• No results found

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE

4.3 Leer met musiek

4.3.2 Funksies van leer met musiek

Die funksies van leer met musiek wat uit die data-analise na vore gekom het, is konserte, roetine-aktiwiteite, oorgangsaktiwiteite, agtergrondmusiek en sosialisering.

4.3.2.1 Konserte

Die eindproduk van ʼn groot hoeveelheid leer wat deur die loop van ʼn skooljaar met musiek plaasgevind het, is dikwels ʼn kleuterkonsert. Graad R klasse D en E, wat aan dieselfde kleuterskool behoort, se konsertprogram vir 2013 bestaan uit godsdienstige liedjies wat met gechoreografeerde bewegings uitgevoer word. ʼn Opname van die liedjies word gespeel en alhoewel sommige kleuters saamsing, is die bewegings die kern van die konsert. Tydens die voorbereidings vir hierdie konsert leer die kleuters ook konsertetiket deurdat die verskillende klasse in die skool gedissiplineerd vir mekaar sit en kyk gedurende die laaste kleedrepetisie.

4.3.2.2 Roetine-aktiwiteite

Terwyl die leerders van graad R-klas A hande was, sing hulle Kom kyk na al my maters, op

die boereplaas. Juffrou Johanna maak die dieregeluide na. Hierdie liedjie wat gesing word

by hierdie spesifieke roetine-aktiwiteit staan byvoorbeeld bekend as ʼn handewasliedjie. ʼn Roetine-aktiwiteit wat by verskeie kleuterskole waargeneem is en saam met musiek uitgevoer is, is die aanleer van die maande van die jaar.100 In graad R-klas C word die roetine-

113

aktiwiteite se liedjies op dieselfde wysie gesing met verskillende woorde, byvoorbeeld op die wysie van Clementine sing die leerders There are seven days … in a week, There are four

seasons ... in a year en selfs There are twelve months ... in a year. Die refrein van Clementine

word gebruik in graad R-klas E, waar die leerders die name van die dae van die week sing, terwyl Juffrou Beulah hulle op haar kitaar begelei: Sunday, Monday, Tuesday, Wednesday,

Thursday, Friday, Saturday. Aanvanklik sing die hele klas die lied, maar wanneer dit herhaal

word, sing die dogters die eerste keer en die seuns die tweede keer.

By al vyf kleuterklasse wat aan die studie deelgeneem het, word groetliedjies soggens en aan die einde van die dag gebruik. Graad R-klas C se groetliedjie is Hello. Juffrou Jessica moedig die leerders aan om die bewegings te doen soos wat dit in die liedjie aangekondig word. Die leerders se luistervaardighede word hierdeur ontwikkel omdat hulle luister wanneer hulle moet hande klap of op hul knieë moet tik. Hierdie bewegings is nie ritmies van aard nie, maar spontaan. Graad R-klas D sing Goeiemôre saam met ‘n klankopname. Terwyl die liedjie gesing word, maak leerders asof hulle slaap en wakker word soos wat die liedjie verloop. Net voor etenstyd sing graad R-klas D ʼn gebed op die melodie van Vader Jakob. Die lied is aanvanklik deurmekaar (soos ʼn ongeorganiseerde rondelied) maar met die herhaling wel gestruktureerd:

Dankie, Jesus. (herhaal) Vir ons kos. (herhaal) Ons gaan lekker eet. (herhaal) A-men. (herhaal) 4.3.2.3 Oorgangsaktiwiteite

Opwarmingsaktiwiteite, afsluitingsaktiwiteite en aktiwiteite wat plaasvind tussen leersessies word beskou as oorgangsaktiwiteite. Tydens oorgangsaktiwiteite sing die leerders van graad R-klas A spontaan. Aangesien hulle weet musiek is iets wat ek en hulle in gemeen het, kom staan hulle op ʼn keer tussen aktiwiteite in ʼn groep voor my en dans baie trots terwyl hulle twee gunstelinge sing: Liewe Jesus het my mooi gemaak en Doen dit, my lyfie, doen dit. Aan die einde van ʼn les rondom die “Paasfees”-tema sing Juffrou Johanna en die leerders Ver in

die wêreld, Kitty voor hulle met die volgende les begin.

