• No results found

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE

4.3 Leer met musiek

4.3.1 Aktiwiteite vir leer met musiek

4.3.1.1 Dramatisering met musiek

Dramatisering met musiek vind plaas wanneer ʼn opname van ʼn liedjie of instrumentale werk gespeel word, of wanneer kleuters of die graad R-onderwyser self sing. ʼn Voorbeeld van

102

kleuters wat hul eie dramatisering deur hul sang begelei, is graad R-klas A wat ʼn nuwe liedjie,

Die Hen, aanleer. Telkens wanneer die woorde Kekkeleke, kekkeleke, ek het 'n eier gelê!

gesing word, moet die kleuters hul armpies gebuig klap soos 'n hoender. Daarteenoor word musiek aan die leerders in graad R-klas B voorgespeel waarop hulle spesifieke verbeeldingsituasies moet uitbeeld. Die instruksies vir hierdie lesse lui: “Opwarming – Improviseer lewenservaringe/fantasie deur beweging, mimiek, ander tegnieke”(75:2) en “Dramatiseer liedjies (vrye vertolking)”(80:3). Winter uit Die Vier Seisoene (A. Vivaldi) word gebruik sodat kleuters spesifieke instruksies kan volg vir dramatisering. Hulle is honde wat gaan slaap, hulle uitstrek, wakker word en weer ʼn sonkolletjie gaan soek om aan die slaap te raak, terwyl die musiek in die agtergrond speel.

Leerders smelt soos 'n groot blok ys in die son op die liedjie You are my sunshine. Hulle staan aanvanklik regop met uitgestrekte arms, waarna hulle stadig smelt tot 'n plassie water op die mat. Op die liedjies Sonbrilletjies, Vorms en Kleure dramatiseer leerders vrylik hul ervarings met die konsepte waaroor die woorde van die liedjies handel.

Later in die kwartaal sing Juffrou Linda en haar kleuters die Treintjie-liedjie,97 terwyl hulle mekaar se elmboë vashou en die bewegings van ʼn stoomtrein uitbeeld. Hierdie dramatisering is nie op die maat van musiek nie, maar word bloot saam met die musiek uitgebeeld. Daarom word hierdie aktiwiteit geklassifiseer onder dramatisering met musiek en nie dramatisering op musiek nie. Die voorste kleuter is die lokomotief en die ander kleuters die treintrokke. Hulle gaan kuier by ouma en loop in ʼn sirkel. Die treintrokke begin na ʼn rukkie uitwyk van die sirkel terwyl kleuters tjoek-tjoek-geluide maak. Dit is ʼn prettige aktiwiteit wat almal baie geniet.

Op die melodie van Here we go round the Mulberry bush sing leerders ʼn liedjie waarop hulle ʼn rolspel uitvoer van verskillende karakters wat verskillende boeke lees, tydens die tema “Boeke”. Die dramatiserings hou nie verband met die elemente van musiek nie, omdat musiek slegs die dramatiserings begelei terwyl die woorde uitgebeeld word. Die kernteks bestaan uit die woorde “Pa lees graag in sy koerant, sy koerant, sy koerant. Pa lees graag in

sy koerant, elke liewe môre”(12:1). Die woorde wat onderstreep is, word telkens vervang deur

ander lede van die gesin en die boeke wat hulle lees:

Ma lees die resepteboek, Ouma lees haar tydskrif, Sus lees haar bladmusiek, Ek lees my storieboek, Boet lees sy diereboek en Oupa lees sy tuinbouboek.

ʼn Ander aktiwiteit waar die verskillende lede van die gesin uitgebeeld word, is ʼn opwarmingsaktiwiteit op die Pappa/Mamma-medley en die liedjie Spieëltjie. Terwyl die

103

musiek speel, moet leerders die handelinge soos volg dramatiseer: Pappa sny gras, bestuur of was die motor; terwyl Mamma kos maak, die baba voer of stofsuig. Die kleuters interpreteer en dramatiseer die ander lede van die gesin (boetie/sussie/grootouers) se handelinge vrylik.

Kleuters geniet dit om woorde te dramatiseer. Taal speel in hierdie geval ʼn groter rol as musiek omdat die woorde gedramatiseer word. Daarom word hierdie aktiwiteit geklassifiseer onder dramatisering met musiek in plaas van dramatisering op musiek. Liedjies wat hiervoor gebruik word in graad R-klas B, is Gryp jou boontjiesakkie (met instruksies van wat leerders alles met die boontjiesakkie moet doen), Dorstyd (waar hulle na die klank van die dorsmasjien luister en die bewegings namaak) en Pannekoek bak (waar kleuters hul liggaamsdele gebruik om die aksies in die liedjie uit te beeld terwyl hulle saamsing).

