• No results found

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE

4.5 Leer deur musiek

4.5.2 Belewenisse deur musiek

Wanneer kleuters deur musiek leer, het daar uit die waarnemings spesifieke reaksies na vore gekom wat hul belewenisse aan my as waarnemer oordra. Hierdie belewenisse is verwant aan leer deur musiek, of ʼn uitvloeisel daarvan.

4.5.2.1 Genot

Alhoewel die aktiwiteite wat in die volgende paragrawe beskryf en uitgevoer word met musiek, oor musiek en op musiek, is musiek die medium waardeur die leerders genot ervaar. Musiek is dus die oorsaak van die genot wat ervaar word, vandaar die beskrywing genot

deur musiek. Ek kon sien dat die leerders hierdie aktiwiteite geniet uit hul vreugdevolle

reaksies tydens en na afloop van die aktiwiteite wat beskryf word.

Graad R-klas B geniet aktiwiteite wanneer hulle kan saamsing. Leerders beleef dus genot

deur sang. Spesifieke aktiwiteite sluit in dramatisering met musiek, waar hulle ʼn treintjie is

terwyl hulle die Treintjie-liedjie sing en ʼn ander keer waar ʼn baba aan die slaap gewieg word op die liedjie There you are sleeping.

Die entoesiasme van graad R-klas D beklemtoon hoeveel genot hulle uit aktiwiteite put waar musiek betrokke is. Doelwitte vir lesse oor onderskeidelik die temas “Ons huisie” en “Persoonlike Higiëne” word beskryf as “om luistervaardighede te verbeter en vir genot”(107:1) en “nuwe liedjie word aangeleer met die doel om woordeskat uit te brei, begrip van struktuur vas te lê, luistervaardighede te verbeter en genot van musiek te ervaar”(109:1).

Die tema “Mondjie” word bespreek in graad R-klas A. Die lesplan lees: “Vandag is ʼn goeie kans om laf te wees met rympies, liedjies, baie lag, enigiets om hierdie belangrike orgaan te oefen!”(117:1). Dit is deur hierdie beskrywing duidelik dat leer deur musiek baie genot verskaf aan kleuters. Terwyl die Links-Regs-liedjie gesing word, word die kleuters se linker- en regtervoetjies en linker- en regterhandjies geverf. Juffrou Johanna is van mening “... al is dit ook ʼn honderd keer, solank dit gesing word en die kleuters dit geniet!”(117:5). Terwyl die leerders deur musiek die begrippe links en regs leer onderskei, is die hoofdoel van die liedjie volgens die lesplan dat leerders dit moet geniet om te sing.

Wanneer die verjaarsdaglied vir die verjaarsdagmaat in graad R-klas C gesing word, is dit duidelik hoeveel leerders dit geniet. Hulle is baie entoesiasties om deur musiek in hul maatjie se verjaarsdagvreugde te deel. Later in die dag lees Juffrou Jessica vir hierdie leerders ʼn

124

musiekstorie, wat beskryf is in beweging op musiek.116 In die semi-gestruktureerde onderhoude is daar aan Juffrou Jessica gevra wat die invloed van musiek is op haar graad R klas. Sonder om te aarsel, het sy geantwoord: “Graad R-leerders geniet musiek”(161:15) en daarom kan dit gebruik word om hul leer genotvol te maak.

4.5.2.2 Gevoelens

Gevoelens ressorteer onder nie-musikale leer wanneer dit vanuit die konteks van die graad R-vak Lewensvaardighede beskou word. Die studie-area wat met hierdie aspek van leerders se ontwikkeling verband hou, is Persoonlike en Sosiale Welsyn.

Graad R-leerders beleef spesifieke gevoelens deur musiek. Op die vraag aan leerders van graad R-klas B hoe musiek hulle laat voel, was die antwoorde uiteenlopend.117 Een leerder se antwoord was “gelukkig”(124:1) en ʼn ander leerder het beskryf hoe dit hom “hartseer maak wanneer mense aaklige liedjies sing”(124:1). Wat liedjies betref wat gesing word wanneer leerders hartseer is, is Wielie Walie een leerder se uitkoms om “minder hartseer te voel”(128:3), aangesien sy nie sing wanneer sy hartseer is nie, maar wel aan ʼn spesifieke liedjie dink. ʼn Leerder van graad R-klas D sing bloot “ʼn liedjie oor Jesus”(126:3) wanneer hy hartseer is en begin met die liedjie Daar’s vissies in die water. Liedjies wat graad R-klas B se leerders sing wanneer hulle gelukkig is, is onder meer Spieëltjie, Spieëltjie, “enigiets wat hulle by die Kinderkerk leer”(128:2) en Twinkle, twinkle, little star.

