• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUURSTUDIE

2.2 Kosmologie

Die kosmologiese vraag het betrekking op die funksie en rol van integrasie met musiek in die samelewing:

Wat is die aard van integrasie van musiek in graad R?

ʼn Bespreking van die kosmologiese vraag verwys na die noodsaaklikheid, waarde en uitdagings van integrasie met musiek in graad R.

35

Figuur 5: Die aard van integrasie van musiek in graad R

Hackett en Lindeman (2004:79) beskryf hoe musiek leer in alle vakke stimuleer en verryk deurdat leerders hul gevoelens, kreatiwiteit en kultuurerfenis kan ontdek in ʼn geïntegreerde kurrikulum.

2.2.1 Die noodsaaklikheid van integrasie van musiek in graad R

Grobler (1987:11) sê dat musiek deel is van die graad R-leerder se alledaagse lewe en daarom ook deel moet wees van die daaglikse onderrigaktiwiteite en nie slegs ʼn geïsoleerde periode op sekere dae nie. Enige tyd van die dag kan volgens haar gebruik word om te sing en spontane sang aan te moedig. Indien die bydrae wat musiek kan lewer tot onderrig en leer in graad R na waarde geskat word, beveel sy aan dat graad R-onderwysers elke geleentheid gedurende die dagprogram gebruik om deelname aan musiek te bevorder. Die redes vir integrasie wat deur Russell-Bowie (2009a:257) aangevoer word, is:

 Leerders ervaar ʼn begrip en toepassing van konsepte in plaas van die aanleer van feite

 Leerders ontwikkel generiese vaardighede vir werk en leer, naamlik navorsing, analise, sintese, probleemoplossing, spanwerk, leierskap en kritiese denke.

2.2.2 Die waarde van integrasie van musiek in graad R

Campbell (2010:4) beskryf hoe leerders deur middel van musiek hardop dink, sosialiseer, speel, hul gevoelens uitdruk en ritmies beweeg. Wanneer musiek dus met ander vakke geïntegreer word, word hierdie vaardighede ontwikkel. ʼn Geïntegreerde benadering tot

noodsaaklikheid van integrasie van musiek in graad R

waarde van integrasie van musiek in graad R uitdagings van integrasie

van musiek in graad R

36

onderrig bevorder holistiese opvoeding, waar eenheid belangriker is as fragmentasie en intellektuele kennis as enigste doelwitte. Leerders en onderwysers het leerervaringe wat intellektueel en emosioneel stimulerend is wanneer musiek met die kurrikulum geïntegreer word, aangesien geïntegreerde leer kreatiwiteit bevorder (Russell & Zembylas, 2007:289). Alhoewel die doelwitte van graad R in verskillende kontekste verskil, word Excell en Linington (2010:6) se doelwitte uit internasionale literatuur opgesom as voorbereiding vir die lewe en ʼn grondslag vir lewenslange leer, die holistiese ontwikkeling van die graad R-leerder, ontwikkeling van ʼn leeringesteldheid wat lewenslange leer sal ondersteun en die voorbereiding vir graad 1. Hulle merk egter op dat navorsing daarop dui dat graad R- leerders gereed is vir graad 1 wanneer die eerste drie doelwitte bereik is, met ander woorde dat hulle die onderliggende kennis, vaardighede, houdings en waardes verkry het wat hulle sal help om die vereistes van ʼn meer gestruktureerde opvoedkundige omgewing te hanteer. Die waarde wat musiek vir die graad R-leerder inhou, ondersteun, motiveer en moedig die integrasie van musiek aan. Leer word positief deur musiek beïnvloed, omdat musiek leerders help om meer effektief te leer (Eady & Wilson, 2004:243). Redes hiervoor wat deur verskeie studies bewys is, word deur Brewer (1995:1) uitgelig.