Die leerders van graad R-klas C sing spontaan terwyl hulle wag vir hul kos om opgeskep te word: Die Johnny-liedjie en die Colours-liedjie, waarop geïmproviseer word om die letters van die alfabet te inkorporeer. Tussen aktiwiteite sing die leerders onderskeidelik die nuwe liedere wat hulle op daardie betrokke dag aanleer, of ʼn spesifieke liedjie wat hulle dramatiseer. Juffrou Jessica gebruik hierdie liedjie om orde te skep en leerders se aandag te fokus op die daaropvolgende les:

I wiggle my ears/fingers etc…

Now that I don’t have wiggles in me, I sit down!

114

As opwarmingsaktiwiteit met “Sig” as tema van die week, hardloop die leerders van graad R-klas B al singende op die maat van die liedjie Blinkoogsterretjie tussen hoepels. Sodra die liedjie klaar gesing is, moet hulle in 'n sekere posisie staan. Die posisie word elke keer verander wanneer die liedjie klaar gesing is. “Opwarming deur alledaagse handelinge”(59:1) word uitgevoer op die liedjie Pale Moonlight. Aangesien die week se tema “Voel” is, vryf leerders met hul hande oor hul arms, maag, bene en hare.

Opruimtyd in graad R-klas B word aangedui deur die klank van ʼn tamboeryn. Tydens hierdie aktiwiteit hoor ek hoe ʼn paar dogtertjies Stapsoldaatjie sing. Aan die einde van ʼn musiekles in graad R-klas D waar leerders op instrumente gespeel het, vind ʼn gestruktureerde opruimtyd met musiek plaas. Juffrou Simoné speel ritmiese musiek. Die leerders beweeg in 'n sirkel terwyl hulle op hul instrumente speel. 'n Houer is vir die instrumente neergesit, waarin leerders hul instrumente bêre wanneer hulle daar verby beweeg. Opruimtyd in graad R-klas E word aangedui deur Juffrou Beulah wat die note G-D-G-D; g-d-g-d; G-D101 op die metallofoon speel.

Afsluitingsaktiwiteite met musiek in die graad R-klasse is “Sing 'n bekende psalm of gesang”(30:1), “Sing 'n paar liedjies saam ter afsluiting”(27:1), “Kleuters lê en luister na musiek”(65:6) en “Luister na musiek vir afsluiting/kalmering”(28:1). Met die bespreking van die tema “My Gesin”, word Mommy’s Little Angel as afsluitingslied aan die einde van die skooldag gesing. Leerders dramatiseer vir hersiening die wieg-aksie terwyl hulle sing. ʼn Lied oor paddas word gesing met die bespreking van die tema “Sintuie” en ʼn opname van Eine

Kleine Nachtmusik word aan die einde van ʼn dag in dieselfde week vir die leerders

voorgespeel. Graad R-klas C se afsluitingslied is Good-bye, goodbye it was music time today. In graad R-klas D is ʼn gewilde afsluitingsaktiwiteit “Kleuters lê op hul rug en luister na musiek”(98:6).

4.3.2.4 Agtergrondmusiek

Ek arriveer een oggend vroeg terwyl die kleuters op die mat sit en legkaarte bou. Met sagte stemmetjies sing hulle “He’s got the whole world, in His hands, He’s got the whole world, in His hands…”102

Die kort vignette hierbo beklemtoon Juffrou Johanna se uitgangspunt ten opsigte van die belangrikheid van agtergrondmusiek in haar klas. Tydens die semi-gestruktureerde onderhoude word daar aan haar gevra wat die invloed is van musiek op haar graad R klas en watter betekenis musiek vir die leerders het. Sy antwoord dat musiek leersaam is en

101 Die hoofletters dui die lettername vir kwartnote aan, terwyl die kleinletters die lettername vir agstenote aandui. 102Hierdie aktiwiteit is ʼn voorbeeld van leer met agtergrondmusiek en is op 30 Januarie 2013 om 10:00 in graad R klas A waargeneem.

115

leerders help om hul werk te doen. Sy verduidelik: “Leerders sing terwyl hulle besig is met skeppende aktiwiteite, byvoorbeeld knip, ryg, bak en brou of speel”(116:21). Tydens ʼn waarneming sing die leerders van graad R-klas A die Links-Regs-liedjie terwyl hul handjies en voetjies geverf word. Hierdie leerders produseer as’t ware hul eie agtergrondmusiek terwyl Juffrou Johanna die verfwerk doen! Sy produseer weer die agtergrondmusiek wanneer sy saggies die liedjie Opruimtyd sing terwyl die kleuters skeppende werk doen en vra ook terloops hul insette. Die tema “Oupa en Ouma” word later in die kwartaal bespreek en die

Oupa-liedjie word op die CD gespeel terwyl die kleuters werk en hartlik saamsing. Tydens

hersiening van die vorige dag se bespreking en aktiwiteite rondom die tema “Paasfees”, sing Juffrou Johanna die liedjie Trek hulle uit en die kleuters begin een vir een saam met haar sing. Terwyl die instruksies vir die skeppende aktiwiteite gegee word, sing ʼn dogterstemmetjie saggies … bly in jou hartjie … uit die betrokke liedjie.

