• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUURSTUDIE

2.1 Antropologie

2.1.3 Die graad R-kurrikulum

2.1.3.3 Lewensvaardighede

Lewensvaardighede is die middelpunt vir die holistiese ontwikkeling van leerders. Dit het betrekking op die sosiale, persoonlike, intellektuele, emosionele en fisiese groei, en die manier waarop dit geïntegreer word (South Africa, 2011a:8).

Die vak Lewensvaardigheid bestaan uit vier studie-areas: Aanvangskennis, Persoonlike en Sosiale Welsyn, Skeppende kunste en Liggaamsopvoeding. Omdat Lewensvaardigheid oor verskillende terreine strek, vereis die kurrikulumbepalers dat dit die onderrig van die ander kernvakke in die grondslagfase, naamlik Tale en Wiskunde, moet ondersteun en versterk (South Africa, 2011a:8).

Die studie-areas in die vak Lewensvaardigheid word in onderwerpe georganiseer. Die rede wat hiervoor aangevoer word (South Africa, 2011a:14), is dat dit ʼn manier is om die inhoud van die verskillende studie-areas, waar moontlik en waar van toepassing, te integreer. Elke kwartaal bestaan uit nege onderwerpe, plus addisionele geleentheid vir die ontdekking van feeste en spesiale dae wat in die spesifieke kwartaal voorkom.

a. Aanvangskennis en Persoonlike en Sosiale Welsyn

Die leerplan vir Aanvangskennis en Persoonlike en Sosiale Welsyn (20 ure per kwartaal) maak voorsiening vir roetine- en vryspelaktiwiteite binnenshuis en buite. Die KABV spesifiseer dat die musiekarea deel moet uitmaak van die binnenshuise vryspelaktiwiteite, vandaar die integrasie met musiek. Die liggaamlike vaardighede wat gedurende vryspel aangeleer en ingeoefen word, word deur Liggaamsopvoeding en Skeppende kunste (wat Musiek insluit) ondersteun (South Africa, 2011a:11).

b. Skeppende kunste

Skeppende kunste is in twee parallelle en komplementêre strome verdeel, naamlik Visuele kuns (10 ure per kwartaal) en Uitvoerende kuns, wat bestaan uit Dans, Drama en Musiek (10 ure per kwartaal). In die oorsig oor die leerplan word daar in Uitvoerende kuns aangedui dat Dans en Drama deurgaans met Musiek geïntegreer word deur middel van kreatiewe speletjies en vaardighede, improvisasie en interpretasie. Die inhoud van Visuele kunste word afsonderlik bespreek en alhoewel daar nêrens spesifiek melding gemaak word van integrasie met Musiek en Visuele kuns nie, kan die graad R-onderwysers hul eie inisiatief gebruik om Musiek en Visuele kuns integreer, byvoorbeeld deur die gebruik van agtergrondmusiek.

27

c. Liggaamsopvoeding

Die leerplan vir Liggaamsopvoeding (20 ure per kwartaal) spesifiseer dat Ritme (ʼn musikale konsep) ʼn vaardigheid is wat graad R-leerders in Liggaamsopvoeding moet ontdek. Ritme word op verskillende maniere in die KABV met musiek geïntegreer, deurdat daar van leerders verwag word om op die maat van ʼn spesifieke ritme te spring of te beweeg (kwartaal 1), waar musiek of liggaamsperkussie gebruik word om liggaamsdele te identifiseer en ritmies te beweeg wanneer opdragte gegee word (kwartaal 2) en deur die gebruik van aksieliedjies waar leerders onderwysers se bewegings nadoen (kwartaal 4). Laasgenoemde bewegings sluit marsjeer, galop, spring, huppel, draai en balanseer in (South Africa, 2011a:31).

