• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUURSTUDIE

2.1 Antropologie

2.1.3 Die graad R-kurrikulum

2.1.3.1 Leerbeginsels in graad R

Gronski (2012:111) beklemtoon dat spel en ontdekking integrale komponente is van die graad R-leerder se ontwikkeling. Wanneer hierdie komponente met onderrig geïntegreer word, word ontwikkeling en leer verryk. Die leerbeginsels vir graad R wat deur Maritz (2011:11) gespesifiseer word, is spel, ontdekking en praktiese ervarings. Omdat musiek met elk van hierdie leerbeginsels geïntegreer kan word, word musikale spel, musikale ontdekking en praktiese musikale ervarings ondersoek as moontlikhede vir die integrasie met musiek in graad R.

a. Leer deur middel van spel

Andrews (2012:169) definieer spel as die generiese term wat alles insluit wat jong kinders doen wat nie emosioneel beperkend is of deur volwassenes bepaal word nie, maar deur die deelnemers self. Maxim (1989:253) beweer dat graad R-leerders dit geniet om speletjies te speel wat met musiek geassosieer word.

Spel skep baie moontlikhede vir die integrasie met musiek in graad R, omdat daar soveel raakpunte is tussen spel en musiek. Die waarde van musikale spel bepaal dus tot watter mate musiek in graad R geïntegreer word. Van der Linde (1999:610) beskou genot as die hoofdoel van sing en speel en verduidelik dat leerders hulle deur middel van spel uitdruk, wat weer ʼn belangrike rol speel in die ontwikkeling van verstandelike kapasiteit en intellek; wat die grondslae is van taal. Die moontlikhede en potensiaal van spel en musiek is eindeloos. Van der Linde (1999:614) beskryf hoe spel en musiek ʼn verbeeldingswêreld skep waar die graad R-leerder vaardighede en ʼn begrip kan ontwikkel van sy/haar leefwêreld wat andersins onmoontlik sou wees. Spel en musiek kan ook die graad R-leerder se kreatiwiteit stimuleer, byvoorbeeld wanneer leerders hul eie instrumente maak wanneer hulle speel. Kreatiewe spel betrek ʼn verskeidenheid musikale aktiwiteite wat ontwerp is om ontdekking, verbeelding en vryheid van denke en uitdrukking aan te moedig (Maxim, 1989:261).

Graad R-leerders leer die wêreld ken deur spel, wat hul primêre wyse is van doen. Leer vind plaas wanneer hulle ʼn speletjie speel, pret het en bymekaar is. Ray en Smith (2010:8) het bevind dat kindgesentreerde spel, eerder as onderwysergeoriënteerde spel, geassosieer word met ʼn gebalanseerde ontwikkeling van die kognitiewe en affektiewe domeine. Musiek word geskep deur die aard van die spel, hetsy met note, instrumente, die liggaam, gevoelens of denke. In hierdie konteks word musiek dus gespeel en nie gewerk nie (Uibel, 2012:52).

Alhoewel dit mag lyk of kinders net speel (Dzansi, 2002:8) en repertorium van speletjies op die speelgrond irrelevant is, is die gebruike en praktyke wat hierdie speletjies onderlê, van

23

onskatbare waarde. Die betekenis van die gebruike wat in kinders se sangspeletjies voorkom, kan musiekonderrig en -leer in die graad R-klaskamer op verskeie maniere verryk. Dzansi (2002:8) glo dat leerders hul musieklesse meer sal waardeer wanneer die inhoud en konteks van hul speletjies op die speelgrond geïntegreer word in informele onderrig. Sy voeg ook by dat hierdie perspektief ʼn bydrae kan lewer tot die bewaring en oordrag van inheemse tradisies en kulturele diversiteit van die leerders.

Moyles (2010:22) identifiseer drie perspektiewe ten opsigte van spel wat verwant is aan pedagogiese praktyke om leer te ondersteun. Hierdie perspektiewe is suiwer spel, speel- speel leer en speelse onderrig.

Suiwer spel

Suiwer spel word deur die jong kind beheer, geïnisieer en gelei, en ontwikkel vir hul eie doelstellings. Hierdie tipe spel is intuïtief en kreatief en word moeilik geïmplementeer in ʼn gestruktureerde omgewing.

Speel-speel leer

Speel-speel leer is verwant aan leerervaringe wat deur volwassenes sowel as deur die jong kind geïnspireer is, waar die leerder speel-speel betrek word. Hierdie ervaringe hou ook verband met intuïtiewe spel, maar het ʼn spesifieke leerdoelwit en word nie deur die leerder beskou as suiwer spel nie.

