• No results found

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE

4.3 Leer met musiek

4.3.1 Aktiwiteite vir leer met musiek

4.3.1.5 Beweging met musiek

Alhoewel beweging met musiek hier in isolasie bespreek word, is daar tog altyd ʼn mate van leer op musiek betrokke, omdat die liggaam die elemente van musiek ervaar en toevallige leer plaasvind. Selfs al staan nie-musikale doelwitte voorop, is daar altyd musikale doelwitte wanneer beweging deur musiek begelei word. Dis veral beweging wat integrasie verseker. Tydens semi-gestruktureerde onderhoude is daar aan die onderwysers gevra waarom en waarvoor hulle musiek buite die klas gebruik. Juffrou Johanna antwoord dat dit gebruik word “om liggaamsoefening te leer”(116:12), terwyl Juffrou Jessica vertel het hoe hulle musiek en beweging gebruik tydens een van hul jaarlikse fondsinsamelings, ʼn modeparade. Sy beskryf ook ʼn aktiwiteit in ʼn suksesvolle musiekles as leerders wat met ʼn lappie op klassieke musiek dans. Op die vraag hoe musiek binne-in die klaskamer gebruik word, antwoord Juffrou Johanna dat dit gebruik word om “lessies te onderrig wanneer dit pas by die lessie”(116:5). Sy gebruik die aanleer van die begrippe links en regs met behulp van liedjies as voorbeeld, en sê dat leerders hul vingers gebruik om die aantal bene en hande saam met musiek te tel. Die instruksies in Graad R-klas B se lesplanne lees dikwels: “Gebruik verskillende liggaamsdele om liedjies uit te beeld”, “Spontane gebruik van stem en beweging”(16:3), “Vrye, spontane bewegings saam met musiek”(66:2), “Sing aksieliedjies en gebruik liggaamsdele om liedjies uit te beeld”(71:2), “Doen aksies soos in liedjie”(22:1), “Ontdek musiek, beweging en klank”(79:2) en “Beweeg volgens musiek”(44:3). Leerders voer dan bewegings saam met musieksnitte uit, byvoorbeeld Ek lees graag ʼn storieboek, Sing ʼn lekker liedjie, There you are,

sleeping (kleuters maak asof hulle ʼn baba aan die slaap wieg), Kom ons loop, Ek het ʼn huisie by die see (leerders doen strekoefeninge en eindig waar hulle op hul rûe lê), Ek het hande, Strek my armpies, My twee beentjies, Teddy Bears’ Picnic, Kleure, Vorms, Ek is so groot/klein/hoog/laag, Die wiele van die bus (gebruik handbewegings om rigting aan te dui)

en Roer die vingers. In laasgenoemde liedjie is dinamiek aangespreek, aangesien leerders hul vingers harder en sagter moes beweeg soos wat die dinamiese kontraste in die liedjie gewissel het.

Musiek word dikwels deur Juffrou Linda gebruik om die visuele persepsie van rigting te versterk en vas te lê. Serpe99 word aan die leerders uitgedeel vir die liedjie Vorentoe en

109

Agtertoe by die tema “Herfs”. Leerders moet hulle verbeel die wind waai hul serp vorentoe

en agtertoe terwyl die musiek speel. ʼn Ander keer staan die kleuters op een plek en swaai hul uitgestrekte arms om te wys hoe die wind saam met die liedjie Voel hoe waai die wind waai. Die arms word bokant die kop, aan weerskante van die lyfie en laag op die grond geswaai. Dieselfde liedjie is gebruik sodat kleuters hul vingers voor hul lyf, agter hul kop, ensovoorts kan klap. Vir ʼn aktiwiteit saam met ʼn opname van Vivaldi se Die vier seisoene pak Juffrou Linda 'n sirkel met boontjiesakkies. Die kleuters loop in 'n kring bo-oor die boontjiesakkies. Hulle luister wanneer die tamboeryn slaan en moet dan van rigting verander. Aan die einde van die musiek gaan sit die kleuters by hul boontjiesakkie en luister rustig met toe oë na die musiek.

Graad R-klas B se leerders hardloop met hul serpe in die lug. Sodra die musiek ophou en die kleuters Juffrou Linda se hand sien wat wys “stop”, staan hulle in enige posisie (vries). Hierdie aktiwiteit word 'n paar keer herhaal. Die laaste keer hou Juffrou Linda ʼn prent van ʼn hoepel in die lug en moet die kleuters by ʼn hoepel wat op die mat uitgepak is gaan staan. Visuele sowel as ouditiewe vaardighede word deur hierdie aktiwiteit bevorder, aangesien leerders deurentyd moet luister na en kyk vir spesifieke instruksies wat hul bewegings bepaal.