2.1.3.4 Huistaal22

Die organisasie van taal en leer in graad R berus op die beginsels van integrasie en spel (South Africa, 2011b:21). In die KABV word daar gestipuleer dat die Tale-program met ander vakke geïntegreer is. Hierdie integrasie behels dat baie van die luister- en praatvaardighede ontwikkel sal word in Wiskunde en Lewensvaardighede (Skeppende kunste, Aanvangskennis, Persoonlike- en Sosiale Welsyn), Natuurwetenskap, Tegnologie en Sosiale Wetenskap (South Africa, 2011b:8). In die oorsig van taalvaardighede vir onderrig in Huistaal, word daar pertinent aangedui hoe integrasie met Musiek in graad R moet plaasvind.

a. Luister en Praat

Om die vaardigheid Luister en Praat te ontwikkel, moet leerders eenvoudige liedjies sing en aan aksierympies deelneem. Aanvanklik voer leerders die bewegings saam met die klas uit, dan op hul eie totdat hulle uiteindelik die bewegings met selfvertroue kan uitvoer. Hierdie eenvoudige liedjies en bewegings is byvoorbeeld die liedjie Dit is hoe ek my hande was,

hande was, hande was. Dieselfde word gedoen wanneer hare kam en tande borsel die

woorde hande was vervang (South Africa, 2011b:31). Leerders moet ook na ritmiese patrone luister en dit korrek herhaal, byvoorbeeld klap, klap-klap, klap (herhaal).

Voorgestelde hulpmiddels vir die jaar vir Luister en Praat sluit onder meer in:

 CD’s of kassette met stories, gedigte, rympies en liedjies

 Musiek-/slaginstrumente soos ʼn trom, klokkies en ritmestokkies.

b. Fonologiese/Fonemiese bewustheid

Vir Fonologiese/Fonemiese bewustheid moet leerders rymwoorde in bekende rympies en liedjies identifiseer. Integrasie met musiek kom voor waar rymwoorde in bekende rympies en liedjies geïdentifiseer word (byvoorbeeld Jan Viljoen woon in ʼn skoen) en deur rymwoorde

22 Kyk 2.1.2.1 c Taalvaardigheid.

28

in nuwe rympies of liedjies te identifiseer en te vervang deur ʼn spesifieke reël of sin te voltooi (South Africa, 2011b:40).

c. Ontluikende lees

Ten einde die vaardigheid Ontluikende lees te bevorder, moet leerders dele van ʼn storie, liedjie of rympie dramatiseer. In die derde kwartaal in graad R word daar van leerders verwag om prente te teken van stories, rympies of liedjies (South Africa, 2011b:40).

2.1.3.5 Wiskunde23

Die onderrigbenadering vir Wiskunde word gebaseer op die beginsels van integrasie en spelgeoriënteerde leer. Dit word in die KABV (South Africa, 2011c:15) beklemtoon dat alle aspekte van graad R, wat die omgewing in die klaskamer sowel as onderrig- en leerpraktyke insluit, die holistiese ontwikkeling van die jong kind moet bevorder. Musiek word deurgaans met Wiskunde-onderrig geïntegreer deur die gebruik van onder meer relevante liedjies. Die ontwikkeling wat 'n integrale deel van ontwikkelende wiskunde vorm, sluit kognitiewe ontwikkeling (probleemoplossing, logiese denke en redenering), taalontwikkeling (woordeskat van wiskunde), perseptueel-motoriese sowel as emosionele en sosiale ontwikkeling in. Al hierdie aspekte kan deur stories, liedjies, versies en vingerbordspeletjies, asook waterspel, opvoedkundige speelgoed, konstruksie en ontdekkingsaktiwiteite (massa, tyd, volume, meting, en fantasiespel, buitespel en speelgrondspeletjies) ontwikkel word. (South Africa, 2011c:15)

Wiskunde in die grondslagfase bestaan uit vyf inhoudsareas. Elke inhoudsarea dra tot 'n spesifieke vaardigheid by. Hierdie inhoudsareas is:

 Getalle, bewerkings en verwantskappe

 Patrone, funksies en algebra

 Ruimte en vorm (Meetkunde)

 Meting

 Datahantering.

In die KABV is daar spesifieke verwysings na spesifieke liedjies en musiekaktiwiteite wat met sekere inhoudsareas in Wiskunde geïntegreer moet word. Hierdie verwysings word vervolgens afsonderlik bespreek.

