop dat geld slegs een vorm van kulturele kapitaal is.

3. Alhoewel die agente wat by uitruilingstransaksies betrokke is na individue mag lyk, is daardie individue sélf produkte van kollektiewe uitruiling.

Op grond van die feit dat die gebruik van metafore soos ‘uitruiling′ en ‘sirkulering′ tipies van die Nuwe Historisme is en markfaktore, soos in literêre veldteorieë, ʼn fundamentele rol in die ekonomiese magspel van sowel die samelewing as in die literatuur speel (Van der Merwe & Viljoen, 2012:163), is daar dus ooreenkomste tussen die metodologiese beskouings van die aanhangers van Nuwe Historisme en van dié van die veldteoretici:

Like Bourdieu, the New Historicism has attempted to develop a methodology that would be the reductionism both of internal, formalist and of external, more frankly sociological or Marxian paradigms of criticism. It has sought to refigure the literary field, especially that of the English Renaissance, by resituating works not only in relationship to other genres and modes of discourse but also in relationship to contemporaneous social institutions and non-discursive practices. It posits, again like Bourdieu, that formal and historical concerns are inseparable, that human consciousness and thought are socially constituted, and that possibilities of action are socially and historically situated and defined (Johnson, 1993:19).

Uit die bostaande uiteensetting van Greenblatt se opvattings oor die literatuur is dit duidelik dat, aangesien die skrywer se optrede altyd in verband met ʼn bepaalde historiese tyd (en die onderliggende kodes daarvan) beskou behoort te word (Van Coller, 2018:4), die skrywer nooit buite rekening gelaat kan word nie. Dit is egter veral in die literêre pragmatiek en die werk van Pierre Bourdieu ‒ wat in sy institusionele benadering die verhouding tussen denksisteme, sosiale instellings en verskillende vorme van materiële en simboliese mag ondersoek het (Johnson, 1993:1) ‒ waar die skrywer weer sy/haar regmatige plek ingeneem het. Hierdie aspek word breedvoeriger in die volgende hoofstuk behandel.