Juffrou Linda maak dikwels gebruik van agtergrondmusiek wanneer leerders skeppende aktiwiteite doen. ʼn Rustige klasatmosfeer word bewerkstellig met die musiek van die CD’s

Gentle Moods, Enya en ʼn opname van klaviermusiek terwyl die leerders van graad R-klas B

by verskillende leerstasies sit en werk. ʼn Ander keer dien die musiek as kalmering terwyl leerders ʼn aktiwiteit doen waar hulle in pare agter mekaar sit. Een leerder teken die syfers 0, 1 en ʼn plus-simbool op 'n ander se rug, wat dan moet raai wat hy voel. Leerders maak beurte om te teken en te raai. “Sintuie” word bespreek en leerders kry die geleentheid om spontaan te speel deur vrye vertolking terwyl ʼn opname van Die tandarts in die agtergrond speel. Hulpmiddele vir hierdie spontane spel is ʼn blik met sand, bokse en plastiese emmertjies of bakke.

In graad R-klas D speel Juffrou Simoné ʼn werk van die komponis Vivaldi tydens etenstyd. Dieselfde rustige atmosfeer heers in graad R-klas E, waar Juffrou Beulah tydens die voorbereidings vooraf en gedurende etenstyd agtergrondmusiek speel.

Die tema wat een van die weke in graad R-klas E ondersoek word, is “My tande”. Juffrou Beulah speel kitaarmusiek op die CD-speler terwyl die leerders as inleidende aktiwiteit op die mat lê en aangesê word om aan ʼn tandartsbesoek te dink. Hierdie leerders is gewoond aan musiek in die agtergrond, aangesien hulle aan die einde van die dag ook rus terwyl agtergrondmusiek speel.

Tydens die aanvangsonderhoude wat hierdie studie voorafgegaan het, het een van die betrokke onderwysers verduidelik dat daar agtergrondmusiek speel wanneer haar graad R- leerders in die klas instap. Die klem val hier op agtergrondmusiek, wat sy definieer as rustige, kalmerende, instrumentale musiek, aangesien bekende kinderkunstenaars se musiek die klas onrustig stem. Wanneer die leerders na afloop van speeltyd by die klas instap, is dit gewoonlik

116

op- en-wakker instrumentale musiek wat speel, byvoorbeeld Marsmusiek of Duitse volksmusiek.

4.3.2.5 Sosialisering

Tydens die aanvangsonderhoude sê ʼn onderwyser dat hoe meer ʼn mens die alledaagse met musiek integreer, hoe meer baat pa’s en seuns daarby, deurdat hul musiekkennis verbreed word sonder dat hulle eens bewus is daarvan. Deur musiek as hulpmiddel vir sosialisering te gebruik in die klassituasie, word dit deel van al daardie leerders se leefwêreld.

“Veiligheid” word in Graad R-klas B van alle kante af beskou. Juffrou Linda sing ʼn liedjie It’s

my body wanneer sy na haarself wys en laat die kleuters sing wanneer sy na hulle wys.

Luistervaardighede sowel as sosialisering tussen Juffrou Linda en haar klas word deur hierdie aktiwiteit bewerkstellig. Musiek word ook spontaan deur kleuters gebruik om te sosialiseer. Aan die einde van hierdie les sing een kleuter vir ʼn ander: “Tong uitsteek is soentjies vra” (4:12) op die melodie van die kleuterdreun.103 Dit gebeur dikwels in hierdie klas dat die kleuters in pare sit en oorkruisklap doen of ander liggaamsperkussie-aktiwiteite wat in die hoofstuk beskryf word. Wanneer twee of meer leerders as ʼn span aan ʼn aktiwiteit deelneem, word sosialiseringsvaardighede in ʼn mindere of meerdere mate ontwikkel, afhangende van die intensiteit van die samewerking. ʼn Voorbeeld hiervan is wanneer leerders saamsing en oorkruisklap saam met die liedjie Bly uit die son wanneer “Die Seisoene” bespreek word.