23 Kyk 2.1.2.1 d Wiskundige vaardighede

29

a. Getallebewerkings en verwantskappe

Ritmiese tel in graad R word versterk deur telrympies en -liedjies. Daar word van die graad R- onderwyser verwag om leerders deurgaans aan te moedig om op ʼn daaglikse basis telliedjies te sing en ritmies te tel, hoewel leerders nog nie almal oor ʼn getalbegrip beskik wanneer hulle met graad R begin nie (South Africa, 2011c:64). Die inhoud wat hierdeur aangespreek word, is die skatting en tel van voorwerpe om getalbegrip te ontwikkel, asook die identifikasie en beskrywing van heelgetalle (South Africa, 2011c:44). Getalle word sistematies bekendgestel van 1 tot 10 en daarna word die begrip 0 vasgelê.

Enkele voorbeelde van musiekaktiwiteite vir die bekendstelling en vaslegging van verskillende getalle wat in die KABV beskryf word, is:

 Om leerders te help om woordsomme wat met die getal 2 te doen het op te los, word die gebruik van telrympies en -liedjies voorgestel.

 Vanaf die getal 3, word daar van leerders verwag om vorentoe en agteruit te tel en eenvoudige optel- en aftreksomme te begryp om die begrippe meer en minder te verduidelik (South Africa, 2011c:127).

Wanneer die getal 5 bekendgestel word, word die liedjies Vyf klein paddatjies en 1, 2,

3, 4, 5, Hier kom Jan met sy lang, slap lyf voorgehou as voorbeelde om die betekenis

van die getal 5 te internaliseer (South Africa, 2011c:150). Leerders moet teen hierdie tyd die begrippe meer, minder en dieselfde verstaan, wat die graad R-onderwyser vaslê met behulp van telrympies en -liedjies (South Africa, 2011c:157).

Vir die voorstelling en verduideliking vanaf die getal 2 moet leerders liggaamsperkussie doen, byvoorbeeld klap die hande twee keer, knik kop twee keer, tik twee keer met die voet op die vloer, spring twee keer, ensovoorts (South Africa, 2011c:102). ʼn Kinestetiese aktiwiteit vir die vaslegging van die getal 5 word soos volg uiteengesit (South Africa, 2011c:160):

Die graad R-onderwyser speel 'n instrument, byvoorbeeld 'n trom, terwyl die leerders rondbeweeg. Wanneer die trom ophou speel, roep die onderwyser 'n getal tussen 1 en 5 uit. Die leerders orden hulle in klein groepe volgens die getal wat die onderwyser uitgeroep het, byvoorbeeld: die onderwyser roep “3” en die leerders vorm groepies van 3.

b. Patrone, funksies en algebra

Die herkenning van simmetrie in die self en die omgewing word versterk deur die gebruik van rympies, liedjies en aktiwiteite tydens Skeppende kunste (South Africa, 2011c:53). ʼn Voorbeeld hiervan is wanneer graad R-leerders ritmies op die maat van ʼn ratel24 na die een

30

kant van die klaskamer beweeg. Sodra die ratel ophou speel, moet leerders na die ander kant van die klaskamer beweeg (South Africa, 2011c:81). ʼn Opvolgaktiwiteit is waar twee leerders teenoor mekaar staan en oorkruisklap, waar die een leerder se linkerhand die ander leerder se linkerhand klap terwyl hulle ʼn telliedjie sing (South Africa, 2011c:93).

Sodra graad R-leerders se bewustheid dat 'n mens se liggaam 'n linker- en 'n regterkant het wat onafhanklik kan beweeg ontwikkel word, word die gebruik van die aksieliedjie I put my

left foot in25 voorgestel. 'n Rekkie word om elke leerder se regterpols gebind terwyl hulle hul linkervoete op die ooreenstemmende woorde van die liedjie beweeg (South Africa, 2011c:211).

c. Ruimte en vorm (Meetkunde)

Wanneer leerders leer om aanwysings te volg (individueel of as deel van ʼn groep) om hulle ruimtelik te oriënteer, word hierdie vaardigheid geïntegreer met musiekaktiwiteite. Alhoewel daar nie in die KABV gespesifiseer word watter musiekaktiwiteite hier geïmplementeer moet word nie, is daar verskeie moontlikhede wat deur die graad R-onderwyser ondersoek kan word (South Africa, 2011c:54).