By die tema “Klanke” sing die kleuters saam met die liedjie Die windpomp. Die bewegings wat hulle uitvoer, behels dat hulle hul liggaamsdele gebruik om die liedjie uit te beeld, byvoorbeeld deur hul arms in die rondte te swaai soos ʼn windpomp se lemme. In die week wat die tema “Veiligheid” behandel word, word die Konstabelliedjie met bewegings uitgevoer, terwyl ʼn opname van die musieksnit speel. Bewegings saam met musiek beslaan ʼn groot deel van hierdie leerders se dag. Terwyl Opruimtyd gesing word en ʼn groep leerders begin opruim, dans ʼn ander groep leerders spontaan op die liedjie terwyl die res van die klas opruim!

Die leerders van graad R-klas C speel ʼn vingerspeletjie saam met die liedjie One elephant. ʼn Stukkie tou word rondom elke leerder se wysvinger gebind. Hierdie vinger beweeg by die toutjie af terwyl die liedjie gesing word. Elke keer wanneer die liedjie herhaal word; moet die leerders nog vingers byvoeg om addisionele olifante voor te stel.

Sosiale vaardighede word ontwikkel wanneer graad R-klas B die liedjie Kom nou maatjie sing terwyl hulle in pare saamdans en bewegings uitvoer na aanleiding van die woorde van die liedjie:

Kom nou maatjie, dans met my. Vat my hande wat ek gee: Een maal links, Een maal regs. Sien jy nou, dit is nie sleg!

Dieselfde liedjie is in Engels gesing met die woorde Come along and dance with me tydens ʼn les in graad R-klas C, waarop daar op dieselfde manier gesing en gedans is.

110

Walsmusiek word in graad R-klas C gebruik, waar leerders hulle moet verbeel hulle luister hoe die wind waai. Daarvolgens moet hulle op hul tone hardloop, terwyl hulle hul arms op en af waai soos die wind. Daar word egter nie instruksies gegee dat die armbewegings enigsins verband moet hou met die metrum van die musiek nie en die fokus is eerder op die spontane hardloop en waai-bewegings. Hierdie aktiwiteit sou toepaslik wees vir beweging op musiek indien die ritme en metrum van die musiek die leerders se bewegings bepaal het, maar omdat dit nie die geval is nie, word dit onder beweging met musiek geklassifiseer.

Die doel van ʼn ander aktiwiteit is musiekbeluistering van ʼn stuk musiek wat beskryf word as “Swaai-musiek”(63:1). Hier staan die graad R-leerders in ʼn hoepel, terwyl hulle ʼn serp in hul regterhand in groot sirkelbewegings voor die gesig swaai. Die beweging word herhaal. Met die serp voor die bors vasgehou, loop die leerders solank die musiek speel – al in die rondte van die hoepel. Sodra die musiek ophou, sit hulle die serpe op hul koppe en loop anderkant om. Die aktiwiteit word met die linkerhand herhaal, waarna die hoepels gebêre word. ʼn Soortgelyke aktiwiteit waar leerders ook moet beweeg en stop na aanleiding van die musiek, word in graad R-klas C waargeneem wanneer leerders op die liedjie Walk and Freeze rondloop en stop sodra die woorde dit vereis.

Spesifieke bewegings word aan graad R-klas C se kleuters bekendgestel deur middel van die liedjie Sh! Sh!. Hulle moet luister na wat Juffrou Jessica sing en die bewegings uitvoer wanneer sy dit sing. Die woorde van die liedjie is:

Sh! Sh! Be as quiet as can be, Sh! Sh! Watch and follow me.

Sh! Sh! Can you touch your toes? Sh! Sh! Can you touch your nose? Sh! Sh! Stretch your hand up high. Sh! Sh! Reach for the sky!

Graad R-klas D se tema vir een van die weke is “My land”. Hiervoor sing hulle This is my land op die wysie van Vader Jakob. Die liedjie word eers hard en dan sag gesing. Die bewegings wat saam met liedjie uitgevoer word, is om die verskillende lengtes en groottes van mense met hul hande te wys terwyl hulle sing. Alhoewel dinamiek ervaar word tydens die sing van die liedjie, is daar nie ʼn musiekelement betrokke wat die bewegings stimuleer nie en is die nie-musikale begrippe van groot teenoor klein en vet teenoor maer ontdek.

Juffrou Jessica sit ʼn CD aan en die liedjie Hello everybody, how do you do? begin speel. Terwyl die leerders die liedjie sing, word hulle aangemoedig om die bewegings uit te voer soos wat dit in die liedjie uitgestip word: klap hande en tik op die bene. ʼn Alternatiewe aktiwiteit wat saam met hierdie liedjie uitgevoer word, verbeter leerders se luistervaardighede. Tydens die aktiwiteit moet die kleuters opstaan wanneer Juffrou Jessica hul name uitroep. Hierdie kleuters loop dikwels in die klas rond met dieremaskers aan terwyl musiek gespeel word vir beweging met musiek. Juffrou Jessica het nie gespesifiseer of hulle hierdie diere uitbeeld of nie.

111