Musiek:

 skep positiewe leertoestande

 skep ʼn gunstige atmosfeer

 skep afwagting

 gee leeraktiwiteite energie

 verander die stadia van breingolwe

 rig konsentrasie

 vermeerder aandagspan

 verbeter die geheue

 fasiliteer ʼn multisensoriese leerervaring

 verlig spanning

 verryk die verbeelding

 bevorder groepwerk

 ontwikkel samewerking

 verskaf inspirasie en motivering

 dra ʼn element van pret by tot die leersituasie

 beklemtoon tema-georiënteerde eenhede

 beïnvloed die gemoedstoestand, bevorder motivering en verbind leer (Cane, 2009:33)

37

 verskaf ander vorms van geletterdheid wat toeganklik is vir almal (jong kinders gebruik die kreatiewe prosesse van musiek om leer regoor die kurrikulum te demonstreer) en

 veronderstel ʼn pedagogiese benadering tot onderrig en leer waar denke, aksies en ingesteldhede geïntegreer word wanneer musiek oorkruis-kurrikulêr onderrig word (Campbell & Scott-Kassner, 2010:349).

2.2.3 Die uitdagings van integrasie van musiek in graad R

Die benutting van integrasie van musiek word gedebatteer. Overland (2013:32) waarsku dat wanneer musiek gebruik word om ʼn ander vak te verryk met akademiese prestasie as enigste doelwit, bestaan die moontlikheid dat die waarde van die kunsvorm verminder word. Indien hierdie proses volgens hom nie gekontroleer word nie, kan musiek op ʼn onbeduidende manier in die kurrikulum vermeng word en uiteindelik deur kernvakke met ʼn hoë prioriteit verswelg word.

Teenargumente teenoor hierdie stelling is dat wanneer musiek geïntegreer word, dit nie altyd afgewater word as belangrike gereedskap vir intellektuele ontdekking nie en dat dissipline- gedrewe onderrig en die integrasie van musiek mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Met ander woorde, musiek as dissipline kan steeds met integriteit onderrig word al word dit terselfdertyd vir integrasie gebruik.

Russell en Zembylas (2007:290) voer aan dat hulle die voordele en effektiwiteit van integrasie in die kurrikulum betwyfel, aangesien daar na hul mening nie genoegsame empiriese navorsing gedoen is om aan te dui dat ʼn geïntegreerde kurrikulum effektief is in terme van leerders se prestasie nie. Hulle beklemtoon egter dat navorsing oor die integrasie met musiek eerder die impak daarvan op verskeie faktore moet ondersoek en nie net op toetsresultate in spesifieke vakke moet fokus nie.

Uit die literatuur lei ek af dat die uitdagings vir integrasie van musiek die volgende inhou: aan die een kant kan integrasie bydra tot ʼn reeds oorlaaide kurrikulum en aan die ander kant kan die begrip en ervaring van musiek as dissipline ondermyn word, wat kan lei tot die verdwyning van musiekspesialiste in skole. Nog ʼn uitdaging wat deur May (2012:5) bespreek word, is die addisionele tyd wat nodig is om saam met ander onderwysers geïntegreerde lesse te beplan. Moontlike redes vir teenkanting teen integrasie is afgewaterde doelwitte en die onsuksesvolle onderrig van dissiplines wanneer dit op ʼn geïntegreerde manier aangebied word. Russell-Bowie (2009a:257) waarsku teen betekenislose, onsamehangende aktiwiteite sonder diepte wanneer integrasie nie op die korrekte manier geïmplementeer word nie.

38

2.2.3.1 Integrasie met integriteit

Integrasie met integriteit beteken om buigbaar te wees ten opsigte van die konteks, maar onbuigbaar ten opsigte van die inhoud (Cane, 2009:38). May (2012:6) benadruk hoe geïntegreerde lesse die inhoud en doelstellings van beide vakke wat betrokke is by integrasie, moet aanspreek.

Die onderwyser se begrip omtrent die aard van musiek bepaal die vlak van integrasie met integriteit (Campbell & Scott-Kassner, 2010:362). Deurdagte integrasie deur graad R- onderwysers wat nie musiekspesialiste is nie, kan volgens Campbell en Scott-Kassner (2010:362) bewerkstellig word deurdat hulle nadink oor maniere waarop leerders se musikaliteit ontwikkel word wanneer hulle geïntegreerde aktiwiteite beplan. Op hierdie manier word die musikale waarde gemeet.

Die integrasie van musiek met die kurrikulum het die potensiaal om kinders en onderwysers se lewens te verryk. Om deur musiek omring te word, het ʼn verrykende lewe tot gevolg (Campbell & Scott-Kassner, 2010:370).