Tydens die herkenning, identifikasie en benoeming van tweedimensionele vorms in die klaskamer en in prente, word die liedjie Koljander, Koljander, so deur die bos voorgestel vir die bekendstelling van ʼn sirkel. Die musiekspeletjie wat daarmee gepaardgaan, is waar leerders hande vashou en ʼn sirkel met hul liggame maak. Terwyl hulle in die rondte stap, word die liedjie gesing. Sodra die eerste versie klaar is, gaan sit die leerders in hul sirkel en stuur ʼn voorwerp aan terwyl hulle die tweede versie sing. Wanneer die versie klaar is, moet die leerder wat die voorwerp op daardie stadium vashou in die middel van die sirkel gaan sit (South Africa, 2011c:72).

Vir die onderwerp “Meetkundige patrone”, vir die nabootsing en uitbreiding van ouditiewe patrone, word ʼn kinestetiese aktiwiteit voorgestel waarvoor die graad R-onderwyser ʼn CD- speler en musiek nodig het sodat die leerders met hul liggame op die maat van die musiek kan beweeg en die volgende passies uitvoer:

Stap, stap, hop, hop…

Spring een been, spring een been, spring twee bene, spring twee bene…

Vir die voltooiing van ʼn gegewe meetkundige patroon word patroonspeletjies voorgestel. Leerders beweeg in die klas rond terwyl musiek in die agtergrond speel. Op 'n sein of wanneer die musiek ophou, roep die onderwyser die naam van 'n vorm uit. Leerders trek die vorm met hul vingers na. Hulle kan ook groepe vorm en die vorm met hul liggame uitbeeld.

31

d. Abba-liedjies vir roetine-aktiwiteite en onderwerpe

Die graad R-onderwyser moet ʼn liedjie vir die leerders aanleer om die dae van die week te memoriseer, wat herhaal moet word wanneer die weerkaart op ʼn daaglikse basis bespreek word (South Africa, 2011c:56). Die graad R-onderwyser kan sy/haar eie liedjie komponeer of die voorgestelde liedjie sing op die wysie van die Engelse volksliedjie Clementine:

Daar is sewe dae, daar is sewe dae, daar is sewe dae in die week: Sondag, Maandag, Dinsdag, Woensdag,

Donderdag, Vrydag, Saterdag, Sondag (x2)

Daar word van die graad R-onderwyser verwag om self ʼn verjaarsdagwysie op die volgende woorde te komponeer:

Januarie, Februarie, Maart, April, Mei, Junie, Julie.

Augustus, September, Oktober, November, Desember.

Hierdie liedjie moet dan deur die jaar gesing word wanneer 'n leerder sy/haar verjaarsdag vier (South Africa, 2011c:70).

Aksieliedjies word voorgestel vir die onderwerp “My liggaam”, wanneer graad R-leerders hul verskillende liggaamsdele identifiseer en tel (South Africa, 2011c:69). ʼn Voorbeeld van ʼn toepaslike liedjie volgens die KABV (South Africa, 2011c:111), is Kop en skouers, knieë en tone. Wanneer vergelykings getref word sodat leerders die begrip “minder as” kan verstaan, word daar pertinent verduidelik hoe Wiskunde met Uitvoerende kunste geïntegreer moet word in ʼn Lewensvaardigheidsdansie op dieselfde liedjie:

Sing die liedjie: Kop en skouers, knieë en tone. Sing elke woord die eerste rondte.

Sing die volgende rondte een woord minder, byvoorbeeld: Kop en skouers,

knieë en…, knieë en…

Sing die liedjie met nog 'n woord minder, byvoorbeeld: Kop en skouers,…

en… , … en …

Die onderwyser wys uit dat hulle elke keer 'n woord minder sing, totdat geen woorde gesing word nie (South Africa, 2011c:111).

Alhoewel hierdie slegs enkele voorbeelde uit die KABV is, bestaan daar ʼn groot aantal liedjies wat die graad R-onderwyser sou kon integreer ten einde spesifieke konsepte aan leerders te verduidelik met behulp van musiek.