• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSBENADERING

3.2 Navorsingsontwerp

3.2.4 Geloofwaardigheid

Strategieë om die nougesetheid en betroubaarheid van ʼn kwalitatiewe studie te verbeter, word toegepas om geldigheid te konstrueer en betroubaarheid en oordraagbaarheid in ʼn interpretatiewe kwalitatiewe studie te verseker (Merriam, 2009:228). Die strategieë wat in hierdie navorsing gebruik word, is onder meer deelnemerkontrole, nadenke deur die navorser en omvattende beskrywings.49 Hierdie strategieë word bespreek soos wat dit van toepassing is in hierdie navorsing met betrekking tot die toetse wat deur Yin (2009:40) voorgestel word om die kwaliteit van ʼn navorsingsontwerp vas te stel.

3.2.4.1 Konstruksie van geldigheid

Die geldigheid word gekonstrueer deur kwessies in te sluit waarmee die lesers reeds bekend is, naamlik die integrasie van musiek en/of musiek as dissipline-gedrewe vak (Stake, 1995:87).

47 Merriam (2009:64) beskryf hoe ʼn geïntegreerde literatuuroorsig die grondslag is in alle kwalitatiewe studies, omdat ʼn studie nie ontwerp sou kon word sonder dat daar ʼn eksplisiete of implisiete vraag gevra word nie. Die manier waarop daardie vraag gestel word en hoe dit in die probleemstelling ingewerk word, weerspieël ʼn teoretiese oriëntasie.

48 Om struikelblokke te oorkom ten opsigte van die ontwikkeling van ʼn teoretiese raamwerk, beveel Yin (2009:37) aan dat ʼn literatuurstudie gedoen word ter voorbereiding van die gevallestudie. Hierdie literatuurstudie vervul terselfdertyd die behoefte om kennis vas te lê van die huidige tendense wat relevant is vir die studie waaruit die geïntegreerde literatuuroorsig ontstaan het.

49 In hierdie proefskrif, is omvattende beskrywings die Afrikaanse term vir “rich, thick descriptions” (Merriam, 2009:229).

63

Genoegsame onverwerkte data word voor die interpretasie daarvan aangebied, sodat die lesers hul eie interpretasies kan maak. Taktieke wat in ʼn gevallestudie gebruik word om die geldigheid daarvan te bepaal, is om tydens data-insameling veelvoudige bronne te gebruik en ʼn reeks bewyse te vestig (Yin, 2009:41). Veelvoudige prosedures wat gebruik word om data in te samel, is waarnemings en onderhoude, terwyl die veelvoudige bronne visuele- en oudiovisuele materiaal, dokumente en fisiese artefakte is.50

Tydens die samestelling van die navorsing is dit wesenlik dat sleutelpersone die konsepverslag van die gevallestudie beoordeel (Yin, 2009:41). Merriam (2009:229) beskryf hierdie prosedure as deelnemerkontrole, waartydens data en tentatiewe interpretasies teruggeneem word na die deelnemers om uit te vind of dit vir hulle aanneemlik is. Aan die einde van die data- analise het die graad R-onderwysers die verslag gekontroleer om die geloofwaardigheid van die waarnemings, gevolgtrekkings en interpretasies te bepaal.51 Geldigheid word ook gekonstrueer deur nadenke,52 om seker te maak dat 1) die konsepte wat relevant is tot die studie gedefinieer is en verband hou met die oorspronklike doelstellings en 2) te verwys na gepubliseerde studies wat soortgelyke doelstellings aanspreek. Stake (1995:87) beaam dit en noem dat daar duidelik in die navorsingsprosedures beskryf moet word watter pogings aangewend is om teenstrydighede aan te spreek.

3.2.4.2 Oordraagbaarheid53

ʼn Noodsaaklike aspek tydens die bepaling van die geloofwaardigheid van hierdie studie is die vraag of die teoretiese raamwerk vir die integrasie van musiek op alle graad R-klasse van toepassing is. Alhoewel die bevindinge van toepassing gemaak word op ʼn breër teorie (Yin, 2009:42), word daar nie veralgemeen nie, omdat ʼn gevallestudie nie ʼn goeie basis is vir veralgemenings nie (Stake, 1995:7).

Die algemeenste strategieë om die oordraagbaarheid van ʼn kwalitatiewe studie se bevindinge te verbeter, is omvattende beskrywings (Merriam, 2009:227): ʼn beskrywende, gedetailleerde aanbieding van die uiteensetting, deelnemers en bevindinge van die studie met genoegsame bewyse wat versterk word deur aanhalings uit onderhoude, veldwerknotas en dokumente. Hierdeur kan die studie gekontekstualiseer word, sodat die lesers kan bepaal tot watter mate hul eie situasies ooreenstem met die konteks waarin die navorsing plaasvind en die bevindinge sodoende oordraagbaar is.

50 Hierdie aspekte word verder bespreek in 3.4 Data-insameling. 51 Kyk 3.6.3 Prosedures.

52 Merriam (2009:209) beskou nadenke as ʼn strategie om betroubaarheid en geldigheid te bepaal. Sy beklemtoon kritiese nadenke oor afleidings, paradigmas, teenstrydighede en teoretiese oriëntasies ten opsigte van die studie wat die ondersoek kan beïnvloed.

53 Die oordraagbaarheid of “eksterne geldigheid” (Yin, 2009:41) van ʼn navorsingsontwerp in ʼn veelvoudige gevallestudie word bepaal deur teoretiese reproduksie te implementeer.

64

3.2.4.3 Betroubaarheid

Betroubaarheid word tydens data-insameling gevestig deur protokol54 te volg en ʼn databasis van die spesifieke gevallestudies te ontwikkel (Yin, 2009:41). Die databasis vir hierdie studie is deurentyd aangevul deur nuwe kennis wat verkry is deur die literatuurstudie en data- insameling met vorige kennis te kombineer. Wanneer nuwe insigte op hierdie manier verkry is, is die betrokke aspekte wat daartoe gelei het, aangeteken en elektronies op rekenaar gestoor asook harde kopieë in my databasis geliasseer.

3.2.4.4 Kristallisasie

Richardson (1994:522) verduidelik dat kristallisasie die tradisionele idee van geldigheid afbreek sonder dat die struktuur daarvan verlore gaan. Hieruit beskryf sy hoe kristallisasie tot ʼn dieper, meer komplekse (hoewel gedeeltelike) begrip van ʼn onderwerp aanleiding gee sodat ons as navorsers terselfdertyd meer weet en twyfel oor wat ons reeds oor ʼn onderwerp weet. Die aspekte van musiekintegrasie wat in hierdie studie gekristalliseer het deur die temas wat uit die data-analise na vore gekom het in verband te bring met die geïntegreerde literatuuroorsig, het ʼn teoretiese raamwerk gegenereer. Hierdie raamwerk verteenwoordig egter steeds slegs ʼn gedeeltelike begrip ten opsigte van ontwikkeling in graad R deur onderrig en leer deur die integrasie van musiek. Die rede hiervoor is volgens Ellingson (2009:4) dat ʼn ryk, maar gedeeltelike begrip van ʼn onderwerp (in hierdie studie musiekintegrasie in graad R) deur kristallisasie gebou word omdat:

 die konstruksie van die onderwerp geproblematiseer word

 die navorser se kwesbaarheid en posisionering uitgelig word

 bewerings gemaak word oor betekenisse wat sosiaal gekonstrueer is

 die onbeslistheid ten opsigte van kennisaannames ontbloot word terwyl dit gemaak word.