Die tema van die week is “Die weer” en leerders moet spesifieke bewegings uitvoer op ʼn stuk musiek waarin dinamiese kontraste voorkom. Op die sagte musiek moet leerders ʼn blaartjie aan sy punt optel en hul arm in die rondte swaai met groot bewegings, waarna hulle hande ruil. Daarna kyk hulle hoe ver hulle 'n wiel rondom hulle met die blaartjie kan trek. Die derde aksie is dat leerders bo-oor die blaartjie spring om voor, agter, aan die een kant en aan die ander kant van die blaartjie te staan. Laastens sit leerders die blaartjie op hul hande, strek hul arms en draai in die rondte sonder dat dit afval. Op die harder musiek moet leerders die blaartjie op hul koppe en dan hul skouers sit en rondbeweeg sonder dat dit afval. Die aktiwiteit word afgesluit waar leerders op hul rûe gaan lê, ʼn boontjiesakkie op hul voete sit en hul bene reguit in die lug hou sonder dat dit afval. Alhoewel dinamiese kontraste in die musiek voorkom, hou die bewegings nie daarmee verband nie en is dit bloot riglyne vir die volgorde waarin verskillende bewegings op mekaar volg. Ruimtelike oriëntasie word in hierdie aktiwiteit ontwikkel terwyl musiek speel, met ander woorde saam met musiek.

Graad R-klas C moet ʼn spesifieke verbeeldingsituasie op die liedjie On the high wire uitbeeld. Juffrou Jessica verduidelik aan die leerders hoe party mense op toue of drade kan loop wat hoog bokant die grond gespan is. Daarna nooi sy ʼn leerder uit om te demonstreer hoe hy of sy op so ʼn tou of draad sou loop terwyl die musiek speel. Al die leerders kry nou die geleentheid om te dramatiseer hoe hulle teen ʼn leer opklim, op ʼn tou of draad loop tot aan die ander kant en weer by die leer afklim terwyl die musiek speel.

Soggens begin die kleuters van graad R-klas D hul dag met die Goeiemôre-liedjie wat hulle saam met die CD sing. Tydens die verloop van die liedjie dramatiseer leerders hoe hulle slaap en wakker word soos wat in die liedjie gesing word. Liggaamsdele word daarna gebruik om die aksies van die liedjie Kyk hoe was ek my gesig uit te beeld. Leerders sing die liedjie saam met Juffrou Simoné en doen die aksies, byvoorbeeld deur gesig te was, tande te borsel en

104

skoene te poets. Die instruksies vir dramatisering met musiek in Juffrou Simoné se lesplanne lees: “Kan leerders luister en naboots deur middel van hul gehoor?”(97:4) en “Vrye beweging”(103:1).

Die ontwikkeling van luistervaardighede word deur middel van dramatisering met musiek verbeter. Tydens een van hierdie lesse speel Juffrou Simoné op die tamboeryn en moet leerders rondhardloop en maak asof hulle popklere optel wat ʼn babahondjie rondgedra het, na afloop van ʼn storie wat aan hulle voorgelees is. Wanneer die tamboeryn geslaan word, beweeg die kleuters. Sodra die tamboeryn ophou speel, moet hulle afbuk en die denkbeeldige popklere optel. Die konsepte wat hierdeur aan kleuters oorgedra word, is die kontras tussen musiek (klank) en stilte.

Vroeg een oggend doen hierdie klas bewegings na aanleiding van Juffrou Simoné se choreografie terwyl ʼn opname van die lied Houtkruis gespeel word. ʼn Ander keer sing hulle

Die wyse man bou sy huis op die rots met toepaslike bewegings wat die woorde uitbeeld.

Daarna sing die kleuters Loof Hom met die tromme, met bewegings wat die woorde dramatiseer. Die liedjie word herhaal, en hierdie keer doen hulle net die bewegings en “sing sonder klanke”. Indien laasgenoemde aktiwiteit dikwels geoefen word, sou die internalisering van musiekmaak vasgelê kon word, maar ek is onseker oor die moontlikhede en sinvolheid van hierdie aktiwiteit ten opsigte van die integrasie van musiek in graad R.