• No results found

2.5 VERANDERINGE TEN OPSIGTE VAN AMBAGSGERIGTE

2.5.2 Leerderskappe

Leerderskappe as „n metode om ambagsgerigte opleiding te doen, is in die plek van vakleerlingskappe gestel. Tans word leerderskappe gebaseer op eenheidstandaarde wat by die NKR geregistreer is en aan „n beroep gekoppel word. Volgens die Departement van Arbeid vorm dit dikwelsslegs „n deel van „n beroepskwalifikasie (Department of Labour, 2008).

Met die uitfasering van vakleerlingskappe wat in 1999 begin is, word die verantwoordelikhede ook vanaf die opleidingsrade na die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerhede oorgedra. Hierdie proses het volgens Bernard-Fryer (2005:1) in drie fases plaasvind:

 Fase 1: 10 September 1999 tot 20 Maart 2000. Gedurende hierdie tydperk het die Opleidingsrade bly bestaan en hul funksies soos gewoon bly uitvoer.

 Fase 2: 20 Maart 2000 tot „n datum wat deur die Minister van Arbeid vasgestel sou word. Die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerhede het nou die funksies van die Opleidingsrade oorgeneem. Vakleerlingskappe sou voortgaan en werkgewers kon nuwe vakleerlingkapkontrakte aangaan. Hierdie stand van sake sou so aanhou tot op die datum wanneer die Minister die kontrakte nietig verklaar.

 Fase 3: Vanaf die datum wat deur die Minister aangekondig sal word sal vakleerlingskappe nie meer bestaan nie en alle opleiding sal as leerderskappe gedoen word.

Alhoewel leerderskappe alreeds in 1998 in Suid-Afrika ingestel is (Anon., 2006), is dit amptelik deur die Minister van Arbeid op 26 Junie 2001 geloods. Leerderskappe behels die voltooiing van „n opleidingsprogram wat lei tot „n geakkrediteerde kwalifikasie (Potgieter, 2003:167). Leerderskappe sluit ook praktiese werkservaring in maar, anders as met vakleerlingskappe, word die leerder nie tydens opleiding betaal nie. Dit lei tot „n hoë uitvalsyfer, en leerders verlaat die program om „n salaris te verdien (Anon., 2006).

Volgens Schüssler (2006:3) is leerderskappe werksgebaseerde onderrig en opleidingsprogramme wat bestaan uit teoretiese opleiding sowel as praktiese ervaring. Beide hierdie komponente dra saam by tot die verwerwing van „n kwalifikasie wat by die NKR geregistreer is. Die twee komponente afsonderlik is nie genoeg om goeie opleiding te verseker nie. Teoretiese opleiding gee „n leerder die nodige kennis, maar is nie altyd voldoende sodat die leerder weet hoe om die kennis toe te pas nie. Werksplek-opleiding is weer te veel gefokus op werkspesifieke opleiding sonder die nodige teoretiese agtergrond. Leerderskappe is volgens Schüssler (2006:3) „n praktiese oplossing vir die probleem.

Volgens Schüssler (2006:3) kan leerderskappe soos volg saamgevat word:

 Leerderskappe plaas die fokus op die hoe van die Nasionale Vaardigheidsontwikkelingswet en word nasionaal erken.

 Leerderskappe is ontwikkel vir alle vlakke van die NKR.

 Leerderskappe is uitkomsgerig. „n Leerder se sukses word bepaal volgens die mate waarin dit wat geleer is toegepas kan word.

 Beide teoretiese en praktiese opleiding word in „n leerderskap ingesluit.

 Assessering vind deurlopend en op verskillende stadia van opleiding plaas. Dit verskil van „n vakleerlingskap waar assessering (vaktoets) slegs aan die einde van die opleiding gedoen is.

 Enige persoon vanaf die ouderdom van 16 jaar kan met „n leerderskap begin. Vakleerlingskappe was meer gemik op jongmense aan die begin van hul werkslewe.

 Staatsfondse en belastingvoordele is beskikbaar vir leerderskappe.

 „n Leerder is nie beperk tot een maatskappy tydens „n leerderskap nie, en kan sodoende wyer ervaring opdoen.

Potgieter (2003:171-172) wys daarop dat daar hoofsaaklik vyf verskille tussen tradisionele vakleerlingskappe en leerderskappe in Suid-Afrika bestaan, naamlik:

 Vakleerlingskappe was voorheen slegs vir Blanke manlike werkers gereserveer. Leerderskappe is nou binne die bereik van alle rasse, sowel as vroulike en gestremde persone.

 Tradisioneel was vakleerlingskappe beperk tot spesifieke ambagte, en daar was „n duidelike skakel tussen vakleerlingskappe en die regering se beginsel van werkreservering. Leerderskappe, daarteen, dek alle ekonomiese sektore in Suid-Afrika en is nie slegs beperk tot die nywerhede nie.

 Die vakleerlingskappe in Suid-Afrika het tradisioneel gefokus op „n smal band van vaardighede en as gevolg daarvan was daar „n beperking op die kwalifikasies wat verwerf kon word. Leerderskappe sluit nou professionele sowel as beroepsgerigte opleidingsprogramme in. Dit is dus nou moontlik om deur leerderskappe enige kwalifikasie op enige vlak van die Nasionale Kwalifikasie Raamwerk te verwerf.

