• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSBENADERING

3.4 Data-insameling

3.4.4 Generering en dokumentering van data

Die navorsingsvrae is as uitgangspunt vir die generering en dokumentering van data gebruik. Drie sleutelaspekte van data-insameling in gevallestudies kan moontlike probleme voorkom wat verband hou met die geldigheid en betroubaarheid van die data wat ingesamel is (Yin, 2009:98):

 veelvoudige inligtingsbronne, waar bevindinge ooreenstem

 die noodsaaklikheid van ʼn databasis, waar die verwantskappe tussen die navorsingsvrae, die data wat ingesamel word en die gevolgtrekkings deurgaans behoue bly

 die aaneenskakeling van bewyse,67 wat die betroubaarheid van die inligting in ʼn gevallestudie versterk.

Die generering en dokumentering van data vir hierdie proefskrif is so verwoord dat die leser die navorsingsvrae met die gevolgtrekkings kan verbind, om verwantskappe tussen die protokol en die navorsingsvrae te kan sien (Yin, 2009:123).

3.4.4.1 Veelvoudige prosedures

Die twee oorhoofste uitkomste van ʼn gevallestudie is om die beskrywings en interpretasies van ander te verkry en veelvoudige sienings van die geval uit te beeld, asook om veelvoudige realiteite te ontdek en te ondersoek deur middel van onderhoude (Stake, 1995:64). Eersgenoemde uitkoms is bereik deur middel van waarnemings en onderhoude, terwyl die tweede uitkoms met onderhoude bereik is.

a. Direkte waarnemings

Yin (2009:109) voer aan dat ʼn gevallestudie die geleentheid vir direkte waarneming skep, omdat waarneming in die natuurlike omgewing van die geval moet plaasvind. Direkte waarneming is enersyds voordelig, omdat dit realisties en kontekstueel is; dit kan aan die ander kant baie tyd in beslag neem en selektief en duur wees (Yin, 2009:102). Die meganiese aspekte van direkte waarneming is om veldwerknotas te neem, aanhalings te dokumenteer, op die regte tyd te beweeg van buitestander tot deelnemer, die vaardigheid om waarnemings gefokus te hou en nie oorweldig te word deur die groot hoeveelhede data wat ingesamel word nie.

67 “Die aaneenskakeling van bewyse” word in hierdie proefskrif gebruik as vertaling vir “chain of evidence” (Yin, 2009:122).

72

Creswell (2013:167) se stappe is as riglyne gebruik vir direkte waarneming:

1. Die plek vir die waarnemings is bepaal en toestemming is verkry om die terrein te betree.68 Aangesien ʼn paar graad R-klasse reeds besoek is vir navorsing tydens die loodsondersoek, is die ander klasse vooraf informeel besoek (Merriam, 2009:268) om die konteks, graad R- onderwysers en leerders beter te leer ken.

2. Die deelnemers is geïdentifiseer en die tydsraamwerk is bepaal.

3. My rol as waarnemer is bepaal. Die tipe waarnemingsprosedure is dié van nie- deelnemende/waarnemer as deelnemer,69 waar ek ʼn buitestander is van die graad R- klas wat bestudeer word. Data is ingesamel sonder om direk betrokke te wees by die aktiwiteit of die deelnemers. Die twee benaderings wat tydens waarnemings toegepas is, is die insameling van veldwerknotas deur waarneming en die insameling van veldwerknotas deur meer tyd as waarnemer te spandeer as deelnemer (Creswell, 2013:160).

4. Die protokol vir direkte waarneming is gebaseer op die navorsingsvrae en -doelwitte (Creswell, 2013:166), en die kontrolelys is gebaseer op ʼn kombinasie van Stake (1995:50) en Creswell (2013:169) se kriteria vir ʼn protokol vir direkte waarneming in gevallestudies.70 5. Spesifieke aspekte is volgens die protokol genotuleer. Die gebeure in graad R-klasse is

beskryf en verwerk deur persoonlike nadenke, insigte, idees, verwarrings, veronderstellings, aanvanklike interpretasies en deurbrake. Alle sintuie is gebruik tydens die waarneming van die omgewing, deelnemers, aktiwiteite, interaksies en gesprekke, sodat die leser ʼn gevoel van teenwoordigheid sal ervaar – omdat die fisiese ruimte grondliggend is tot die betekenis vir navorsers en lesers (Stake, 1995:63).

6. Aan die einde van ʼn waarneming is daar geleidelik aan die situasie onttrek, die deelnemers is bedank en hulle toegang tot die studie is bevestig.