Speelse onderrig

Speelse onderrig fokus op die onderwyser se rol in onderrig, deur ʼn benadering wat die graad R-leerder se oriëntering ten opsigte van spel benut wanneer leeraktiwiteite ontwerp word. Dit is die taak van die graad R-onderwyser om aktiwiteite aan te bied op ʼn manier wat betekenisvol en genotvol vir die graad R-leerders is. Voorbeelde van musikale spel word deur Campbell en Scott-Kassner (2014:23) geïdentifiseer as sangspeletjies, oorspronklike kinderkomposisies, musikale improvisasies en komposisies wat ingeoefen en herhaaldelik uitgevoer word.

b. Leer deur ontdekking

Die graad R-leerder het ʼn natuurlike neiging om deur middel van spel te ontdek, en leer die effektiefste deur voorwerpe te hanteer. Om hierdie rede voer Greyling (2011:20) aan dat graad R-leerders voorwerpe moet hanteer en moet nadink oor die uitkomste van hierdie hantering.

Gray en Macblain (2012:141) beskryf die omgewing wat vir leerders geskep word en die wyse waarop hulle aangemoedig word om deel te neem aan probleemgebaseerde

24

ontdekkende leer, hetsy as individue of saam met hul portuurgroep en die volwassenes rondom hulle. Omdat musiek soveel moontlikhede bied vir ontdekkende leer, word hierdie leerbeginsel versterk wanneer leer in graad R met musiek geïntegreer word.

c. Leer deur praktiese ervarings

Wanneer leer geïntegreer word met musiek, hou dit baie moontlikhede vir praktiese ervarings in. Praktiese ervarings in musiek, wat ook op ander vakke toegepas kan word deur middel van integrasie, berus op benaderings deur prominente musiekopvoedkundiges (Le Roux, 2011:246). Dit word kortliks bespreek.

Instrumentale Spel

Kleuters geniet dit om op eenvoudige instrumente te speel wat hulle kan skud, tik, vryf en slaan om hul sang en ander musikale ervarings te begelei (Hackett & Lindeman, 2004:110). Die basis van Carl Orff se Orff Schulwerk-benadering word deur Campbell en Scott-Kassner (2014:56) beskryf as die natuurlike gedragspatrone van jong kinders, naamlik sing, gesels,

dans, speel, improvisasie en kreatiewe beweging. Hierdie pedagogie is nou verbind met die

jong kind se leefwêreld van spel en fantasie, liedjies en spraakrympies. Die hoofkomponente van Orff Schulwerk in Europa is nabootsing en ontdekking van musiek en musiekkomponente, met geleenthede om oorspronklike werke te improviseer soos wat leerders se musikale vaardighede ontwikkel. In die res van die wêreld word hierdie proses in vier fases verdeel, naamlik nabootsing, ontdekking, geletterdheid en improvisasie.

Sang

Die graad R-leerder se stem is lig en fyn. Die stemomvang is beperk tot vyf of ses toonhoogtes en nootvastheid is nog nie vasgelê nie. Daarom moet graad R-leerder aangemoedig word om met ʼn ligte, suiwer stem te sing en geleenthede moet geskep word vir individuele- en groepsang (Hackett & Lindeman, 2004:110).

Die Kodály-metode van Zoltán Kodály sluit sang, solfa, bladlees en volksliedmateriaal in. Kodály se uitgangspunt was die ontdekking van volks- en kunsmusiek deur ʼn proses wat met sang begin en vorder na die ontwikkeling van musikaal-onafhanklike individue wat met gemak musiek kan lees en skryf. Kodály was ʼn voorstander van onbegeleide groepsang (Campbell & Scott-Kassner, 2014:52).

Campbell en Scott-Kassner (2014:64) beskryf hoe Mary Helen Richards maniere ondersoek het waarop die ideale van Kodály se pedagogie aangepas kon word vir kinders en onderwysers in die algemene onderrigstelsel. Die beweging wat sy gestig het, staan bekend

25

as Onderrig deur Musiek,20 met die hoofdoelwitte om leerders op hul gemak te stel en selfvertroue te bou, sowel as samewerking met ander in die konteks van groepsmusiek. Ander doelwitte is die ontwikkeling van gehoorvaardighede en ʼn begrip vir die melodiese en ritmiese patrone van musiek.

Musiek en beweging

Hackett en Lindeman (2004:110) beklemtoon die noodsaaklikheid en genot van musiek en beweging, waar kleuters lokomotories, non-lokomotories en kreatief kan beweeg en eenvoudige musiekspeletjies kan speel.

Die benadering van Émile Jacques-Dalcroze is drieledig en bestaan uit Euritmiek (ritmiese beweging), gehooropleiding (solfège en solfège-ritmiek) en improvisasie. Verbeelding, beluistering en ʼn onmiddellike reaksie op ʼn musikale stimulus word deur hierdie drieledige benadering bevorder. Euritmiek is die kern van Dalcroze se benadering (Campbell & Scott- Kassner, 2014:48).

Cslovjecsek (2007:311) het bevind dat jong kinders aktief kennis opdoen deur die ontdekking van klank en beweging. Hy lei daaruit af dat noodsaaklike stappe in jong kinders se manier waarop die wêreld ontdek word, geanker is in hul begrip van klank en beweging – die simboolsisteme van musikale en kinestetiese intelligensie.