• No results found

HOOFSTUK 2 ‒ DIE SKRYWER IN DIE LITERATUURWETENSKAP

2.3 Literatuurwetenskaplike benaderings in die twintigste eeu

2.3.3 Die New Criticism

Ook in die beskouings van die New Critics, wat terugdateer na die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu (Schmitz, 2007:91) en wat ontleen is aan John Crowe se boek The New Criticism (1941),16 word die skrywer op die agtergrond geskuif en word die aandag slegs by die literêre kunswerk bepaal (Hellinga & Scholtz, 1955:79). Schmitz (2007:91‒92) verduidelik dat die literêre kunswerk volgens hierdie benaderingswyse as ʼn organiese geheel, waarvan die verskillende onderdele in ʼn harmonieuse verhouding tot mekaar staan, beskou word. Ten einde hierdie harmonie te herken en te interpreteer, het die New Critics gebruik gemaak van ondersoekmetodes wat as’t ware ‘bepeinsend’ van aard was. In die sogenaamde close reading of stiplees word die teks losgemaak van die omgewing en omstandighede waaronder dit geskep is, hetsy histories, biografies, sosiaal of polities ‒ ʼn isolasie wat ten beste beskryf is deur die slagspreuk ‘just the words on the page’.

In die publikasie Understanding poetry, wat algemeen as ʼn manifes vir die New Critics se benadering beskou word, waarsku Brooks en Warren (1938:iv) teen die volgende ‘plaasvervangers’ wat soms in die bestudering van ʼn literêre werk gebruik word: parafrasering van logiese en narratiewe inhoud; interpretasie op grond van biologiese aspekte en historiese kontekste; en interpretasies wat inspirerend en diktaties van aard is. Alhoewel Brooks en Warren (ibid.) die noodsaaklikheid erken van parafrasering as ʼn voorbereidende stap in die lees van ʼn gedig, asook die bydrae wat ʼn studie van die biografiese en historiese agtergrond tot die verklaring en interpretasie kan lewer, moet dit as middele tot ʼn doel en nie as einddoel beskou word nie. Volgens die New Critics bly die

16 Ook Pokrivčák (2017:35) voer die eerste werklike pogings om die bestudering van literatuur op

wetenskaplike kriteria te baseer, terug na die werk van John Crowe Ransom (1937; oorspronklik 1935). Hierdie kriteria het verskil van die impressionistiese, biografiese en etiese benaderings wat in daardie tyd aan die orde van die dag was. Volgens Ransom (1937:s.bl.) is dit makliker om die vraag na wat kritiek nié is nie, te beantwoord as om te probeer verwoord wat dit wel is. Daarom is die volgende, volgens Ransom, nie van toepassing op ʼn literatuurstudie nie: persoonlike verklarings met betrekking tot die effek wat die kunswerk op die kritikus as leser het, sinopsis en parafrasering, historiese studies, linguistiese studies, morele studies, enige ander spesiale tipe studie wat te doen het met die abstrakte of prosaïese inhoud van die werk.

literêre werk sélf steeds die objek wat bestudeer word. Die New Critics het dus ʼn aanval op die standaardbegrip van ekspressiewe realisme geloods, naamlik “the romantic fallacy that literature is the efflux of a noble soul” (Rohit, 2013:5) en was dus glad nie skrywergerig nie:

The goal then is not the pursuit of sincerity or authenticity, but subtlety, unity, and integrity – and these are properties of the text, not the author. The work is not the author’s; it was detached at birth.17 The author’s intentions are ‘neither available nor

desirable’ (nor even to be taken at face value when supposedly found in direct statements by authors). Meaning exists on the page. Thus, New Critics insist that the meaning of a text is intrinsic and should not be confused with the author’s intentions18

nor the work’s affective19 dimension (its impressionistic effects on the reader) (Rohit,

2013:5 [my voetnote]).

Volgens Rohit (2013:8) het die New Critics, soos reeds genoem, van close reading (stiplees) gebruik gemaak as middel tot die ontdekking van aspekte ánderkant die tematiese van ʼn teks (“what comprised its ‘form’ ‒ which in their view constituted the dimensions of it that made it distinctively ‘literary’, and thus in need of specifically literary analytical and interpretative practice”). Ten opsigte van die skrywersbeskouing in hierdie stroming noem De Geest (2013:46) dat dit taboe was om ʼn beroep te doen om biografiese inligting van die skrywer of uitsprake van die skrywer oor sy/haar eie werk te bekom ten einde (elemente uit) die literêre werk te interpreteer. Dit was die geval omdat daar in stiplees gepoog word om alle detail in die teks in die lig van die geheel as ʼn samehangende struktuur te verklaar. In Suid-Afrika is trekke van die New Criticism raak te lees in die werk van Schulze (Ohlhoff, 1984:111). Laasgenoemde outeur wys op die klem wat Schulze op klankaspekte, die “gepaste gebruik van gevoelgedrenkte woorde”, die funksie van hiperbool, metafoor, personifikasie, maat, ritme, woordvorm en sinsbou geplaas het. Ook in Scholtz (1956:72, 74, 77) se werk word kernmomente van New Criticism en die Russiese formalisme saamgevat om tot die gevolgtrekking te kom dat “die literêre suiweringsbeweging vergesel is deur die insig dat die literêre kunswerk ʼn taalkunswerk is”. Hierdie suiwering dui onder meer daarop dat die gedig as outonoom beskou word, “alleen aan die woord is” en dat die kritiek nie subjektivisties-impressionisties behoort te wees nie. Veel later, in 1982, verwys

17 Dit blyk dat hierdie uitspraak dié van Wimsatt en Beardsley (1946:470) is: “The poem is not the

critic’s own and not the author’s (it is detached from the author at birth and goes about the world beyond his power to intend about it or control it). The poem belongs to the public.”

18 In hierdie verband is daar dus sprake van die intentional fallacy. Wanneer die betekenis van ʼn werk

verwar word met die skrywer se beweerde bedoeling (soos wat dit in briewe, dagboeke en onderhoude uitgespreek word), word daarna verwys as die intentional fallacy (Rohit, 2013:5). Wimsatt en Beardsley (1946:471) noem dat, aangesien die intentional fallacy nóg ʼn empiriese of analitiese oordeel, nóg ʼn historiese stelling is, dit dus per definisie romanties van aard is.

19 Terwyl die intentional fallacy dus op ʼn verwarring tussen die gedig en die oorsprong daarvan dui,

verwys die affective fallacy na die foutiewe praktyk om tekste na aanleiding van die psigologiese of emosionele reaksies van lesers te interpreteer (Habib, 2005:626; Wimsatt & Beardsley, 1949:31).

Cloete (1982:149) in sy artikel oor literêre geskiedskrywing na 12 “fundamentele kommunikatiewe aspekte” van die literêre werk, waaronder klank, metrum, ritme en sintaksis.

Teen die einde van die 1960’s moes New Criticism plek maak vir ʼn nuwe benadering toe die aandag na die leser se rol in literêre tekste verskuif het (Schmitz, 2007:92) en resepsiestudie, as die “‘objektiewe’ ondersoek na leesverslae, die ‘subjektiwiteit’ onderliggend aan die stiplees-metode moes teëwerk” (Van Coller, 2018:3).