7. Elke waarneming is verfilm en daarna is die notas van die waarneming onmiddellik vasgelê (Creswell, 2013:168). Die uitkoms van waarnemings is om toepaslike oomblikke te ontdek wat die unieke kompleksiteit van hierdie gevallestudie openbaar (Stake, 1995:63).

b. Onderhoude

Semi-gestruktureerde en informele onderhoude is met die graad R-onderwysers gevoer, wat oor die tyd heen versprei is (Yin, 2009:107). Informele gesprekke is ook met die graad R- leerders gevoer en het spontaan plaasgevind op die speelgrond tydens pouses. Hierdie gesprekke en onderhoude het plaasgevind in die graad R-klasse of nabye omgewing, waar

68 Kyk 3.4.2 Verkry toegang.

69 “Nie-deelnemende/waarnemer as deelnemer” word in hierdie studie gebruik as Afrikaanse vertaling vir “nonparticipant/observer as participant” (Creswell, 2013:167).

73

die onderwysers en graad R-leerders op hul gemak is. Daar is vooraf toestemming verkry om die onderhoude te voer, deurgaans gepoog om nie af te wyk van die vrae nie, kontrole is uitgeoefen om die onderhoude binne die tydgleuf te voltooi, die respondente te respekteer en aandagtig te luister (Creswell, 2013:160).

Dikwels het ek tussen aktiwiteite met die graad R-onderwysers gesels en my onderhoudsvrae op ʼn informele manier gevra. Die vrae is gememoriseer om oogkontak met die respondente te behou (Creswell, 2013:164), wat hulle in staat gestel het om op sekere punte uit te brei soos wat hulle goedgedink het. Dit sluit aan by die manier waarop Yin (2009:106) onderhoude definieer as gerigte gesprekke eerder as gestruktureerde ondervragings. Protokol is gevolg en onpartydige vrae gevra. Die onderhoudsvrae was direk op die onderwerpe van die gevallestudie gerig en het gelei tot ʼn begrip van die informele verduidelikings en gevolgtrekkings. Sodoende was die respondente nie genoodsaak om hul antwoorde te baseer op wat hulle dínk die onderhoudsvoerder wil hoor nie.

Die onderhoude is in die meeste gevalle opgeneem en alle opnames is getranskribeer. Die toepaslikheid van geskikte opname-prosedures is in ag geneem. Deelnemers was bewus van die opnames wat gemaak is sonder dat hul spontane reaksies daardeur beïnvloed is. Stake (1995:66) voel dat die presiese woorde van die respondent nie so belangrik is as die betekenis daaragter nie. Daarom het ek aandagtig geluister, notas geneem en die antwoorde geverifieer met die betekenisse en interpretasies daaragter, aangesien transkribering ʼn tydrowende proses is.

ʼn Protokol vir onderhoude verg deeglike beplanning, aangesien dit die geleentheid optimaliseer om aantekeninge te maak tydens die onderhoud oor die reaksies van die respondent. Gedagtes is hierdeur georden met betrekking tot opskrifte, aanvangsinligting, afleidings, die afsluiting van die onderhoud en bedankings aan die deelnemer (Creswell, 2013:168). Die vrae in die protokol-dokumente71 is vooraf opgestel sodat die onderwysers se antwoorde gebruik kon word om die derde subvraag vir hierdie navorsing te beantwoord, naamlik watter temas na vore kom uit die data-analise van musiek in graad R. Hierdie vrae is verder verfyn deur die loop van die studie.

74

3.4.4.2 Veelvoudige bronne

a. Dokumente

Dokumente speel in hierdie studie ʼn noodsaaklike rol om musiek in graad R te ondersoek, omdat slegs ʼn paar dae se klasse waargeneem is en nie ʼn hele jaar se lesse nie. Ten einde insae tot die lesvoorbereiding van die graad R-onderwysers te kon kry, is vooraf toestemming gevra om hul onderrigleêrs en lesplanne te bestudeer. Dokumente is dikwels plaasvervangers vir aktiwiteite wat die navorser nie direk kan waarneem nie (Stake, 1995:68).

b. Visuele- en oudiovisuele materiaal

Die klasaktiwiteite wat deur die loop van ʼn graad R-skooldag plaasvind, is op video vasgelê vir navorsingsdoeleindes. Die aktiwiteite wat direk verband hou met die integrasie van musiek tydens onderrig en leer in graad R, is getranskribeer.

c. Fisiese artefakte72

Leerders se skriftelike werk, asook plakkate en uitstallings in die klas is tydens waarnemings bestudeer as navorsingshulpmiddels.