 Konvensionele vakleerlingskappe het swaar gesteun op ooreenkomste tussen geselekteerde werksplekke en opleidingsverskaffers soos Technikons en Tegniese Kolleges. Daar is weinig indien enige kwaliteitsbeheer van vakleerlinge se opleidingsprogramme gedoen. In die geval van leerderskappe sal daar ten alle tye „n drie-ledige ooreenkoms tussen die leerder, die werkgewer (werksplek) en die relevante opleidingsverskaffer (Universiteit of Technikon) in plek wees. Kwaliteitsbeheer behoort streng gedurende verkillende fases van opleiding toegepas te word.

 Die tradisionele vakleerlingskapstelsel in Suid-Afrika het die regering se onvermoë om in die menslike hulpbronne van die land te belê beklemtoon. Leerderskappe is egter spesifiek ontwerp om „n bydrae te lewer in die ontwikkeling en benutting van Suid-Afrika se menslike hulpbronne.

Volgens Potgieter (2003:172) is dit uit bogenoemde duidelik dat leerderskappe as „n metode om opleidingsprogramme aan te bied, ook gebruik kan word om opvoeders op te lei. Die grootste voordeel van hierdie vorm van opleiding volgens die navorser is dat die opvoeders voortdurend waardevolle praktiese ondervinding opdoen.

Mdladlana (soos aangehaal deur Potgieter, 2003:173) dui aan dat, alhoewel leerderskappe een van verskeie maniere van opleiding in Suid-Afrika is, die Suid-Afrikaanse regering hierdie wyse van opleiding aanbeveel. Hy voer aan dat dit aansluit by die missie van die regering om Suid-Afrika toe te rus met die vaardighede wat nodig is om suksesvol tot die wêreldmark toe te tree, en om geleenthede vir gemeenskappe en individue te bied om „n produktiewe rol in die gemeenskap te speel.

Een van die beginsels waarop leerderskappe as metode van opleiding berus is dat die leerder, soos in die geval van vakleerlingskappe, praktiese tyd in die werksplek moet deurbring (Mdladlana, 1999). Die fokus op die praktiese gedeelte was egter groter by vakleerlingskapsopleiding (Blaine, 2007).

Potgieter (2003:175) dui aan dat die instelling van leerderskappe as „n metode van opleiding wat die tradisionele vakleerlingskappe moet vervang die volgende doelwitte voor oë het:

 Dit moet die agteruitgang in die vakleerlingskapstelsel omkeer en die tekorte aan vaardighede aanspreek.

 Dit moet vakleerlingskappe uitbrei sodat nie slegs die nywerhede nie, maar ook die ander sektore van die ekonomie ingesluit word.

 Dit moet die skeiding tussen vakman en die professionele beroepe oorbrug.

 Dit moet aanpasbaar wees en die opleidingsbehoeftes van die klein en medium ondernemings ook in ag neem.

 Dit moet diskriminasies van die verlede aanspreek.

 Dit moet „n buigbare en verteenwoordigende instrument wees wat die tekorte en behoeftes in die arbeidsmark aanspreek in die vorm van gestruktureerde opleidingsprogramme.

 Dit moet ekonomiese groei en sosiale ontwikkeling ondersteun en die werkloosheid in die land aanspreek.

Elke leerderskap wat aangebied word, moet formeel deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Owerheid geakkrediteer word. Dit is „n tydsame proses wat die implementering en aanbieding van leerderskappe bemoeilik (Mabena in Anon., 2004). „n Leerderskap kan met die toestemming van die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid onder die volgende omstandighede getermineer word (Bernard-Fryer, 2005:4):

 wanneer die leerder en die werkgewer op skrif ooreenkom om die leerderskap te termineer;

 volgens die diskresie van die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid op versoek van die werkgewer of leerder nadat die ander party die geleentheid gehad het om aan te dui waarom die leerderskap nie getermineer moet word nie; en

 wanneer die leerder sy werkskontrak met die werkgewer opgesê het. „n Aansoek om „n leerderskap te termineer moet op skrif gestel en vergesel word van „n kopie van die leerderskapsooreenkoms tesame met „n getekende ooreenkoms tussen die leerder en werkgewer asook die redes waarom die

leerderskap getermineer moet word en aan die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid voorgelê word.

2.5.2.1 Voordele van ‘n leerderskap

Leerderskappe houvolgens Berhard-Fryers (2005:41) die volgende voordele vir die werkgewer in:

 Daar is „n voldoende opgeleide werksmag wat produktiwiteit verbeter.

 Die werkgewer ontvang geldelike toelae om leerderskap-opleiding te doen.

 Die werkgewer ontvang belastingtoegewing vir leerderskap-opleiding (Megatraining, 2005).

Die leerder baat ook op die volgende wyses by „n leerderskap:

 Die leerder ontvang „n nasionaal-erkende kwalifikasie.

 Werklose leerders kry praktiese ervaring in die werkplek.

 Vorige ervaring en kennis deur die leerder opgedoen word erken.

 Die leerder word aan werklike werksomgewings blootgestel (Megatraining, 2005).

Ten spyte van die voordele wat leerderskappe inhou, wil dit voorkom asof maatskappye in Suid-Afrika wegbeweeg van staatsbeheerde ambagsgerigte opleiding en hul eie opleiding doen, of dit deur private instellings laat doen, soos in die volgende afdeling vermeld word.