Musiek skep ook vir kinders van hierdie ouderdom maniere om hul gevoelens te verwerk. Daar is aan graad R-klasse D en E se leerders gevra wat hulle sing wanneer hulle kwaad is. Die eerste leerder het dit duidelik gestel dat hy “nie sing wanneer (ek) kwaad is nie”, terwyl ʼn ander leerder beskryf het hoe hy dadelik aan ʼn liedjie dink wat gaan oor maniere om sy “tong te keer om lelike dinge kwyt te raak”118(126:4). Een van die leerders sê dat musiek hom kwaad maak, maar hy weet nog nie wat die rede daarvoor is nie. Dit is onbekend of hierdie leerder na ʼn spesifieke lied verwys het, of na musiek in die algemeen. ʼn Liedjie wat een van hierdie leerders graag sing wanneer hy gelukkig is, is Lees jou Bybel, bid elke dag (126:2). Tydens ʼn musiekles waar graad R-klas E op instrumente speel, glimlag die leerders wanneer hulle die instrumente bespeel. Vir enige waarnemer is dit duidelik dat hulle gelukkig lyk. Later begin hulle entoesiasties sing toe Juffrou Hazel na sang verwys. Almal sing uit volle bors. Die tema van hierdie week is “Die dokter”. Oor die algemeen lag hierdie kleuters deurentyd

116 Kyk 4.1.1.2 Beweging.

117 Die vrae en graad R-leerders se antwoorde daarop is uit gesprekke waar die leerders uit hul eie uit met my kom gesels het en hoegenaamd nie omdat hulle genader is vir formele onderhoude nie.

125

tydens musieklesse, en wanneer beweging betrokke is, hardloop hulle opgewonde rond wanneer musiek speel.

4.5.2.3 Leefwêreld

Musiek word gebruik om leerders se leefwêreld uit te beeld, te verstaan en te verwerk. Aktiwiteite wat deur musiek plaasvind en verband hou met leerders se leefwêreld, kan informeel en formeel wees deurdat dit in die klassituasie plaasvind of tydens speeltyd. Hierdie aktiwiteite verskil van aktiwiteite op musiek, wat verband hou met die elemente van musiek, terwyl aktiwiteite wat deur musiek uitgevoer word, nie-musikale uitkomste tot gevolg het en die uitkomste daarom nie verband hou met die elemente van musiek nie.

Graad R-klas A dra gedurende klastyd ʼn musiekspeletjie voor wat hulle in hul vrye tyd speel. Die elemente waarop hierdie speletjie berus, is ritmiese spraak en metrum. Die speletjie se woorde is:

Tamatiesô-lie, sô-lie, lê-lê, lê. Ek het jou gesien met ʼn ander man! Toe maak jy so, en so, en so, so, so!

Die kleuters wikkel hul heupe tydens die laaste frase. Vir die res van die liedjie staan hulle in ʼn kring en maak beurte om in die middel rond te loop en uit te wys “wie hulle met ʼn ander man gesien het”. Sodra daardie persoon uitgewys word, is dit sy of haar beurt om in die middel te gaan staan. Hierdie musiekspeletjie is ʼn uitbeelding van ʼn groep leerders in graad R-klas A se leefwêreld. Omdat leerders die speletjie in hul vrye tyd speel, sou dit vir hulle van waarde wees indien Juffrou Johanna die inhoud van die woorde in ʼn les uit die studie-area Persoonlike en Sosiale Welsyn integreer ten einde morele waardes te ondersoek. Haar reaksie op die onderstaande kletsrym-klapspeletjie is ʼn goeie voorbeeld hiervan.

“Paasfees” is graad R-klas A se tema vir ʼn bepaalde week. Tydens ʼn oorgangsaktiwiteit begin die leerders spontaan met ʼn kletsrym-klapspeletjie:

Ek het ʼn man (klap-klap-klap-klap). Hom naam is Jan (klap-klap-klap-klap). Hy skop my hier, Hy skop my daar, Hy skop my binne-innie hospitaal!

Juffrou Johanna luister verbaas saam met my en sien die geleentheid raak vir ʼn Persoonlike en Sosiale Welsyn-les en verduidelik aan die kleuters dat hulle nie hulle en ander mag seermaak nie – hetsy met woorde en/of dade. Leer het dus deur musiek plaasgevind, alhoewel dit gefokus het op ʼn aspek van iets wat leerders nie mag doen nie.